Sondag 21 April 2013

15 – 21 April 2013


Maandag het die skoolvakansie begin, gelukkig is die vakansie net ‘n week. Die kinders was vroeg reeds hier en het die hele dag hier gespeel, met die gewone stryery en rusies.
Dinsdag het ons die kinders na Maputo se Zoological Gardens toe te neem. Dit was nie duur om in te gaan nie, net 45 meticas (dis R15.00) vir 9 kinders en 3 volwassenes. By die ingang is daar ’n fosiel-muurtjie en Alta het verduidelik wat dit is en Amilton het hopenlik reg vertaal. Die tuine aan die begin is redelik, al is die padjie sand, Mosambiek standaard, maar die res is lang gras en erg verwaarloos. Dit was egter vir ons ook ’n belewenis, dis die naaste wat ons seker ooit aan ’n seekoei of ’n krokodil sal kom! Die seekoei is die eerste hok wat ons by kom, die reëling op die muur is afgeroes en plek-plek weg, die seekoei is in die water/modder, dis baie vuil water en die trog is in ’n L vorm. Ons dink nie hy kan omdraai daarin nie. Toe ons later weer daar naby kom sien ons die seekoei is uit sy watertrog en staan met sy ken bo op die muurtjie, hy maak sy bek groot oop asof hy wag dat iemand kos sal in gooi. Na die seekoei kry ons slange in draadhokke, geen glas tussen ons en die slange nie, dis ’n verhoogde sementblad met jakkalsdraad en klein ogiesdraad. Daarna is daar ’n hok waar ’n boom omgeval het en dit lê net so, al vir jare en ons wonder wat van die dier of diere geword het wat daarin was. Die krokodille lê in ’n poel water aan die sonkant, waar uitkom plek is, is digte koelte en die water is vol plastiek bottels en sakke. Die volgend hok waar ons diere in kry is ook krokodille en een lê buite die water en die heining is laag, as jy wil kan jy aan die krokodil raak. Daar was so ’n paar verlore bobbejane in een hok met ’n kleintjie wart deur die heining klim en tussen die mense rondloop. Die blou-ape het 2 hokke en klim ook wanner hulle lus het uit en loop buite rond. Daar is verder geen toiletgeriewe nie en die speelgoed vir kinders is net ’n glyplank wat die kinders se broeke sal skeur en klimrame.  Na ons terug by die sentrum is word die kinders uitgenooi om saam met die groter kinders, in hulle dorm, strand toe te gaan vir die middag. Alta is saam om te help met die beheer. Dit was laagwater en daar was miljuisende krappies en die kinders het hulle gevang en vir ons kom wys. Dinsdagaand is al die sendelinge (±20) na ’n Chinese restaurant om vir Rachel te groet wat Vrydag huis toe vertrek na ‘n jaar diens hier. Op die bus het dit erger as ’n skoolbus geklink, opgemaak met streamers en partjietoeters (blaasgoetjies wat raas). Na die ete het ons aangedring op roomys en die is by’n roomyswinkel geniet wat ons totaal oorgeneem het.
Woensdag probeer ons werk inhaal en gerus kry, maar nie baie suksesvol met die kinders wat besluit het om weer die dag by ons huis deur te bring nie. Woensadgaand het ons die kinderdiens wat gewoonlik Donderdagaande is omdat hier ’n besoekende pastoor vanaf Swaziland is wat die diens waarneem. Hy preek in Engels en ons kan volg maar hy herhaal ook weer alles ’n paar keer.
Donderdagaand het ons Home group, Nancy van Amerika (die vrou waarvan ons vertel het die vorige week se blog) leer ons van ‘round table’ met konflik as die besprekingspunt, Dit is ’n metode om lewensbeginsels te bespreek en daaruit te leer. Ons korrigeer ons self in die vorige week se blog waar ons gesê het sy bied ’n kursus aan wat deur Round Table USA opgestel is, dit is ’n kursus wat opgestel is deur La Red Business Network en meer kan gelees word daaroor op hulle webblad www.lared.org.
Vrydag groet ons Rachel  voor sy weg is lughawe toe en trane vloei. 12:45 het ons ons eerste Portugese-taalles vir ’n uur. Ons het op ’n vorige Home group vertel van ons frustrasies met die beperking om Portugees te praat, waarop Dominique (die Switser wat finansies hanteer) die kans gebruik om die metode waarin hy opleiding ontvang het met taalleer aan te wend, taalvaardigheid is ’n passie by hom en as gevolg daarvan het al die sendelinge nou al die woorde geleer ‘Ek sal bid vir jou’ na ons dit die een aand gesing het. Die opleiding begin met 20 lesse waar jy net na die taal luister, ons het begin om eers te luister na 4 groente soorte, daarna moes ons dit uitwys op prente wanneer dit gesê word, daarna het die werkwoorde, optel en neersit, bygekom waar ons die verskillende items moet optel en neersit, ens. Ons het nou 2 keer ’n week die kursus en sal sien hoe dit vorder.
Uit die gesprek met die sendelinge het ons agtergekom dat daar baie eensaamheid onder hulle is en gevolglik het ons besluit om geleenthede te skep om hulle gereeld by mekaar te bring. Die eerste was kegelbal Vrydagaand, ons was 9 wat met die Basis se bussie hier weg is in spitsverkeer. Dit was nie te duur volgens Mosambiek standaarde nie, R50 per kop. Almal het dit al voorheen gespeel behalwe ons twee, maar ons het nie teruggestaan vir hulle nie en het selfs advies gegee hoe om die bal te gooi. Dit was heel lekker.
Saterdag en Sondag is ons so stil moontlik deur met baie slaap en die veranderinge wat by die huis aangebring is (’n bykomende heining by die voordeur), het gehelp om die kinders weg te hou wanneer ons privaatheid soek.
As julle Ockie se stuk oor muskiete gelees het, dit is so dat hulle jou bykom as enige deel van jou aan die net raak. Hier is ’n nuwe plaag van muskiete tans en dit voel partykeer mens moet die deure oopmaak sodat hulle uit die huis uit kan kom, so baie is daar in die huis.
Ons kry net klagtes dat julle almal koud kry, hier is die temperatuur nog heel aangenaam (julle hoogste temperatuur is gelyk aan ons laagste) en het Saterdagaand ’n redelike swaar reenbui gehad.

Krokodil en heining is 1.2 m hoog

Bobbejaantjie wat uit die hok klim
Blou-aapie wat buite rondloop

Die seekoei
 
Toestand van dieretuin

Ete by Chinese restaurant

Die roomysplekkie, Rachel is die meisie met die grys sweetpaktop en kameraband in die hand

Verstaan dat ons die roomysplek oorgeneem het

Alta in aksie

Sondag 14 April 2013

8 – 14 April 2013


Dinsdag kry Petrus die versoek om ’n besoeker met die rekenaarnetwerk te koppel, haar naam is Nancy en sy is van USA. Sy is ons ouderdom en kom al vir 11 jaar na Iris se basisse toe, ±5 weke per jaar. Baie praat, is nie die regte woorde vir haar nie, so veel so dat syself gesê het dat sy ons koppe van ons lywe af praat en toe ons nalaat om dit teen te staan was sy baie gebelg en selfbewus daaroor, maar dit het haar nie lank afgesit het nie en sy eindig op om saam met ons te eet en te help skottelgoed was. Ons ken haar hele geskiedenis, sy het ons ook vertel van ’n voorval waar sy en ander persoon gebid het vir ’n baba wat geen oë gehad nie en na hulle gebed,  het hulle gesien hoe die oog in die baba vorm. Sy het ook vertel van ’n gebeurtenis waar ’n groep gebid het vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees, later het hulle op foto’s, wat gedurende die gebed geneem is, vuurtonge bokant elkeen se kop gesien, sy het vir ons die foto gewys. Daar was nog baie maar sy het ons dronk gepraat. Sy is baie entoesiasties en bied hierdie jaar ’n kursus aan wat deur Round Table USA opgestel en aangebied word. Ons sal meer daaroor vertel volgende week want ons deurloop die kursus hierdie komende Woensdagaand. Hier is ook nou ’n nuwe lang termyn sendeling wat Dinsdag gearriveer het. Helen is vanaf  New Zealand en help by die kliniek. Sy het ons vertel dat sy nog in haar kinderskoene staan as ’n Christen, sy is nou so ’n jaar ’n Christen en sy was by die Harvest School. Ons is nie meer die nuutste sendelinge  hier nie!!!
Woensdagaand is dit ons beurt om Home Group aan te bied. Ons het begin met eers ’n teksvers of twee en dan sing van ’n lied wat daarby gepas het. Hulle het ons uitgedaag en ons het dus vir hulle ook ’n Afrikaanse liedjie laat sing na ons dit eers vertaal het, dit was ‘Ek sal bid vir jou’. Ons het nagmaal gevier en elkeen ’n kans gegee om te vertel van probleme wat hy/sy het en waarvoor daar vir hulle gebid kan word. Dit was fantasties almal het deel geneem en ons het Donderdag ’n lys uitgestuur van elkeen se gebedsversoeke. Daar was ook verder baie positiewe terugvoer van die sendelinge wat wys maak nie saak wat se werk jy doen nie, jy bly maar net ’n mens met persoonlike probleme. Daar is ’n voorstel dat ons dit teminste een keer per maand doen.
Donderdag was heelwat koeler en  ons het baadjies en truie gesoek, iewers deur die dag was daar ook ’n paar druppels. Die kinders was knorrig en ge-irriteerd.
Vrydag was dit John se verjaarsdag en Clare wou vir hom ’n verrassing reël by die werkswinkel in samewerking met die werkers, sy stuur ook ’n email vir al die sendelinge en vergeet om sy naam van die groep af te haal, gelukkig het hy nie die email gelees nie. John het egter met middagete Vrydag besluit hy het klaar gewerk en wil saam met die bus Shoprite toe gaan. Na ons hom met ’n storie by die werkswinkel gekry het, het ons fees gevier tot hulle Shoprite toe is.
Saterdag besluit ons om 2 van die seuns saam te neem stad toe as ’n ‘outing’ vir hulle. Hulle ry roltrappe en kyk hoe mense ten pin bowling speel. Ons ry strand langs en kom op mooi ou geboue af en kom eers na ete by die huis terug. Hulle eet toe elk 4 snye brood en eiers vir middagete. Catherine het ’n braai gereël Saterdagaand hier by ons, vir al die sendelinge en vir ons huweliksherdenking verlede week. Meeste daag op en dit is ’n heerlike kuieraand. Laura en Steve en Ros vertel staaljies van jare gelede en almal lê soos hulle lag.
Sondag is ons kerk toe soos normaalweg en Sondagaand kom kyk die kinders DVD. Hulle het nou ’n week skoolvakansie. Dit kom voor asof die kinders begin vastigheid vind deur ons, hulle is kalmer, gehoorsamer en kom soek gereeld individuele aandag by ons. Hulle is jaloers op hulle tyd met ons en jaag die ander kinders, wat nie deel van die groep is nie, weg indien hulle ook hier wil kom speel.

Bid saam met ons vir een van die ouer kinders wat al swakker word, hy is HIV positief, het TB en kanker. Dit is hartverskeurend om hom so te sien lei en hy weet dat die einde nader kom. Dankie vir die wat aangebied het om vir individuele kinders te bid, daar is nog vir wie gebid kan word, laat weet asb. indien jy belangstel om deel te neem. Een van die kinders waarvoor gebid word was een van die moeilikes en hy is besig om al hoe meer rustig en gehoorsaam te word en ons glo dit is omdat daar vir hom spesiaal gebid word.

Maandag 08 April 2013

1 – 7 April 2013


Maandagaand by die ‘Business Meeting’ kry Clare en ons sjokolade vir die versiering van die kerk.
Dinsdag  was die maandelikse aankope van voorraad vir die ‘Nursery’. Dis nogal uitputtend en jy het baie geduld nodig, dis Afrika en als word op Afrika-tyd gedoen.
Woensdagaand kry ons koud en trek vir die eerstekeer ’n warmding aan. By ‘Home Group’ word daar afskeid geneem van Ma Nellie, daar word dankie gesê en trane gestort. Hulle bid vir Ma Nellie en vir ons. Sien die foto’s onder. Daar was ’n lekker koek en Petrus het lekker ge-eet, soos altyd, ook ’n doggybag huis toe. Die groepfoto wys omtrend al die sendelinge hier, daar is net 5 van jonger meisies nie op die foto nie: een het die foto geneem, twee is vir ’n tydperk huis toe, een het besoekers rond geneem en een het saam met haar ma en pa vakansie gehou. Die swartetjie is een van die groter kinders hier wat die tolk was vir twee Brasilianers wat nie Engels magtig is nie.
Donderdag is dit steeds koud die oggend maar later begin die son bak en dit word warm. Die kinders kyk DVD die middag en so 3 uur val ons in die pad Marloth toe met ’n lang lys van goed wat ons vir almal in Nelspruit moet kry, John en Clare is weer saam want hulle moet deur die grens om hulle visa vereistes na te kom.
Vrydag-oggend is Alta se stem weg en ons kan dit nie vind nie en dit op ons 32ste huweliksherdenkking. Ons val in die pad Nelspruit toe, spandeer ’n uur by ’n materiaal winkel sonder om baie te kan wys, jaag na die oor-mense om Ma Nellie se nuwe gehoorapperaat te kry wat ’n verder 1¼ vat, daarna die eerste mall waar ons eet, kos koop en van die goed wat op die lys is, ’n goeie 3 ure. Daarna na die volgende mall waar ons vir Louis Koster (’n klompie van julle sal hom ken) raakloop en lekker gesels, ’n verdere uur. Daarna na die derde mall waar daar so ‘n bietjie vergeet word om als te doen (en dit sal natuurlik juis die moeilike sendeling se goed wees, wat vergeet word) want ons val vas in CUM. 4 uur jaag ons terug middestad toe na die krale winkel vir Clare waar sy tot 5 uur deurbring en die winkel leeg koop. Ons keer terug Marloth toe met ’n lys waarvan daar nog baie nie afgehandel is nie. (Sorry dit is maar so en dit sal moet wag tot iemand weer Nelspruit toe gaan).  
Saterdag is Alta se stem terug maar sy het koors en is ons Komatiepoort toe vir pille en vleis, ons het ’n slaghuis gevind waar die vleis en biltong goed en redelik goedkoop is (veral in vergelyking met Mosambiek, biltong kos R330/kg teenoor R168/kg in SA). Saterdagaand gee Clare vir ons 'n pakkie, wat sy vir ons gekoop het Vrydag by CUM, as dankie dat ons hulle rondry en ook vir ons huweliksherdenking. Sy het iets in Afrikaans gesoek en besluit op Angus Bucham sonder om vir iemand daar te vra om vir haar dit te vertaal na Engels sodat sy weet wat sy koop, wel dit was toe 'Woorde van Wysheid vir jou Pa' Ons het almal lekker daaroor gelag, maar Petrus gebruik dit.  
Sondag is ons weer AGS kerk toe in Komatiepoort en John en Clare is saam. Die pastoor wend ’n goeie poging aan om ook Engels in sy preek te gebruik om die Engelssprekendes te akkommodeer. Ons het ’n punt daarvan gemaak om elke keer Komatipoort toe, dieselfde pad te ry sodat Ma Nellie dit kan leer en ons los haar op Marloth, sy is baie gelukkig, Sondagmiddag met die opdrag dat sy die afstandbeheer van die alarm en haar telefoon die heeltyd saam haar moet dra. Dit gaan vinnig by die grens, so ver so dat aan Mosambiek kant vra Petrus die doeanebeampte om die voertuig deur te gaan en hy besluit hy sit te lekker en vra net watter voertuig is ons s’n, wat nogal amper tot teen die dak gelaai was, praat iets in Portugees waarop Petrus sê hy verstaan nie en die ou teken die dokument en ons is weg. Alta is nog steeds siek en die aand is ons kliniek toe waar sy getoets is vir malaria, wat negatief is, deur ’n verpleegster wat glad nie Engels kan praat of verstaan nie.
’n Storie van vasbyt: Hier daag ’n Switzerse familie op, wat ’n voertuig gehuur het in SA (Landrover) om deur Mosambiek te toer. Hulle stop hier by Zimpeto vir ’n paar dae, want hulle ken een van die sendelingpare wat ’n uitreikpunt het naby Marracuene, Dinsdagoggend wil hulle saam, met hulle gehuurde voertuig,  Marracuene toe gaan, hulle het net tot buite die hek gevorder en daar het die Landrover geen ratte nie (die vermoede is dat hulle 4 wiel wou gebruik by die hek en die koppeling het iewers weggeraak in die aandrywing gedeelte tussen hoë- en laeaandrywing. Ons sleep hulle terug tot in die voertuigpark. Iris se werktuigkundige is seker hy kan dit regmaak, maar die verhuringsmaatskappy wil eers met die werktuigkundige praat en daar is ’n taal probleem. Later stuur hulle 'n plaaslike maatskappy om die voertuig te kom haal en hulle laat weet dat hulle ’n ander voertuig stuur en ’n ratkas vir die gebreekte een. Twee dae later is hulle hier weg met die nuwe voertuig op die res van hulle toer, net om die naweek verder noord in Mosambiek te gaan staan met die voertuig wat net een rat het, nl. 5de. Die maatskappy stuur glo weer vir hulle ’n ander voertuig van Johannesburg af. Dit is goeie diens van ’n maatskappy wat voertuie verhuur, maar wie se voertuie in ’n swak toestand is.