Dinsdag 29 Januarie 2013

23 & 24 Januarie 2013

Donderdag reël ons, Alta en Ouma, om saam met die groep uit te gaan op die hospitaal uitreik. Hulle gaan bid vir  die pasiënte in die hospitaal. Ons ry in een van Iris se bussies hospitaal toe, ons is so 10 mense. 2 pastors, 4 sendelinge, 2 besoekers en 2 mans, wat ons vermoed, van die Bible School wat saam gaan.
Ons verwag dat die hospitaal verwaarloos is, maar wat ons daar aantref is moeilik om te beskryf, ek dink mens moet dit sien om te kan glo. Ek beskryf dit so goed ek kan.
By die hek hou ons stil en een gaan koop piesangs by die stalletjie voor die hospitaal. Ons ry in en stop by die dermatologiese afdeling. Ons klim uit en doen 'n gebed, deel in 2 spanne op en stap aan na die ingang. Ek wys vir Ouma hoe dik die mure is, 'n outyd se voet dik. Muskietgaas is voor die vensters aan die buitekant en die muur is so dik die vensters maak daar binne oop. Binne moet ons eers wag sodat papierwerk en toestemming afgehandel word. Die plek ruik muwerig en is oud. Ons gaan die trappe op, houttrappe wat so half onder ons gewig mee gee en hol geloop is. Ons loop tot by die verste kamers, daar is 2 vroue in die saal, die beddens is van stainless steel so ook die trollies aan die voet-en-ent van die bed en die bedkassie is net 'n dubbele rak van stainless steel, daar is 2 meer moderne stoele in die kamer, die vensterbank is hoër as my kop en die dak doer ver bo. Die mure is stowerig, daar is geen ander toerusting in die kamers nie, nie eers 'n gordyn tussen elke pasiënt nie. Die lakens is gelerig-bruin of lig bruin en met donkerder bruin is in die lengte in groot letters 'hospital' op gedruk, geen kussings nie, lyk  of die pasiënte self daarvoor moet sorg, daar was net 2 kussings by die 6 beddens waar ons was. Die vloere op die eerste verdieping is van hout. Dit lyk of dit dubbele lae was, party plekke is die hout gevrot en sag, ander plekke is daar stukke uit en in die gang was daar eens op 'n tyd blokkies houtvloere en later het hul iets rubberig daaroor gesit met plastiek teëls wat nou dele van uitgebreek het.

Die eerste vrou waar ons by kom slaap en ons praat toe met die ander een in die kamer, sy was besig om te eet aan 'n bord kos was ons nie voor kans gesien het nie, baie onaptytlik. Sy lyk vreesbevange toe ons met haar begin praat, en sê sy kan nie kos kan inkry nie en  dat haar familie haar verwerp het. Sy het swartkolle op haar vel. Ons bid vir haar en die ander vrou word wakker terwyl ons besig. Sy gooi haar half oop en het oral oor ronde sere waar bloederige sigwater uit loop. Die lakens lyk of dit nog nie die dag vervang is nie, waar daar nie oop sere is nie is letsels of  dop die vel af.  Sy is  dankbaar vir ons gebede en sê dat sy die Here ken. In tussen het die vorige vrou haar kos smaaklik ge-eet. Die piesangs word by elke pasient gelos, asook traktaatjies. By die volgende kamer lê 'n kind en sy ma sit op die stoel, 'n vrot reuk hang in die kamer. Altwee die voete is verbind die bene is dik geswel en knopperig en die hande en arms ook. Die laaste 2 gevalle is nie 'n mooi gesig nie. Die volgende kamer het 2 pasiente en hul bring nog een terwyl ons daar is. Die eerste een is 'n ou vrou met talle letsels op die vel, dis droë skubberige plekke en wit waar die skubbe afgedop het en sy is verskriklik maer, sy wil nie eintlik hê dat ons vir haar moet bid nie, ons lei af dat sy Hindo verbindtenise het, maar hulle bid nie te min vir haar. Die volgende is 'n albino meisie met 'n verband oor die helfte van haar gesig en oor, ons vermoed dis sonbrand. Die ander groep kom daar om vir haar te bid, haar ma lê in 'n ander saal en het gevra dat hul vir haar ook sal bid, hulle ken die Here. Intussen is daar nog iemand wat opgeneem is met 'n drup. Ons tyd is eintlik verstreke, maar die een sendeling het 'n gesig gekry wat gesê het sy moet vir iemand bid wat 'n immuniteits probleem het en ons bid ook vir haar. Voor meeste beddens lê 'n buisie van dieselfde soort blou en geel antiseptiese salf. Dit voel vir ons as enige een hier genees, dit opsigself  'n wonderwerk is. Ons kom onder die besef dat ons vreeslik baie het om voor dankbaar te wees en kan nie glo dat enige iemand velprobleme kan toe laat om sulke afmetings aan te neem nie. Al wat ons kan dink is dat hul waarskynlik eers toordokters se hulp inroep en die hospitaal as die laaste opsie oorweeg.

Verskoon asseblief enige spel-, taalfoute en Engels wat ons ingooi, ons skryf hierdie gewoonlik laat aande.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking