Maandag is die gewone bedrywighede, niks uitstaande nie. Ouma brei en een
van die seuns wil ook, maar sukkel en Alta wys hulle hoe om vingerbrei te doen.
Petrus vind Maandag uit dat werks-etiek hier in Mosambiek net soos in SA is,
alle nuwe stelsels wat ingestel is, word doodeenvoudig omseil en die bestuurder
vermy om stappe te neem en Petrus het nog nie uitvoerende magte gekry om self
te kan optree nie.
Dinsdag is weer Shoprite toe met die bus vir aankope vir die babas. Wat ’n
interessante rit, ons gesels met een van die besoekers en vind uit presies wat
hy in Engeland doen. Hy werk vir sy kerk en doen ook speel-terrapie en ons gryp
dadelik die geleentheid aan en vra om ons meer daarvan te vertel. Hy het
reëlings vir die aand en ons moet met die kinders besig wees en ons reël dat hy
die aand na hul terug is van die straatuitreik met ons gesels en so word ons
toe ook bietjie slimmer. Deel van die gesprek op die bus was ook oor vingerbrei
en die aand wys Alta toe gou vir die vrou wat daaroor gevra het. Op die ou end
sit drie volwassennes en vingertjie-brei en is net so opgewonde daaroor as die
kinders en dit 10:30 in die aand. Ons vind dit baie snaaks!
Woensdag begin nogal erg, Alta loop om klere, wat reggemaak is, vir die
seuns te gee voordat hulle eetsaal toe gaan, want vandaar gaan hulle direk
skool toe. Daar aangekom is dit ’n geskree van ’n ander wêreld, die een seun
weier om die vuil hemp wat hy aan het, uit te trek en ’n skone aan te trek.
Hulle trek gewoonlik hul skoolhemde bo-oor ’n T-hemp aan. Ons kry hom naderhand
sover om die skoolhemp aan te trek en eetsaal toe te loop. By die eetsaal keer
’n ander kind hom voor en eis sy plakkies(skoeisel) terug, ek sien toe eers dat
hy nie sy eie aan het nie en die seun wys hom waar hy syne gelos het. Ons moes
die wat hy aan het vir hom uittrek en sy eie aantrek, hy het geen samewerking
gegee nie. Vanmiddag kom hulle so stuk-stuk aan en elkeen trek in sy eie
rigting en dit is chaos. Dieselfde seun van die oggend is ontevrede omdat hy
nie sy sin kry nie en wil net loop, Petrus kom om die hoek en keer hom voor en
bring hom terug. Hy stoei en sit dieselfde gesanik as die oggend op, glad nie
tevrede om vasgevat te word nie. Hy gaan so aan, dat die buurvrou naderhand oor
die heining vra of alles reg is en ons het nie regtig ’n benul waaroor al die
geskree is nie en hou hom net vas om hom te kalmeer en te keer dat hy nie pad
vat nie, het nie baie suksesvol gevoel nie. ’n Ander een is ook naderhand aan
die skree en wil nie dat ons naby hom kom nie.
Tussen deur gaan die ander aan met hul gom en sand projekies, alles is vol
sand en gom, tot die badkamer. Wat ’n middag! Ons stuur hulle camerada toe,
maar ’n paar bly agter, tot dit tyd vir stort is. Ons is nog besig met ’n paar
ding, onderandere is Petrus besig om die Kia te was toe die een wat die meeste geskree
het saam met ’n ander een terug is en hulle help kar was, hulle loop eers toe
dit tyd is om eetsaal toe te gaan. Ons kan asem skep en stort self en eet ook
voor ‘home group’. Terwyl ons nog eet, kom een om die hoek loer en nie lank nie
en 5 van hulle is hier onderandere weer die een wat die middag so ’n geskree
opgesit het. So dit wil nie voorkom of ons te streng was of verkeerd opgetree
het nie, hulle kom weer terug. Ons besef ons het baie meer geduld nou as ’n
klompie jare terug.
Walter wat die IT hanteer wil dit nie meer doen nie en gaan vir ’n maand
huis toe. In ’n gesprek met een van die leiers meld Petrus dat hy dalk sal kan
help. Kort daarna (Maandag) ontvang hy ’n epos vanaf Zimpeto se direkteur, wat
tans op vakansie is, dat as hy daarin belangstel om te help moet hy net eers
kyk of hy nie te veel aanvat nie en dat hy daaroor bid vir leiding. Woensdag-middag
daag Walter hier by die huis op om te hoor of Petrus by hom Dondermiddag sal
kan uitkom, sodat hy kan begin om Petrus te wys wat alles by IT aangaan, die
besluit is uit Petrus se hande gevat.
Woensdagaand is dit weer Homegroup en Wendy hanteer Neh.4 met ons, in
opvolg van ons vorige hantering 4 weke gelede. Dit gaan oor Israel wat die mure
van Jerusalem moes herbou met die gereedskap in een hand en ’n wapen in die
ander hand. Sy gee vir ons 8 wapens uit die Skrif wat ons hier in Zimpeto kan
gebruik: Visie om altyd te onthou
(hoekom het ons hierheen gekom); Eenheid
tussen ons sendelinge, uit verskillende nasies en kulture, wat hier in ’n klein
ruimte saam moet werk wat verder onderverdeel word in vergewingsgesindheid
en eerbied vir mekaar; Aanvaarding van gebeure om vrede te kan ervaar; Lofprysing aan God; die Bybel, verklaar dit, praat dit, kou
daaraan en bid uit dit; Rus, verdeel
in fisiese, emosionele en geestelike rus; jou Gawes, Vrugte van die Gees en Wapenrusting
van God; laaste die Waarheid wie ons
is volgens die skrif. Verder is Petrus baie gelukkig met Homegroup, daar is
soos met die kleingroep altyd koek.
Donderdag is die seuns weer die gehoorsaamheid self en Ma-Nellie is
hospitaaluitreik toe. Daar is op onthoud, daar word na tolke gesoek om saam te
gaan en hulle het nie die brief van die pastoor om in te handig by die
hospitaal nie. Hulle word net tydens besoekure toegelaat en dis half vier toe hulle
hier weg is en moet toe nog die brief by die pastoor langs die pad kry. By die
hospitaal aangekom is daar net tyd om by een saal per groep (kon 2goepies maak)
aan te doen. By die saal waar Ma-Nellie hulle is is daar 4 pasiënte, 1 sê dat
hy reeds ’n kind van die Here is en gereeld kerk toe gaan, maar die ander 3
neem die besluit en maak Jesus deel van hulle lewens na daar virhulle gebid is.
Wat ’n seëning en dit nadat die duiwel hard probeer het om hulle daar weg te
hou!
Vrydag gaan normaal aan en so 16:30 dring Alta daarop aan dat ons ’n ent
gaan ry sodat sy van haar frustrasies ontslae kan raak. Ons vat die pad noord
na Xia Xai, ’n mens spreek dit Shai Shai uit, se rigting. Ons ry tot by
Marracuene en gaan soek die pont waarmee jy oor die rivier gaan om by
Macanetastrand uit te kom. Dit is die naaste skoon strand waar ’n mens dit kan
waag om te swem. Die plan is om in Maart wanneer Alta en Clare (Clare is
betrokke met uitreike en John is die Onderhoudsbestuurder met ook ’n lekker
humorsin, hulle is van Wales af) af is, ’n bietjie soontoe te gaan vir die dag.
Saterdag en Sondag is rustig met die kinders wat so 2-2 kort-kort hier
opdaag en dat ons die hek moet sluit wanneer ons ’n bietjie wil slaap of alleen
wil wees om ’n vleisie te kan braai. Hierdie keer was niemand uitgenooi om saam
te braai nie, want Ma Nellie het sjokoladepoeding gemaak en Petrus deel dit nie
graag met ander nie.
Onder is foto’s van die rivier en pont, ’n foto van hoe hier steiers gebou word en vir die wat van steiers en hulle oprigting weet sal dit asemrowend wees, foto’s van ons spannetjie (die een met die hemp met die horisontale strepe en rooi broek is Agostinho wat terug huistoe is) en ’n inwoner wat ons hier by ons huis ontdek het.