Hierdie is ’n lang gedeelte want daar het baie gebeur.
Dinsdagoggend toe Alta saam met die
bus oppad was dorp toe om aankope te gaan doen, vir die babas(nursery) vertel
hulle vir haar dat een van ons seuns terug geplaas gaan word in sy ouerhuis,
Vrydag. Wawo, sy sukkel nog om alles gewoond te raak en te verstaan hoe dinge
werk en nou nog iets nuut. Hulle gee blykbaar sekere goed saam, maar sy het nie
’n benul wat nie, en besef sy sal iets moet kry om ook vir hom te gee en wonder
hoe dit sal gaan met nou nog ’n ekstra mond wat gevoed moet word by sy huis, en
koop ’n bietjie kos. Sy weet ook nie presies wat se klere hy het en in watter
toestand dit is nie. En mens het in die kort
tydjie gewoond geraak aan elkeen en sy spesifieke behoeftes en karakter.
Hy het elke Donderdagaand met die kerkdiens op Petrus se skoot kom lê en slaap.
Dinsdagaand hoor ons dat een van die seuntjies (5 jaar oud) wat ongeveer 24
Januarie geintegreer is na sy ouma toe, soek is, al sedert 2 Februarie. Die
ouma het alles moontlik gedoen om hom op te spoor, maar hulle kry hom nie en
nou kom vra sy hier hulp. Almal begin dadelik bid, maak ‘Flyers’ om in
gemeenskap uit te deel en plaas dit op Facebook . ’n Menigte bid.
Woensdagoggend gaan ’n span uit om te help soek, daar het met die gebede
gesigte navore gekom en hulle kyk uit vir tekens en volg dit. Die vrou, wat sy
huismoeder hier was, het die verlore skaap in die Bybel gesien terwyl sy gebid
het en die oggend toe sy haar emails oopmaak het haar swaer vir haar dieselfde
gedeelte gestuur om aan vas te hou. Een van die ander vroue hier het onder
andere ’n wit heining wat nie soos die ander hier lyk nie en Donald Ducks
gesien. Op ’n punt kom hulle op hierdie heining af , dis ’n speelskooltjie en
hulle gaan vra, die vrou wat die gesig gesien het besluit om nie in te gaan
nie, maar sy kry ‘n boodskap wat sê sy moet gaan kyk hoe dit by ander skole
lyk. Toe sy in loop is daar 3 Donald Ducks op die muur geverf en nog op ander
mure ook. Die kind is nie daar nie, maar daar was ’n ander kind daar wat
verlore was. Hulle was uit opsies en besluit om terug te keer basis toe. Die
een vrou in die groep besluit om eers ’n vriendin, wat by ’n ander kinderhuis
werk, te bel en te hoor of hulle nie ’n verlore kind onlangs daar gekry het nie.
Die antwoord dat daar ’n kind van dieselfde ouderdom ’n paar dae gelede deur
die polisie daarheen gebring is. Hulle is daarheen en tussen die kinders wat op
daardie staduim geslaap het en vind hulle hom!
Net God kon dit bewerk dat die kind juis by die spesifieke kindershuis, uit
baie in Maputo, was.
In die korrespondensie wat Iris vooraf aan ons gestuur het, meld hulle dit
duidelik dat elkeen van ons nie net deur God hierheen gestuur word om vir Hom
hier te kom werk nie maar ook ‘He has
brought you here for you’. Ons sien dit almeer in dinge wat hier
gebeur.
Woensdagmiddag het Alta die seuns swembad toe geneem, hulle vra al daarvoor
van ons met hul begin werk het. Sy het nie kans gesien om met 8 seuns swembad
toe te gaan met wie sy nie behoorlik kan
kommunikeer nie. Amilto, ’n Mosambieker wat ook help met die kinders in die
middae, het gesê hy sal saam gaan, en gelukkig het een leier van die YMCA span
van America wat hier besoek aflê, aangebied om van die span (hul is 18) te vra
om saam te gaan swembad toe. ‘Ons’ was toe 3 Amerikaners, Alta en Amilto en 8
baie energieke seuntjies. Almal behalwe Amilto is in die Kia hier weg swembad
toe en die klomp het hulle gate uit geniet in ’n groen-alg swembad waarvoor jy
100 metikas vir ’n volwasene en 70 metikas vir ’n kind moes betaal (R1.00 = 3
metikas). Die Amerikaners het ook hul hulp aangebied om een van die kamers in
die camerada te help verf. (Slegs die kamer van die 8 kleintjies was reeds
geverf maar die ander 3 kamers waar die groter seuns slaap moet nog geverf
word)
Donderdag het Petrus die een vergadering op die ander een gehad.
Die verwery het amper op ’n groot gemors uitgeloop. Eers is daar
verskillende soorte verf gemeng, dis nou oliebasis en PVA , wat ’n dik spul tot
gevolg gehad het wat nie aan die mure wou bly nie, toe word daar lampolie
bygegooi ipv terpentyn, wat dit nog dikker gemaak het en op die ou end het hul
nuwe verf gaan koop, al wat ons genoeg van kon kry, was Sky Blue. Maar ek moet
sê dit lyk baie mooi en 100% beter as die lood grys wat oral deur die beddens
afgestamp was. Alta sien deur al hierdie floppies dat dit ’n bestuuring van bo
was om op die einde baie mooi te lyk.
Vrydagoggend begin Petrus-hulle met ’n nuwe stelsel om bedrog met brandstof
te keer en hy moet vir ’n automatiese bussie, wat soos ’n taxi lyk, gaan
brandstof ingooi. Binne die basis is daar diksand oppad hek toe ± 150 meter, as
gevolg van reen wat die sand daar spoel en buite die hek het die
munisipaliteit besluit om die teerpad ’n slag skoon te vee (so 3 meter van die
teer was onder sand) en al die sand is op die sypaadjie en ook voor die hek gegooi.
Met die wegtrek besef Petrus hy ry nie met ‘n 4x4 nie en sal sy ry moet ken (hy
moes al ’n slag 4x4 gebruik met die Kia om deur te kom) want sy eer is op die
spel as dit moet gebeur dat hy vasval en uitgehelp moet word. Naby die hek moet
hy links padgee vir in voertuig wat inkom, daar is ’n gedeelte met gras waar hy
kan wag maar om daar te kom oor die walle sand, was dit so 2 keer terugtrek en
weer probeer. Buite die hek was dit wag net buite die hek waar die sand ’n
bietjie gekompakteer is tot daar ’n gaping in die verkeer is en dan teen
maksimum versnelling gly-gly deur die diksand tot op die teerpad. Teruggekom
was daar gelukkig ’n opening om regs deur die verkeer te kom en die hek was oop
so hy hoef nie stil te gehou het nie, sy eer is nie gekrenk nie.
Alta is aan diens in die Nursery en sien dat daar weer aankope gedoen moet
word en ons besluit om dit die middag te doen en saam met die bus te ry wat
elke Vrydag 14:00 mense in dorp toe neem vir aankope. Die bus het amper
vasgesit in die sand met die terugkom in die basis in.
Ons word ook genooi om by ‘n paartjie Vrydagaand te gaan koffiedrink ,
hulle is van Switserland. Daar aangekom is die verpleegstertjie van die sentrum
ook daar, sy kom van Duitsland af. Ons kry minttee, sjokoladekoek en lemmetjie
water. Na aanleiding van ’n vraag hoeveel malariagevalle hier op die basis
voorkom, bevestig die verpleegster dat daar geen gevalle van persone binne die
basis vir die laaste 2 jaar was nie, net mense wat uitgegaan het en vir ’n
tydperk buite die basis was of mense wat van buite af ingekom het na die basis
toe. Haar verklaring was verder dat sy glo dat die Here se hand hierin is, want
die kinders, behalwe die baba’s, gebruik nie die muskietnette om onder te slaap
nie, hulle gebruik ook geen muskiet-afweermiddels nie en die kamers se vensters
het nie muskietnette voor nie en staan altyd oop. Daar is ook nie ’n tekort aan
muskiete hier nie en steeds kry hulle en die res van die personeel en
sendelinge wat hier op die basis bly nie malaria nie.
Saterdag is ’n rustige dag en ons het ’n bietjie rondgery en vleisgebraai.
Sondag is ons 10 uur kerk toe (half 2 was ons terug), die prediker is een
van Heidi Baker se Mosambiekse aanneem-seuns wat ’n pastoor geword het en in
Suid-Korea werk. Hy is hier om ondersteuning te gaan gee in die vloedgebied. Hy
gee ’n maraton diens.
Julle sal oplet dat ons niks meer oor die hitte hier skryf nie, ons begin
dit nou aanvaar en gewoond word. Die waaiers werk 24 uur. (Om oor die hitte te
praat raak afgesaag, as daar so baie gebeur.)
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking