Maandagaand neem
ons afskeid van die dokter wat vir ’n kort tyd hier was. Ons gaan na die
eetplek by die swembad, maar hulle is nou nie juis bekend vir spoedige diens
nie. Ons eet lekker, maar was toe ook al so honger na ongeveer twee ure se wag,
dat enige iets lekker sou wees.
Dinsdag neem ons
weer afskeid van een van die klein seuntjies wat huis toe gaan. Hy is kalm en
nie tranerig nie, so dit is vir almal makliker.
Woensdagaand kry
ons meer inligting oor tieners en hoekom hulle sulke eienaardige gedrag en
optredes kan hê. Dis as of daar ’n kortsluiting in hul breine is, en net nie
logiese denke kan hê nie.
Donderdag, is werkersdag en ook hier is dit ’n vakansiedag.
Petrus, Celia, John en Clare gaan Cumbani
toe om die boorgatpomp wat gesteel is te vervang. Vir middagete kry hulle vis
in olie gebraai (van die kop tot by die stertvin volledig), pap met te min sout
en masinga, of so iets, sous (iets wat van ’n plant se blare gemaak word). Die
vis se kop word afgebreek en die res word met die hand stukkie vir stukkie
ge-eet. Dus was Petrus Donderdagaand baie honger.
Die skole sluit Vrydag
vir ’n week en die kinders is vroeg terug van die skool en neem die huis oor.
Dis net met etenstye dat ons stilte ervaar.
Saterdagoggend ry
ons en een van die sendelinge wat deur
die grens moet gaan Suid-Afrika toe. Ons waardeer die stilte en sy gaan Sondag
met ’n bus terug en ons ry verder Nelspruit toe om Maandagoggend die kar in te
neem vir ’n diens. Ons het ’n lang lys goed wat ons moet koop, oplaai en so voorts
vir almal en vir die seuns.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking