Sondag 24 November 2013

18 – 24 November 2013

Sondagaand het Alta gou gaan kyk dat alles reg is vir die nag by die babas en terwyl  sy nog daar is kom daar ’n nuwe baba aan. Dis ’n noodgeval, die ma is in die hospitaal, omdat die pa haar geslaan het, nadat sy hom gekonfronteer het omdat hy met ’n ouer kind van hulle gelol het en hy is nou in die tronk. Later in die week hoor ons dat die ma se duim geamputeer moes word en ’n week later is die baba nog steeds hier.
Die verkiesing verloop so ver ons weet rustig en kalm, ons het weg gebly uit die strate, maar het ook niks gehoor nie.
Die kinders hou ons besig. Een het gevra dat hy ‘n matjie vir voor die bed wil hê en Alta sê  dan moet hy dit self maak. Alta doen die lappies se sny werk en die tia’s doen op die ou end meeste van die werk. In die week sien ons dat van die ander tia’s ook saam sit en lappies knoop aan die matjies. Almal wil nou matjies maak en gaan vra by die kombuis vir uie sakkies om dit te kan doen. Alta vra  afval lappies by die naaldwerkkamer.
Donderdag word ons gevra vir ’n vergadering by die bestuurders. Petrus se goed word bespreek en Alta se take en die camerada. Daar gaan gekyk word om die badkamer van die camerada oor te doen voor ons die nuwe seuntjies op 27 Desember kry. En Alta word gevra om te kyk of sy kans sien om toesig oor te hou in die naaldwerkkamer. Dit lyk nie of dit net ’n vinnige half uur ’n dag gaan behels nie, veral aan die begin sal dit meer tyd neem tot dat  ons seker is, wat en hoe alles werk. Sy sal een van haar ander huidige pligte moet afstaan en hier lê die moeilike besluit.
Ons het belowe om meer van Kenssane te vertel. Kenssane het Woendag 2 jaar oud geword. Almal is so dankbaar dat sy wel so goed gevorder het, selfs die operasie letsel is amper nie meer sigbaar nie. Sy het by die sentrum gekom as ’n klein babatjie wat ’n hart kwaal het en is boonop ’n Down Sindroom-kindjie. Sy was stadig met ontwilleling en het nie die vermoë gehad om haar tempratuur te beheer nie. Die mediese dienste het gesê sy moet 6kg weeg voordat hulle haar kan opereer vir haar hart probleem en dit het ongeveer 15 maande geneem om haar daar te kry. Met baie moeite en spesiale diëte het sy uiteindelik daar gekom en is die goedkeuring gekry. Die hart-hospitaal sal die operasie gratis doen, dit het toe 26 Junie gebeur. Onthou jul nog die bloedskenkingstorie,  nou dit was vir haar. Sy het pragtig gevorder na die operasies en is ook so ’n maand of wat gelede oorgeplaas na die Babahuis. Alta het haar een middag die week saamgevat om in die ‘nuresry’ te gaan kuier. Die tia’s was verstom, en het haar bekyk soos ’n mens ’n pas gebore baba bekyk, want sy het nou vet wangetjies en haar maer beentjies het nou kuite, sy lag en gesels en klap handjies, gee drukkies en soentjies vir die tia’s en geniet die bekende speelgoed en bekyk die nuwe babas as of sy vir hulle iets wil sê. Sy is ’n voorbeeld van baie verhoorde gebede vir haar sedert sy hieraan gekom het vir die eerste keer. Mens staan elke keer verwonderd oor haar vordering sedert die operasie, ook hiervoor was daar baie gebede wat nogmaals verhoor is.

Ons gaan nog kleiner seuns in die dorm kry, 27 Desember is beplande datum. Ons vra asseblief dat julle sal bid vir die oorgang, dat alles goed sal verloop, dat hulle gou sal aanpas en dat die ander kinders in die camerada hulle sal aanvaar en baie mooi met hulle sal werk. Ook dat ons en die tia’s en ‘educators’ die geduld en wysheid sal kry om hulle reg te hanteer.


Dinsdag 19 November 2013

11 – 17 November 2013

Die week gaan vinnig, die kinders wil kort-kort iets sê of  hê of doen of stry, hulle is al met vakansie sedert 25 Oktober, en ons kry nie alles gedoen wat ons moet, met al die onderbrekings, nie.

Vrydag vat ons die seuns strand toe, net die kleintjies – die grootes het nie belang gestel nie. Dit is lekker warm en die see is ook warm, uitnodigend om te swem, maar die water en strand is te vuil. Nadat die kinders gestort het, bak ons koek vir Saterdag se partytjie.

Saterdag trek ons weer ’n sendeling, hierdie keer Maputo stad toe, waar sy nou gaan werk in ’n sendeling-gastehuis. Hier het ons die eerste keer gehoor, daar bestaan so iets en later verneem ons, daar is oral in die wêreld sendeling-gastehuise, ook op Madagaskar (dit klink lekker, miskien stuur die Here ons eendag ook om in ’n gastehuis daar te gaan werk). Na die trek afgelaai is, gaan koop ons die nodige vir die volgende week of so, aangesien dit stem-week is wil ons nie onnodig rondry nie. By die huis gekom, swerm die kinders agter ons aan al van die skool af, om partytjie te hou. Hulle dek die tafel en dra alles uit en ons is reg om te begin binne 10 minute.

Sondag  word daar in die kerkdiens gebid vir die sendeling wat weggaan na die gastehuis, sy het hier in die ‘nursery’ gewerk en hulle laat al die kleintjies wat sy na omgesien het voorentoe kom, ook Kenssane die Down sindroom dogtertjie wat die hart operasie gehad het. Sy lig haar handjies en glimlag breed vir die betrokke sendelingen sit op haar skoot terwyl almal om hulle saamdrom om te bid. So word Kenssane wat by iemand wat voor ons sit tydens die lofprysing, deur ons geniet. Sy is te vriendelik en steek haar duimpies uit dat ons dit met ons duime kan druk en dan glimlag sy breed en gee die persoon wat haar vashou ’n stywe drukkie om die nek. (Sal volgende week meer oor Kenssane sê sy word Woensdag 2jaar oud). Die preek is kort en kragtig, oor die sout van die aarde en lig in die wêreld, Matt5:13-16, 15 minute op die langste. (Peet dit was Fabio wat gepreek het). Sondagmiddag braai ons vleis en neem ons afskeid van ons mede sendeling wat getrek het.

Disipline bly ’n probleem met die kinders, maar ons staan, saam met die toesighouers, vas en sorg dat die reëls nagekom word. Ons het ontdek dat om gehok te wees in hulle kamers vir hulle, net so swaar is as wanneer hulle kos terug gehou word, (wat ons vermy om te doen).


Dit is nou lekker warm hier by ons, die hoogste wat ons sover gehoor het was 44°C en daar word baie water gedrink. Ons het met die water-episode vir ons 80 liter water opgegaar, wat na oordadig baie gelyk het, maar nou wil dit voorkom of ons alles gaan opdrink voor die vervaldatums.



Sondag 10 November 2013

28 Oktober – 10 November 2013

Die waterbottel probleem was teen Woensdag uitgesorteer en alles was skoon. Die burgermeester het egter eers Donderdagmiddag gekom en soos ons hoor, het dit goed afgeloop.
Vrydag is ons SA toe en Saterdag deur Heidelberg toe om saam met al ons kinders en kleinkinders te kuier en Ouma se verjaarsdag te vier.
Maandag en Dinsdag vaar ons die winkels in, om klere vir die Mosambiek kinders vir Kersfees te koop en vir ons self.
Woensdag ry ons terug Marloth toe via ons vorige tuisdorp en groet gou ’n paar vriende by wie ons kon uitkom. In Nelspruit moet ons ook stop om ’n paar dinge vir Iris en die sendelinge te kry.
Op Marloth rus ons ’n bietjie tot Sondagoggend. Ons ry vroeg genoeg om teen 9 uur op Matola te wees by die Afrikaanse kerk, maar doeane aan SA kant besluit om al die taxi’s deur te gaan en die pad word geblokkeer, wat veroorsaak dat dit meer as ’n uur duur om net deur SA se kant te kom. Ons is gevolglik te laat vir die kerk en ry deur Zimpeto waar ons betyds is vir kerk na die ‘worship’ musiek. Dit lyk of die kleintjies ons gemis het, hulle het almal ons ’n drukkie kom gee in die kerk en selfs van die grootes bly om ons draai.
In ons afwesigheid was daar heelwat veranderinge by die babas. Aline is oorgeskuuf na die ‘Baby House’, want daar het 3 nuwe babas bygekom en daar word vir nog een gewag. Daar is ’n tweeling, Lucas en Sussalia, hulle is 11 maande en ondervoed, maar lyk net so 6 maande oud. Lucas kruip, maar Sussalia sit nog nie. Florida is 17 maande, maar lyk of sy net ’n jaar oud en is ook ondervoed. Hulle het gebede nodig vir aanpassing en gesondheids-verbeteringe en ook sodat hulle ontwikkeliking sal verbeter.

Maandag is ’n vakansiedag, so daar gaan nie veel gebeur nie.