Maandagoggend is
ons Nelspruit toe om eers vir Catherine af te laai en ’n luidspreker wat
herstel moet word en daarna is ons na Kruger International Airport om Bekki en
haar ma op te laai wat van Duisland af by haar in Maputo kom kuier. Ons het nog altyd gewonder hoe hulle ’n
lughawe in die klipkoppie-wêreld gebou het. Ons kan jul verseker, daar is baie
grond ingery vir die een. Daarna is daar nog ’n paar dinge wat vir ‘missionaries’
en Iris gedoen moet word, voor ons terug ry Marloth toe. Daar aangekom is dit
afpak en toe neem ons die besoekers op ’n wildrit agter op die bakkie. Ons is
bevoorreg en sien ’n klompie olifante in die rivier asook ’n buffel. Ons het
ook zebras, rooibokke, vlakvarke en kameelperde van nader by gesien. Dit is vir
hulle ’n belewenis en hulle dink dis te wonderlik met baie foto’s wat van al die
diere en sonsondergang geneem word. Ons besef weer dat ons baie bevoorreg is en
dat ons al hierdie dinge as vanselfsprekend aanvaar. Terug by die huis braai
ons vleis, ook dit is vir die Duitsers ’n unike ondervindig. Ons kry ook besoek
van die nagapie en die leeu het ook van hom laat hoor. Die baie sterre laat hul
kort-kort op kyk boontoe.
Dinsdagoggend ry
ons terug Maputo toe en die seuns is gou-gou daar en kom soek drukkies.
Woensdagoggend
kry Catherine ‘n nuwe kind, ’n dogterjie, sy is ses en erg verwaarloos, maer en
ondervoed. Sy is HIV positief, haar pa het haar verwerp en sy het maar so
tussen die bure rond geswerf. Haar ma is afhanklik van die pa en gee maar net
wat sy sonder sy medewete kan vir haar, die ma is by die sentrum met die
opname. Sy word ondersoek, gewas en klere gegee en haar plekkie gewys waar sy
kan slaap. Hulle moet nog toetse doen, maar daar word vermoed dat sy TB het en
die nodige voorsorgmaatreëls word getref. Woensdag het Alta ook begin verf aan die
pasgetroudes se blyplek en Vella het gehelp skoonmaak. Woensdagaand word die
nuwe ‘Prayer room’ ingewy deur ‘Home group’ daar te hou en die Brasiliaanse
pastoortjie, Celia, se 10 jaar diens by Zimpeto word ook terselfdetyd gevier. Die
‘Prayer room’ was ook Celia se projek en droom.
Donderdag is dit
nog verf en werk aan die blyplek langsaan en rekenaar virusseprogramme wat
gelaai word. Tussen al die dinge is daar ook nog die seuns en ons daaglikse
take wat aandag moet kry.
Daar is 2
jongmanne onder die sendelinge wat ’n diensjaar doen op hulle terme, om meer te
sê, sal nie verstandig wees nie, maar soos meeste jong manne is hul mae baie
belangrik. Dinsdagooggend en Vrydagmiddag as die bus Shoprite toe gaan is die
twee daar. Vrydag ry ons so 12uur om aankope vir die babas te gaan doen en
Cathrine ry saam om goed vir haar kinders en die nuwe dogterjie te kry. Ons is so halfpad oppad terug, toe een van
die jongmanne vir Cathrine skakel om te hoor of sy op die Shoprite bus is en of
sy vir hulle goed kan koop, want hulle het verslaap en die bus verpas. So hulle
moes vir 3 dae sonder kos en lekkernye klaar kom.
Saterdag so 12
uur het ons die pad gevat Marloth toe, ons neem vakansie. Dus vir die volgende
2 weke 12 -26 Mei sal daar nie nuus wees nie, want ons hou vakansie.