Maandag en Dinsdag
gebeur daar niks interresant nie.
Woensdag moet
Petrus help om ‘n voertuig wat die vorige aand in Matola gebreek het reg en
terug te kry by Zimpeto. Die eerste inligting is dat die automatiese ratkas
opgepak het, maar na ondersoek word gevind dat die linkervoor-remskoene (3
maande oud) se ‘pads’ van die ysters losgekom het met die gevolg dat dit yster
op yster was en die skyf is beskadig. Die skyf moet eers laat sny word en nuwe
remskoene gesoek word, Petrus was later nie baie gewild omdat hy Ferodo remme gekoop
het teen 3 keer die prys van die ander wat beskikbaar is in Mosambiek nie(en
nie hou nie). Dit hele proses vat die hele dag en teen 4 uur die middag moes
Petrus die voertuig terugbestuur sonder die voertuig se dokumente en al die
goed wat wettiglik in die voertuig moet wees, dit was gelukkig spitsverkeer en
hy is nie voorgekeur nie. Woensdagaand vertel Celia ons van haar uitreik saam
met van ander pastore in haar kerk na ’n baie afgeleë plekke in sentraal
Mosambiek waar hulle die vorige week was.
Donderdagaande
gedurende die kerkdiens word die kleiner kinders na lofprysing (’n uur of so)
toegelaat om te gaan slaap, dit sluit ook ons spannetjie in (hulle raak al aan
die slaap voor lofprysing klaar is). Na die kinders ’n rukkie uit is kom die
‘educator’ (toesighouer) terug wat nie mag gebeur nie, hy is veronderstel om
heeltyd in die camerada te wees wanneer die kinders moet slaap. Petrus loop kyk
toe wat aangaan in die camerada en daar was chaos, die arme chefe (’n ouer kind
wat as prefek moet optree) kan hulle nie beheer nie, maar na ’n uur het die
kinders geslaap. In die tydperk stap Petrus vir die eerstekeer in die badkamer in
om te vind dat geen toilet meer werk nie en dat die res in net so ’n swak toestand
is. In opvolg die volgende more vind hy uit dat daar nie onderhoud gedoen word
nie, omdat die kinders enigiets wat herstel word net weer breek, maar niemand
kon antwoord hoekom die educators nie verantwoordelik gehou word vir enige
vandalisme nie, hulle is veronderstel om toesig te hou. So daar is ’n nuwe
probleem wat aandag nodig het.
Vrydagmiddag gee
die bestuurder van die sentrum vir Petrus ’n nuwe TV vir die camerada na die
vorige een opgepak het, Petrus kry die dankie en waardering van al die kinders
ipv die bestuurder.
Saterdagoggend
maak ons tuin, huis en Kia skoon (dit sluit ’n polish in) met die gevolg dat
ons van Sondagaand af koud kry. Saterdagaand vertrek ons weer op die bus stad
toe om pizza te gaan eet om afskeid te neem van die 2 Engelsmannetjies wat na
’n jaar terug huis toe gaan. Alles het rustig en normaal begin, self
parkeerplek voor die restaurant vir die bus gekry en die kos wat vooraf bestel
was, was gereed. Die avontuur begin toe een paartjie wat met ’n ander voertuig
daar was, terugry op ’n ander roete en voorgekeer word deur polisie en die vrou
het nie haar paspoort by haar nie. Hulle word toe poliestasie toegeneem met
dreigemente dat die voertuig, wat die sentrumbestuurder s’n is, ook gevat gaan
word. Hierdie is die metode wat hulle gebruik om ’n persoon bang te maak en dan
omkoopgeld eis. Gedurende die storie bel die twee toe die sentrumbestuurder wat
besig is om ons bus te bestuur. Op daardie stadium staan ons in ’n
verkeersknoop stil en terwyl hy nog oor sy iPOD4 met hulle praat, gryp iemand
die selfoon uit sy hand deur die oop venster en laat spander . Teen die tyd dat
ons ander besef wat aangaan, is die dief buite sig en agterna sit nodeloos.
Terug by sentrum kon ons gelukkig toegang kry na die paartjie se woonstel om
die paspoort te kry, waarna die sentrumbestuuder en Petrus terug is na die
polisiestasie in die stad om die twee uit te kry. Alles het toe goed verder
afgeloop, met die paspoort afgelewer, is hulle laat gaan en al is hulle by 3
ongeluktonele verby, het almal veilig by die huis gekom.
Sondagoggend is
ons en Cathrine Matola toe om die Afrikaanse kerk (Die Lewende Gemeente
Maputo,’n interkerklike gemeente wat deur die NGK ondersteun word) te gaan
soek. Ons vind dit waar die straat geblokkeer is, met voertuie by ’n huis en
waar daar ook baie SA voertuie staan. Daar is so 40 mense teenwoordig en die
diens is baie soos MBG
noord behalwe vir die sang wat stadig was. Die boodskap was nogal heel
interresant, dit was die afsluiting van ’n reeks wat hulle gedoen het met preke
en ook in selgroepe hanteer het. Dit handel oor die hanteering en
verantwoordelikheid wat ons het wat God aan ons toevertrou het en dat ons net
tydelik hier op aarde is. Die slagspreuk “Die hemel is my woning en die aarde
net ’n hotelkamer” Een van die punte wat gevra is, is as jy in ’n hotelkamer
bly vir ‘n tydjie, gaan jy nie vir jou ’n beter matras en yskas koop nie, want
jy kan dit nie weer saam vat nie. So is daar baie dinge wat ons baie goed
sonder kan klaar kom en die geld en tyd wat ons daaraan sou spandeer op beter
en belangriker dinge kan spandeer, wat vir God van groter belang is. Na die
diens is ons terug, want ons is gevra om regtestaan vir ’n groep van 24-28
mense met ’n braai vanaf 4 uur die middag. Dit was ’n groep Amerikaners van ’n kerk
wat die naskoolse studiegelde van kinders wat hier groot geword het, betaal en
ook hierdie studente. Alles het goed verloop en ons was ’n bietjie moeg
Sondagaand.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking