Dinsdag 29 Januarie 2013

25 tot 29 Januarie 2013

Ons was Suid Afrika toe en Petrus kon vleisbraai!
Ons was vinnig in Middelburg vir dokumente wat geteken moes word vir die besigheid. Ons is nie kwaad vir julle as ons nie by julle 'n draai gemaak het nie, die tyd was min. Ons het Maandag vroeg gery vanaf Marloth en het die middag weer terug gery. Ons moes ook soveel moontlik by al die winkels uitkom vir inkopies wat dringend was.
Dinsdag-oggend is ons weer terug Zimpeto toe.
Aan die begin was ons bang oor wat vertel is van hoe jy voorgekeer word deur verkeersbeamptes en polisie en dat omkopery aan die orde van die dag was. Ek wil net vir julle sê dit is nie so nie, ons is tot nou nog nie voorgekeer nie, en selfs by die grenspos gaan dit goed, van ons weet wat gedoen moet word. Dis net jy moet baie geduld hê om hier te bestuur.

Verder vra ons julle om vir Zimpeto, die kinders, sendelinge en personeel te bid. Hier word ook mense benodig vir die kliniek en ander plekke om te help.

Dit voel of ons vordering met die kinders maak, ten spyte van die kommunikasie-stryd. Hulle het een of ander onderlinge stryer wat ons nog nie mooi verstaan nie.

O, in verband met die vloede, ons het nie toegang tot nuus nie en is onbewus van die vloede, maar ons is veilig, klaarblyklik is dit meer noord.


23 & 24 Januarie 2013

Donderdag reël ons, Alta en Ouma, om saam met die groep uit te gaan op die hospitaal uitreik. Hulle gaan bid vir  die pasiënte in die hospitaal. Ons ry in een van Iris se bussies hospitaal toe, ons is so 10 mense. 2 pastors, 4 sendelinge, 2 besoekers en 2 mans, wat ons vermoed, van die Bible School wat saam gaan.
Ons verwag dat die hospitaal verwaarloos is, maar wat ons daar aantref is moeilik om te beskryf, ek dink mens moet dit sien om te kan glo. Ek beskryf dit so goed ek kan.
By die hek hou ons stil en een gaan koop piesangs by die stalletjie voor die hospitaal. Ons ry in en stop by die dermatologiese afdeling. Ons klim uit en doen 'n gebed, deel in 2 spanne op en stap aan na die ingang. Ek wys vir Ouma hoe dik die mure is, 'n outyd se voet dik. Muskietgaas is voor die vensters aan die buitekant en die muur is so dik die vensters maak daar binne oop. Binne moet ons eers wag sodat papierwerk en toestemming afgehandel word. Die plek ruik muwerig en is oud. Ons gaan die trappe op, houttrappe wat so half onder ons gewig mee gee en hol geloop is. Ons loop tot by die verste kamers, daar is 2 vroue in die saal, die beddens is van stainless steel so ook die trollies aan die voet-en-ent van die bed en die bedkassie is net 'n dubbele rak van stainless steel, daar is 2 meer moderne stoele in die kamer, die vensterbank is hoër as my kop en die dak doer ver bo. Die mure is stowerig, daar is geen ander toerusting in die kamers nie, nie eers 'n gordyn tussen elke pasiënt nie. Die lakens is gelerig-bruin of lig bruin en met donkerder bruin is in die lengte in groot letters 'hospital' op gedruk, geen kussings nie, lyk  of die pasiënte self daarvoor moet sorg, daar was net 2 kussings by die 6 beddens waar ons was. Die vloere op die eerste verdieping is van hout. Dit lyk of dit dubbele lae was, party plekke is die hout gevrot en sag, ander plekke is daar stukke uit en in die gang was daar eens op 'n tyd blokkies houtvloere en later het hul iets rubberig daaroor gesit met plastiek teëls wat nou dele van uitgebreek het.

Die eerste vrou waar ons by kom slaap en ons praat toe met die ander een in die kamer, sy was besig om te eet aan 'n bord kos was ons nie voor kans gesien het nie, baie onaptytlik. Sy lyk vreesbevange toe ons met haar begin praat, en sê sy kan nie kos kan inkry nie en  dat haar familie haar verwerp het. Sy het swartkolle op haar vel. Ons bid vir haar en die ander vrou word wakker terwyl ons besig. Sy gooi haar half oop en het oral oor ronde sere waar bloederige sigwater uit loop. Die lakens lyk of dit nog nie die dag vervang is nie, waar daar nie oop sere is nie is letsels of  dop die vel af.  Sy is  dankbaar vir ons gebede en sê dat sy die Here ken. In tussen het die vorige vrou haar kos smaaklik ge-eet. Die piesangs word by elke pasient gelos, asook traktaatjies. By die volgende kamer lê 'n kind en sy ma sit op die stoel, 'n vrot reuk hang in die kamer. Altwee die voete is verbind die bene is dik geswel en knopperig en die hande en arms ook. Die laaste 2 gevalle is nie 'n mooi gesig nie. Die volgende kamer het 2 pasiente en hul bring nog een terwyl ons daar is. Die eerste een is 'n ou vrou met talle letsels op die vel, dis droë skubberige plekke en wit waar die skubbe afgedop het en sy is verskriklik maer, sy wil nie eintlik hê dat ons vir haar moet bid nie, ons lei af dat sy Hindo verbindtenise het, maar hulle bid nie te min vir haar. Die volgende is 'n albino meisie met 'n verband oor die helfte van haar gesig en oor, ons vermoed dis sonbrand. Die ander groep kom daar om vir haar te bid, haar ma lê in 'n ander saal en het gevra dat hul vir haar ook sal bid, hulle ken die Here. Intussen is daar nog iemand wat opgeneem is met 'n drup. Ons tyd is eintlik verstreke, maar die een sendeling het 'n gesig gekry wat gesê het sy moet vir iemand bid wat 'n immuniteits probleem het en ons bid ook vir haar. Voor meeste beddens lê 'n buisie van dieselfde soort blou en geel antiseptiese salf. Dit voel vir ons as enige een hier genees, dit opsigself  'n wonderwerk is. Ons kom onder die besef dat ons vreeslik baie het om voor dankbaar te wees en kan nie glo dat enige iemand velprobleme kan toe laat om sulke afmetings aan te neem nie. Al wat ons kan dink is dat hul waarskynlik eers toordokters se hulp inroep en die hospitaal as die laaste opsie oorweeg.

Verskoon asseblief enige spel-, taalfoute en Engels wat ons ingooi, ons skryf hierdie gewoonlik laat aande.

Dinsdag 22 Januarie 2013

20 tot 22 Januarie 2012

Sondag begin soos gewoonlik met die kerkdiens 10:00 en is net 2 ure lank. Onder is twee foto's wat geneem is gedurende die lofprysing en neem kennis van die klein bankies waarop ons sit, moet nie weer kla oor julle kerkbanke nie.

Sondagmiddag was die groot gebeurtenis waar die 8 seuns (8-10jaar en waarvoor ons verantwoordelik is) van een dorm (camerada) na die nuwe kamer in die groot seuns se dorm verskuif (die voorbereiding is in die vorige dae hieronder vertel). Dit loop goed af met verversings na die tyd. Onder is foto's, jammer party is dof maar die klomp kom nie stil staan nie.

Maandag is Alta vroeg dorm toe om te sien of die Tia (skoonmaker/versorger) opgedaag het en weet wat gedoen moet word (sy kan net Portugees praat en Alta basies geen Portugees praat nie, nogal 'n interresante kombinasie). Ons is hard besig om Portugees te leer. Petrus is vir die eerste keer na die voertuie toe. Hy wou 08:00 daar wees maar kom eers 08:20 daaraan net om uit te vind die Mosambieker wat in beheer is eers 08:30 werk toe kom en hy is ook net Portugees magtig. Daar moet elke keer 'n tolk gesoek word om te kan kommunikeer. Sy mening is dat Petrus daar is om te help met elektriese probleme op die voertuie en Petrus los dit toe maar eers daar sodat hulle kans kry om hom te leer ken en hy vir hulle, want hy is veronderstel om ook te help met die bestuur van die afdeling. In elk geval moet hy toe een van die busse se temperatuurmeter regmaak en daarna die brandstofmeter van 'n bakkie. Eenuur het hy besluit dis genoeg en is terug huistoe.
 Die seuns daag die middag al van 12 uur af by ons huis op in plaas van eers 14:00. Die Mosambieker wat moet help is besig met paspoort uitsoteer nadat die gesteel is en hy oor 'n maand na 'n konferensie gaan, en daag dus nie op nie. Dus is dit Alta en ouma, sonder 'n tolk. Daar kom 'n ander seun van die camerada saam wat so bietjie help tolk. Die seuns is opgewonde en gaan soos vinke aan. Ons lees 'n boekie met Portugees en Engelsewoorde en in Engels the Lion King. Alta word reg gehelp met die uitspraak van Simba en die koning se name. Hulle is 'n handvol en ons is uitgeput teen die tyd dat hulle weg is.

Dinsdag is Petrus 08:30 by die voertuie en hy en die werktuigkundige begin 09:00 met 'n 2 ton trok waarvan die battery nie laai nie. Die proses was soos volg: Kry 'n ander trok aan die gang en laat dit luier, ruil die trok se battery wat gelaai is om met die ander trok se battery wat pap is, laat die trok wat luier die pap battery laai en gaan verder aan om die fout op die trok te soek wat weer onderbreek word want die olie stroom by die oliefilter uit. Hierdie battery-laaiproses neem een en 'n halfuur en niks positief het nog gebeur nie. 'n Nuwe oliefilter moet gekoop word en die persoon in beheer het nog nie opgedaag om geld te reel nie. Petrus   gaan 11:00 terug om die probleem op die trok wat steeds luier, om die battery te laai, na te kyk. Die trok wil nie afskakel nie. Die probleem word gevind maar daar is nie onderdele beskikbaar nie en die persoon in beheer is steeds nog nie beskikbaar nie. 14:00 kom haal 'n pastoor vir Petrus by die huis om na die pastore se trokkie te gaan kyk wat Saterdag gaan staan het na dit deur diep water gery het. Eers moet die battery geruil word want dit is pap gekaring, gelukkig staan die trokkie voor die onderhoud se gebou en kollega John wat in beheer van onderhoud is weet gelukkig meer van dieselengins en help Petrus om dit aan die gang te kry. Petrus sal teen hierdie pas een van die dae 'n outo-elektrisien en diesel-werktuigkundige wees.

By die huis daag  net een 14:00 op. Ons stuur hom om die ander te gaan haal, nog een daag op en ons loop om die ander te gaan haal. Ons lees uit die Engelse Bybel en hulle volg niks, beur al om hul eie ding te doen. Ons vou vliegtuigies uit papier. Een van hulle is besonder oulik en vou 'n vliegtuigie wat tot op die huis se dak land. Dit was nie eers presies gevou nie, sommer so lossies en skeef, maar dit vlieg goed.
Nadat hul weg is daag Petrus op en ons ry om by die kwekery te gaan kyk hoe dit daar lyk. Langs die pad sien ons 'n paar plante en daar is papajaboompies, ons stop en vra. Hy verstaan bietjie Engels en skryf op die grond dat dit 25metikas een is, ons vra watter is manlike plante en watter dra vrugte, hy weet nie maar sê ons moet al 4 vat omdat hy nie weet nie vir 50metikas. Terwyl ons nog daar staan daag Joao (ons gids van die vorige naweek) daarop en hy ry saam na die kwekery, maar ons kry nie waarna ons soek nie. Ons soek nog na 'n vrugte- en groentemark en hy laat ons 'n bietjie verder noord ry. Dis sommer so langs die pad en op die grond wat hul ware uitgestal word en hul skermpie se dak is 'n paslaken wat oor stokke gehak is. Ons koop 'n klapper of kokosneut (die wat klapperhaar matrasse van gemaak is en die witklapper wat gerasper is en vir koekies gebruik word) en sulke witterige patattas wat ons dieselfde aand eet en nogal lekker is.



Saterdag 19 Januarie 2013

18 & 19 Januarie 2013

Vrydag is nog warmer as Donderdag. Alta is nog besig met die gordyne en die goed wat moet reg om vir die kinders te gee. Dis handoeke, lakens, komberse ens. Dan is daar ook nog beplanning hoe en waarmee om hul in die middae besig te hou. Gelukkig is Mama Laura, hulle huidige huis ma, baie hulpvaardig en saam met die goed wat Mama Ros (bestuurdes) en sy gegee het en die goed wat uit die donasiekamer kom, amper genoeg vir elkeen. Kort nog net 1 kombers en 'n houer vir vuil wasgoed. Die kombers kom uit dit wat ons saam gebring het. Daar is ook 'n klompie skryfbehoeftes en speelgoed. Hulle kry hul klere wat hul het en daarmee sal Maandag na skool oorgetrek word na die nuwe bly plek vir hulle.

Van nouaf is ons verantwoordelik vir hulle klere, onderklere, kouse, skoene, badhandoeke en slaapgoed. Ons sal dit waardeer as julle kan bymekaar waar julle sulke goed raakloop en ons laat weet. Boeke veral opvoedkundig en 'n paar tydskrifte is ook welkom.

Vrydagmiddag 14:00 is Shoprite tyd en ons besluit om dit saam met die klomp van hier, op die bussie van Iris aan te pak. Met die staan en wag sien ek almal het ekstra sakke gebring en ek wonder of ons genoeg voorbereid is vir die sessie. Aankope gaan redelik vlot so tussen die uitwerk wat dit nou eintlik kos deur. Ons het toe die meeste winkelsakkies wat dit nou nie eintlik wil hou nie.

Laat aand begin dit reen en Saterdag is lekker koel. Ons gaan weer saam met 'n klop besoekende Brasiliane na die markte en uiteet. Die markte is toe glad nie wat ons verwag het nie, ons wil groente en vrugte hê, vat tot sakkies saam. Ons eindig toe op by 'n toeriste mark, met beeldjies, armbande, krale en allerande lappe en maskers, glad nie wat ons ingedagte gehad het nie. Ons  stop oppad eers by die lughawe, een van die Brasilaners moet terug en ons kom eers 14:30 by die huis en ons wou nog op die hospitaaluitreik gegaan het 14:00. Almal lekker pê.

Hier is 'n paar foto's wat ons geneem het terwyl ons in die bussies gery het:

Ooral langs die paaie is daar winkeltjies.
    


















Die paaie lyk soos Witbank s'n en dis die watergate waar ons deurgery het verlede naweek:

 Die toeriste-mark in die middestad:


 Die see:
 Daar is groot verskil in inkomstevlakte soos gesien kan word, een oomblik is dit mooi huise dan weer bouvalige huise of gewone huise


 Hierdie is 'n standaard karretjie wat hulle gebruik om goed te vervoer:

Hierdie is Samora Marchel se graf, dit is in 'n sirkel met pad regom
 Hier is die lughawegebou, hierdie foto is ongeveer 13:30 Saterdag geneem en dit was doodstil by die lughawe, nie soos by ons nie:



Donderdag 17 Januarie 2013

16 en 17 Januarie 2013

Woensdag was ons besig met die gordyne ens. vir die dorm se kamer, dit is dorm 4 quarto 4 (huis 4, kamer 4 - quarto beteken ook 4, lekker verwarend). Die seuns, van die nuwe kamer, het van ons uitgevind en begin nou hier by die huis kom kuier. Dit is warm met hoë humiditeit. Die aand het ons homegroup, dit is waar al die permanente sendelinge by mekaar kom vir ondersteuning van mekaar. Elke sendeling kry 'n geleentheid om dit aan te bied in die vorm wat hy/sy/hulle wil. Hierdie keer is besluit dat ons 'n saoky-aand gaan hê, dit werk so: daar word 'n stuk gelees, uit 'n boek hierdie keer, en daarna speel daar musiek vir 'n uur ononderbroke waar jy ontspan en God se teenwoordigheid ervaar, jy kan doen wat jy voel die Heilige Gees lei jou om te doen - lees in die Bybel, bid hardop of sit net stil en geniet God se teenwoordigheid.

Donderdag begin en dis vroeg reeds warm. Petrus sit die hangers vir die gordyne op en Alta kan finaal meet om die gordyne klaar te maak. Die geselligheid vir die kinders om die intrek te vier word uitgestel van Donderdagaand na Sondag. Die middag gaan warm en stadig verby. Die aand het ons weer kerk. Gedurende lofprysing is die kinders gewoonlik die saal vol en daar kom toe so 'n 2 jarige by Petrus uit wat op sy skoot klim en sy se baard ontdek, dan verlang mens nogal nou jou kleinkinders. Die boodskap word deur Joao, ons gids verlede Vrydag en Sondag, gebring, hy preek nogal indrukwekkend.
Dit is net moeilik om te volg wanneer die tolk nie byhou en alles oordra nie. Na die preek lewer drie mense getuienis van wat die middag met hospitaal-uitreiking gebeur het. Die eerste 2 praat Portugees en ons verloor hulle weer met die tolk, die laaste een praat in Engels en haar vertelling gaan so -
'n Paar maande gelede het sy en 'n Mosambiekse sendeling by 'n dogter in die hospitaal gekom wie se linker arm verlam was, hulle het vir haar en haar ma die boodskap van Jesus gebring en vir Jesus in gebed gevra om haar arm gesond te maak. Jesus het aan hulle versoek voldoen en die kind se arm gesond gemaak. Daar is die dogter en ma gered. Hierdie Donderdag kom hulle by 'n baba uit wat verlam is, hulle vertel die ma van Jesus en vra weer vir Jesus in gebed om soos die vorige keer ook hierdie baba gesond te maak en weer verhoor Jesus hulle gebed, die baba begin sy bene en voetjies beweeg tot groot vreugde van die ma. Hulle vertel verder dat terwyl hulle vir die ma daarna bid was sy besig om in die een van hulle se Bybel te lees met die gevolg dat hulle die Bybel by haar gelos het. Hoe groot is God nie.

Dinsdag 15 Januarie 2013

14 en 15 Januarie 2013

Ons begin 'n bietjie besig raak, maar hier lyk dit of daar eers  9 uur begin werk word, want jy kry niemand in die hande voor 9 uur nie en dan na 1 uur is almal weer soek. Maandag 10 uur 'n personeelkerkdiens gehad, Petrus is weggeroep na 'n halfuur, Alta en Ma het na 'n uur geloop, toe was hulle nog besig om te sing, wat ons kom hoor was hulle tot 12 uur besig. Maandagmiddag het ons 'n vergadering gehad met almal betrokke oor die verandering in die een huis waar Alta verantwoordelikheid gaan neem vir 8 seuntjies. Maandagaand het ons die weeklikse personeelvergadering gehad waar ons drie  so 'n groot 'slab choclate' gekry het omdat ons nuut is en hulle kan nie van der Merwe reg uitspreek nie. Daarna het die Afrikaanse meisie by ons kom eet aan die vis wat ons Sondag in die 'doggiebag' teruggebring het. Alta het van die maroelas van die boom in ons tuin konfyt gemaak, heel lekker.
Dinsdag het ons die dag begin met hoë humiditeit, later met die rondbeweeg op die terrein het Petrus so 2 keer natgereent maar dit het nie werklik 'n verskil gemaak aan die hitte nie  en dit help nie om droog aan te trek nie, jy bly maar nat. Daar was so 2 donderslae en 12 uur trek hier 'n bui reen los wat vir 'n uur plus net val. Later het ons eers gesien hoe alles verspoel het. Alta is ook besig om gordyne te maak vir die kamer waarna die 8 seuns verskuif word.

Sondag 13 Januarie 2013

Sondag 13 Januarie 2013

Kerk vanaf 10:00 tot 12:30. Die besoekers en ons nuwelinge word vorentoe geroep en daar word vir ons spesiaal gebid deur handoplegging deur verskeie mense en een persoon wat 'n gebed vir almal doen. Dis ingrypend vir ons. Ons kry ook die eerste keer die geleentheid om saam met al die sendelinge (ons is ook nou sendelinge, ek het altyd gedink jy kan net 'n sendeling wees as jy kan preek en vir ander mense voltyds van Jesus vertel) die hande op te lê en te bid, vir 'n groep wat op 'n stadium vorentoe beweeg het op uitnodiging van die persoon wat leiding geneem het. Ook nuut vir ons. Dit is net 'n bietjie moeilik met lofprysing want ons verstaan nog nie die taal nie en kry dit ook nie gevolg op die bord nie. Preke word getolk na Engels of Portugees.
Na kerk vat ons die pad vismark toe waarvan Francois my vertel het. Ons het die gids wat ons Vrydag rondgewys het saam genooi vir 'n 3 ledige doel, dankie te sê vir sy hulp, seker te maak ons kom daaruit en ons te help met die vismark. Dit reen steeds en ons ry weer 'n nuwe pad. Daar ge-arriveer stap ons in 'n geroesmoes in. Jy kan vir jou vis kies wat vir jou gaar gemaak word. Daar is alles waaraan jy kan dink uit die see. Die probleem is egter almal praat met jou, baklei onderling met mekaar en dit oorweldig jou. Na ons so half deur die plek is, steek ons half moedeloos vas by een stalletjie, ons besluit ons gaan Stone Fish vat. Onseker hoeveel genoeg is eindig ons met 7kg se vis vir 1500 meticas (R500). Weg is ons saam met 'n vrou wat vir ons die vis gaan gaar maak, by haar kombuis en eethoekie. Terwyl ons wag vir die kos wil elke smous sy produkte aan jou verkoop, van sandale tot skilderye. Die kos arriveer en ons eet lekker, die vis is regtig goed voorberei, net die oë van die visse kyk nog vir jou en vir die rekord, ek het net een graat gekry, wat ek gesien het met die inskep, en Alta kry al die grate. Na ete kom die res van die rekening, 1100 meticas (R388). Totale koste R888, ons het skoolgeld betaal en sal volgende keer van beter weet, maar het darem nog vis huistoe ook gebring.
So as julle kom kuier en wil vismark toegaan, sal ons julle vat maar julle betaal die ete.
More begin ons werk, ook nie regverdig nie, die ander nuwelinge kry 'n week om hulle self hier te vind voor hulle begin werk en ons net 3 dae.

Saterdag 12 Januarie 2013

11 Januarie 2013 die 2de dag

Dit reen en is heerlik koel. Eerste vergadering met die direkteure (of base). Ons kry weer ander werk. Alta moet help met 'n nuwe program waar 'n groep kinders na 'n nuwe huis verskuif word. Die kamer vir hulle moet nog ingerig word en ons kry ook elkeen werk daarmee. Alta en Ma Nellie moet ook, sodra die kinders verskuif is, hulle in die middae vir 2 ure besig hou. Verder neem Alta die babahuis se toesig oor wanneer die huidige toesighouer huistoe gaan vir 6 maande. Ek moet elektriese onderhoud doen op die sentrum, die Mozambique elektrisien oplei, die sentrum deurgaan en kyk waar die elektrisiteit aandag nodig het en moet ook  na die voertuie omsien.

Daar moet winkel toe gegaan word want daar is kos by Marloth vergeet. 'n Plaaslike jongman stem in om ons te gaan wys waar die winkels is. So 14:00 vertrek ons stad toe met druk verkeer. Ons vind Shoprite (kos is baie duurder as in SA), en ons sal moet leer om Portugees te praat, ons verstaan nie eers as die kassier vra of ons kleingeld het nie en die aanmaak koeldranke se etikette is ook Potrugees. By Maputo Mall naby die hawe, kry ons simkaarte vir Mosambiek, vandaar wys hy waar Game en die vismark is. Ek kry deeglike ondervinding hoe om in Maputo te bestuur, jy gee nie toe nie en moet heeltyd weet wat 360 grade om jou aangaan, voertuie ry steeds al is die verkeerslig rooi vir hulle en vleg dan deur die dwars verkeer met hoeters wat ooral raas. Die geheim is wanneer dit druk raak en daar is verkeersopeenhopings val agter 'n taxi in en gee vir niemand 'n geleentheid om voor jou in te kom nie. Ons is regdeur Maputo en met 'n stiller agterroete terug Zimpeto toe. Hierdie roete het so 'n 2km sandpad ingesluit wat vol damme water was. Ek het 'n kans gehad om die Kia se 4 wiel te gebruik. Ons was 4 ure later terug by die huis, lekker moeg.


Aankoms by Zimpeto

Ons laai wat ons kan by Marloth en val in die pad so 130km om te ry. Grenspos is hierdie keer nie 'n probleem nie en ons gaan vinnig deur. Lugversorger werk hard want daar is 'n hittegolf. Verkeer deur Maputo is druk en stadig. Ons arriveer 11:30 by Zimpeto.
Ons huis word vir ons gewys en daar is 'n koelteboom vir die Kia. Hulle is smart, hulle het die huis skoon gemaak, beddens is opgemaak en daar is kos gekoop en dit is in die rakke en yskas gepak.
Dit is baie warm en niemand het energie om baie te doen nie. 'n Gereelde koue stort help. So deur die tyd daag daar ander mense op om te groet (daar is ook nog 'n Suid Afrikaner Catherine Kloppers wat ook kort gelede gearriveer het). Laat middag word daar vir ons klaar voorbereide kos gebring.
Vroeg vroeg is ons in die bed en probeer slaap in die hitte met die waaiers aan.
Hier is 'n paar foto's.


Agtergrond:



  • Zimpeto is een van Iris Ministries se uitreike. Hier gaan dit om wees-, verwaardelose-, mishandelde- en  arm kinders. Daar is 250 kinders in die sentrum en ook 'n skool vir 1000 kinders wat voorsien in die omgewing. Verder is daar ook 'n kerk-gedeelte wat uitreike na die omgewing doen.
  • Zimpeto is aan die noordekant van en steeds in Maputo.
  • Ons was September 2012 by Zimpeto Iris om te kyk wat daar gebeur. Hulle was ook op soek na 'n bestuurder vir onderhoud.
  • 04 Oktober 2012 het ons hulle laat weet ons sal graag daar wil betrokke raak.
  • Daarna moes ons baie inligting voorsien en op 6 Desember 2012 het hulle ons laat weet ons moet kom enige tyd na 7 Januarie 2013.
  • Daar word ooreengekom dat ons 10 Januarie 2013 daar sal wees.
  • 6 Januarie 2013 laat weet hulle ons die goeie nuus dat daar 'n 3 slaapkamer huis, waarvan daar net so 4 of 5 is op die sentrum, vir ons beskikbaar is. Verder gaan ek moet help met die voertuie en 'n groep kinders. Alta moet help met ontvangs van gaste en die dogters leer naaldwerk doen. Ma Nellie moes ook help met die ontvang van besoekers.

Die res van gebeure na ons aankoms volg.