’n Familielid van
een van die sendelinge hier, het foto’s gesien van die vorige Kersetes en het
besluit om fondse in te samel om met hierdie Kersete te help. Wat dit so uniek
maak, is dat hierdie familielid ’n seun van so 10 jaar is wat kanker het en as gevolg
daarvan alreeds sy regterbeen verloor het. Hy het besluit om aan ’n een kilometer
padwedloop deel te neem met krukke en die hoop dat hy sal klaar maak en so 300
dollar daarmee in te samel. Hy het klaar gemaak, was nie die laaste oor die lyn
nie, en 2000 dollar ingesamel vir die ete.
Maandag trek ons
kinders oor na die Bybelskool se dorm, sodat hulle dorm se badkamer oorgedoen
kan word. Die kinders vind dit baie avontuurlik en iets om te doen en nuwe
terein om te speel. Die volgende oggend is daar begin met afbreek en uitslaan
van mure, nuwe deuropeninge ens. En teen 12:00 was hulle klaar daarmee en het
hulle al begin met die bou van die mure waar dit moet kom. Dit lyk of die terug
trek nog voor Kersfees sal wees.
Daar is tans net
SA besoekers hier en hulle is in verskillende groepe hier, dis besonders. Ons
nooi hulle uit vir ’n bring-en-braai by ons Saterdagaand. Hulle is so 8 en 5 is
pas gegraduere dokters of besig met mediese studies. Dit het die gevolg gehad
dat daar redelik medies gesels is en party van die nie-mediese groep het met
tye erg gebloos oor dit wat bespreek is. Een wat nou net klaar gemaak het, het
onomwonde verklaar, dat as daar na die menslike liggaam gekyk word en die
ingewikkelde werking van elke deeltjie van die liggaam, moet daar ’n God wees
wat die mens geskep het en kon nie deur ’n ‘big bang’ tot stand gekom het nie.
Hy het verder sy stelling verdedig, dat wetenskaplikes kon selle soortgelyk aan
menslike selle skep, maar kon nie dit lewe gee nie.
Wel, ons het tot
laat lekker gekuier (dis nou vir ons twee). Hulle was baie dankbaar en het ook
vir ons gebid voor hulle terug is na hulle kamers.
Hier oor die Kerstyd
gaan baie kinders na hulle families toe of na vriende wat hulle uitnooi, wat
nogal ’n hoogtepunt vir hulle is. Ons het ’n lys gekry van wie mag uitgaan, na
wie toe en wie nie. Die wie nie mag uit gaan nie, is die wie geen familie of
vriende het nie, voorheen mishandel is of mediese behandeling ontvang. So het
ons seun wat kanker het en behandeling kry, se ouma skielik na 2 jaar opgedaag
en wou hom vir ’n tydlank saamneem. Ons kon hom egter nie laat gaan nie, weens
sy behandeling en om te voorkomend dat hy infeksies kan optel by ander, sy ouma
is reeds ook siek. Hoewel die leiers aan hom verduidelik het wat die situasie
is, is hy nie vir hulle kwaad nie, maar vir Alta en die verpleegster. Sy hart
was baie seer dat hy nie kon gaan nie, hy het baie daarna uitgesien en ons was
saam met hom hartseer.
Bid asseblief vir
die glad verloop van die reëlings en die inskakeling en aanpassing van die
jonger seuntjies wat net na Kersfees deel word van Camerata 4.
Bid asseblief ook
vir die kinders se hartseer en gemis aan ’n familie wat omgee en wys dat hul
omgee.
Die kuier Saterdagaand |
Die badkamer |
Wanneer daar nie 'n trapleer naby is nie. |
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking