Na ’n kort kuiertjie
saam met van ons eie kinders, keer ons Maandag terug Zimpeto toe. Vanaf aankoms
2 uur word ons besig gehou, die netwerk en internet is van die naweek af (net 1
punt was af), die kinders soek aandag, ens.
Die res van die
week gaan oor voorbereiding vir Kinderdag, 1Junie, ’n groot gebeurtenis in
Mosambiek (net soos Kersfees). Die kinders kry presente bestaande uit ’n
speelding of twee en klere, die dorms word opgemaak met ballonne ens. Op die
dag word die kinders vermaak en getrakteer met ’n spesiale ete (rys, gebraaide
hoender en slaaiblare).
Ons dorm word
egter uitgenooi na die Afrikaanse kerk in Matola vir die oggend en ons kry
toestemming om hulle te vat, want die grootste gedeelte van Kinderdag vind eers
die middag na kerk plaas. So vertrek ons Sondagoggend 08:00 met 3 voertuie, 22
kinders, 2 personeellede en ons 3 sendelinge. Die oggend se gebeure vind plaas
by die nuwe terrein, waarheen die kerk binnekort verskuif, onder groot bome in
’n groot tuin. Daar is pragtige koelte waar ons sit, maar ongelukkig waai daar
’n windjie en die meeste sit en koud kry tot die wind gaan lê, waarna almal
sweet want die temperatuur klim na 31°C. Die meeste van die geleentheid word in
Engels gedoen en vertaal na Portugees. Daar is ’n poppekas en ‘n geleentheid
vir die kinders om ’n spieëltjie of 2 of 3 te versier na die kort preek oor die
Woord wat jou spieël as Christen is. Daarna kry almal koek (’n Mosambiek-tradisie),
worsbroodjies vir die kleiner kinders en hamburgers vir die res. Die groot
seuns trek hulle neuse op vir die hamburgers en eet net een, maar die
kleintjies laat nie op hulle wag nie en verslind ook ’n hamburger na die
worsbroodjie. Ons het die kinders die Afrikaanse liedjie ‘Ons sê baie dankie, vir
die lekker dag’ geleer en dit het groot reaksie by die Suid Afrikaners
uitgelok. Moet sê die uitspraak was nogal redelik goed. Oppad terug kry ons
probleme met een bakkie se koppelaar wat nie altyd wil werk nie, jy moet jou
voet onder die pedaal in haak en dit terugruk sodat dit weer hak en werk. Die jong
Irse sendelinkie kry haar opleiding hoe om ’n halfwerkende voertuig van Africa
in Africa te bestuur. Dit was ’n baie geseënde dag vir almal, met nog
feesvierings toe onsterug kom en ’n ete van hoender, rys en slaai. Die besoek
aan die camerata loop ook goed af en Petrus se verjaarsdag word nie vergeet nie
en hy word op ‘n bankie in die lug gehou, gelukkig nie op-en-af geskud nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking