Dinsdag 15 April 2014

7 April – 13 April 2014

Maandag is ’n bankvakansiedag hier, Vroue Dag.  Dis klere uitsorteer en reg kry vir die kinders wat terug geplaas gaan word by familie, een van die klein seuntjies (nuutste groep) en een van die groot seuns. Die klein seuntjie gaan Woensdag na sy suster toe wat nou getroud is en ’n baba het. En die grooter een gaan Donderdag na sy ouma toe. Die kinders word Maandag laat middag ingelig dat hulle ‘huis toe’ gaan. Dis vir hulle ’n skok, maar as dit vroër gedoen word loop hulle weg en is daar allerhande probleme.
Woensdagoggend gaan ek om die kleintjie se klere te pak, van die ander kinders het vir hom van hulle goed gegee, T-hemde, truie, speelgoed ens. Van die pas nie eers vir hom nie en moet ek uithaal en agter laat, aangesien hy genoeg goed het en ons nie alles gepak kan kry nie. Die kleintjie is hartseer toe hy moet gaan en dit maak dit vir ons moeilik en moet ons hard sluk aan die trane. En Donderdag doen ons dit weer, dis bietjie makliker, tieners wys ook nie soveel emosie nie. Ongeveer 4 ure later kry ons ’n boodskap dat nog een van die groot seun  die volgende dag uitgeplaas word na ’n skema waar kinders gaan wat nie familie het nie. Dit is onverwags en ’n geskarel om alles reg te kry. Hy is redelik omgekrap, maar lyk later tog of hy meer rustig raak en dit begin verwerk. Die hele camerata is geskud deur die terugplasings en wil weet wie nog gaan.
Donderdag raak die basis bedrywig met mense wat vir die konferensie kom. Dit reën ook en hulle hang goed teen die mure op om droog te word wanneer die son uitkom. Almal, veral die kinders, is ook opgewonde oor Roland en Heidi wat kom.
Vrydagoggend is die gradueeringsplegtigheid van die Bybelskool en die middag begin die konferensie.
Vrydagaand kry ons onverwags gaste, dis 2 mans wat oppad is Pemba toe, maar die voertuig gee probleme en hulle kom slaap by ons in die huis. Die een is ‘n Suid-Afrikaner en die ander een ’n Kanadees. Hulle probeer om vas te stel wat die probleem is en kry ’n ou wat na  die voertuig kyk, maar geen sukses nie en hulle pak alles af en die ou van Suid-Afrika ry Sondag terug teen ’n slakkepas. Die Kanadees se paspoort/visa laat nie toe dat hy weer uitgaan sonder om sy 6 maande visa in die gedrang te bring nie, dus moet hy bly.
Saterdagoggend is redelik bedrywig, die kinders kry tydens die konferensie hulle brood, maar nie tee nie. Hulle is almal by die venster vir margarien en grondboontjiebotter. Die educator bel en vra ons moet kom, ‘n seun het die TV gebreek. Die seun is altyd in die moeilikheid en mens moet rustig met hom werk om die storie uit hom te kry. Blykbaar was dit ’n ongeluk, hy het albasters in die camerata gegooi en een het die skerm getref en nou werk die TV nie meer nie. Almal is vies vir hom, want nou kan hulle nie DVD’s kyk nie en almal deel straf uit, party wil hom sommer na ’n ander camerata toe stuur.
Saterdagaand ontmoet al die sendelinge persoonlik vir Rolland en Heidi in die gebedskamer waar ons ook vir hulle bid.
Sondag eindig die konferensie en dit raak weer rustig die middag.

Gededsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat terug geplaas is, vir aanpassing en inskakeling, sodat hulle daar ook gelukkig sal wees en sal onthou wat hul hier van Jesus geleer het en altyd aan Hom sal vashou en glo.
Vir samewerking van die personeel met die sendelinge.
Vir die siekes en beskerming teen malaria en allerhande ander siektes.
Vir die seun wat HIV, kanker en TB het, dit lyk asof daar ’n infeksie is wat hom olik maak.
Bid asseblief ook vir die seun.


Vra gerus as daar van julle is wat vir ‘n kind wil bid, hulle het selde iemand wat soos ’n ouer vir hulle bid. Inligting sal gedeel word oor ’n spesifieke kind se onstandighede as jul bereid is om vir hulle te bid.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking