Dinsdag 25 Junie 2013

17 - 23 Junie 2013

Hier is ’n baba-dogtertjie van 17 maande (Kenssane, foto onder) sy het Down sindroom en ’n gaatjie in haar hart, sy kan sit maar nog nie staan of loop nie. Sy moet ’n hart operasie ondergaan en daarvoor moet sy eers 6kg weeg, sy het nou 6kg bereik. Die afgelope paar weke is daar beplan om 10 eenhede bloed vir haar te kry en dit werk so, indien 10 persone gaan bloed skenk by die bloedbank, dan sal die bloedbank die 10 eenhede in die tipe bloed wat benodig word vir die operasie aan die hospitaal gratis voorsien. Hierdie skenking kan egter nie te vroegtydig gedoen word nie, want dan vergeet die bloedbank daarvan en ook nie te laat nie, want dan is daar nie tyd om al die toetse op die bloed te doen nie. Vroeg die maand word verneem dat die operasie op Woensdag 26 Junie gedoen gaan word en reëlings word vir die bloedstorie gedoen wat Donderdag plaasvind. Alta is een van die skenkers. Die skenkers moet 9 uur reg wees om met die bus stad toe geneem te word, ’n ander vrou met oog-probleme en ’n sendeling, om haar te help, gaan ook saam. Vroër die maand het van die wat belowe het om bloed vir Kenssane te skenk, bloed geskenk vir ’n ander kind en dus is die skenkers maar redelik skaars. Ons is 7 sendelinge wat gaan en 3 van die Bybelskoolstudente.
Die vrou met die oogprobleem word karsiek, dit is die vrou waarvan ons ’n tydgelede vertel het wat die busbestuurders geweier op te laai, en trap die bestuurder uit omdat hy solank neem om daar te kom. Die bloedbank is bietjie oorweldig met die skielike groot aantal mense wat bloed kom skenk, maar hanteer dit heel goed. Eers moet ons in ’n ry wag waar ons geweeg, bloedruk gemeet en ’n vingerprik kry om te kyk of ons geskik is om bloed te skenk. Dis dan ook net hier waar een wat te lig is weggewys word en ons skielik ’n ander skenker moet opspoor. Die busbestuurder word gevra en hy willig in!  Een van die eerstes wat se bloed getrek word, word flou op die stoel. Sy vertel agterna dat die sakkie vreeslik vinnig vol geraak het en toe voel sy of al die bloed uit haar kop is en dis toe dat sy flou word. Alles het verder goed verloop. ’n Paar het gekla dat hul maar rof met die naald se insteek was, as hul die aar nie raak gesteek het nie, het hulle die naald heen-en-weer beweeg tot hul die aar kry. Na die bloedskenk het ons die ander 2 wat vroër afgelaai is, weer gaan oplaai en weer afgelaai en gaan KFC koop. Ons was eers weer 15:00 terug by die sentrum. Nou bid ons dat alles goed sal verloop en dat die bloed wel Woensdag by die hart hospitaal sal wees vir die operasie. (daar was Maandagaand voor die operasie klaar gerugte dat die bloed nie betyds by die hospitaal gaan wees nie, weens die dokters se staking wat die beskikbaarheid van bloed beïnvloed)

Hier is ook 2 ander dogters wat baie siek is vir wie ons die laaste week al voor bid. Een is ’n tiener wat ’n diabeet is en aanhoudend opgooi, sy is in intensief en die ander een is ’n dogter van 5jaar wat ook opgooi en die toetse lewer geen resultate nie. Hulle het al talle kere vir malaria getoets en sy is nou in afsondering want hul vermoed breinvliesontsteking. Hulle het egter vir ons vertel dat toe sy in die saal was saam met die ander, sy vir die ander kinders bid, van Jesus vertel en lofliedere gesing het. Pragtige getuienis vir so ’n klein dogtertjie.

Donderdagaand hoor ons vir die eerste keer dat daar politieke probleme hier is (ons kyk of luister nie nuus nie). Dit is egter so 1000km noord van ons en raak ons nog nie.

Vrydag is ons vir die naweek deur SA toe vir die maandelikse stempel van paspoorte, medisyne en kos.


Kenssane

Hierdie foto is nou gekry en wys hoe Petrus geluk gewens is met sy verjaarsdag 


Maandag 17 Junie 2013

10 - 16 Junie 2013

Ons het ’n rustige week. Woensdagaand  met Home Group wys Laura vir ons ’n fliek oor vergewing. Dit gaan oor wat gebeur het na die moorde op die Tutsi-stam deur die Hutu-stam in Rwanda. Dit vertel hoe Hutu’s, wat bure was met Tutsi’s en hulle persoonlik geken het, hulle vermoor het en dat oorlewende familie later die moordenaars vergewe het en vrede gevind het daardeur. Dit bly steeds so, dat solank jy nie iemand wat jou te nagekom het, vergewe nie, gaan jy nie vry wees nie en sal jy nie vrede smaak nie.(vergewe ook jouself)
Van die Vrydag voor kinderdag (1 Junie) word die kinders van die sentrum uitgenooi om Vrydagoggende 7 uur na die gebedskamer toe te kom waar die sendelinge dan vir hulle sal bid. ‘n Hele klompie van die kinders neem hierdie uitnodiging met ope arms aan en is elke Vrydagoggend daar.
Hier in Mosambiek is die dokters steeds besig met ’n staking en die effek begin nou deur die gemeenskap gevoel word. Gedurende hierdie week is daar familie van twee van die personeellede dood wat in hospitale was. Hierdie mense is moedeloos oor die diens in hospitale, dokters wat staak en die korrupte regering. Die gewone Mosambiekse burger het ons gebede nodig.
Daar is egter ook ’n anderkant aan hierdie storie, daar is ’n 15 jarige dogter by die sentrum wat ’n diabeet is en aan swaar depressie ly. Dinsdagaand is sy weer in die hospitaal opgeneem na sy vroeer die dag ontslaan was. Sy het enige behandeling teengestaan en geweier om te eet. Woensdag het haar toestand so verswak dat sy na intensief verskuif is en haar hande en voete vasgemaak is om te keer dat sy die buise uittrek. Deur die behandeling van die hospitaal, sonder dokters, het hulle tog dit reggekry om met die Here se hulp deur baie gebede, haar te red, sy is vandag Maandag uit intensief na ’n gewone saal oorgeplaas.
Sondagmiddag gebruik een van die sendelinge ons huis om ’n verrassingspartyjie vir haar Mosambiekse man te hou, nie juis enige werk vir ons nie en Petrus geniet die verjaarsdagkoek.

Ons het die afgelope tyd e-posse van Ockie en Lenie, wat in Zambie is, ontvang wat ons dink julle sal interresant vind (vir die wat dit nie direk ontvang het nie), hieronder is die e-posse en ons plaas dit met hulle toestemming:

Dagsê al die "peoples".

Alle eer aan God in die Hoogste Hemele....!!!

Dit is met groot vreugde in ons harte dat Lenie en ek hierdie terugvoer gee oor die afgelope naweek se Mediese uitreik na die Tongwa-village.
Ons was vir omtrent 'n dag-en-'n-half besig in die village maar verseker sal ons 'n boek kan skryf oor wat daar gebeur het.
Soos meeste van jul bewus is het ons in die verlede na villages toe gegaan op Mediese uitreike.
Tydens so'n uitreik het ons dan soveel moontlik pasiente probeer sien. En Medikasie uitgedeel. Elkekeer by 'n village gekom was dieselfde probleme maar weer daar. 70% van pasiente het Malaria, baie met rugprobleme en baie met knieprobleme. As gevolg van die groot menigtes, het ons baie op die uitgee van medikasie gesteun en min op gebed.
Tydens 'n onlangse opleidingsessie wat Lenie bygewoon het en wat ook deur heelwat verskillende inwoners van verskillende villages bygewoon is, het dit uitgekom dat die villagers se prioriteite totaal verskil van ons Mediese span se prioriteite. Vir ons is "gesondheid" nommer 1. Vir die mense in die village is gesondheid nommer 11 vanuit 12 opsies. Vir die villagers is heksery dié nommer 1 probleem en nommer 2 en 3 wat baie gelyk loop daarmee is alkoholisme en liefde vir geld.
Die liefde vir geld kom daarop neer dat hul eerder in haaglike omstandighede sal leef, hul kinders met fodde om die lyf sal laat loop en honger gaan slaap eerder as om die groot nes-eier, onder die bed aan te raak. Die nes-eier word dan ook aan die gode ge-offer.
Tydens en na die genoemde opleiding het die Here vir Lenie op die hart gedruk dat ons ons benadering sal moet verander.
Saterdag oggend terwyl Ockie en ons leier na die nuwe plot toe stap kyk ek, wat Lenie is, na dvd's wat al ses maande op my bedkassie stof vergader. Skynbaar was dit nou die regte tyd om dit te kyk. Nodeloos om te sê, die dvd's is kragtige bevestiging maar BAIE "challenging"! Met Ockie se tuiskoms 5 ure later vertel ek hom dat ek nou weet ... Ons benadering moet wees om op God, die Groot Geneesheer te vertrou en die naweek met gebed uit te reik na Tongwa-village. 
Wat 'n vreeslike klemverskuiwing vir my, Ockie. Ek, Gereformeerd, met min of geen klem op geloofsgenesing nie. Vir die "locals" hier op die Basis is dit weer snaaks dat ek niks van geloofsgenesig weet nie. Vir hul was dit dus nie so'n groot "skok" toe Lenie met die nuus kom dat ons op 'n Mediese uitreik gaan, sonder medisyne nie. Die leierskap het dit met ope arms aanvaar behalwe vir paar spanlede wat dink dit is malligheid. Die Here is egter getrou en bevestiging kom uit alle oorde.
So, tydens die opbou na die naweek moes ons heelwat huiswerk doen. Huiswerk in die sin dat ons na dvd's gekyk het waar die "spiritual" beklemtoon word. Ons leer baie, bid baie en lees saam die boek van Lukas as mediese span om ons geloof te versterk.
Die films is kort maar kragtig wat gemaak is waar mense in Indië, Taiwan en Afrika werk om heksery, demone en derglike dinge te bekamp asook hande oplê en bid vir die siekes, dowes, blindes. Ons in die sogenaamde Weste kom gladnie of min-min in aanraking daarmee. Vandaar my skeptiese uitkyk daarop.

Nou vir die naweek se gebeure.

Vrydagoggend so teen 10h00 vertrek ons per boot vanaf basis. Rit was so 1 en half uur lank.
Daar gekom, gou die kerkleiers gegroet wat ons "host" vir naweek. Nie veel gesê dat ons nie medisyne gebring het nie. Daarna het hele span gou vir die "village-chief" gaan groet en sy blessing gekry op ons besoek.
Na die besoek aan die "Chief" is ons terug na ons "host". Daar het ons gebid, lofliedere gesing en Nagmaal gebruik om so ook God se seën te verkry op die naweek. Hier het ons begin ondervind dat die "bose" ons nie daar wil hê nie. Elkekeer wat ons begin lofliedere sing was daar 'n span mense agter ons gebou, wat hul dromme met oorverdowende knalle begin speel het. Sodra ons stop met sing het hul ook gestop. Klaarblyklik is dit 'n manier van rekreasie vir hulle om elke dag dromme te speel. Mense het egter getuig dat hul vir die afgelope week geen dromme gehoor het nie. Later sou ons ook beleef hoe hul met die dromme die klank van die Jesus film probeer uitdoof. Ons beleef hoe die die Here ons gebede beantwoord toe die splinternuwe kragopwekker nie wil werk nie, die klank sisteem nie wil werk nie. Ons vertrou vir 'n wonderwerk en uiteindelik speel die film en sowat 200 mense sit vasgenael voor die televisie. Hul sit op klippe en in die sand en mens kan amper 'n speld hoor val (behalwe vir die dromme gedreun). Die trommers het toe maar die aftog geblaas toe hul sien hul strategie werk nie. Prys die Here!
Die kritieke oomblik in die fliek toe Jesus aan die kruis sterf, sny die kragopwekker vir geen rede uit en die skerm is pikswart. Alles pikswart want daar is geen ander ligte in die village nie. Ons snak na ons asems, ons bid, ons sing en stadig kom almal weer tot orde en die film kan aangaan nadat die kragopwekker gou weer gevat het.. Ons kyk na mekaar en weet en beleef Efesiers 6 "our struggle is not against flesh and blood ...."
Ons kondig af dat om 09h30 Saterdag oggend mense na die "prayer clinic" kan kom vir gebed.
Saterdagoggend het gekom en het ons vooraf gesing, saam gebid en toe Bybelverse die verskillende Name van die Here oral op die muur vasgeplak. Dit het ons bemoedig en ons herhinner waaroor dit gaan die dag. Ons word ook gemaan om nie die mense te salf soos die Bybel voorskryf nie, want hul kan dink dit is toordery!
Mense wag reeds en ons begin bid. 'n Jong seun, so 10 jaar oud, kom vra gebed vir bisarre nagmerries elke nag. Ons vertaler sê dié een is spiritueel. Ons bid en die kind staan kop onderstebo en oë baie-baie ontwykend. Hy kan glad nie opkyk of met ons oogkontak maak nie. Ons leer dis hoe dit is met die "demons". Na gebed sê hy dat hy voel baie beter en glimlag skeef-skeef. Paar uur later kom die seun met drie maats en wys na my en Ockie en vat aan sy lyf, baie opgewonde. Ons weet nie mooi wat aangaan tot ek hoor "pepe" wat beteken om te bid. Toe sien ons, kan dit wees? Dit is die seun, hy lag van oor tot oor en getuig aan sy vriende dat ons vir hom gebid het en dat hy soveel beter voel. Die verskil in sy voorkoms is soos dag en nag. Dankie Here!
Joyce kom en vra dat ons vir haar linkervoet moet bid wat so erg pyn dat sy soms nie kan loop nie. Joyce is 'n gelowige en ek, Lenie vra of ek haar voet kan salf. Sy sit en ek staan teen die muur en vat haar voet in my hande en saam bid ons. Tot my verstomming voel ek hoe kraak die bene in haar voet! Sy spring op en af op die voet en prys die Here. Sondag oggend in die erediens getuig Joyce hoe die Here self die betrokke oggend aan haar voet gewerk het en die maandelange pyn weg is. Ons geloof styg en styg en ons "awe" oor die grootheid van onse God.
So kom daar 'n man wat huweliksprobleme het agv sy rugpyn. Ons span bid en Ockie sit sy hand op die man se rug. Ockie en die man is verwonderd oor wat hul beleef. Hul albei het baie duidelik die Here voel werk. Ockie in sy hand en die man op sy rug. Dit het vir my gevoel asof iemand met sy vinger in die palm van my hand skryf; sê Ockie. Die man het dieselfde gevoel van vinger wat skryf op sy rug beleef waar Ockie se hand was. Weg is sy pyn!
Later kom 'n vrou en kla oor huweliksprobleme. Min weet ons dit die man met seerrug se vrou. Ons bid en praat uit spreuke oor vrouwees, oor jou man respekteer en eer. Sondag by die kerk kan die vrou nie ophou lag en dankbaar wees nie. Ons Here genees seer rue en seer huwelike.

So kom hulle en ons bid.

Nooit geweet bid is sulke harde werk nie...en toe kom Emmanuel. Gou sien ons hier kom 'n ding "demons" sê die locals in ons span. Na so 5 ure se stoei en kragtig bid raak dit rustig maar gou begin die "demon" weer die jong man treiter. Dit vat 4 sterk manne om hom in toom te hou. Die sweet tap hul af. Daar word gebid, gesing, Woord gebid, maar die "ding" lag en sê hy kom nie uit nie. (Ons het al hiervan gehoor en gelees maar nooit ondervind nie.) Later belei Emmanuel dat hy diep in satanisme vasgevang is en wil vry kom. Die kerk vat oor en sover ons weet gaan dit 'n lang pad wees. Hy kom kyk die Jesus film Saterdagaand en is in die kerk Sondagoggend en spring op toe mense vir gebed genooi word! 'n "Captive" vrygemaak deur die bloed van Jesus!

Janet, so'n 12 jaar oue dametjie kom en wil die Here aanneem as haar Verlosser. Ons bid saam met haar en haar ma. Verwys haar na 'n plaaslike gemeente.

Die 2de Jesus film vertoning, Saterdagaand verloop glad en geen tromme gedreun nie.

Seën vir julle.

Lenie en Ockie.

En


Hi,

Dit is Vrydagoggend en ons span van 14 mense is oppad na die Chipwa village vir ons tweede "Faith trip".
Die span bestaan uit tien van ons eie span en 4 Amerikaanse studente dames wat vir hul somer vakansie hier op uitreik is.
Ons moet in twee groepe vaar want die boot is nie groot genoeg vir die 14 mense plus die bagasie nie. Die bagasie bestaan o.a. uit 'n kragopwekker, TV, luidsprekers, tente, eetgerei en slaap- en rugsakke. Ek, Ockie en twee ander mense en die bagasie gaan met die eerste rit.
Hoe verder ons vaar hoe groter word die golwe as gevolg van die wind van voor af wat al sterker word. Ek en Ockie bid teen die storm, maar die skipper besluit ons moet aan wal gaan by 'n klein village om te wag tot die storm bedaar.
By die village sien ons hul is besig om 'n kis te maak vir iemand wat afgesterf het. Soos gebruiklik gaan sit ons onder 'n boom saam met die treurendes om simpatie te betoon. Na sowat 'n uur se wag klim ons weer in die boot en vertrek. Ons is nog nie eers by ons bestemming en reeds is my wat Lenie se goed beplande program van koers af. Ons leer stadig, maar ons leer wel wat dit waarlik beteken om "flexible" te wees, nie dat ons altyd daarvan hou nie!
In Chipwa aangekom en na die gebruiklike groet van ons eie sendeling daar  en die hoofman slaan ons as voorlopers die tentkamp op sodat ons kan begin met die program sodra die tweede groep arriveer. Die VSA studente is vol afwagting oor alles wat voorlê...
Ons as span het weereens as deel van ons voorbereiding vir die naweek na dvd's gekyk oor "Divine healing", die Woord bestudeer en gebid vir die Here se leiding vir die naweek. Min het ons geweet wat wag.
'n "Prayer walk" is eerste op die program vir Vrydag-agtermiddag en die span verdeel weer in twee. Die jonges en fikses takel die roete berg op en bid en sing lofliedere van bo die koppie wat oor Chipwa uitkyk. Sowat 20 vroue van ons sendeling se vrou se damesgroep sluit aan by die deel van die span. Ons vra hul waarvoor moet ons bid en weereens kom dieselfde dinge uit: heksery, alkoholisme, liefde vir geld, ontrouheid in die huwelik, leuens en malaria.
Vir die wat deel was van die "prayer walk" was dit 'n wonderlike ervaring. Ons wat agter bly het ook gou 'n gehoor en ons leier se vrou gee 'n lessie in wiskunde "tafels" en gou loop dit uit op "worship"! Dit blyk die Here se program verskil van myne, en dit werk!
Die "prayer walk" duur amper twee ure ipv 'n uur soos beplan. Na aandete vertel David vir die sowat 30 mense die Bybel verhaal van Genesis tot Jesus, spesifiek met die doel om hul voor te berei vir die Jesus film Saterdagaand.
Vier mense neem 'n besluit vir Jesus as hul verlosser. Ons weet die engele juig en ons is dankbaar.
Tydens ons voorbereiding voel 'n spanlid dat ons as span sewe keer om die gebou moet loop waar ons die "bid kliniek" gaan hou. Soos die Isrealiete van ouds. Ons loop en sing psalms, lofliedere en bid . Ons bid oor enige versteekte "charms" in die gebou, verbreek deur gebed die krag van enige rituele wat in of oor die gebou gedoen is. Die skoolgebou waar ons die "kliniek" hou is ver uit die woongebied en ons wonder of die mense so ver sal kom omdat ons nie  medisyne het nie.
Alreeds het die, wat ons as  verpleegsters herken het begin vra oor die kliniek. Ons bid dat die Here dié sal stuur wat Hom nodig het as die Groot Geneesheer. En jou waarlik hulle kom! Alle eer aan God!
Gou raak dit 'n. demone-slagveld en ons moet verskuif na 'n klaskamer langsaan. Ons sien en beleef die kragtige werking van die Heilige Gees en die uitwerking van die net die "Naam van Jesus" op die demone. Een na die ander bevry die Here die mense van demone. Ons bid, huil van aandoening, bid, prys en lê hande op. Ons beleef die outoriteit wat ons het in Jesus. Die Heilige Gees maak ons oë oop en lei ons waarvoor om te bid. Ons sien die versteekte "charms" die toordokter se "tatoos" op die arms, bene en lywe.
Ons bid vir 'n pragtige jong meisie met erge misvorming van haar rug. Sy droom gereeld van baie slange wat sy probeer doodtrap in die drome maar kry dit nie reg nie. Ons sien hoe sy wriemel soos 'n slang met ongelooflike krag. Na so 6 minute raak sy doodkalm. Sy staan op van die vloer af en haar rug is so reguit soos kan kom en skouers perfek. Prys die Here! Iemand wag soos hul uitkom om die evangelie aan hul te gee en word ook na die kerk verwys vir dissipelskap. In Lukas 11:24 tot 26 leer onse Here Jesus ons dat: "Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: 'Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.' Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin." Dit hoekom ons dadelik begin met dissipelskap!
Ons sien die ou oompie uitstap sonder sy kiere en sy kreupel-waggel van 1 uur te vore. Ons is oorstelp en ons geloof groei, groei, groei en groei.
Later die aand daag sowat 350 mense op vir die Jesus film.
Voordat ons die Jesus film wys doen ons 'n kort drama genaamd: "The Burden". Dit tref in die kol want dit gaan oor die laste soos die geld-god, drankmisbruik en toordery.
Hul bibber van die koue wind wat waai maar hul sit en kyk. Hulle hoor van Ringwell 'n spanlid, hoekom ons almal Jesus nodig het as ons Koning. Sowat 35 mense neem Jesus aan as verlosser en ons is dankbaar en in verwondering. Dankie Here!
Sondag oggend gaan 'n deel van die span oor na die deel Chipwa village wat in Tanzanië geleë is. Net die Colomborivier skei die twee villages. Ons doen weer die "burden" drama soos Saterdagaand en ons bid vir verskeie siekes.
Jul vra dalk hoe weet ons 'n persoon is duiwelbesete? Ons leiers het soveel ervaring op die gebied en ons leer van hulle.
Ek, Lenie verstaan ook nou hoekom so baie mense met dieselfde simptome na die vorige "mediese" klinieke gekom het wat ons in die verlede gehou het.
Die volgende dinge is 'n goeie aanduiding van die teenwoordigheid van demone in 'n mens: algemene liggaamspyne, angs, hoofpyne, baie vinnige hartklop, maagpyne, drome van dood, drome van slange, drome van leeus, drome van beeste of enige diere wat hul jaag, drome van mense wat hul vreemde goed wil laat eet. Ons leer baie en later kan ons al beter sien hoe so 'n persoon se gesigsuitdrukking en oë lyk.
Sjoe! Ons beleef dinge wat ons nooit self sou geglo het nie.

Baie moeg kom ons Sondagmiddag by die basis aan en bly steeds dankbaar en vol verwondering.

In die Naam van Jesus van Nasaret bid ons julle Sy liefde en seën toe!

Lenie en Ockie.

Maandag 10 Junie 2013

3 - 9 Junie 2013

Maandag en Dinsdag gebeur daar niks interresant nie.
Woensdag moet Petrus help om ‘n voertuig wat die vorige aand in Matola gebreek het reg en terug te kry by Zimpeto. Die eerste inligting is dat die automatiese ratkas opgepak het, maar na ondersoek word gevind dat die linkervoor-remskoene (3 maande oud) se ‘pads’ van die ysters losgekom het met die gevolg dat dit yster op yster was en die skyf is beskadig. Die skyf moet eers laat sny word en nuwe remskoene gesoek word, Petrus was later nie baie gewild omdat hy Ferodo remme gekoop het teen 3 keer die prys van die ander wat beskikbaar is in Mosambiek nie(en nie hou nie). Dit hele proses vat die hele dag en teen 4 uur die middag moes Petrus die voertuig terugbestuur sonder die voertuig se dokumente en al die goed wat wettiglik in die voertuig moet wees, dit was gelukkig spitsverkeer en hy is nie voorgekeur nie. Woensdagaand vertel Celia ons van haar uitreik saam met van ander pastore in haar kerk na ’n baie afgeleë plekke in sentraal Mosambiek waar hulle die vorige week was.
Donderdagaande gedurende die kerkdiens word die kleiner kinders na lofprysing (’n uur of so) toegelaat om te gaan slaap, dit sluit ook ons spannetjie in (hulle raak al aan die slaap voor lofprysing klaar is). Na die kinders ’n rukkie uit is kom die ‘educator’ (toesighouer) terug wat nie mag gebeur nie, hy is veronderstel om heeltyd in die camerada te wees wanneer die kinders moet slaap. Petrus loop kyk toe wat aangaan in die camerada en daar was chaos, die arme chefe (’n ouer kind wat as prefek moet optree) kan hulle nie beheer nie, maar na ’n uur het die kinders geslaap. In die tydperk stap Petrus vir die eerstekeer in die badkamer in om te vind dat geen toilet meer werk nie en dat die res in net so ’n swak toestand is. In opvolg die volgende more vind hy uit dat daar nie onderhoud gedoen word nie, omdat die kinders enigiets wat herstel word net weer breek, maar niemand kon antwoord hoekom die educators nie verantwoordelik gehou word vir enige vandalisme nie, hulle is veronderstel om toesig te hou. So daar is ’n nuwe probleem wat aandag nodig het.
Vrydagmiddag gee die bestuurder van die sentrum vir Petrus ’n nuwe TV vir die camerada na die vorige een opgepak het, Petrus kry die dankie en waardering van al die kinders ipv die bestuurder.
Saterdagoggend maak ons tuin, huis en Kia skoon (dit sluit ’n polish in) met die gevolg dat ons van Sondagaand af koud kry. Saterdagaand vertrek ons weer op die bus stad toe om pizza te gaan eet om afskeid te neem van die 2 Engelsmannetjies wat na ’n jaar terug huis toe gaan. Alles het rustig en normaal begin, self parkeerplek voor die restaurant vir die bus gekry en die kos wat vooraf bestel was, was gereed. Die avontuur begin toe een paartjie wat met ’n ander voertuig daar was, terugry op ’n ander roete en voorgekeer word deur polisie en die vrou het nie haar paspoort by haar nie. Hulle word toe poliestasie toegeneem met dreigemente dat die voertuig, wat die sentrumbestuurder s’n is, ook gevat gaan word. Hierdie is die metode wat hulle gebruik om ’n persoon bang te maak en dan omkoopgeld eis. Gedurende die storie bel die twee toe die sentrumbestuurder wat besig is om ons bus te bestuur. Op daardie stadium staan ons in ’n verkeersknoop stil en terwyl hy nog oor sy iPOD4 met hulle praat, gryp iemand die selfoon uit sy hand deur die oop venster en laat spander . Teen die tyd dat ons ander besef wat aangaan, is die dief buite sig en agterna sit nodeloos. Terug by sentrum kon ons gelukkig toegang kry na die paartjie se woonstel om die paspoort te kry, waarna die sentrumbestuuder en Petrus terug is na die polisiestasie in die stad om die twee uit te kry. Alles het toe goed verder afgeloop, met die paspoort afgelewer, is hulle laat gaan en al is hulle by 3 ongeluktonele verby, het almal veilig by die huis gekom.


Sondagoggend is ons en Cathrine Matola toe om die Afrikaanse kerk (Die Lewende Gemeente Maputo,’n interkerklike gemeente wat deur die NGK ondersteun word) te gaan soek. Ons vind dit waar die straat geblokkeer is, met voertuie by ’n huis en waar daar ook baie SA voertuie staan. Daar is so 40 mense teenwoordig en die diens is baie soos MBG noord behalwe vir die sang wat stadig was. Die boodskap was nogal heel interresant, dit was die afsluiting van ’n reeks wat hulle gedoen het met preke en ook in selgroepe hanteer het. Dit handel oor die hanteering en verantwoordelikheid wat ons het wat God aan ons toevertrou het en dat ons net tydelik hier op aarde is. Die slagspreuk “Die hemel is my woning en die aarde net ’n hotelkamer” Een van die punte wat gevra is, is as jy in ’n hotelkamer bly vir ‘n tydjie, gaan jy nie vir jou ’n beter matras en yskas koop nie, want jy kan dit nie weer saam vat nie. So is daar baie dinge wat ons baie goed sonder kan klaar kom en die geld en tyd wat ons daaraan sou spandeer op beter en belangriker dinge kan spandeer, wat vir God van groter belang is. Na die diens is ons terug, want ons is gevra om regtestaan vir ’n groep van 24-28 mense met ’n braai vanaf 4 uur die middag. Dit was ’n groep Amerikaners van ’n kerk wat die naskoolse studiegelde van kinders wat hier groot geword het, betaal en ook hierdie studente. Alles het goed verloop en ons was ’n bietjie moeg Sondagaand. 

Dinsdag 04 Junie 2013

27 Mei – 2 Junie 2013

Hier het nogal heelwat gebeur by die sentrum in die tyd wat ons weg was. Daar was nog ’n huweliks-seremonie vir Fiona en Vovoti. Hoe dit gewerk het, is dat die eerste was die proses by die Registrateur in Engeland, daarna ’n Christelike seremonie in ’n kerk die volgende dag en laaste ’n seremonie hier in Mosambiek vir familie en vriende in ’n Mosambiekse / Christelike styl. Die aand terwyl hul besig was om die kerk te versier vir die troue  het iemand kom sê dat die skool brand, dit was toe die personeelkamer. Dit was chaos almal het deur die vensters geloer om die vlamme te sien en na die slot oopgebreek is het almal ingestroom en probeer die vlamme blus, geen waarskuwings om terug te staan of dat dit gevaarlik is, het gehelp nie. Die vlamme is geblus en die skade is tot die een kamer beperk. Twee besoekers het besluit om die skade te herstel en het ’n hoëdrukspuit en kompressor met spuitverf-toerusting gekoop om die werk te doen (dis nou vir die sentrum gegee), hulle het alles skoongemaak en geverf en al wat oorbly is om die gebrande dakbalke te versterk.
Die hele week was almal besig met voorbereidings vir kinderdag wat op 1 Junie is.
Op Maandagaand se sendelingvergadering praat ons vroulike leier belas met kindersake oor die stand van en tipe kinders waarmee ons werk. Sy stuur vir ons ’n aantal se geskiedenisse wat kort tevore ingeneem is. (sien onder). Dit haal ons weer uit die groef / veilige area waarin ons mettertyd beland en laat ons duidelik besef hoekom ons hierheen gestuur is.
Woensdagaand sê ons totsiens vir drie van die sendelingkollegas, 2 verskuif na ’n ander sentrum en een gaan terug huis toe. Ons hou hul afskeid by ’n Indiese restaurant in die stad. Ons het almal met die bus (of Chapa beter bekend in MZ) gery en natuurlik soos gewoonlik raserig. By die restaurant, erg Moslem, het ons gekuier, sonder alkohol, gebid en dit was baie duidelik dat ons Christene is. Die eienaars het ons ooglopend ongelukig/ontevrede dopgehou maar kon niks doen aan die saak nie.
Donderdagaand is dit weer kerk vir die kinders en Pastoor Nico vertel ons van ’n dogter ±12 jaar oud wat met hom kom praat het oor drome wat sy kry. Hy laat haar die diens lei wat sy toe ook baie goed doen, met haar teksgedeelte, die verlore seun. Sy weef haar eie lewe en wedervaringe in die boodskap in. Haar pa het weggeloop en haar ma is dood, haar tannie wat na haar sou kyk, het haar as baba hier by Iris kom aflaai. Haar familie het haar vergeet maar God het nie en al spot die klasmaats met haar hou sy vas daaraan dat sy Sy prinses is. Sy sluit af dat sy uitsien dat haar pa na haar toe gaan terugkom en dit alles sit almal aan die huil. Die Vrydagoggend is daar ’n gebedsessie in die bidkamer en daar is ook Donderdagaand tydens die diens gesê dat sendeling, besoekers en kinders almal welkom is. Almal was verbaas oor die hoeveelheid kinders wat opgedaag het. Dit lyk of dit nou ’n gereelde instelling sal word dat die kinders ook saam sal bid Vrydagoggende.
Vrydag is dit die maandelikse aankope vir die baba’s wat die hele dag inbeslag neem.
Saterdag is dit kinderdag, hierdie dag word elke 1 Junie gehou en ontvang elke kind nuwe klere, ‘n speelding of 2, lekkergoed en ’n middagete met hoender (gewoonlik is die enigste vleis wat hulle kry net vis). Daar word baie moeite gedoen om dit vir die kinders ’n spesiale dag te maak. Daar is foto’s hieronder.
Dit was ook Petrus se verjaarsdag, ons spannetjie kom vir hom sing vroegoggend  en later word hy saam met die drie kinders wat verjaar voorentoe geroep in die eetsaal waar daar vir hulle gesing word. Na alles Saterdag afgehandel is het hy darem verder ’n rustige dag gehad.
Sondag het ons soos gewoonlik kerk en nagmaal (dit is die 1ste Sondag van die maand). Hier kan die kinders ook nagmaal gebruik en dit is opmerklik hoeveel kinders weier nagmaal wat beteken hulle neem dit ernstig op. Die metode is om die brood, wat klaar gebreek is, in die druiwesap druk en dan dit eet. Dit word alles na jou toe gebring en party maal het daar stukkies brood in die druiwesap geval.
Weer is daar gelukwense vir verjaarsdae en word Petrus en die drie kinders weer geluk gewens en ook die wat die Sondag en Maandag verjaar. Jy moet op ’n stoel of bankie gaan sit waar daar vir jou gebid word en daarna word jy met stoel of bankie skouerhoog opgetel en die res sing vir jou terwyl jy op en af gewieg word, redelik skrikwekkend.
Sondagaand hou ons braaivleis en vier Petrus en Vella (’n mede sendeling vanaf Engeland) se verjaarsdae, Petrus 1 Junie en Vella 3 Junie.

Die verhale hierbo genoem:
Case 1
The father of these two children abandoned them for another woman. The mother doesn’t have a job, and the house she now lives in was lent to her by the owner of the house. The owners now need the house. The mother has a brother who lives in Khongolotti who accepts for her to come and live in his house, however he does not accept the two children. The team registered the children with the mother present (110mts).

Case 2
This 6 year old girl is seropositive, lives in Guava with her mother in a borrowed house.
The father rejects both the mother and the child as they are both sick (?HIV+). Although he has a job he gives the money to another woman and does not support his first wife or his daughter. The visit was made to the house of the tia in Maxaquene as the mother does not have a fixed address. On admission the girl was severely malnourished her weight less than -3 z score. She was commenced on a dietary regime and has had numerous investigations for other illnesses.

Case 3
The father came to ask for help because he has no job and his wife (28years) is very sick. (HIV+, TB and a known heart condition), this mum has only just started on ARVs. She is in and out for hospital. The grandmother has been looking after the boys but she doesn’t have time to help. She lives in Sao de Marceo. The boys are 2 1/2 years and 5 years old.

Case 4
The father’s story:
The father came and asked for help to take these children into the centre. The mother died about 1 year ago and he finds the children difficult to deal with. They do not go to school and the older brother encourages the younger ones to run away. The younger boy is HIV +.
The story as told by the neighbours and confirmed by the chefe of the quaterao:
The reason they run away is because the madrasta mal treats them the oldest boy won’t leave the little ones so he runs away together with them to protect them.
The father lives with another woman (madrasta) however she doesn’t care for these children. They live in a different small room with nothing in it, they don’t eat with the family and they are given food that is different to the other family members. Sometimes they are given chicken food to eat.

The madrasta is known by both the police and social welfare because of her poor treatment of the boys. She was on TV because she had burnt the oldest boy with a hot piece of metal, the neighbours took her to the police and reported it to the TV. The madrasta was sent to the esquadra (lock up cell) for 3 days for the mal treatment of the children however the father offered to do the 3 days for her so he went to jail for her.

Foto's
Alta se baba-spannetjie




Ons spannetjie het dieselfde kleur hemde aan en staan



Gedekte taffels
Verjaarsdagmaatjies