Dit was ’n baie
besige week. Die jong Suid-Afrikaners verf steeds beddens in die camarata. Daar
is ook hulp van ’n paar meisies van Engeland en Amerika (dink dis die jong boertjies wat die eintlike
trekpleister is.) So tussen deur gaan hulle ook op uitreike en daar is nog ’n
paar beddens wat verf benodig teen die einde van die week. Daar is hoop vir
Suid-Afrika as alle jong mense van hulle kalliber is.
Ons het ook ’n
noodhulplesing Dinsdagaand gehad van ’n besoeker. Die sendelinge was op hulle
stukke en ons lê soos ons lag.
Donderdagaand is
dit ons beurt om by die Oasis-span (die span van Natal) te eet. Voor ete bid
hulle vir ons. Daarna was dit kerk en aan die einde van die diens word al die
besoekers (± 30) gevra om vir elke kind, pastoor en sendeling te bid, ons vorm
’n ry en elke besoeker bid vir elk van ons. Dit is ’n ongelooflike ervaring
behalwe vir die agtergrond musiek wat oorverdowend was en dit moeilik gemaak
het om al die gebede te hoor.
Ons nooi al die
Suid-Afrikaners om Vrydagmiddag saam te kom braai, enigste tyd wat oop is,
aangesien die ouer groep (Oasis) elke aand etes voorsien aan sendelinge. Die
grootbaas gee ook ’n bydrae vir ekstra vleis. Al is meeste van die klomp
Engelssprekend, kuier ons soos net Afrikaners kan. Vrydagaand eet al die
sendelinge saam met Oasis.
Die wat siek is raak
bietjie minder, soos die waterpokkies en maagvirus die wyk neem. Ons bid steeds
vir ’n paar ander wat kroniese siektes het en ook vir die dogterjie Lucia wat
laas jaar so siek was. Daar steek ’n paar simptome kop uit wat ons op ons hoede
plaas aangaande haar gesondheid.
Een van die
grootseuns het Dinsdag verjaar en het ’n ete bestel saam met 10 van sy maats en
ons het besluit om dit Vrydagaand te doen.
Ons word weer
gevra om Sondag nog ’n ete vir so 50 mense te hanteer hier by ons huis.
Sondagoggend
preek Amy Lancaster en sy hou tot die kleintjies se aandag met haar preek.
Sondagaand het ons worship in die prayer room met wonderlike ondervindinge.
Dus het die week
ernstige beplanning geverg om alles glad te laat verloop.
Woensdagaand hoor
ons van ’n groep Amerikaners oppad na die Pemba Iris basis, wat by Pemba
Lughawe toegang tot Mosambiek geweier is omdat hulle nie visums het nie. Al die
lande waar Mosambiek konsulate het moet die besoekers hul visums daar kry voor
hulle Mosambiek toe kom. Slegs besoekers van lande waar daar nie konsalate is
nie mag tot in Mosambiek vlieg en by die lughawens visums kry. Donderdag word
hulle op vliegtuig Suid Afrika toe en ons word ingelig dat die span by ons moes
kom kuier vanaf Sondag tot Woensdag.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking