Ons het weer ’n
week gemis omdat ons verlede naweek getrek het en die res van die week uitgepak
het en moes ook voorberei om Woensdagaand se Home Group te lei.
So 2 maande
gelede het die Switserse egpaar met 4 kinders gevra of ons nie huise wil ruil nie,
want waar hulle aan die anderkant van die sentrum woon is die naweekgeraas en
honde van die sentrum en hulle kan glad nie met die geraas slaap nie. Hulle is
intussen met vakansie terug Switserland toe en ons het oor naweke gaan luister
of dit regtig so erg is met die slotsom dat dit nie is nie. Hier in Mosambiek
is daar ooral kroeë en nagklubs in die woongebiede (waarvan daar 2 reglangs die
muur van die sentrum is) waar daar naweke van Vrydagaand tot Maandagoggend
heeltyd geraas word met musiek op maksimum volume. Ons bevinding was, dit is
dieselfde geraas as waar ons bly en besluit om te ruil as dit die Switsers
gelukkig sal maak en dit het verlede Saterdag gebeur na hulle terugkeer. Met
die pakkery die voorafgaange week kon ons nie glo hoe vinnig mens kon opgaar
nie en dit in 7 maande, maar moet darem toegee dat ’n groot hoeveelheid vir die
kinders is wat ons hou om met tyd uit te deel. Die nuwe huis is grooter met
verskillende vertrekke en nie soos die eerste met kamers wat in ’n groot leefruimte
en kombuis uitloop nie. Die voordeel is, dat daar ’n tuin met 2 groot bome is,
wat heerlik sal wees in die somer en die huis het ook plafonne in wat dit
koeler maak. Na 2 naweke is ons bevinding dat dit vir ons baie stiller hier is,
al is daar ’n dorm met 4 jariges aangrensend en oor naweke is die geraasvlak
dieselfde as by die ander huis en die honde is ook nie ’n probleem nie. Wat ons
nie meer hoor nie is die verkeer in die straat en die kinders by die skool
gedurende die dag.
Dit gaan nie goed
met ons siek kinders in die sentrum nie. Judith, ’n sestienjarige diabeet, wat
sukkel om haar suiker af te hou is, weer in die hospitaal na die hospitaal haar
medikasie met sterioide gegee het en dit haar suikervlakke erg beïnvloed. Lucia
die vierjarige met TB en nog iets wat nie bepaal kan word nie, is ook weer in
die hospitaal in intensief en dit wil voorkom dat sy intussen breinskade gekry
met haar siekte, die graad van skade en moontlike herstel is nog nie bekend
nie. Inacio, die 16 jarige seun in ons dorm wat kanker het, het sy op-en-afdae
maar het nou ook sere in die mond, hy is ook Donderdag gedoop waaroor ons
verder onder toe vertel. Dan is daar Raphael, ’n gestremde seun, wat al vir ’n
maand opgooi en geen oorsaak kan gevind word nie. Die probleem is dat mens
geheg raak aan die kinders selfs al probeer jy om nie te emosioneel betrokke te
raak oor hulle nie. Die goeie nuus is dat dit met Kensane wat die hartoperasie
ondergaan he, baie goed te gaan, sy lag nou hardop, sy babbel en probeer kruip.
Sy is baie meer energiek na die operasie.
Woensdagaand
vertel Sonja ons van die reëlings om Inacio en ‘n ander seun te doop en dat dit
by ’n huis met ’n swembad iewers gedoen gaan word. Omdat Inacio een van ons
dorm se kinders is, gaan Alta Donderdag saam vir die doopery. Ons is 9 wat 9:30
vertrek van die sentrum af en is so 15 – 20 minute later daar. Die vrou waar
hulle die doop hou is gereëld in die kerk en sit altyd waar die vertaling in Engels
is, sy is van Suid Afrika ( Xhosa) vind ons uit toe ons daar is. Sy doen baie
moeite en verskaf ook ’n ete vir ons almal en die seuns kry elkeen ’n nuwe
geskenkstel handdoeke. Haar 2 seuns word ook gedoop. Gelukkig draai die dag uit
om goed warm te wees vir die wat die water moet aandurf. Die doop is vir elkeen
besonders. Ons was 13:20 terug by die sentrum.
Dit wil voorkom
of die groot seuns van die dorm ons begin aanvaar, die oudstes is nog baie
terughoudend. Ons het hul name en geboortedatums aangevra en kom toe agter dat
daar ’n paar is wat verjaar het in die tyd wat die oorname geneem het. Ons het
hul uitgesonder, weg van die kleintjies en gereël om Saterdag ’n tydjie met
hulle te spandeer. Alta het vir hulle kolwyntjies gemaak en saam met lekkers en
koeldrank gegee. Later is daar klere uitgedeel en dit was interresant dat
enigiets waarvan hulle nie hou nie, nie sal vat nie al moet hulle sonder dit
klaar kom.
Vrydagaand het
ons ’n oproep gekry om ons te vertel dat daar ’n klere skenking van ’n
kettinggroep gekom het en dat ons dit Saterdagoggend 9 uur moet uitsorteer en onder
die kinders verdeel sodat ’n TV-stasie 10 uur die kinders kan verfilm as
advertensie vir die maatskappy. Die probleem is dat stiptelikheid ook hier nie
belangrik is nie met die gevolg dat daar net 35 minute was om die klere vir die
kinders uit te soek. Die skenking het groot opgewondenheid veroorsaak. Die
jongeres het “flees” baadjies gekry, maar vir die grootes was daar meestal
onderklere en dan was daar klere vir dogters.
Klein Kensane |
Inasio na hy gedoop is, hy het vreugde vol gelag na die doop |
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking