Dinsdag 09 Julie 2013

1 - 7 Julie 2013

Maandag begin die kerkkonferensie slaapplek word gesoek vir meer konferensiegangers as waarvoor beplan en in Mosambiek is daar nie so iets soos daar is nie meer plek nie, daar word plek gemaak. Tema van konferensie is onbekend vir ons en ek is nie so seker die konferensiegangers weet self nie.
Maandagaand arriveer Georgian Banov met ’n span van 30, gaan Google as jy meer van hom wil weet. Ons moes hom huisves en versorg. Saam met hom kerkdiens toe gaan,  waar hy saam met die worship team op sy viool gespeel het, maar ons kon nie juis die viool tussen die ander verdowende klanke hoor nie. Hy preek ook en so 9 uur kon ons huistoe gaan.
Dinsdagoggend na ontbyt is hulle Bocaria toe. Vir middag/aandete besluit die baas ons moet braai (hy maak seker hy word uitgenooi en dat daar aartappelslaai is) en daarvoor moes ons eers weer stad toe vir vleis. Tussen alles deur die oggend, ontvang ons opleiding oor gebedsgenesing van die Australiese paartjie, wat die naweek vir ons ’n werkswinkel gehou het oor die huwelik. Hulle bedryf voltyds ’n gebedsgenesing kliniek in AustraliĆ«. Belangrike punte wat hulle aan ons uitwys, is dat God besluit wanneer genesing sal plaasvind (dadelik, oor ’n tydperk, ’n later datum bv. jaar of wanneer die persoon Hemel toe gaan) en hoe dit gaan gebeur (dadelik deur ’n wonderwerk op daardie tydstip van gebed, deur ’n dokter se hande met medikasie of deur ’n operasie) maar steeds tot eer van God.  Dinsdagaand is daar weer ‘n kerkdiens waar ‘n pastoor wat in Georgian se span is, preek. Daarna bid Georgian vir ons hoof pastoor uit verskillende plekke in die Bybel wat naby aan ’n uur geduur het. Daarna bid sy span vir konferensiegangers wat voorentoe gekom het, die duiwel word ook uit ’n vrou gedryf en dit is nogal angswekkend saam met geweldige harde musiek en dromme, en so teen 10uur besluit Georgian dis tyd om te gaan slaap, die baas en Alta het reeds verdwyn, Alta moes ’n batterylaaier gaan soek vir die gas se AppleMac rekenaar en net Petrus, doof van die musiek, was oor om hom terug te vergesel. Ons het eers na 12 in die bed gekom.
Woensdagoggend na ontbyt vertrek Georgian. 9 uur is daar gebedsgenesing vir konferensiegangers en die gemeenskap deur die groep wat die vorige dag opgelei is, daar vind talle genesings plaas onderandere ’n been wat langer word om by die ander een te pas, verlamde arm herstel en ’n vrou ontvang genesing wat sedert die geboorte van haar baba buikpyne gehad het. Eer aan God. Die aand het ons weer kerk as afsluiting van die konferensie.
Donderdag rus almal van die vorige dae se besig wees.
Vrydag is ons stad toe vir die maand se aankope vir die baba’s.
Saterdag herstel ons nog steeds van die week se dinge en Saterdagaand is ons huis weer oop  vir sendelinge wat wil kuier (geselskap soek)
Sondagoggend vat ons die pad Matola toe na die Afrikaanse kerk toe met Cathrine en 2 besoekers van SA, dis afrikaansprekende dames van die Kaap. Na kerk word daar vleisgebraai en doof gepraat deur die vroumense.


Hier is ’n link na YouTube van ’n video wat Petrus geneem het van ‘worship’, sit net die klank deur ’n versterker, sit ’n luidspreker langs elke oor en stel die klank op 90% van maksimum en jy sal hoor wat ons gehoor het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking