Die week gaan
vinnig, die kinders wil kort-kort iets sê of
hê of doen of stry, hulle is al met vakansie sedert 25 Oktober, en ons
kry nie alles gedoen wat ons moet, met al die onderbrekings, nie.
Vrydag vat ons
die seuns strand toe, net die kleintjies – die grootes het nie belang gestel
nie. Dit is lekker warm en die see is ook warm, uitnodigend om te swem, maar
die water en strand is te vuil. Nadat die kinders gestort het, bak ons koek vir
Saterdag se partytjie.
Saterdag trek ons
weer ’n sendeling, hierdie keer Maputo stad toe, waar sy nou gaan werk in ’n
sendeling-gastehuis. Hier het ons die eerste keer gehoor, daar bestaan so iets
en later verneem ons, daar is oral in die wêreld sendeling-gastehuise, ook op
Madagaskar (dit klink lekker, miskien stuur die Here ons eendag ook om in ’n
gastehuis daar te gaan werk). Na die trek afgelaai is, gaan koop ons die nodige
vir die volgende week of so, aangesien dit stem-week is wil ons nie onnodig
rondry nie. By die huis gekom, swerm die kinders agter ons aan al van die skool
af, om partytjie te hou. Hulle dek die tafel en dra alles uit en ons is reg om
te begin binne 10 minute.
Sondag word daar in die kerkdiens gebid vir die
sendeling wat weggaan na die gastehuis, sy het hier in die ‘nursery’ gewerk en
hulle laat al die kleintjies wat sy na omgesien het voorentoe kom, ook Kenssane
die Down sindroom dogtertjie wat die hart operasie gehad het. Sy lig haar
handjies en glimlag breed vir die betrokke sendelingen sit op haar skoot terwyl
almal om hulle saamdrom om te bid. So word Kenssane wat by iemand wat voor ons sit
tydens die lofprysing, deur ons geniet. Sy is te vriendelik en steek haar
duimpies uit dat ons dit met ons duime kan druk en dan glimlag sy breed en gee
die persoon wat haar vashou ’n stywe drukkie om die nek. (Sal volgende week
meer oor Kenssane sê sy word Woensdag 2jaar oud). Die preek is kort en kragtig,
oor die sout van die aarde en lig in die wêreld, Matt5:13-16, 15 minute op die
langste. (Peet dit was Fabio wat gepreek het). Sondagmiddag braai ons vleis en
neem ons afskeid van ons mede sendeling wat getrek het.
Disipline bly ’n
probleem met die kinders, maar ons staan, saam met die toesighouers, vas en
sorg dat die reëls nagekom word. Ons het ontdek dat om gehok te wees in hulle
kamers vir hulle, net so swaar is as wanneer hulle kos terug gehou word, (wat
ons vermy om te doen).
Dit is nou lekker
warm hier by ons, die hoogste wat ons sover gehoor het was 44°C en daar word
baie water gedrink. Ons het met die water-episode vir ons 80 liter water
opgegaar, wat na oordadig baie gelyk het, maar nou wil dit voorkom of ons alles
gaan opdrink voor die vervaldatums.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking