Die week is besig
en daar is baie dinge wat gedoen moet word, ons gaan Vrydag vir ’n maand
huistoe en sien uit na die rus. Ons moet egter ons dinge so organiseer dat ons
ander vir ’n maand kan los met ons verantwoordelikhede. Die paartjie van Bella
Vista gaan nog ’n maand aanbly (in ons huis) en vir ons na ons camarata omsien.
Die kinders speel asof dit uit die mode gaan, maar bly weg van die huis en
camarata, ek dink hulle is bang hulle moet een of ander iets leer. Ons sien
hulle net as hulle snoepgoed soek of ’n pleister. Die groottes kom net in die
aande vir hulle brood. Ons lig hulle in dat ons nie seker is of hulle steeds
brood in die aande gaan kry terwyl ons weg is nie en die een se kommentaar was
hulle sal bid vir brood. Die groot seuns vra al vir ongeveer ’n maand vir
kortbroeke en skoene en ons het nie om te gee nie. Dinsdag kry ons toe ’n
donasie en daar is kortbroeke en skoene, hulle sien dit voordat dit
uitgesorteer is en kan nie wag nie. Toe ons sê dis reg hulle kan kom, is al 7
soos blits daar. Hulle is almal met kouse, ’n kortbroek, ’n T-hemp en ’n paar skoene daar weg. Al wat hul nou nog
begeer is flip-flops. Ons vertrou dat dit ook binne kort sal opdaag en ook dat
ons alles goed beplan en agterlaat vir die wat moet instaan.
Sondag 17 Augustus 2014
Sondag 10 Augustus 2014
4 – 10 Augustus 2014
Verlede week is
’n pastor oorlede en Dinsdagaand een van die siek kinders. Die twee sterftes
raak veral die personeel in veskillende areas erg. Die dogter was baie siek en daar is baie kere
gebid vir beterskap. Daar was tye wat dit beter gegaan het, maar haar liggaam
kon net nie al die infeksies hanteer nie. Sy het nog 2 sussies wat ook hier in
die sentrum is. Bid assebief vir hulle en die wat baie met haar te doen gehad
het. Hulle vind dit moeilik met die leemte wat nou daar is.
Die paartjie van
Bella Vista wat by ons kom eet het, gaan in die huis kom bly vir die tyd wat
ons weg is en ook na die camarata om sien in die tyd.
Alta het die week
waar moontlik die Life School lesings probeer bywoon, dit is interresant om
dinge wat mens weet op ’n ander manier te hoor. Die sprekers het dit vanuit ‘n
ander hoek benader as waaraan ons gewoond is. Die week het oor ‘The Fathers
Heart’ gegaan.
Woensdagaand met
home group het een van die spekers by die Life School met ons gepraat. Sy
Spiritual Gift is om engele te sien. Dit was baie interresant wat hy alles
vertel het. Hy vertel toe hy dit die eerste keer beleef het was hy baie benoud
en het nie geweet wat aangaan nie, en ’n paar dae later het hy gaan stap en toe
sien hy engele in die veld dans. Hy sê hy het gedink hy raak koekoes en vra toe
vir die Here of hy dit nou altyd gaan sien en toe kom die antwoord ‘Ja’. Hy wou
glad nie daaroor praat nie en een van sy vriende kom toe agter wat aangaan en vra
vir hom hoekom hy niks sê nie. Hy sê hy was baie banger vir die engele as vir
die vriend. Sy vriend het hom toe in
kontak gebring met iemand anders wat ook dit beleef.
Die skole het
Vrydag gesluit en die kinders is alreeds rusteloos. Hulle is ook Sondag deur
besoeker geseën, wat hulle trakeer het op pizzas by die swembad.
28Julie – 3 Augustus 2014
Dinsdagaand nooi
ons ’n paartjie wat besoekers is. Wel eintlik is hulle sendelinge wat in die
gemeenskap bly, Bella Vista. Jonk getroud nog nie eens ’n jaar nie. Hulle
stories is uitsonderlik en hulle is baie braaf om in sulke omstandighede te
leef.
Ons doen ’n
program met die kinders in die middae om hulle besig te hou en goed te leer wat
hulle nou nie juis in die skool leer nie. Ons het ’n leerling educator wat net soos ons voel (nie dat die educators nie
help nie), dat die kinders te min weet van wiskunde en lees. Hy het regtig die
week sy kant gebring het, maar die kinders kla en wil nie meer programme na
skool doen nie. Gelukkig sluit die skool die einde van die week.
Home group was
oor ’n woord wat jy kies om op te konsentreer vir ’n tydperk tydens jou stilte
tye. Daar is ook woorde uitgedeel en as jy wil, kan jy die woord gebruik of
self een kies. Alta kry so die woord ‘boldness’ en Pertus ‘shh...’ Daar is
nogal goed wat mens op die hart het en nie altyd die plek of veral moed het om
te sê nie, dis nou vir Alta en baie snaaks, Petrus wat redelik min praat kry
die woord om stil te bly, hy besluit om op luister te fokus aangesien hy moet
stil bly. Voorbidding vir die sal waardeer word.
Een van ons klein
seuntjies het waterpokkies, min en ver uit mekaar, 3 in die gesig, 3 op elke
bene en vier op sy lyf en dit lyk ook nie of daar nuwes by kom nie. Dis
ongeveer 3 weke sedert die laaste geval. Hy verstaan nie mooi waarom hy in
isolasie geplaas is nie en is baie eensaam. Bid asseblief dat almal in die
camarata beskerm sal word teen siektes en veral vir die kinders wat HIV
positief is, is dit ’n groot risiko.
Dinsdag 29 Julie 2014
21 - 27 Julie 2014
Dinsdag het ons
’n vergadering met die base en die administrateur van die sentrum oor die
dokumente wat ons nodig het vir verblyf permitte. Die proses is feitlik tot
stil stand gebring deur nuwe wetgewing en ’n kantoor wat nie voorbereid is op
al die ekstra werk nie. Daar is talle mense wat deur die proses geraak word en
besoekers word terug gestuur of weggewys by lughawens op ’n daaglikse basis.
Die sendelinge kry ook al minder verlenging vir visas.
Een van die seuns
het vir die besoekers ’n ander naam as sy eie gegee, wat toe op hom boemerang.
Hulle, ’n man en vrou van Amerika, koop toe ’n bal vir hulle en soek die kind
en niemand weet van so ’n kind nie. Hulle kom saam camarata toe en help met ’n
middag program en sy sê vir my dis dié kind en sê toe ook dat hy vir die
kinders gesê het dat hulle almal in die camarata gaan neem vir pizza. Wel ons
kan dit nie toe laat nie en hy word dus gestraf met geen verversings vir ’n
week nie en hy moes almal om verskoning vra. Hy loop heel week met ’n suur
gesig rond omdat hy nie snoepgoed kry nie.
Die groot seuns
kom elke aand vir hulle snoepgoed. Hulle kom eet ’n brood en ’n half met margarien, grondbonebotter en soek dan ook
iets om te drink en dit alles na hulle aandete gehad het. Die 7 van hulle neem
behoorlik die kombuis oor en jy kan nie glo hoe hulle kan mors nie. Hulle vee
elke aand die kombuis, maar vergeet om die tafel skoon te maak en as hulle die
skottelgoed was, is dit erg half en word dit nat weg gepak.
Vrydagmiddag bak
Alta en een van die klein seuntjies, koek want Saterdag was dit sy verjaarsdag.
Die Saterdag is daar ook sokker en ander spelletjies gereël en die partyjie is
vroeg en vinnig verby, sodat hulle ook by die ander goed kan wees.
Dit gaan redelik
met meeste van die kroniese siek kinders, daar is ’n paar wat nie beter word
nie, maar dit gaan darem ook nie slegter nie. Bid asseblief vir die kinders wat
ly as gevolg van hul ouers se sondes.
Bid asseblief ook
vir die seun wat leuns vertel en dat hy sal besef dat dit hom nêrens gaan bring
nie en dat ’n gees van waarheid met hom en al die ander sal wees.
Dinsdag 22 Julie 2014
7 - 20 Julie 2014
Daar word steeds
geverf, die beddens is klaar en die vensterrame word begin. Ons het positiewe kommentaar van een bestuurder oor
hoe die dorm lyk, gekry.
Daar is probleme
met die internetkoppelling en die spoed is stadig.
Die
verblyfpermitte is verder ook ’n probleem, die konsulaat in Nelspruit wil
toestemming vanaf Immigrasie in Maputo hê voor hulle ’n visa uitreik en die
briewe is tans by Immigrasie vir goedkeuring. Mosambiek het begin vasskop oor
toegang tot Mosambiek. Daar is probleme met instroming van mense na Mosambiek
want daar is nou geld te maak in Mosambiek.
’n Besoekende pastoor
van Australië praat interessant oor uitbranding Maandagaand en Woensdagaand gee
’n pastoor van America ’n praatjie. Hy vertel ons dat hy op 16 ’n gelowige
geword het na ’n lewe van dwelms en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar die
intreressante is dat sy hele gesin, oupa en ouma ingesluit binne 3 maande hulle
lewens aan Jesus gee.
’n
Sendelingpaartjie van Noorweë met hulle 2 kinders is gedurende die week vir ’n
paar dae Nelspruit toe. Daar het hy egter siek geword en die hospitaal beland. Ons
het aangebied om hulle hierdie naweek, wat ons terug moet terug gaan SA toe, in
Nelspruit te gaan haal. Gevolglik is ons
Donderdag hier weg SA toe en Vrydagoggend deur Nelspruit toe om hulle te kry en
weer terug Marloth toe waar hulle die naweek saam met ons deurgebring het.
Hulle kon nie regtig vasstel wat hom makeer nie. Hy vertel dat van hulle
vriende in Noorweë hom laar weet het dat een ’n visioen gehad het waar ’n engel
hom weg ruk van demone en ’n ander een dat hy ’n stem gehoor het wat sê dat hy
gesond is. Byde het met hom binne ’n uur gekontak nadat hul die ervaarings
gehad het en daarna het hy ’n verligting ervaar en begin om beter te voel. ( Hy
het die vorige week of twee vir mense gebid en demone uitgedryf.)
Die kinders se
reaksie was interresante, Donderdagmiddag terwyl ons pak daag die kinders by
ons op en wil weet watter sendeling staan in vir ons by die dorm. ‘n Groot
betoog gaan op na hulle hoor wie die sendeling is, want hierdie sendeling gee
nie snoepgoed nie (die maag is die belangrikste en hulle is deeglik bewus wie
gee en wie nie.)
Dinsdag 08 Julie 2014
30 Junie – 6 Julie 2014
Dit was ’n baie
besige week. Die jong Suid-Afrikaners verf steeds beddens in die camarata. Daar
is ook hulp van ’n paar meisies van Engeland en Amerika (dink dis die jong boertjies wat die eintlike
trekpleister is.) So tussen deur gaan hulle ook op uitreike en daar is nog ’n
paar beddens wat verf benodig teen die einde van die week. Daar is hoop vir
Suid-Afrika as alle jong mense van hulle kalliber is.
Ons het ook ’n
noodhulplesing Dinsdagaand gehad van ’n besoeker. Die sendelinge was op hulle
stukke en ons lê soos ons lag.
Donderdagaand is
dit ons beurt om by die Oasis-span (die span van Natal) te eet. Voor ete bid
hulle vir ons. Daarna was dit kerk en aan die einde van die diens word al die
besoekers (± 30) gevra om vir elke kind, pastoor en sendeling te bid, ons vorm
’n ry en elke besoeker bid vir elk van ons. Dit is ’n ongelooflike ervaring
behalwe vir die agtergrond musiek wat oorverdowend was en dit moeilik gemaak
het om al die gebede te hoor.
Ons nooi al die
Suid-Afrikaners om Vrydagmiddag saam te kom braai, enigste tyd wat oop is,
aangesien die ouer groep (Oasis) elke aand etes voorsien aan sendelinge. Die
grootbaas gee ook ’n bydrae vir ekstra vleis. Al is meeste van die klomp
Engelssprekend, kuier ons soos net Afrikaners kan. Vrydagaand eet al die
sendelinge saam met Oasis.
Die wat siek is raak
bietjie minder, soos die waterpokkies en maagvirus die wyk neem. Ons bid steeds
vir ’n paar ander wat kroniese siektes het en ook vir die dogterjie Lucia wat
laas jaar so siek was. Daar steek ’n paar simptome kop uit wat ons op ons hoede
plaas aangaande haar gesondheid.
Een van die
grootseuns het Dinsdag verjaar en het ’n ete bestel saam met 10 van sy maats en
ons het besluit om dit Vrydagaand te doen.
Ons word weer
gevra om Sondag nog ’n ete vir so 50 mense te hanteer hier by ons huis.
Sondagoggend
preek Amy Lancaster en sy hou tot die kleintjies se aandag met haar preek.
Sondagaand het ons worship in die prayer room met wonderlike ondervindinge.
Dus het die week
ernstige beplanning geverg om alles glad te laat verloop.
Woensdagaand hoor
ons van ’n groep Amerikaners oppad na die Pemba Iris basis, wat by Pemba
Lughawe toegang tot Mosambiek geweier is omdat hulle nie visums het nie. Al die
lande waar Mosambiek konsulate het moet die besoekers hul visums daar kry voor
hulle Mosambiek toe kom. Slegs besoekers van lande waar daar nie konsalate is
nie mag tot in Mosambiek vlieg en by die lughawens visums kry. Donderdag word
hulle op vliegtuig Suid Afrika toe en ons word ingelig dat die span by ons moes
kom kuier vanaf Sondag tot Woensdag.
Saterdag 05 Julie 2014
23 – 29 Junie 2014
Dit gaan beter
met die maaggriep en waterpokkies. Wil lyk of die meeste nou gesond is en nuwe
gevalle is baie minder. Die baba wat in die hospitaal was, is ook terug en ook
Kenssane is ontslaan uit die hospitaal, maar hulle is nog nie weer 100% nie en
het nog gebede nodig.
Die kinders was
baie opgewonde die hele week, hulle is genooi om Vrydag, by die presidentsvrou
te gaan eet. Alta was besig om veral die skoen situasie uit te sorteer, vir die
besoek, hulle klere wat hulle kinderdag gekry het, is goed vir die besoek.
Wanneer hulle skoene nog goed is en hulle sien een kry ’n paar, dan breek hulle
hulle sin sodat hulle ook nuwes kan kry. Ons kan nie sulke gedrag toelaat nie
en die wat dit doen kry dan net nie skoene nie, maar ons kan hulle ook nie met
vlenters na die presidentsvrou toe stuur nie. (Het Salomo se wysheid nodig.) 80
van die jonger kinders is saam met die educators en een van die sendelinge met
die bus weg. Hulle is nie die dag skooltoe nie en het lekker geëet en is toe nog
met speelgoed ook bederf.
Hier is ’n
groepie van 6 jong Suid-Afrikaners van die Kaap waar hulle studeer, maar klink
of meeste oorspronklik in Natal op plase gebly het. Hulle het aangebied om te
help met verfwerk in die camarata en het begin om beddens te verf en dit sal
gaaf wees as hulle ook nog by van die
vensterrame kan uitkom. Dan het daar ook ’n ander Suid-Afrikaansespan gekom. Hulle
is van Howick en is ouer mense en hulle maak kos en dan kan die sendelinge saam
eet. Een is ‘n ‘Auto Electrician’ en het aangebied om met die voertuie te
help wat probleme in sy veld gee.
Die sendeling wat
vir die kinders Engels geleer het, gaan vir so 3 maande huis toe. Die kinders
is baie lief vir haar en sy bederf hulle baie. Almal is jammer om haar te sien
gaan, maar ook baie bly dat sy bereid is om terug te kom.
Teken in op:
Plasings (Atom)



