Maandag 02 September 2013

25 Augustus – 1 September 2013

Terwyl ons in SA is verneem ons dat daar ’n nuwe seuntjie ingeneem is by die sentrum en by ons groep geplaas is. Dit is interessant om te sien hoe hy alles geniet hier by die sentrum en dit lyk glad nie of hy na sy ouma verlang nie.

Toe ons by die huis kom die Sondagmiddag  is die venster van die deur oop en gebreek. Ons het ’n besoekertjie gehad wat deur die diefwering 270x200mm geklim het. DVD’s lê die sitkamer vol en ook in die kombuis. Die waaiers was aan en meneer het ’n nuwe melk opgemaak, die ketel ingeprop en vir hom ’n koppie tee met suiker en melk gemaak. Hy het ook vir hom en sy maatjie ’n broodjie gesmeer en in die koskas op die goed geklim om by lekkers en grondbonebotter uit te kom. Voor hulle by ons uitgekom het, het hulle ook by die besoekersentrum ingebreek en probeer een van die sentrum se voertuie steel. Hulle is gevang en hulle straf was om in ons tuin Maandag na skool te kom werk, (Alta moes hulle twee en ons 8 seuns besig hou en was moër as hulle twee) en hulle is ook vir ’n week huis toe gestuur. Dit bring mee dat die familie weet wat hul gedoen het, en dan moet hulle ook nog met taxi’s by die skool kom en terug gaan.
Nadat ons uitgepak en opgeruim het, is ons na die sportveld waar daar ’n span van Engeland vir die kinders sport/speletjie aangebied het en dit met ’n worsbroodjie en ’n koeldrank vir elkeen afgesluit het. Die kinders het dit baie geniet. Dit was nogal interessant om die Engelsmanne dop te hou worsbraai in vlamme ipv op kole.

Maandag en Dinsdag verloop normaal, die kinders geniet die tuin en speelkamer by die huis baie. Ons het ’n e-pos van ’n Afrikaanse vrou in Abu Dhabi gekry wat ons blog gesien het en hul werk daar met kinders en hulle wil vir ons camerada se kinders bid. Dis so wonderlik! Ons het met die seuns gepraat en hulle sal hul versoeke vir ons gee om aan te stuur. Ons het ook ‘n ‘playstation’ gekry en Dinsdagaand vir die groter seun gesê dat hulle mag kom speel en dat net ons camerada se groot seuns mag speel, hulle kon nie wag nie en was Woensdag vroeg al hier. Die hele sentrum se seuns beny hulle en ons kleintjies die meeste. Dit wil voorkom of dit die deurbraak was met die groot seuns, want hulle is nou baie meer oop en praat met ons.
Woensdag moes Petrus vroeg opstaan om 06:30 saam met die baas van die sentrum, ontbyt in die stad te gaan eet en daarna ’n potjie golf op Maputo se gholfbaan te gaan speel. Soos met alles in Mosambiek het die gholf ook sy eie uniekheid gehad. Jy ry tussen die privaat hospitaal en privaat Portugese skool deur op ’n teerpad (luuks en baie geld) na ’n grondpad wat eintlik nie lyk of dit rybaar is nie met lae inkomste huise. Die pad eindig na so 3km by die hek van die gholfbaan. Die parkeerterrein en geboue is maar vervalle, jy betaal baanfooie by die sekuriteitsgeboutjie (400 meticas). Daar het 2 joggies (200 meticas elk) opgedaag en een het volgens hom ’n voorgee van 10. Daar is nie so iets soos ’n telkaart wat vir jou die putjie-uitleg wys en baansyfers gee nie. Die baan is egter nogal in ’n goeie toestand en mooi groen. Jy moet egter maar jou oë oophou want daar is baie voetgangers op die baan, want daar is huise regom die baan en die baan is ’n kortpad. Orde is daar ook nie, wanneer jy by jou bal kom maak die joggie ’n grashopie en plaas jou bal daarop, as jy in water beland gaan haal hulle jou bal en plaas dit pragtig vir jou. Jou telling is jou eie probleem. Petrus se joggie was na die einde se kant toe redelik moedeloos met hom want Petrus doen niks wat hy vir hom vertel hoe hy moet slaan nie (dis nou nie dat hy nie wou nie). Woensdagaand met ‘home group’ vertel ’n oud sendeling, Maureen  hoe sy hierheen gekom het en dat god dit op haar gelê het om vir die sentrum en kinders te bid en dat die gebedskamer-idee by haar begin het.

Vrydag is vrek warm en dit sneeu in die kaap. Voorbereidings begin vir die ‘opening’ van gebedskamer, Maandagoggend.
Saterdag moet Petrus grassny met die elektriese-kantsnyer wat van SA saamgebring is. Daar is nie grassnyers hier beskikbaar nie.

Sondagoggend is die kerk weer met oorverdowende volumes, almal wonder hoe om die Mosambiekers te kry om dit sagter te kry, later (13:30) braai ons, ‘n kort middagslapie en verdere voorbereiding vir die opening van die gebedskamer Maandag. Julle sal dalk onthou dat ons al so iets gedoen het, wel dit was net die onderste vloer en net ons hier op die basis. Intussen is die boonste verdiepping gebou en is selfs die dak al op, kort nog vensters en ’n paar deure. Die plan was dat dit sou klaar wees, maar dit werk toe nou nie so uit nie, maar omdat daar met gaste soos Maureen gereël is, wat ver gekom het, om hier te wees gaan ons voort met die amptelike inwyding.





1 opmerking: