Maandag met die kom
terug stop ons by Celia se kerk in Kumbane om die pompinstalasie af te handel,
maar die mense is nie daar nie en ons ry maar weer.
Dinsdagoggend
gaan ons weer Kumbane toe en neem die Australiese werktuigkundige se vrou en
een dogter saam. Mama Maria de Freritas wys ons hulle tuine, wat hul met reënwater
en die boorgat se water nat lei, terwyl Petrus die werk afhandel. Hulle plant
so 3 mieliepitte in ’n holte in die sand en bedek dit dan met gras om dit teen
die wind en son te beskerm. Ons vra ook uit oor die plante en tussen ons gebrekkige Portugees
en haar soortgelyke Engels verstaan ons mekaar, ons dink. Een plant mandioca of in Engels is dit cassava,
dis ’n struikagtige plant wat ongeveer ’n jaar neem om die lang wortels (of
wortel verdikkings) onder die grond te vorm wat dan uitgehaal word en gekook
word. Dit het min of meer die tekstuur
van patatas, maar die smaak laat jou tog ook aan aartappels dink. Hulle kook
dit met uie, aartappels en tamaties, en as hulle vleis het, kan dit ook by
gevoeg word. Die jong blare word ook gekook en die lote van die plant word
gebruik om vir die volgende jaar se oes in te sit. Daar groei ook so ’n
rankplant wat ons gewoonlik as onkruid beskou en uittrek en sy vertel dat hulle
dit ook kook. Alta pluk ’n blaartjie en proe daaraan, dit het ’n soeterige
smaak en dit behoort goed af te gaan in ’n slaai.
Kenssane skuif Woensdag oor na die Baby House, dis ‘n groot
mylpaal nadat sy vir amper 2 jaar in die nursary was, sy is volgende maand 2
jaar oud. Dis die kleintjie wat Down Sindroom is en wat vroeër vanjaar die hart
operasie gehad het. Ons is so dankbaar vir haar wonderbaarlike vordering sedert
die operasie, sy praat en brabbel baie meer, aap alles na en wil net loop, al
is haar beentjies nog nie heeltemal instaat om haar gewig te dra nie.
Donderdag gaan
soek ons waaiers vir die camerata, daar het ’n skenking daarvoor ingekom, en
ons doen ’n paar aankope. Terwyl ons in die kerk is sien ons blitse en hoor donderweer.
Ons kry ’n baie welkome bui reën, die stof is weg en om oor die sand te loop,
is lekker en dis ook nie so warm nie. Vrydagaand is daar weer donderweer en nog
reën val deur die nag.
Saterdag is ’n
boek en sop dag met drisselweer die hele dag. En nie een van ons twee kom by
die boek deel uit nie. Ons word genooi vir
middagete van ’n tradisionele Mosambiekse gereg, kan nie die naam onthou
nie. Dit was nie te min baie lekker, dit was pampoenblare met kokosneutmelk en
grondboontjies op rys bedien.
Sondag is ons
weer so bevooreg om vir middagete uitgenooi te word en die aand het ons die
gesin van Australië genooi om by ons te eet. Hulle is ’n groot seën vir Iris
Zimpeto, hy leer die jonges en die Mosambiekse werktuikundig meer oor voertuie
en die res van die gesin sit handby in verskillende afdelings.