Ons het verlede
week geskryf van die kinders wat siek is en dat ’n mens tog geheg raak aan
hulle. Ons kon nog altyd ’n afstand handhaaf maar nou raak dit al moeiliker,
ons is die week ingelig hoe om die een kind in ons dorm te begelei want medies
kan daar niks meer gedoen word nie. Daar word nou gewag vir Jesus om hom te kom
haal wat binne dae of nog ’n jaar of twee kan wees maar daar is steeds wilskrag
in hom en hy erken nie openlik dat hy siek is nie. Verder is daar die klein
dogtertjie wat nou van die hospitaal terug gestuur is want hulle kan ook niks
verder vir haar doen nie en wanneer jy na daardie gesiggie kyk dan raak dit jou
hart.
Ons is besig om
in die camerata dit beter en mooier te maak vir die kinders. Een van die
sendelinge doen houtwerk en hy het klerekaste vir die klein seuntjies gemaak,
waaroor hulle erg opgewonde is en ons is vertel dat hulle name op hul kassies
geskryf moet word. Die badkamers is in die proses om geverf te word en ons het
ou tafels wat stukkend is gekry om reg te maak en af te skuur vir ’n nuwe laag
verf en nuwe blaaie.
Ons het die
kinders gevra wat hulle graag in die
camerata wil hê en die eerste ding wat genoem is, was waaiers. Hulle wil ook
graag ‘n “disco” hê, dit is ’n CD speler. Verder wil hulle ook ’n yskas en ‘n
“sofa” hê. Nou ja dis nou ook nie goed wat met die klap van die vingers
aangestap sal kom nie, maar die yskas is nogal nodig veral vir die kind wat
siek is en nie altyd vir die rys en droë bone-geregte lus is nie. Hy is baie
lief vir yoghurt en melk en dit hou nie as dit nie in ’n yskas is nie en die
ander smag na koue water in die warm weer. Dit was alreeds hierdie week weer
hier rondom 31°C.
Vrydagaand so
half nege word ons ontbied deur die hoof educator, 3 van ons seuns is gekry met
DVD ’s wat nie aanvaarbaar is nie. Twee was
horrors en een aksie maar net een het ’n hoë ouderdomsbeperking gehad. Die
vraag is waar trek jy die streep, want enige seun hou tog van aksie flieks en
alles kan tog ook nie van hulle weggehou word nie met ’n gevolglike totale
onkunde wanneer hulle die wêreld buite moet betree nie.
Saterdag is ons
deur die grens Marloth toe vir ’n week van rus en Vella wat so 4 vt iets hoog
staan, is saam met ons. Sy kom van Engeland af en is al 8 jaar by Iris. Ons sal
nie volgende week ’n blog-inskrywing plaas nie.
Ons sal graag nog
mense wil hê om vir die kinders te help bid. Stuur asseblief ’n e-pos en ons
sal meer inligting gee oor een of twee van die seuns as julle jul weg oopsien
om vir hulle te bid. Die meeste van die seuns het nie ouers of ander familie
nie en dus niemand wat vir hulle bid nie. Hulle wissel tussen 13jaar en 18jaar.
Hulle het ook nie ‘n plek waarheen hulle sal kan gaan, wanneer hulle die
sentrum verlaat nie.