Sondag 19 Januarie 2014

Oorsig

Daar is nou ‘n jaar verby waar ons hierop Arco Iris Zimpeto baie dinge beleef, gesien en gedoen het.

Drie jaar voor ons koms na Zimpeto het Petrus gedroom van die Lebombo Grenspos gehad en dit onthou, wat reeds raar was. Ons hoor van Iris Ministries en uit nuuskierigheid gaan kyk ons, wat ons oor hulle op die internet kan kry. Die eerste bladsy wat oopmaak is Zimpeto s’n (Z is gewoonlik laaste) met die versoek dat hulle na ’n bestuurder vir instandhouding soek (iets wat Petrus kan doen). Dit word daargelaat en ons gaan aan met ons werk. ’n Paar dae later lees Petrus in Hebr. 11:8&9 dat God Abraham na ’n vreemde land toe gestuur het, wat dadelik vir hom uitstaan en herinner aan Iris. Dieselfde dag stuur hy toe ’n e-pos aan die bestuurder van Iris Zimpeto wat dadelik terug antwoord, wat ook vir ons ’n verdere rigtingwyser was. Ons word toe uitgenooi om ’n besoek aan die sentrum te bring, maar ons moes eers paspoorte kry. Ons doen aansoek en word gesê dat dit 3-6 weke neem. Nie waar God werk nie, ons het die Maandag ons aansoeke ingehandig en die volgende Maandag ons paspoorte in ons hande gehad. Dit was die week voor die langnaweek in September en ons was reeds van plan om Marloth toe te gaan vir die langnaweek. Ons  besluit om die besoek oor die langnaweek te doen aangesien dit langnaweek is en ons naby die grens is. Verder, wat ons nie geweet het nie, was dit ook die laaste naweek wat die bestuurder op  die sentrum was voor hulle vir 6 weke Australië toe sou gaan, wat ons proses sou vertraag het. Ons het die Sondag op Iris gearriveer, nog betyds vir die kerkdiens en is later onthaal en ook deur die sentrum geneem om alles te sien. Die volgende more maak Petrus die Bybel net oop en lees Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”  Matt 19:14. Hierdie was duidelik die antwoord op wat ons moes doen. Op 4 Oktober 2012 laat weet hulle ons moet ’n klomp dinge doen om die proses aan die gang te kry. Ons moes getuigskrifte kry en polisie-klarings om toegelaat te word om met die kinders te kan werk. Die is vir ons vertel neem drie maande, weereens het alles net in plek geval en het ons dit na ’n maand gehad. Ander dinge wat ons moes doen was om die winkel te verkoop, die huis leeg te kry, na 30 jaar wat ons daar gebly het en huurders te kry. Tussen deur moes ons ook nog die gewone dinge by hou soos ons pligte by die kerk en werk. Ook trek ons Desember met dit wat oorbly (na wat uitgedeel, weggegee en weggegooi is) na die huis op Marloth toe.
Petrus se ma het ook siek geword terwyl sy by ons in Middelburg gekuier het en was daar in die hospitaal en het ons haar terug geneem na die tehuis waar sy in die siekeboeg opgeneem is. Daar het sy al sieker geword, is later oorlede en het ons haar die einde van November begrawe.
Op 10 Januarie 2013 pak ons op Marloth en ry Zimpeto toe om ons nuwe lewe daar aan te pak.

Saam met die sekerheid dat jy die wil van die Here uitvoer, is daar tog ’n mate van vrees vir die onbekende, want jy bly maar net mens. Daar is baie stories van probleme wat wetstoepassers, in Mosambiek, gee net om omkoopgeld te kry ens. Elke keer wanneer ons moes ry het elkeen van ons vir God gevra vir sy beskerming oor ons en nie eenkeer het Hy ons in die steek gelaat nie. In al die kere wat ons deur die grens is, was daar net eenkeer ’n probleem met ’n  doeanebeampte wat omkoopgeld gesoek het, wat ons tog reg kon hanteer en vir ooral waar ons gery het was daar ook net eenkeer ’n verkeerspolisieman wat regtig probeer het om ons te dwing om omkoopgeld te betaal. Verder het die Here ook sy hand van beskerming oor ons gehou op Mosambiek se paaie met hulle eie soortige manier van bestuur.

Ons het in ’n totale nuwe omgewing ingestap en ons wêreld is vergroot. Daar is sendelinge, getroud en ongetroud van sewe verskillende nasionaliteite met hulle eie geite en giere. Die Mosambiekers is nie te verskillend van ons SA inheemse bevolkings nie, maar daar is tog verskille. Die verskillende aksente en uitsprake maak dit soms ’n uitdaging om te volg wat gesê word en dan sê hulle ons het ook aksente wat dit vir hulle moeilik maak om ons te volg, maar ons hoor dan nie dat ons aksente het nie. Dit bring egter ook blootstelling aan ander tale, kulture en lewensomstandighede. Die aanbidding van God was ’n bietjie, miskien baie, buite ons gemaksones. Ons was nie gewoond aan gesamentlike gebede op hulle maniere nie en dan ook nog in verskillende tale, volumes en style nie. Kerkdienste is vir ons lawaaierig en boodskappe is vlak en langdradig. Die ‘worship’ of sang kry baie aftrek en dit op die hoogste volume, maar kerkgangers word nie werklik toegerus in God nie en dit voel of daar nie regtig respek in die dienste is nie (jy kan met enigeen gesels terwyl daar gebid word, ens.), seker maar die Dopper wat nog uitslaan. Wat ondervind word, is dat die kinders van klein tot groot (ook die wat al werk) geen respek het vir enige gesag nie. Ons maak dit een van ons prioriteite om die kinders, vir wie ons verantwoordelik is, respek en gehoorsaamheid te leer. Taal is die ander toets, eredienste word soms in Portugees aangebied dan in Shangaan en Engels getolk, alles gebeur ter selfde tyd. Een Australiese pastoor wat besoek gebring het se kommentaar was ‘This is crazy’. Dan is daar natuurlik die nuwe taal (Portugees), wat ons nou op ons ouderdom, met ‘n gesukkel probeer aanleer en baie frustrasie veroorsaak wanneer ons nie die kinders verstaan of hulle ons verstaan nie. By dit alles is daar nou drie tale wat ons daaglikse praat, Afrikaans tussen ons, Engels met die wat Engels kan praat en Portugees met ’n gesukkel. By dit weet jy nooit as jy die kinders iets vra of dit Portugees of Shangaan is wat hulle antwoord nie. Ons praat partykeer Afrikaans met die ander sonder om dit agter te kom. Jy besef dit eers as jy daardie raaiselagtige uitdrukking in hul oë sien en dan kry jy sommer lag vir jouself.

Die vind van ’n Afrikaanse gemeente in Matola (Die Lewende Gemeente Maputo) was ook ’n besturing. Iemand het ’n ander plek gegoogle en bloot opgemerk tydens die soektog dat daar ’n Afrikaanse gemeente is in Mosambiek. Daarna het ons die kerk gaan soek en gaan gereeld 1 maal per maand daarheen. Na ons so 3 dienste daar bygewoon het, het die pastoor ons kom besoek, sonder dat hy geweet het presies waar om ons te vind. Hy het ’n rukkie gesels en uitgevra en toe gevra hoe lank ons gaan bly en of ons verblyfspermitte het. Ons antwoord was, ons bly tot die Here sê ons moet gaan en dat verblyfspermitte nie oorweeg nie, aangesien dit te duur is. Hy sê toe dat hulle niemand tans ondersteun nie en dat hy met die kerkraad sal praat. Die volgende middag het hy laat weet dat hulle R13000,00 toegestaan het vir ons vir permitte. Dit was vir ons ’n verdere aanduiding dat ons steeds is waar God ons wil gebruik, aangesien ons nie daarvoor gebid, gewonder of gevra het nie.

Wonderwerke vind ook nog plaas, mens moet net kyk en luister. Vroeg in die jaar het ’n 5 jarige kind weggeraak, wat terug geplaas was by sy ouma,  slegs ’n paar dae nadat hy huis toe is. Die Ouma het alles gedoen wat sy kon om hom op te spoor, maar het nadat hy ’n week weg was en die polisie met geen inligting uitgekom het nie, het sy by Iris kom vra of hy nie dalk hier uitgekom het nie. Ons het dadelik begin bid en ’n soekgeselskap is die volgende oggend uit om te gaan soek. Die wat hom ken, het deur drome of gesigte die nag aanduidings gekry waar om te soek. Hy is later die dag by ’n kinderhuis gevind en veilig terug geneem na sy ouma. Die wat Mosambiek ken sal besef dit was ’n wonderwerk dat hy opgespoor is en nie soos van ons kinders in die sentrum wat nooit weer met hulle families verenig word nie. Die ander wonderwerke was gebede rondom kinders wat siek was of is en steeds met ons is. Die kinders wat een of ander gebrek het of HIV het staan gewoonlik nie ’n baie goeie kans op behandeling as daar nie meer ’n ander uitkoms is nie, bloot omdat middelle beperk is en eerder gebruik word vir mense wat iets vir die samelewing kan beteken. Dit inkort is die agtergrond waarteen baie mediese besluit gemaak word. So het ons ’n dogterjie met Down sindroom wat ook ’n hartkwaal het en baie swak gevorder het. Met baie gebede is sy na die hart-hospitaal geneem om te hoor of hulle vir haar sal help. Tot almal se verbasing stem hulle in, maar sy moet 6kg weeg voordat hulle kan opereer. Met baie gebede, geduld en ekstra voedings, wat ure neem om haar te voed, weeg sy eindelik 6kg toe sy 18maande is en hulle opereer toe in Julie. Sy kon toe darem al sit, het min gepraat en nie veel energie gehad nie. Nou lyk sy soos ’n regte Down sindroom-dogterjie, is spek vet, kruip en begin al loop en brabbel aanmekaar, steek haar armpies uit om opgetel te word en is elke dag ’n herinnering dat God gebede verhoor. Daar is ook Paulo en Raphael wat gestremde seuntjies is, met wie dit nie so goed gaan nie, Paulo het vroeë vanjaar ’n pompie gekry om vog van sy brein te dreineer en vorder so goed dat hy begin het om saam met die ander kinders skool toe te gaan. Raphael gooi elke dag op en sit en stamp sy kop heeldag, almal is radeloos wat om nog te probeer. Dokters wil hom nie meer sien nie, want hulle kan niks vir hom doen nie. Vir hom en sy versorgers is nog baie gebede nodig. Dan is daar ’n tiener meisie wat ’n diabeet is en haar suiker vlakke bly wissel, enige iets tussen 3 en 36 is die standaard, so het die hospitaal op ’n stadium vir haar die verkeerde medikasie gegee en was sy vir ’n maand in die hospitaal, op staduims ook in komas en is daar vir haar lewe gevrees. Dit gaan met haar ook heelwat beter. Dan was daar ’n dogterjie van so 5 jaar wat in die hospitaal opgeneem was met die vermoede dat sy dalk breinvlies-ontstekking kom hê. Sy is regtig uniek, terwyl sy so siek was het sy daar in die hospitaal vir die ander kindertjies van Jesus vertel en vir hulle gebid. Sy het egter al sieker en sieker geword. Hulle het haar vir soveel goed getoets, maar sy het net sieker geword, op ’n stadium het hulle gesê daar is niks meer wat hulle vir haar kan doen nie en gesê dat hulle kan haar maar terug bring sentrum toe en haar 2 maal per week inbring vir fisioterapie. Sy was op die stadium redelik stabiel, maar haar lyfie was saamgetrek en haar armpies en hande was styf teen haar nek geklem. Sy is nou heeltemal gesond en net die wat haar ken kan nog sien as sy moeg word, dat sy nie is wat sy was nie. Die dokters is stom geslaan en kan glad nie verklaar wat dit is nie, hulle het gedink sy sal doodgaan. Dan is daar die seun wat nou Vigs het, wat tering en kanker geaktiveer het wat nou sy liggaam aftakel en waarvoor enige kindersiekte of infeksie noodlottig kan wees. So word alle kinders wat pampoentjies, waterpokkies of masels het, in afsondering gehou om al die HIV kinders teen infeksies te beskerm. Tog kry hy gereeld kleiner infeksies, veral in sy mond en dra ons gebede hom jaar in en jaar uit. Daar is ook die positiewe, die laaste drie baba’s wat ons ingekry het, was HIV negatief. Alles inaggeneem met HIV wat aktief is en verskillende siektes is daar in 2013 nie een van die kinders in die sentrum oorlede nie, met alle eer aan God.

Ons het spesiale gebeure hier meegemaak soos die gebedskamer se opening. Ons kon nie verstaan hoekom daar ’n gebedskamer moet wees nie, want jy kan mos in jou eie kamer bid. Maar noudat dit ingebruik is en mens die kinders en grootmense almal saam daar sien en wat dit vir almal beteken, is dit ’n plek van wonderlike samekomste. Daar is Dinsdae en Vrydae 7 uur die oggend gebedsgeleenthede waarna die kinders veral kom voor skool. Dis ’n belewenis om hul gesiggies te sien, daai afwagting waarmee hulle by die deur inkom is onbeskryflik. Met die opening van die gebedskamer was daar ’n hele vooraf program in die kerk, waarna almal na die gebedskamer is. Die sendelinge moes eerste uitbeweeg om vir almal daar regte staan met gebede en aanraking te groet of te seën. Beide deure is oopgemaak en elke klas van die skool, onderwysers, personeel, besoekers en spesiale gaste is so deur die gebedskamer. Dit was ’n kleuryke en vrolike gebeurtenis, wat op almal ’n indruk gelaat het.
Ons het ook ’n begrafnis bygewoon van een van die opvoeders van ons groep kinders. Die hele diens vind by die grafplaas, hulle was nie so emosioneel soos by ons inheemse bevolking se begrafnisse nie. Daar was baie mense en ons kon nie naby die graf kom nie en kon dus nie alles sien nie, maar daar het oral in die begrafplaas parfuumbotteltjies rond gelê. Op navraag is ons vertel dat dit hulle gebruik is om dit op die kis te spuit en almal loop verby die kis om dit te doen, daarna word die kis laat sak en het die naaste familie daar gestaan en die res het stadig begin weg beweeg. Ons was versigtig oor hoe die kleiner seuns deur die ervaaring geraak sou word, maar kon nie regtig agterkom of dit ’n negatiewe invloed op hulle gehad het nie.
Van tyd tot tyd kry ons ook besoekers wat spesifiek kom vir die sendelinge. So was daar ’n egpaar wie se missie dit is om van sendingstasie na sendingstasie te gaan en ’n boodskap vir die sendeling te bring. Hulle het vir ons gesê dat hulle dit baie rustig op die basis vind en God se teenwoordigheid ervaar. Hulle gee Nehemia 4:15-18 vir ons en sê dat hulle vir ons moet sê, om elke dag gereed te wees met geestelike wapens, maar ook steeds met ons werk aan te gaan en nie toe te laat dat ons van ons werk afgehou word nie.

Daar is baie frustrasies en die werksure is lank, maar met alles saam het ons familie met 26+ kinders gegroei wat elkeen op sy eie manier jou aanraak. Dit het ons laat besef met die ouderdomsgroep van ons kinders dat mens kan nie net ’n jaar bly en dan weer weggaan nie. Jy bou ’n verhouding met elkeen, hulle sien jou as ’n anker en wanneer jy weggaan is dit soos met ’n egskeiding of dood van ’n ouer, hulle word wees en onseker agtergelaat en kan ook verwerp voel. Wanneer ons SA toegaan vir kort tye, is hulle bedruk en soek sekerheid dat ons gaan terugkom en wanneer ons terug arriveer is dit groot vreugde en hang hulle die hele dag om jou.

Dankie aan:
  • Ons hemelse Vader vir seën, beskerming, versorging, leiding en die geleentheid om positief vir Hom te werk.
  • Almal se gebede vir ons.
  • Elkeen wat help bid het vir die kinders en ’n kind ‘aangeneem’ het om voor te bid. Ons kon werklik die verskil sien wat dit gebring het.
  • Elkeen wat iets geskenk het, van geld tot ou tennisballe.

Ons vra julle gebede vir ons in geduld, wysheid, gesondheid, versorging, beskerming teen bosegeeste (ervarings waarvan ons nie geskryf het nie) en taalvaardigheid.
Vir die kinders om Godsvresend en met die Heilige Gees gevul te word, te leer van ons en ander, gesondheid, beskerming teen bosegeeste en versorging.
Vir die sentrum se doel, bestuur en finansies.

Vir Mosambiek om nie weer in geweld te verval nie, want dit sal die kinders en die land weer vernietig. Vir die uitbreiding en oplewing na God weg van gierigheid, selfverheffing, aanbidding en bedreiging van voorvadergeeste en ander bose magte. (Bid dit asseblief ook vir Suid Afrika) 

En nou hou ons vakansie en rus

Saterdag 11 Januarie 2014

30 Desember 2013 – 5 Januarie 2014

Maandag word die werk voortgesit in camarata se badkamer en voorbereiding vir nuwejaarsvieringe getref. Petrus, Peet, Steve en sy seun is vroeg weg gholfbaan toe waar hulle goed nat reën. Verder besluit die regering om Donderdag en Vrydag ook as openbare vakansiedae te verklaar wat nie baie help met die werkspas by die camarata se badkamer nie.
Dinsdag op die oujaar begin die vieringe met ’n middagslapie vir ons en die kinders. Vroegaand se vieringe vir die kinders om hulle besig te hou is kreaktiwiteit goed soos kralletjies in ryg, goed versier, vliegtuigies vou, strooitjies in die hare steek en so meer. Later na almal moeg is, word vir hulle fliek gewys en op worsbroodjies en koeldrank getrakteer. Die worsbroodjies was ons drie se werk en Peet het 250 stukke wors op die vuur gebraai.  Half 12 sit Petrus, Peet en 3 ander af sokkerveld toe om vir die vuurwerke voor te berei. Dit gaan maar so sukkel – sukkel om die vuurwerke af gevuur te kry, met ’n lastige windjie wat die vlam gereeld dood waai, maar daar word ’n hele klompie afgevuur. Vuurwerke is net vir ’n uur wettig om die nuwe jaar te vier. So 1 uur begin ons alles oral waar ons was opruim en skoonmaak om die bed so teen 2uur te vind (tot 11 uur die oggend). Vella moes ook afgelaai word en dis toe dat ons een van die groot seuns van die camarata buite die sentrum sien. Terug by die sentrum gaan ons toe eers kyk of hy terug is, om te vind dat hy reeds uit is teen 4 uur die middag en nog nie terug was nie.
Hy daag toe eers die Woensdagoggend half sewe by die sentrum op en ons moes toe op die eerste dag van die jaar straf uitdeel. Hy word gehok vir ’n maand en moet skriftelike toestemming kry om vir skoolgoed uit te mag gaan, sy foto is ook vir die sekuriteitswagte by die hek opgeplak.
Die dag is redelik stil, die teëlers het die dag afgevat en die personeel was ook af. Gelukkig werk hulle toe Vrydag. Petrus en Peet sit die waaiers, wat geskenk is, in die kamers op en word getrakteer op ’n middagete in ’n straat-restaurant. Hulle kry varktjops en wors (op ’n vuur gebraai), pap, tamatie en uie, dit was nogal ‘n  heerlike ete.

Saterdagoggend val ons in die pad Jay’s Beach Lodge op Macaneta Eiland toe om vir 3 nagte te gaan kamp. Die verkeer is besonder besig en ons sien baie SA mense wat terugkeer huis toe. By die veerboot is ons so na ‘n halfuur op en oor die rivier. Aan die anderkant het daar so ’n tou van ’n kilometer gestaan van meestal SA mense wat oppad terug huis toe was en ons verneem ook later dat die boot na ons oor is weer gebreek het en vir 2 ure gestaan het. Wat beteken het dat die terugkerendes lank moes wag om oor die rivier te kom. By Jay’s Beach Lodge aangekom boek ons in, gaan parkeer die Kia onder ’n boom by ons kampplek en gaan swem eers in die see, aangesien dit baie warm, met ’n hoë humiditeit is. Oppad terug stop ons by die restuarant vir koeldranke, waar ons die eienaares (Elna) raakloop. By die kampplek aangekom, terwyl ons nog besluit waar ons die tente wil opslaan, stop die eienaares by ons en nooi ons om gou saam met haar te ry. Sy vat ons na een van die chalets toe en bied dit vir ons aan om in te bly sonder enige bykomende koste, haar verklaring is dat Alta te moeg lyk om in ’n tent te slaap. Deur Elna se goedhartigheid hou ons vir 3 nagte gemaklik vakansie by die see. Dankie Elna en ook dank aan ons hemelse Vader vir die seëninge.

Oujaarsaand




Jay's Beach se chalet

See is reguit met hierdie paadjie oor die duin

Woensdag 01 Januarie 2014

23 - 29 Desember 2013

Dit is die week van Kersfees. Sondag is daar geskenke aan almal gegee wat in die kerk was en in die gemeenskap woon. Maandag word daar ook ’n ete gegee vir 100 kinders van Hulene.
Maandag doen ons wat gedoen moet word en kry alles wat nodig is in Komatipoort. Ons arriveer so 1 uur by die grens en gaan vinnig deur SA-kant, in Mosambiek-kant sukkel ons met parkeerplek en die tou is redelik lank maar ons is so na 30 minute deur en oppad. Van die mense wat ons by die grens raakloop sê dit is baie stil by die grens in vergelyking met die vorige jare. Hier in Mosambiek  is die winkels en verkeer net so besig kort voor Kersfees soos in SA.
Dinsdagmiddag bedien ons, sendelinge, die sentrum se personeel met middagete waarna hulle huistoe is, behalwe die wat aandiens is. Dinsdagaand is daar opvoerings en sing ons ‘carols’ in die kerk en daar word afgesluit met ‘carols at candle light’ wat ons laat bontstaan met die kleintjies om te kyk dat hulle nie mekaar aan die brandsteek nie. Dinsdagaand is al die sendelinge uitgenooi na die sentrumbestuuders se huis vir verversings waar elkeen ’n geskenk ontvang.
Woensdagoggend, Kersfees, die sentrum bestuurders gaan van camarata na camarata en wens almal geseënde Kersfees en deel van die geskenke pakkies uit aan die kinders. Ons is weer die laaste op die program. Die kinders raak verveeld met die wag en dis baaaie warm en dit is ’n taak om almal bymekaar te hou. Nadat almal hul geskenke gekry het, eet almal weer in die eetsaal saam. Kersaand het die sendelinge, en die drie besoekers, ’n ete saam waar elkeen iets gemaak het vir die ete. Daarna was dit die geskenk uitruil storie. Dit het so gewerk, elkeen moes ’n geskenk van so R100.00 bring. Ons het elkeen ’n nommer gekry en dan kry elkeen ’n beurt om ’n geskenk te gaan kies. Die reël is, as jy aan een geraak het moet jy daardie geskenk neem en voor almal oopmaak. Jy hoef nie ’n geskenk te vat op die tafel nie, jy kan ook ’n geskenk neem by iemand wat reeds ’n geskenk gevat het, as jy dit graag wil hê. Nadat ’n geskenk vir die derde keer ’n nuwe eienaar het, is dit gevries, dan kan dit nie weer “gesteel” word nie. Daardie persoon kan dan weer ’n geskenk gaan haal by iemand of van die tafel af. Dit veroorsaak nogal snaakse kommentare en aanbiedinge as iemand nie het wat hy wil hê nie, en iemand probeer oorhaal om sy geskenk te “steel”.
Donderdag is ons besig om gereed te maak vir die 8 kinders wat oorskuif na ons camarata, die volgende dag is die groot dag. Die kinders wat oorkom is tog te gretig en bly om ons draai. Ons reël vir 3uur, maar daar daag ’n kerk groep op wat die kinders kom bederf met eetgoed, speelgoed en ’n opvoering en dit skuif alles aan tot na hulle weg is. Hulle is goed bederf deur die groep en kry toe nog springmielies en koeldrank as afskeid voordat hulle oor beweeg na camarata 4. Daar word hulle met ’n handeboog en singery verwelkom en kry nog chippies voordat hulle vir hul ’n bed kan kies. Daarna is dit tyd vir aandete en dis hul eerste ervaring om saam met die ander in die eetsaal te eet. Dit lyk of alles goed verloop en hulle het ’n rustige nag.

Dit is ook Catherine se laaste aand en haar ma-hulle is hier om haar te kom haal en ons braai die aand saam. Saterdagoggend kom groet hulle en ry terug Suid –Afrika toe.

Optreedes Dinsdagaand



Carols by candle light

Uitdeel van presente in dorm


Ete Kersaand

Besoek deur 'n kerk en opvoerings

Skenkings deur die kerk

Intrek van nuwe kinders