Jammer ons het ’n
week gemis, was in SA die naweek 20-21/07, Nelmarie, LeRoy en Peet het ons daar
gekry vir ’n besoek van ’n week in Mosambiek. Daar het nie iets groot gebeur daardie
week nie.
Ons is
Sondagoggend 21/07 vroeg weg vanaf Marloth om betyds te wees vir kerk op
Zimpeto, maar by die grens beland ons in ’n tou voertuie wat staan. So met tyd
word die gewone reisigers tussen die ander uit gehaal en deurgestuur, want al
die taxi’s word eers deurgesoek in SA kant en blokkeer die pad totaal om deur
te kom tot by doeane kantore. Ons gewone voertuie word toe teen die
voorafverkeer ingestuur om verby die blokkasie te kom. Daar is 3 afdelings
beamptes wat daar betrokke is, Fidelity wat hekpasse uitreik by die ingang, die
SAPS beamptes wat volgende inlyn is en die verkeer volgens my moet beheer en
laaste doeane beamptes wat die voertuie deursoek. Wel terwyl Fedility ons teen
die verkeer in deurstuur om, om die taxi’s te kom, keer ’n polisiekonstabel ons
almal voor en wil ons nie verder laat ry nie, want dit mag nie gebeur nie, maar
sy kollegas het nie die taxi’s behoorlik beheer nie en gevolglik moet almal
maar net wag volgens hom. Ons almal het egter gekerm en gekla en hy moes ons
laat deurgaan, bygesê daar is nie enige gevaar deur teen die verkeer in te ry
nie want die spoed is laag en daar was geen verkeer op daardie stadium nie.
Ons eindig 11:15
in Zimpeto en is steeds betyds vir die laaste deel van die kerkdiens.
Sondagmiddag gaan wys ons vir die kinders Maputo.
Sondag laat
middag kry ons ’n boodskap dat die Brasiliaanse pastoor, wat met ‘n groep van haar kerk op ’n uitreik was, in ’n
insident betrokke was waar ’n kind in haar motor vas gehardloop het terwyl sy
gery het en dat die kind dood is. Nou
die gebruik hier is dat jy in die trok geplaas word wanneer daar ’n kind dood
of beseer is in ’n ongeluk. Ons bid almal dat dinge goed moet verloop en vir
die famielie van die kind. Dinge het besonder goed verloop, die hele groep het
besluit om by haar te bly en almal het in hulle voertuie geslaap by die
polisiestasie by haar en by ’n naby geleë kerk. Na ’n lang gewag en
onderhandelinge is sy eindelik Maandagaand toe gelaat om te vertrek. Almal is
dankbaar dat alles goed verloop het, al was daar moeilike tye. Die kind se pa
is ook ’n pastoor en die familie het besluit om nie ‘n klagte te lê nie. Daar
was ’n goeie verhouding tussen die familie en die Brasiliane tot so ’n mate dat
die polisiehoof by die betrokke polisiestasie hulle almal gevra het om vir haar
te bid want daar is baie probleme op daardie pad en die partye baklei altyd na
’n ongeluk.
Maandagoggend val
ons in die pad Macaneta eiland en Jay’s Beach Lodge waar daar vir 2 aande plek
bespreek was. Die laaste 3km is net vir 4x4’s, dik sand en Petrus kry sy
oefening in sandbestuur, Peet se mening is dat dit die naaste is wat Petrus aan
die Dakar sal kom. Ons bereik die bestemming sonder voorval.
Dis egter mooi en
rustig daar. Die mense is vriendelik en help tot uit met die eiers wat by die
huis vergeet is. (Hoe mens dit heel daar sou gekry het wonder ons, dis nou oor
die pad.) Ons het tot ’n hond of twee gekry wat heeltyd naby was. Baie
gehoorsame Afrikaanse honde wat huis toe gaan as ons hulle van die strand af
huis toe stuur en sit wanneer die bevel gegee word. Die honde het ook vir die
werkers geblaf as hulle kom om die donkie te stook sodat ons ’n warm stort kon
kry. Dit was bietjie winderig veral in die oggende, maar die dae was lekker,
veral op die strand. Ons het pragtige sonsopkomste as ook sonsondergange gehad
en die volmaan het die nag helder verlig. Ons het dit baie geniet. Woensdag toe
ons by die pont kom om oor die rivier te kan gaan, is die pont stukkend, maar hulle is gelukkig alreeds besig om die herstelwerk te doen. Ons het so ongeveer ’n
uur gewag voordat dit herstel was en ons oor kon gaan.
Dit gaan beter
met beide van die siek kinders. Lucia is gister ontslaan, maar nog baie swak en
sal moet fisio-behandeling kry. Bid asseblief steeds vir hulle.
Saterdagmiddag is
ons te voet saam met die klein seuntjies, tia en educator na die siek tia se
huis iewers agter die sentrum. Dit was nie net vir ons vreemd nie, maar ook vir
die mense in die gemeenskap. Hulle het nie mooi geweet wat om te doen as hulle
ons saam met die ander sien nie. Die tia en haar mense was ook verras en het
soos in SA ook dadelik vir ons stoele gebring om op te sit. Na ’n bietjie uitvra
oor wat verkeerd is en ’n gebed, stap ons weer terug sentrum toe.
Vanoggend Sondag, tydens
die diens is daar ook ’n troue en so raak ons toe ook deel van die verrigtinge.
Gedurende die trouserimonie roep hulle ander getroudes om ook voor te gaan
staan en niemand gaan nie en die tolk spoor ons aan om te gaan. Toe ons eers
bo-op die verhoog is, kom daar toe nog ’n paar uit hul bruilofsgaste vorentoe.
Ons moes toe ook vir hulle ’n boodskap gee en saam met almal ’n seën-gebed vir
hulle doen.
Foto's geneem deur Peet
Tou by grenspos Sondag |
Pont om oor die rivier te kom na Macaneta Eiland |
Jay's Beach Lodge en die hond |