Maandagoggend
daag die Predikant van die Afrikaanse kerk in Matola hier by ons op vir ’n kort
besoek. Hy het gesien ons is nog in Maputo, na ons Sondag weer ’n keer by die
kerk was, en besluit om by ons aan te kom terwyl hy hier by ons verby gery het.
Die eerste waaroor hy met ons praat is ons ‘dires’ (werkpermitte), nou ons het
nie sulke goed nie en weens die koste (±R6000 elk per jaar) het ons dit
afgeskryf en aanvaar dat ons nie die geld het nie. Hy vra of hy die kerkraad
namens ons vir die fondse kan vra. Dinsdag skakel hy ons en vertel dat die
fondse bewillig is, ±R13000 wat ons nodig mag hê vir die permitte. Ons is
sprakeloos en al antwoord daarop is dat God ons steeds in Mosambiek wel hê.
Dinsdagoggend
sien Alta een van die kleiner seuns by die skool en sy wange is dik geswel. Na
skool neem hulle hom kliniek toe en sê dat hulle pampoentjies vermoed. Hy word
in isolasie geplaas om die kinders wat HIV positief is te beskerm en ook die
groter seun in die ‘camerada’. Die volgende dag sien hy die dokter wat dit
bevestig en hy moet nog 7 dae daar bly. Siestog hy en die oppasser is beide so
verveeld en hy word erg bederf om op te maak vir die afsondering en
eensaamheid. So ver is daar nie nog pampoentjie gevalle aangemeld nie.
Woensdag begin
die krag probleme, die voorsieningsowerheid is blykbaar besig met onderhoud en
ons kragopwekker wil nie byhou met die vrag nie, wat beteken gedeeltes moes
afgeskakel word. Laat middag skakel hulle die krag aan maar daar is 2 fases weg
en hulle word geskakel om reg te kom maak. Hulle daag eers 11 uur die nag op en
daarna kom almal se krag eers weer aangeskakel word. Donderdag was weer ’n
herhaling van Woensdag en wat oor die res van die tyd gebeur het weet ons nie,
want ons was in SA.
Woensdagaand bied
ons Home Group hier by ons aan, in die kinders se speelkamer en almal pas in.
Ons vra dat hulle gebedsversoeke gee en almal gee hul versoeke en terugvoer is
ook goed.
In die ‘nursery’
is ’n nuwe babatjie, Tiago, (Jakobus se Portugese weergawe) hy weeg 2.6kg en is
2 maande oud. Dis chaos met die krag wat af is en boon-op is al die babas nog
siekerig ook.
Vrydag tot Maandag
is ons Marloth toe en het lekker gerus want Petrus het weer nie alles ingepak
wat Alta wou saamvat nie, met die gevolg die naaldwerk wat Alta daar wou doen
nie daar was om te doen nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking