Woensdag 26 Februarie 2014

17 – 23 Februarie 2014

Die week het nie iets uitsonderlik opgelewer nie. Die kinders wat siek was van malaria, het goed op behandeling gereageer en is almal beter. Die virus doen nog die rondte op die sentrum; hoofpyne, koors, naarheid en maagaandoenings kom voor. Die kinders is so 2 -3 dae siek, meeste net 2 dae en dan gaan dit beter. Hier en daar is ook van die sendelinge wat nie te goed voel nie.
Ons dank die Here vir die wat beter is, en bid vir die wat so op ’n streep siek word, dat ook hulle, gou sal herstel en veral vir die ‘HIV’ kinders, want enige virus kan fataal wees vir hulle.
Een van die sendelinge het gehelp toe ons die naweek weg was om ’n muur in die cametata te verf, sy is ’n pragtige mens en is ’n onderwyseres van Ierland.  Sy leer ook die kinders Engels en is uitstekend. Almal is lief vir haar, sy gaan egter Junie terug Ierland toe en sal verseker gemis word.
Die Portugees vorder, ons leer nog gereeld nuwe woorde, maar sukkel nog om dit in sinne te formuleer. Selfs kort sinnetjies is ’n uitdaging.
Gebede:
Bid asb vir gesondheid en beskerming teen al die siektes;
Vir die kinders met ‘HIV’

Vir vrede en rustigheid oral op die sentrum.

Dinsdag 18 Februarie 2014

10 – 16 Februarie 2014

’n Rustige week (die base is oorsee en kinders is in die skool). Alta word toegegooi onder herstelwerk aan die seuns se klere. Dis asof alles stukkend is en elkeen van die 26 het nog hul eie versoeke van goed wat hul meer nommer pas wil hê of nie wil hê nie.
Die naaldwerkkamer gaan goed aan en die goed wat in die ‘Hospitality’ winkel is verkoop stadig maar seker en so moet ons gaan goed aankoop om van die goed af te handel sodat dit in die winkel geplaas kan word. Donderdagoggend gaan ons toe saam met een van die groot meisies om krale te gaan koop by ’n winkel iewers in die stad. Daar is ook ’n materiaal winkel, maar ons kry nie iets waarin ons belangstel nie. By die kar sê sy daar is nog ’n winkel verder aan. Ons vra hoe ver dit is, is dit naby, ja sê sy, en ek dag ons moet bietjie meer uit vra en vra is dit loop afstand, want nou ken ek ook van Afrika se begrippe en verwysings, maar een van die ander sendelinge is saam en is ’n Brit, wat nie kennis van die dinge het nie. Persepsie is een van die dinge wat in niemand se oog dieselfde is nie. Ons los Petrus in die kar en ons begin stap, na die derde blok lyk die meisie nie meer so seker nie en ons vra of ons nog op die regte pad is. Sy verseker ons dis nog reg, maar dis twaalfuur en warm, met die humiditeit diep in die sestig present, en ons stap nog ’n blok en ’n half en daar is die winkel. Kyk rond en koop ’n paar goedjies en durf die terugtog aan, koop koeldrank langs die pad en stap, Petrus is warm gebak in die kar en ons warm en moeg geloop. Dit was nie te min, ’n interessante stappie.
Hierdie week is daar ’n virus of iets wat die rondte doen op die sentrum en heel party kinders en volwassenes is koorsig en voel nie lekker nie. So is daar ook 5 kinders wat malaria het en ons het ook 3 dogters opgeneem wat erg verwaarloos en mishandel is en ook baie siek is, die oudste een is die swakste en kan net kort endjies met ondersteuning loop. Die fokus vir gebed vir die week is dus op geneesing vir almal.
So ons vra gebed vir al die siek kinders veral vir;
·        beskerming teen malaria en geneesing vir die wat reeds siek is en dat hulle gou sal herstel en nie sieker sal word nie
·        vir al die kinders wat ‘HIV’  het en ekstra beskerming en gebed nodig het
·        vir kinders wat verskuif is en nuut is, wat nog sukkel met aanpassing en inskakeling

·        vir die wat Portugees leer dat dit sal inslag vind en makliker op die tong kom lê

Dinsdag 11 Februarie 2014

3 – 9 Februarie 2014

 Na ’n lekker vakansie van rus en niks doen het ons op 2 Februarie teruggekeer. Die kinders het ons toegesak en saam met Maandag, wat ’n vakansiedag was, het hulle ons besig gehou. Dinsdag het die skole begin en het dit ’n bietjie rustiger geraak. Alta moes die groot seuns se broeke vir skool aanpas met baie vindingreikheid, want van hulle moes groter gemaak word.
Terwyl ons weg was het daar twee Afrikaanse meisies, vanaf die Kaap, gearriveer vir ’n jaar diens. Hulle kry maar swaar met die hitte en ons is nou 4 Suid Afrikaners hier op Zimpeto.
Die Mosambiekse regering is baie goedgunstig en het besluit om Vrydag ’n openbare vakansiedag te maak, iets met die opkomende verkiesing te doen, en dit het die week kort gemaak.
Vrydag het ons gebruik om die tuin ’n bietjie netjieser te kry.
Saterdogoggend hou die seuns ons besig maar die middag boender ons hulle weg tot een van die nuwe sendelinge saam met een van die groot seuns opdaag om ’n koek te bak. Daar is skierlik nou baie belangstelling in bakkery wat seker meer oor die sendeling gaan.

Sondag was dit kerk en daarna rustig met die kinders uitgesluit.