Maandag 24 Maart 2014

17 - 23 Maart 2014

Dinsdag beleef een van ons mede sendelinge die doel waarvoor sy gestuur is, toe ’n buurvrou van haar sterf, meer hieroor op facebook.
Woensdag word Petrus en John uitgenooi vir middagete by die restaurant oorkant die straat, gebraaide varktjops, pap en slaai. Die ou kan nogal die vleis lekker braai.
Woensdagaand met Home Group word daar gepraat oor oorwinning oor probleme en tradisies wat van die sedelinge hier ondervind het. Dit is ’n inspireerende aand vir ons jong sendelinge.
Saterdag trou een van die jong sendelinge, sy het Alta gevra om te help met die rok wat sy in Amerika gekoop het en effens te groot is. Sy spook die hele week om die trourok klaar te kry vir die troue Saterdag en voor ons Donderdag die pad SA toe vat.
Donderdagoggend val ons en die Engelse paartjie John en Clare in die pad SA toe. Die program is om alle besigheid Donderdag af te handel en die res van die naweek te rus.
Daar is ooral tekens dat Marloth onder swaar reën deur geloop het, paaie is verspoel en die vlak wat die Krokodilrivier gehaal het (dis nou nie deur die reën wat in Marloth geval het nie) wys dat dit kwaai in die Laeveld gereën het. Volgens die inwoners op Marloth het daar oor 2 agtereenvolgende dae 400mm reën geval met ’n verder 100mm ’n paar dae later.
Alta het ’n lekker somer-sinus-verkoue.
Bid asseblief vir ons Camarata, dat alles in die camarata rustig en goed sal verloop. Hier is ’n paar ding waarvoor meer spesifiek gebid kan word:
Daar is ’n klein seuntjie wat groot gebou is en dit lyk as of hy in ’n boelie ontaard.
Die groot seuns is soos regte tieners, rebeleer teen die skoolreëls, soos haar lengtes, skoene, ens.
Bid asb vir hulle vordering op skool en vir die met gesondheids problemme. (3 is HIV +, een het ook TB en kanker).

As daar iemand is wat ’n seun wil ‘aanneem’ deur vir ’n spesifieke kind te bid sal ons dit baie waardeer, dit maak ’n groot verskil in hulle lewens, selfs al weet hulle nie daarvan nie. As julle bereid is, sal ons meer inligting ivm die kind gee en indien jul wil kan jul ook vir hulle boodskappe stuur wat ons vir hulle kan gee. Reageer asseblief by ‘Comments’

Sondag 16 Maart 2014

10 - 16 Maart 2014

Die week verloop rustig, niks uitsonderlik nie. Die kinders bring nog daagliks broeke wat se nate losgetrek het om regte maak.
Daar is nog steeds kinders wat die virus opdoen en so lekker voel nie. Daar is ook nog die dogter wat baie siek is en nog nie beterskap wys nie. Sy het 5 siektes waarvoor sy behandeling ontvang, en gooi op van elke hoesbui. Met die seun wat se been gebreek het, gaan dit redelik. Die grootste gevaar is longontsteking en bedsere waar die gips hom druk en skaaf.
Een van die sendelinge probeer om die kerkdiens op ’n Donderdag meer kinder-vriendelik te kry en ook die liedere wat gesing word op die skerm te kry, in 3 tale waar moontlik. Die pastore kla dat die kinders te raserig is, voordat die diens begin. Sy het begin om goed van die internet af te trek en voor die diens te wys om hulle gouer en rustig in die kerk te kry. Donderdagaand Alta oppad kerk toe is kry sy langs die pad drie wat oor iets stry. Hulle wil nie aanstap kerk toe nie, sy sê toe, ‘luister’ wys na haar oor en sê DVD en daar laat spander al 3, skoon vergeet dat hulle in ’n groot stryery was.  ’n Ander een was besig om die eetsaal skoon te maak, toe die eerste goed getoets word vir die diens, hy het net daar gebly en glad nie terug gegaan nie, net met afwagting bly kyk.

Bid asseblief vir ons Camarata, dat alles in die camarata rustig en goed sal verloop. Hier is ’n paar ding waarvoor meer spesifiek gebid kan word:
Daar is ’n klein seuntjie wat groot gebou is en dit lyk as of hy in ’n boelie ontaard.
Die groot seuns is soos regte tieners, rebeleer teen die skoolreëls, soos haar lengtes, skoene, ens.
Bid asb vir hulle vordering op skool en vir die met gesondheids problemme. (3 is HIV +, een het ook TB en kanker).

As daar iemand is wat ’n seun wil ‘aanneem’ deur vir ’n spesifieke kind te bid sal ons dit baie waardeer, dit maak ’n groot verskil in hulle lewens, selfs al weet hulle nie daarvan nie. As julle bereid is, sal ons meer inligting ivm die kind gee en indien jul wil kan jul ook vir hulle boodskappe stuur wat ons vir hulle kan gee. Reageer asseblief met 'n opmerking - sien skakel hieronder.

Sondag 09 Maart 2014

3 - 9 Maart 2014

Die week begin met die tia en ‘educator’ wat nie een by die dorm is toe Alta daar kom nie en dis redelike chaos en almal is laat. Daarby begin ons ook die week met ‘n kragonderbrekking wat die patroon van die week blyk te wees. (Ons is baie dankbaar vir die tye wat dit wel aan was en die kragopwekker die volle lading kan hanteer). Ontbyt was ’n paar oggende laat, die tee was nie betyds reg nie of die brood het laat opgedaag.
Die klein seuntjies se klere is deurgegaan en alles wat te klein of fodde is, is weggeneem. Die skoolklere sage van herstel, korter en kleiner maak duur ook voort, aangesien almal ook nog nie elk ’n broek en hemp gekry het nie.
Ons bid vir gesondheid en die herstel van kinders wat siek is en die virus doen nog steeds die rondte.
Rekenaarvirusse steek ook hier en daar kop uit en die ‘prayer house ‘ kry gordyne, alles te midde van 34-36° celsius en humiditeit van tussen 70 en 100%. (nie geweet ‘n mens kan so baie sweet nie)
Een van die groot seuns verjaar en sy bestelling is kos, nie koek nie, en hy wil dit self maak. Dus maak ons Saterdagoggend kos sodat hulle dit die middag kan eet. Dis ’n worsgereg met allerhande groente, wat alles saam met rys gaar gemaak word. Hulle smul daaraan, so ’n uur nadat hulle middagete gehad het. Daarna is hulle swembad toe saam met ’n sendeling.

Ons lees die afgelope week van oorstomingsvlakke, soort gelyk aan 2000, langs die Incomatirivier wat deur die Komati- en Krokkodilriviere, vanuit SA wat baie reen gehad het, gevoed word. Die rivier maak ’n wye draai deur die suidelike Mosambiek en loop hier naby ons in die see in. Ons wil graag sien as die rivier in vloed is en die naaste wat ons daaraan kan kom is by Marracuene, 30km noord van ons. Sondagmiddag suiker ons af Marracuene toe, daar aan gekom sien ons niks van ’n vloed nie, alles is soos dit altyd was wanneer ons met die veerboot oorgaan na Macanete Eiland. Die pad wat die rivier volg is laaste gedeelte, soos 100km, al langs die see af deur vleilande waar ons vermoed die vloedwater gebuffer is.

Maandag 03 Maart 2014

24 Februarie – 2 Maart 2014

Oor die naweek het een van die ‘special needs’ kinders ’n been gebreek en het hy nou ekstra versorging nodig en gebede dat die been goed sal aangroei en vir ekstra geduld vir sy versorgers.
Ons hanteer ‘Home Group’ die week en is dus bietjie besiger as gewoonlik.
Die kinders sukkel om by hul nuwe programme in te skakel en ons en die ‘educater’ is gedurig opsoek om hulle betyds iewers te kry waar hulle hoort.
Die strykyster van die camerata het gebreek, dis die derde een sedert Augustus. Nou is hier elke oggend teen 11:00 en in die aand, kinders wat hul skoolklere wil stryk voor hulle moet skooltoe gaan.
Vrydagoggend is ons by die Prayer room 7 uur waar daar vir die kinders gebid word en van die kinders ook vrywillig teenwoordig is. Die een Tia bring vier 4 jariges en maak hulle staan by ons en hulle is heeltemal gelukkig daarmee. Die een seuntjie staan eers net voor Petrus met sy rug na hom toe maar later skuif hy terug tot teen Petrus, die ander dringmee om Alta se hand te hou. Na die sessie terwyl ons uitbeweeg moet ons elkeen optel en ’n drukkie gee. Die een dogtertjie is soos ’n seekat, haar bene en arms strek en rek en dit kos stoei on haar neergesit te kry.
Vrydagaand kom vra een van die groot seuns of hy iets op die rekenaar kan doen vir die skool en ons sê dis reg. Met bietjie hulp is die stuk reg en ons druk dit vir hom. Saterdag-aand kom vra nog van hulle en Sondagaand nog. Dit lyk asof ons sal moet soek vir ’n rekenaar en drukker, van hulle is nou in klas 10 (st 8) en een is in klas 11 en sal dit seker al meer nodig kry. 
Saterdagoggend bak ons koek en hou partytjie, want een van die eerste groep kleinseuntjies verjaar Maandag.  Saterdagaand braai ons vleis saam met een nuwe sendeling wat die muur in die cametata geverf het en die kinders Engels leer.

Sondagoggend is ons Afrikaanse kerk toe in Matola en neem 3 van die seuns saam, 2 groot en een kleintjie. Net toe die diens begin is daar ’n kragonderbreeking en die sang word bietjie beperk, met die projektor wat nie werk nie. Die kinders is stil en bekyk alles met groot oë. Oppad terug vra ons of hulle van die diens gehou het, ja sê al 3. Ons vra toe  of dit beter is as Zimpeto se kerk en dit ontlok ’n luide ‘Nee!’ van al drie.

Woensdag 26 Februarie 2014

17 – 23 Februarie 2014

Die week het nie iets uitsonderlik opgelewer nie. Die kinders wat siek was van malaria, het goed op behandeling gereageer en is almal beter. Die virus doen nog die rondte op die sentrum; hoofpyne, koors, naarheid en maagaandoenings kom voor. Die kinders is so 2 -3 dae siek, meeste net 2 dae en dan gaan dit beter. Hier en daar is ook van die sendelinge wat nie te goed voel nie.
Ons dank die Here vir die wat beter is, en bid vir die wat so op ’n streep siek word, dat ook hulle, gou sal herstel en veral vir die ‘HIV’ kinders, want enige virus kan fataal wees vir hulle.
Een van die sendelinge het gehelp toe ons die naweek weg was om ’n muur in die cametata te verf, sy is ’n pragtige mens en is ’n onderwyseres van Ierland.  Sy leer ook die kinders Engels en is uitstekend. Almal is lief vir haar, sy gaan egter Junie terug Ierland toe en sal verseker gemis word.
Die Portugees vorder, ons leer nog gereeld nuwe woorde, maar sukkel nog om dit in sinne te formuleer. Selfs kort sinnetjies is ’n uitdaging.
Gebede:
Bid asb vir gesondheid en beskerming teen al die siektes;
Vir die kinders met ‘HIV’

Vir vrede en rustigheid oral op die sentrum.

Dinsdag 18 Februarie 2014

10 – 16 Februarie 2014

’n Rustige week (die base is oorsee en kinders is in die skool). Alta word toegegooi onder herstelwerk aan die seuns se klere. Dis asof alles stukkend is en elkeen van die 26 het nog hul eie versoeke van goed wat hul meer nommer pas wil hê of nie wil hê nie.
Die naaldwerkkamer gaan goed aan en die goed wat in die ‘Hospitality’ winkel is verkoop stadig maar seker en so moet ons gaan goed aankoop om van die goed af te handel sodat dit in die winkel geplaas kan word. Donderdagoggend gaan ons toe saam met een van die groot meisies om krale te gaan koop by ’n winkel iewers in die stad. Daar is ook ’n materiaal winkel, maar ons kry nie iets waarin ons belangstel nie. By die kar sê sy daar is nog ’n winkel verder aan. Ons vra hoe ver dit is, is dit naby, ja sê sy, en ek dag ons moet bietjie meer uit vra en vra is dit loop afstand, want nou ken ek ook van Afrika se begrippe en verwysings, maar een van die ander sendelinge is saam en is ’n Brit, wat nie kennis van die dinge het nie. Persepsie is een van die dinge wat in niemand se oog dieselfde is nie. Ons los Petrus in die kar en ons begin stap, na die derde blok lyk die meisie nie meer so seker nie en ons vra of ons nog op die regte pad is. Sy verseker ons dis nog reg, maar dis twaalfuur en warm, met die humiditeit diep in die sestig present, en ons stap nog ’n blok en ’n half en daar is die winkel. Kyk rond en koop ’n paar goedjies en durf die terugtog aan, koop koeldrank langs die pad en stap, Petrus is warm gebak in die kar en ons warm en moeg geloop. Dit was nie te min, ’n interessante stappie.
Hierdie week is daar ’n virus of iets wat die rondte doen op die sentrum en heel party kinders en volwassenes is koorsig en voel nie lekker nie. So is daar ook 5 kinders wat malaria het en ons het ook 3 dogters opgeneem wat erg verwaarloos en mishandel is en ook baie siek is, die oudste een is die swakste en kan net kort endjies met ondersteuning loop. Die fokus vir gebed vir die week is dus op geneesing vir almal.
So ons vra gebed vir al die siek kinders veral vir;
·        beskerming teen malaria en geneesing vir die wat reeds siek is en dat hulle gou sal herstel en nie sieker sal word nie
·        vir al die kinders wat ‘HIV’  het en ekstra beskerming en gebed nodig het
·        vir kinders wat verskuif is en nuut is, wat nog sukkel met aanpassing en inskakeling

·        vir die wat Portugees leer dat dit sal inslag vind en makliker op die tong kom lê

Dinsdag 11 Februarie 2014

3 – 9 Februarie 2014

 Na ’n lekker vakansie van rus en niks doen het ons op 2 Februarie teruggekeer. Die kinders het ons toegesak en saam met Maandag, wat ’n vakansiedag was, het hulle ons besig gehou. Dinsdag het die skole begin en het dit ’n bietjie rustiger geraak. Alta moes die groot seuns se broeke vir skool aanpas met baie vindingreikheid, want van hulle moes groter gemaak word.
Terwyl ons weg was het daar twee Afrikaanse meisies, vanaf die Kaap, gearriveer vir ’n jaar diens. Hulle kry maar swaar met die hitte en ons is nou 4 Suid Afrikaners hier op Zimpeto.
Die Mosambiekse regering is baie goedgunstig en het besluit om Vrydag ’n openbare vakansiedag te maak, iets met die opkomende verkiesing te doen, en dit het die week kort gemaak.
Vrydag het ons gebruik om die tuin ’n bietjie netjieser te kry.
Saterdogoggend hou die seuns ons besig maar die middag boender ons hulle weg tot een van die nuwe sendelinge saam met een van die groot seuns opdaag om ’n koek te bak. Daar is skierlik nou baie belangstelling in bakkery wat seker meer oor die sendeling gaan.

Sondag was dit kerk en daarna rustig met die kinders uitgesluit.