Saterdag 18 Oktober 2014

6 – 19 Oktober 2014

Ons sê totsiens aan ons SA besoekers wat na 3 weke terug gaan huis toe, hulle het baie gehelp met die seuns en die camerata. Daar is egter ’n moontlikheid dat hulle binne die volgende paar maande dalk langtermyn hier gaan wees saam met ons.
Die jong paartjie wat op Bella Vista gewerk het is nou ook permanent hier en hulle help ook met die camarata. Jenna hanteer berading want sy praat Shangaan vlot en Theo het die rekenaarnetwerk oor geneem. Saam met hulle, ons, Gaby en die ander paartjie wat moontlik kom, gaan die Suid Afrikaners die meeste van een nasionaliteit wees, so ons mag dalk die meeste word, maar nou is die Aussies nog die meeste.
Alta is besig met gordyne vir die ‘pastors’ se kantore. Ook is die vrou wat die die naaldwerkkamer begin het hier en dit is bedrywig. En die camerata hou haar voltyds besig. Een van ons eerste groep kleinseuntjies was in die hospitaal vir ’n week met longontsteking. Twee ander was ook uit die skool vir ’n paar dae, een met  maagkrampe en naarheid en die ander een het geval en sy lip stukkend gebyt in die proses, hy het steke binne-in sy mond gekry en nog ’n sny aan die bo-kant ook. Hy was ’n paar dae erg ongemaklik met ’n renosterlip.
Petrus het begin om die geboue se elektrisiteit en die elektriese netwerk deur te gaan, maar met die werks-etiek hier gaan dit ’n geruime tyd neem.
Ons het ’n winderige week gehad met ’n buie of 2 reën wat die temperatuur leefbaar hou.
Een van die sentrum se voertuie is verlede Vrydag in die stad gesteel, nogal die beste 4x4 dubbelkajuit wat ons gehad het.
Woensdag was die nasionale verkiesing en sover gaan dit nog rustig hier om ons, maar volgens nuusberigte gaan dit nie so goed meer na die noorde toe nie. Finale uitslae sal glo eers 2 weke na die verkiesing beskikbaar wees.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat siek is, veral vir die wat se immunstelsels nie so maklik by hou nie. Bid asseblief vir die een wat indie hospitaal was en een vandie ouer seuns sukkel ook met sy gesondheid. Klein Kenssane se gesondheid is ook op en af, al sedert Februarie.
Bid vir die dogterjie wat elke 8 weke  geopereer moet word vir poliepe wat op haar stembande groei.

Bid ook vir die man wat gebrand het, dit gaan al beter met hom, maar daar is nog ’n paar maande wat voorlê voordat hy heeltemal gesond sal wees.

29 September – 5 Oktober 2014

Dis ’n bedrywige week met besoekers wat help in die camerata met geroeste vensterrame afskuur en verf.
Kinders maak goed in die naaldwerk projek en dit word in die winkel verkoop. Dis maandeinde en die berekeninge moet gedoen word, sodat die kinders hul wins kan kry. Ook is die vrou wat vantevore die naaldwerk projek behartig het, hier vir 3 maande. Daar is ’n klomp goed wat aandag moet kry en pryse moet aangepas word.
Die kinders se klere moet ook uitgesorteer word, en daar is goeie donasies en ons moet sommige stoor en kersfees goed moet begin om georden te word.
Een van die groot seuns het ons die week besig gehou, hy het ’n kleiner seun by die skool geklap dat die vingermerke op sy gesig gelê het. Hy is gestraf deur op sy bed te wees na skool en hy moes saam met ’n persoon werk oor sy agressie. Hy was glad nie lus vir die sakie nie, maar ons het vasgestaan en hy het bly kla.

Een van die groot seuns is terug na se ouerhuis, so ons het nou net 6 groot seuns oor in die dorm.

Sondag 05 Oktober 2014

22 - 28 September 2014

Die pastore het nuwe kantore en het gordyne nodig. Ons het Maandag en Dinsdag probeer om in die dorp te kom om materiaal vir die gordyne te gaan koop, maar telkens was daar ’n probleem wat uitgesorteer moes word. Ons het eindelik Woensdag dit gedoen gekry. Nou is dit sny, maak en gordynreëlings op  sit.
Dis al van laas week af dat die militêre-vliegtuie oefen, eers het ons gedink dis opleiding, toe besef ons dis al om die stadion en gedink dit het te doen met die verkiesing. Ons was verkeerd dit was Donderdag Revolutionary Day. Sommige kinders het vir ’n paar weke gereeld by die stadion gaan oefen en nou weet ons, dat hulle ook vir die dag geoefen het. Amptelik was die begin 14:00, maar vliegtuie het al vroeër verby gevlieg. Dit was verskillende soorte vliegtuie wat verby vlugte gedoen het en almal se ore beproef het. Soldate en kinders het in die stadion marseer.  Die aand was daar ook vuurwerke.
Die kinders is moeg van leer en verdwyn na middag-ete en ons sien hulle net as ons hulle loop en soek om ’n program in die middae te doen. Alta het een dag met een gesit wat nie goed vaar op skool nie, maar ook nie dom is nie en agtergekom hy is te bang om die somme te doen omdat hy dit nie so vinnig soos die ander kan doen nie en nie omdat hy nie by die regte antwoord kan uit kom nie. Dis of hy geen vertroue in sy vermoëns het nie. Die kinders het individuële aandag so nodig.
Die dogtertjie se operasie het goed verloop, daar was na 10 weke 70% her groei en hulle het reeds die datum geboek vir die volgende operasie oor 2 maande. Bid asseblief vir finansies om die operasies te kan betaal en vir haar sodat sy volkome genees

Bid asseblief ook vir finansies en geneesing vir die man wat gebrand het, dit vorder, maar dis ’n lang proses en hy is aie ongemaklik. Die ergste wonde is aan sy arms en op sy rug, dus sy slaap is nie gemaklik nie. Is daar iewers ’n verpleegster wat ’n tydjie kan kom help.

Dinsdag 30 September 2014

15-21 September 2014

Ons het heerlik gerus en net iets gedoen as ons regtig nie anders kon nie of dit wou doen, praat van sleg wees! Ons het ook besef dat ons dit regtig nodig gehad het.
Dit is egter ook lekker om terug te wees en die kinders het sommer grootter geword. Ons het ook ’n nuwe seuntjie by gekry terwyl ons weg was, hy is baie klein vir sy 8 jaar, meer soos ‘n 5-6 jr. Die mamma het hom en sy sussie by die hek by die sekuriteitswagte gelos en gesê sy gaan vir hulle koekies koop. Ons het vandag die sussie wat jonger is, in die kerk gesien, sy is die mooiste klein dogterjie, met pragtige groot ogies, ’n klein moedertjie en vol liefde vir haar boetie.
Dit was besig van die oomblik dat ons hier gekom het, en die hele week. Dis opvang wat agter wee gebly het terwyl ons weg is en uitsorteer wat alles gedoen is in die tyd dat ons weg was. Die kinders se klere het aandag nodig, wat te klein is moet vervang word, asook die goed wat stukkend is het aandag nodig. Alta help ook vir die naweek uit by die babas.
Voor ons weg is het ons die seuns belowe dat ons almal wat verjaar, 4 van hulle, se verjaarsdae sal vier en een groot partytjie sal hou. Hulle was baie opgewonde. Hulle het hoender en pasta bestel en ons het hoenderboudjies teen ’n goeie prys gekry. Dit met koolslaai,’n koek en nog wit paashase en vrugtesap het die tafel laat kreun. Die hoender, het Alta 9:30 in die oond gesit, maar die stoof wou nie die mas opkom nie en later het sy maar die mikrogolfoond ingespan om dit gaar te  kry. Hulle het elkeen ’n tweede en party selfs ’n derde porsie kom haal. Dit nadat hulle ’n uur en ’n half vroeër, middagete gehad het.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief dat die nuwe seuntjie goed sal inskakel en dat sy gesondheid spoedig sal verbeter. Hy het ’n neus en keel infeksie wat ook sy oë affekteer en ook ’n uitslag, om sy neus en mond en op sy arms. Ook dat hul ma sal terug kom en ten minste vir hulle sal kom kuier.
’n Dogter van so 8jaar sukkel met allergie en asma, nou het sy polipe ( hoop dis reg gespel) wat op haar stembande groei en sedert die vorige operasie is dit so ongeveer 8 weke en sy moet weer geopereer word, haar stem is alreeds weer geaffekteer en dit kos elke keer 10000 dollar. Bid vir goeie verloop van operasie, genesing en finansies.

Hier was ook ’n ongeluk, wat daartoe gelei het dat een van die werkers met petrol gebrand het. Die genesing het aanvanklik goed gevorder , maar daar is ’n infeksie op een plek wat  nie regkom nie en hy moes terug hospitaal toe. Bid ook vir finansies in die geval, want elke 4 dae wat die verbande vervang moet word kos dit 500 dollar. Dit is geweldig pynlik en dit neem 3 ure om dit te doen. 

Sondag 17 Augustus 2014

11 – 15 Augustus 2014

Die week is besig en daar is baie dinge wat gedoen moet word, ons gaan Vrydag vir ’n maand huistoe en sien uit na die rus. Ons moet egter ons dinge so organiseer dat ons ander vir ’n maand kan los met ons verantwoordelikhede. Die paartjie van Bella Vista gaan nog ’n maand aanbly (in ons huis) en vir ons na ons camarata omsien. Die kinders speel asof dit uit die mode gaan, maar bly weg van die huis en camarata, ek dink hulle is bang hulle moet een of ander iets leer. Ons sien hulle net as hulle snoepgoed soek of ’n pleister. Die groottes kom net in die aande vir hulle brood. Ons lig hulle in dat ons nie seker is of hulle steeds brood in die aande gaan kry terwyl ons weg is nie en die een se kommentaar was hulle sal bid vir brood. Die groot seuns vra al vir ongeveer ’n maand vir kortbroeke en skoene en ons het nie om te gee nie. Dinsdag kry ons toe ’n donasie en daar is kortbroeke en skoene, hulle sien dit voordat dit uitgesorteer is en kan nie wag nie. Toe ons sê dis reg hulle kan kom, is al 7 soos blits daar. Hulle is almal met kouse, ’n kortbroek, ’n T-hemp en  ’n paar skoene daar weg. Al wat hul nou nog begeer is flip-flops. Ons vertrou dat dit ook binne kort sal opdaag en ook dat ons alles goed beplan en agterlaat vir die wat moet instaan.

Sondag 10 Augustus 2014

4 – 10 Augustus 2014

Verlede week is ’n pastor oorlede en Dinsdagaand een van die siek kinders. Die twee sterftes raak veral die personeel in veskillende areas erg.  Die dogter was baie siek en daar is baie kere gebid vir beterskap. Daar was tye wat dit beter gegaan het, maar haar liggaam kon net nie al die infeksies hanteer nie. Sy het nog 2 sussies wat ook hier in die sentrum is. Bid assebief vir hulle en die wat baie met haar te doen gehad het. Hulle vind dit moeilik met die leemte wat nou daar is.
Die paartjie van Bella Vista wat by ons kom eet het, gaan in die huis kom bly vir die tyd wat ons weg is en ook na die camarata om sien in die tyd.
Alta het die week waar moontlik die Life School lesings probeer bywoon, dit is interresant om dinge wat mens weet op ’n ander manier te hoor. Die sprekers het dit vanuit ‘n ander hoek benader as waaraan ons gewoond is. Die week het oor ‘The Fathers Heart’ gegaan.
Woensdagaand met home group het een van die spekers by die Life School met ons gepraat. Sy Spiritual Gift is om engele te sien. Dit was baie interresant wat hy alles vertel het. Hy vertel toe hy dit die eerste keer beleef het was hy baie benoud en het nie geweet wat aangaan nie, en ’n paar dae later het hy gaan stap en toe sien hy engele in die veld dans. Hy sê hy het gedink hy raak koekoes en vra toe vir die Here of hy dit nou altyd gaan sien en toe kom die antwoord ‘Ja’. Hy wou glad nie daaroor praat nie en een van sy vriende kom toe agter wat aangaan en vra vir hom hoekom hy niks sê nie. Hy sê hy was baie banger vir die engele as vir die vriend. Sy vriend het  hom toe in kontak gebring met iemand anders wat ook dit beleef.
Die skole het Vrydag gesluit en die kinders is alreeds rusteloos. Hulle is ook Sondag deur besoeker geseën, wat hulle trakeer het op pizzas by die swembad.


28Julie – 3 Augustus 2014

Dinsdagaand nooi ons ’n paartjie wat besoekers is. Wel eintlik is hulle sendelinge wat in die gemeenskap bly, Bella Vista. Jonk getroud nog nie eens ’n jaar nie. Hulle stories is uitsonderlik en hulle is baie braaf om in sulke omstandighede te leef.
Ons doen ’n program met die kinders in die middae om hulle besig te hou en goed te leer wat hulle nou nie juis in die skool leer nie. Ons het ’n leerling educator wat  net soos ons voel (nie dat die educators nie help nie), dat die kinders te min weet van wiskunde en lees. Hy het regtig die week sy kant gebring het, maar die kinders kla en wil nie meer programme na skool doen nie. Gelukkig sluit die skool die einde van die week.
Home group was oor ’n woord wat jy kies om op te konsentreer vir ’n tydperk tydens jou stilte tye. Daar is ook woorde uitgedeel en as jy wil, kan jy die woord gebruik of self een kies. Alta kry so die woord ‘boldness’ en Pertus ‘shh...’ Daar is nogal goed wat mens op die hart het en nie altyd die plek of veral moed het om te sê nie, dis nou vir Alta en baie snaaks, Petrus wat redelik min praat kry die woord om stil te bly, hy besluit om op luister te fokus aangesien hy moet stil bly. Voorbidding vir die sal waardeer word.

Een van ons klein seuntjies het waterpokkies, min en ver uit mekaar, 3 in die gesig, 3 op elke bene en vier op sy lyf en dit lyk ook nie of daar nuwes by kom nie. Dis ongeveer 3 weke sedert die laaste geval. Hy verstaan nie mooi waarom hy in isolasie geplaas is nie en is baie eensaam. Bid asseblief dat almal in die camarata beskerm sal word teen siektes en veral vir die kinders wat HIV positief is, is dit ’n groot risiko.