Maandagoggend
word ons begroet met die nuus dat ‘n onderwyser van die skool dood is en sy
vrou erg beseer is, nadat hul aangeval is Sondagaand oppad huis toe van ’n
troue af. Sy het hulp by die sentrum kom soek en is hospitaal toe geneem met
kapwonde aan haar kop. Die skool neem 2 dae as rou en gee die kinders af. Ons
bid vir die onderwysers en skool en die gesin. Die vrou het hier op die sentrum
groot geword.
Die Woensdag is ’n
nationale vakansiedag. Die kinders is oral en verveeld en verder is dit warm.
Donderdag is die begrafnis
en van die ‘educators’ en grooter kinders gaan saam met die busse wat gereël
is.
Vrydag is dit
baie warm en ons is besig met reëlings vir ‘n kombuistee vir die bruid wat
volgende Saterdag trou en ‘n braai vir die manne, om hulle besig te hou, by ons
huis.
Vroeg
Saterdagoggend moet die rekenaar, wat vir die inklok van personeel gebruik word
en in ’n baie stowwerige plek staan, skoongemaak word. Daarna help ons ’n
sendeling wat na ’n huis in die gemeenskap trek. Dit is nie te ver nie maar dit
is dik sand vir so ’n kilometer en ’n half met die sentrum se 4x4 bakkie.
Die wind waai erg
en later die aand begin dit reën. Laat aand bel die wagte en sê dat daar ’n
ontploffing by die transformator was en Petrus moet gaan kyk. Hy het gedink opstaan
en uitgaan in die reën om elektrisiese probleme uit te sorteer was verby na hy
by die stadsraad weg is. Die probleem is nie groot nie, die eintlike probleem
is om die elektrisiteitsvoorsiener hier te kry om die hoogspanningsekerings te
kom vervang, teen Sondagaand het hulle nog nie opgedaag nie. Die noodgenerator
word deur die nag afgesit en Petrus moes dit Sondagoggend 6 uur weer aan die
gang sit, so hy het 2 vroeë oggende gehad.
Sondag is dit koud
en kort-kort drissel dit en die generator wil nie byhou met die vrag nie wat
meebring dat vragbeheer gedoen moet word.
Die wêreld is
mooi skoon na die reën en dit is nou weer makliker om op die sand te loop wat
deur die reën gekompateer is (dit is soos om op die strand te stap, dit is
makliker naby die water waar die golwe spoel as hoër op waar die sand los is).
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking