Ons het heerlik
gerus en net iets gedoen as ons regtig nie anders kon nie of dit wou doen,
praat van sleg wees! Ons het ook besef dat ons dit regtig nodig gehad het.
Dit is egter ook
lekker om terug te wees en die kinders het sommer grootter geword. Ons het ook
’n nuwe seuntjie by gekry terwyl ons weg was, hy is baie klein vir sy 8 jaar,
meer soos ‘n 5-6 jr. Die mamma het hom en sy sussie by die hek by die
sekuriteitswagte gelos en gesê sy gaan vir hulle koekies koop. Ons het vandag
die sussie wat jonger is, in die kerk gesien, sy is die mooiste klein dogterjie,
met pragtige groot ogies, ’n klein moedertjie en vol liefde vir haar boetie.
Dit was besig van
die oomblik dat ons hier gekom het, en die hele week. Dis opvang wat agter wee
gebly het terwyl ons weg is en uitsorteer wat alles gedoen is in die tyd dat
ons weg was. Die kinders se klere het aandag nodig, wat te klein is moet
vervang word, asook die goed wat stukkend is het aandag nodig. Alta help ook
vir die naweek uit by die babas.
Voor ons weg is
het ons die seuns belowe dat ons almal wat verjaar, 4 van hulle, se verjaarsdae
sal vier en een groot partytjie sal hou. Hulle was baie opgewonde. Hulle het
hoender en pasta bestel en ons het hoenderboudjies teen ’n goeie prys gekry.
Dit met koolslaai,’n koek en nog wit paashase en vrugtesap het die tafel laat
kreun. Die hoender, het Alta 9:30 in die oond gesit, maar die stoof wou nie die
mas opkom nie en later het sy maar die mikrogolfoond ingespan om dit gaar
te kry. Hulle het elkeen ’n tweede en party
selfs ’n derde porsie kom haal. Dit nadat hulle ’n uur en ’n half vroeër,
middagete gehad het.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief dat
die nuwe seuntjie goed sal inskakel en dat sy gesondheid spoedig sal verbeter.
Hy het ’n neus en keel infeksie wat ook sy oë affekteer en ook ’n uitslag, om
sy neus en mond en op sy arms. Ook dat hul ma sal terug kom en ten minste vir
hulle sal kom kuier.
’n Dogter van so
8jaar sukkel met allergie en asma, nou het sy polipe ( hoop dis reg gespel) wat
op haar stembande groei en sedert die vorige operasie is dit so ongeveer 8 weke
en sy moet weer geopereer word, haar stem is alreeds weer geaffekteer en dit
kos elke keer 10000 dollar. Bid vir goeie verloop van operasie, genesing en
finansies.
Hier was ook ’n
ongeluk, wat daartoe gelei het dat een van die werkers met petrol gebrand het.
Die genesing het aanvanklik goed gevorder , maar daar is ’n infeksie op een
plek wat nie regkom nie en hy moes terug
hospitaal toe. Bid ook vir finansies in die geval, want elke 4 dae wat die verbande
vervang moet word kos dit 500 dollar. Dit is geweldig pynlik en dit neem 3 ure
om dit te doen.