Maandagoggend
probeer ons vroeg wegkom om die aankope vir die babas te gaan doen en kom so
eenuur terug, net betyds om iets te eet voor die kinders kom.
Dinsdag is daar
konsternasie in die besoekersarea. Hier is so 5 Noorweegse jonges van so 18/19
jaar wat blykbaar ’n paar Afrika dinge wil doen en een daarvan is om ’n hoender
te slag en gaar te maak waarvan hulle geen benul het hoe om dit te doen nie. Eers
is hulle na een van ons jongmans toe om ’n byl te kry om die hoender se kop af
te kap, hy antwoord nee hy het nie ’n byl vanaf sy huis in Engeland saamgebring
nie. Daarna is hulle na John wat verantwoordelik is vir onderhoud, maar hy kon
hulle ook nie help nie. Gedurende middagete vertel John sy vrou Clair, wat die
dag aandiens is om na die besoekers om te sien, so terloops wat hulle plan is.
Sy freak uit en storm hulle om mooi aan hulle te verduidelik wat gebeur as jy
’n hoender se kop afkap en nie behoorlik vashou nie, dat die hoender sonder kop
rondhardloop, die skoonmaak van ’n hoender, ens. Sy verbied hulle om so iets
hier te doen want dit is ’n kindersentrum. Ons ander wonder net hoe dit sal lyk
wanneer die afkop hoender die wêreld volhardloop en in wie se kamer dit dalk
kan eindig, miskien die sendeling se kamer met die baie geite.
Woensdagoggend
gaan hang ons die laaste gordyne van die gebedskamer op, en Alta begin direk
daarna met die gordyne vir die pas getroudes se huis wat ons aangesê is om klaar
te kry vir hulle.
Saterdag hou ons
partyjie vir Paulo Luis. Hy
is die kleinste van die groepie, maar hy het ’n kroniese loop neus en moet
gedurig herinner word om sy gesig skoon te maak. Alta het al ‘n tyd gelede vir
hom gesê dat as hy sy neus skoon hou, hy vir sy verjaarsdag versiersuiker op sy
koek kan kry, maar as sy neus nie skoon is nie, is daar geen versiersuiker nie.
Dit het heel goed gegaan, die neusie bly redelik skoon, met so hier en daar ’n
waarskuwing en ons hoop dat dit ’n blywende gewoonte sal word. Hy kom help met
die koekbakkery en daarna gaan ons vir hom skoene koop, maar as jy nou al ’n
steeks donkie gesien het, dis nou hy toe dit by die keuse kom. Ons pak ’n ry
tekkies uit wat binne ons begroting pas, maar ons kry sowaar nie sy voet opgelig
om te sien of ons die regte grootte het nie. Ons het naderhand ’n klomp mense
wat help om aan hom te verduidelik dat hy nou moet aanpas, maar daai voet is
geanker op die vloer. Hy skud net sy kop. Naderhand lei ons af hy wil nie dié hê wat ons gekies het
nie, hy wil van die duurder tekkies hê. Dis net 20 mets (R6.00) duurder en ons gee maar bes. Die partytjie verloop
goed.
Maar nou moet ons ook eers vertel van
Augostino se ‘love letter’. Buite die hekkie sit ’n ander seun, bietjie ouer,
wat ook gereëld hier kom, maar nie deel van die groep is nie en nie na die
partytjie genooi is nie. Hy het hier kom speel saam met hulle en een van die
groep het hom uitgestoot en Alta moes praat en sê dat dit nie mooi is om so te
maak nie. Hy bly staan en naderhand sien
Alta dat die trane oor sy wange loop en gaan praat met hom. Hulle wil hom nie hier hê
nie en sy groep baklei ook met hom. Hy word toe ingebring en eenkant weg van
die ander gehou. Op navraag hoor ons dat hy baie probleme het en sukkel om in
te pas. So sit hy toe Saterdag buite die hekkie, ons sien hom maar hy moet maar
leer jy kan nie inbreek op ander se partyjie nie. Hy sit buite en maak later
die hekkie groot oop en bly doenig by die hek. Na die partyjie loop Alta op na
die babas waar sy ook opdiens is en word van die camerada af al vertel dat
Augustino iets gedoen het, maar verstaan is moeilik en ’n klompie loop saam om
te gaan wys wat vertel word. By die huis gekom sien Alta wat hy, die hele tyd
by die hekkie gedoen het. Die hele
koesyn is van bo tot onder vol geskryf, “Love Alta” . Ons lag lekker daaroor en
sê as dit maar Petrus was wat dit geskryf het! Nou ja, Augustino moes dit toe
maar weer afwas ook.
Saterdagaand het
ons die eensame sendelinge weer uitgenooi om te kom kuier, ons bak pannekoek en
eet lekker. Pannekoek is toe ook nie ’n vreemde item vir almal nie, daar is net
verskillende name daarvoor. Ons kuier lekker en Sonia vanaf Brasilië vertel ons,
op haar storievertel manier, hoe die Here haar gekarring het om Mosambiek toe
te kom tot sy ingegee het.
Sondag so 12 uur
het ons die pad gevat Marloth toe want ons moes vir Bekki en haar ma Maandag in
Nelspruit gaan haal, maar meer daaroor volgende week.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking