Sondag 28 Julie 2013

22 - 28 Julie 2013

Jammer ons het ’n week gemis, was in SA die naweek 20-21/07, Nelmarie, LeRoy en Peet het ons daar gekry vir ’n besoek van ’n week in Mosambiek. Daar het nie iets groot gebeur daardie week nie.
Ons is Sondagoggend 21/07 vroeg weg vanaf Marloth om betyds te wees vir kerk op Zimpeto, maar by die grens beland ons in ’n tou voertuie wat staan. So met tyd word die gewone reisigers tussen die ander uit gehaal en deurgestuur, want al die taxi’s word eers deurgesoek in SA kant en blokkeer die pad totaal om deur te kom tot by doeane kantore. Ons gewone voertuie word toe teen die voorafverkeer ingestuur om verby die blokkasie te kom. Daar is 3 afdelings beamptes wat daar betrokke is, Fidelity wat hekpasse uitreik by die ingang, die SAPS beamptes wat volgende inlyn is en die verkeer volgens my moet beheer en laaste doeane beamptes wat die voertuie deursoek. Wel terwyl Fedility ons teen die verkeer in deurstuur om, om die taxi’s te kom, keer ’n polisiekonstabel ons almal voor en wil ons nie verder laat ry nie, want dit mag nie gebeur nie, maar sy kollegas het nie die taxi’s behoorlik beheer nie en gevolglik moet almal maar net wag volgens hom. Ons almal het egter gekerm en gekla en hy moes ons laat deurgaan, bygesê daar is nie enige gevaar deur teen die verkeer in te ry nie want die spoed is laag en daar was geen verkeer op daardie stadium nie.
Ons eindig 11:15 in Zimpeto en is steeds betyds vir die laaste deel van die kerkdiens. Sondagmiddag gaan wys ons vir die kinders Maputo.
Sondag laat middag kry ons ’n boodskap dat die Brasiliaanse pastoor, wat met ‘n  groep van haar kerk op ’n uitreik was, in ’n insident betrokke was waar ’n kind in haar motor vas gehardloop het terwyl sy gery het en dat die kind dood is.  Nou die gebruik hier is dat jy in die trok geplaas word wanneer daar ’n kind dood of beseer is in ’n ongeluk. Ons bid almal dat dinge goed moet verloop en vir die famielie van die kind. Dinge het besonder goed verloop, die hele groep het besluit om by haar te bly en almal het in hulle voertuie geslaap by die polisiestasie by haar en by ’n naby geleë kerk. Na ’n lang gewag en onderhandelinge is sy eindelik Maandagaand toe gelaat om te vertrek. Almal is dankbaar dat alles goed verloop het, al was daar moeilike tye. Die kind se pa is ook ’n pastoor en die familie het besluit om nie ‘n klagte te lê nie. Daar was ’n goeie verhouding tussen die familie en die Brasiliane tot so ’n mate dat die polisiehoof by die betrokke polisiestasie hulle almal gevra het om vir haar te bid want daar is baie probleme op daardie pad en die partye baklei altyd na ’n ongeluk.
Maandagoggend val ons in die pad Macaneta eiland en Jay’s Beach Lodge waar daar vir 2 aande plek bespreek was. Die laaste 3km is net vir 4x4’s, dik sand en Petrus kry sy oefening in sandbestuur, Peet se mening is dat dit die naaste is wat Petrus aan die Dakar sal kom. Ons bereik die bestemming sonder voorval.
Dis egter mooi en rustig daar. Die mense is vriendelik en help tot uit met die eiers wat by die huis vergeet is. (Hoe mens dit heel daar sou gekry het wonder ons, dis nou oor die pad.) Ons het tot ’n hond of twee gekry wat heeltyd naby was. Baie gehoorsame Afrikaanse honde wat huis toe gaan as ons hulle van die strand af huis toe stuur en sit wanneer die bevel gegee word. Die honde het ook vir die werkers geblaf as hulle kom om die donkie te stook sodat ons ’n warm stort kon kry. Dit was bietjie winderig veral in die oggende, maar die dae was lekker, veral op die strand. Ons het pragtige sonsopkomste as ook sonsondergange gehad en die volmaan het die nag helder verlig. Ons het dit baie geniet. Woensdag toe ons by die pont kom om oor die rivier te kan gaan, is die pont stukkend, maar hulle is gelukkig alreeds besig om die herstelwerk te doen. Ons het so ongeveer ’n uur gewag voordat dit herstel was en ons oor kon gaan.
Dit gaan beter met beide van die siek kinders. Lucia is gister ontslaan, maar nog baie swak en sal moet fisio-behandeling kry. Bid asseblief steeds vir hulle. 
Saterdagmiddag is ons te voet saam met die klein seuntjies, tia en educator na die siek tia se huis iewers agter die sentrum. Dit was nie net vir ons vreemd nie, maar ook vir die mense in die gemeenskap. Hulle het nie mooi geweet wat om te doen as hulle ons saam met die ander sien nie. Die tia en haar mense was ook verras en het soos in SA ook dadelik vir ons stoele gebring om op te sit. Na ’n bietjie uitvra oor wat verkeerd is en ’n gebed, stap ons weer terug sentrum toe.

Vanoggend Sondag, tydens die diens is daar ook ’n troue en so raak ons toe ook deel van die verrigtinge. Gedurende die trouserimonie roep hulle ander getroudes om ook voor te gaan staan en niemand gaan nie en die tolk spoor ons aan om te gaan. Toe ons eers bo-op die verhoog is, kom daar toe nog ’n paar uit hul bruilofsgaste vorentoe. Ons moes toe ook vir hulle ’n boodskap gee en saam met almal ’n seën-gebed vir hulle doen.
Foto's geneem deur Peet
Tou by grenspos Sondag

Pont om oor die rivier te kom na Macaneta Eiland
Jay's Beach Lodge en die hond






Sondag 14 Julie 2013

8 - 14 Julie 2013

Ons het nou ook die 12 groot seuns (12 en 20) in die camerada, waar ons groep kleiner seuns is, gekry om na die praktiese sy om te sien. Dit beteken die hele camerada is nou ons verantwoordelikheid, wat insluit instandhouding van gebou en kinders en handhawing van dissipline. Die dissipline het ook reeds na vore gekom met een seun wat gehok is om saans die sentrum te verlaat omdat hy een aand dronk teruggekom het sentrum toe. Vrydagaand was hy en drie ander uit en het reg langs ons verby gestap, van die hek af. Hierdie moet Maandag hanteer word. Dus soos julle kan sien ons het nou nog meer julle gebede nodig vir wysheid en geduld met die hantering van die groot seuns ook.
Dinsdagoggend het ons gehoor dat die ‘educator’ van ons camerada wat siek in die hospitaal was, dood is, dis vir almal ’n groot skok, hy was by almal bekend en geliefd.
Woensdagaand by Home Group bid ons spesifiek vir die 2 dogters wat siek is, een (16 jarige) was ’n maand lank in die hospitaal met diabetes wat nie stabliseer nie en die ander een is ’n dogtertjie van 5jr wat 2 weke in die hospitaal was, effens beter was en wat nou weer baie siek is, dit lyk of sy dalk breinvlies ontsteking het, maar ook TB. Sy is so pragtig, terwyl sy so siek is, het sy nog steeds ’n glimlaggie vir almal, dis die een wat in die hospitaal vir die ander kinders van Jesus vertel het.

Donderdagmiddag gaan meeste kinders, tia’s, ‘educators’, sendelinge en personeel begrafnis toe. Dit werk hier so; almal gaan graf toe en die diens word ook daar gehou langs die graf. Dan kan almal wat wil na die lyk gaan kyk en party het ook parfuum gespuit. Daarna word die kis laat sak en toe gegooi. Deur-en-tyd sing en bid almal rondom die graf. Die begrafplaas is nie soos ons dit ken nie. Dit is redelik verwaarloos en die grafte is nie in eweredige reguit rye nie, party sit skuins en dit lyk deurmekaar. Die grafte word gebou met sementstene en geplyster. Party is al oud en die sement gebreek. Sommiges het teëls op en ander is beplant met struike en selfs spekbome. Ons kon nie naby kom nie en na die einde se kant toe het dit liggies begin reën en ons het ook net die voertuie gehaal voor dit harder begin reent het. Donderdagaand val daar weer reën, so 10mm en Vrydagoggend is  alles skoon en lente in die lug.
Vrydagaand gaan ons by een van die sendeling na ‘n  ‘bunco bash’ toe, dis pret en party is skoon stuitig en ons lag baie. Elkeen wat daar was gaan huistoe met ‘n ‘prys’.
Saterdag is nie een van ons aan diens nie en ons hou ons skaars. Sorteer ’n paar goed uit en maak skoon ensovoorts. Die middag het die seuntjies kom DVD kyk.

Sondagoggend is ons kerk toe in die sentrum, daar is ’n groep Indiër-sendelinge van ’n sendinggroep (kan nie naam onthou nie) in Durban, dit het vreemd gevoel om Indiërs te sien wat Christene is (die Indiërs waarmee ons te doen gekry het in SA is almal moslems), hulle het ook ’n paar geestelike liedjies vir ons gesing. Die diens is dit weer in drie tale en die vrou wat voorgaan het ’n skerp stem wat saam met die volume van die klankstelsel jou totaal doof maak en die Engelse tolk kan ook nie gehoor word nie. So na ’n rukkie het ons moed opgegee en met seer ore en hoofpyn het ons maar geloop. 

 Foto's by die begrafnis:







Dinsdag 09 Julie 2013

1 - 7 Julie 2013

Maandag begin die kerkkonferensie slaapplek word gesoek vir meer konferensiegangers as waarvoor beplan en in Mosambiek is daar nie so iets soos daar is nie meer plek nie, daar word plek gemaak. Tema van konferensie is onbekend vir ons en ek is nie so seker die konferensiegangers weet self nie.
Maandagaand arriveer Georgian Banov met ’n span van 30, gaan Google as jy meer van hom wil weet. Ons moes hom huisves en versorg. Saam met hom kerkdiens toe gaan,  waar hy saam met die worship team op sy viool gespeel het, maar ons kon nie juis die viool tussen die ander verdowende klanke hoor nie. Hy preek ook en so 9 uur kon ons huistoe gaan.
Dinsdagoggend na ontbyt is hulle Bocaria toe. Vir middag/aandete besluit die baas ons moet braai (hy maak seker hy word uitgenooi en dat daar aartappelslaai is) en daarvoor moes ons eers weer stad toe vir vleis. Tussen alles deur die oggend, ontvang ons opleiding oor gebedsgenesing van die Australiese paartjie, wat die naweek vir ons ’n werkswinkel gehou het oor die huwelik. Hulle bedryf voltyds ’n gebedsgenesing kliniek in Australië. Belangrike punte wat hulle aan ons uitwys, is dat God besluit wanneer genesing sal plaasvind (dadelik, oor ’n tydperk, ’n later datum bv. jaar of wanneer die persoon Hemel toe gaan) en hoe dit gaan gebeur (dadelik deur ’n wonderwerk op daardie tydstip van gebed, deur ’n dokter se hande met medikasie of deur ’n operasie) maar steeds tot eer van God.  Dinsdagaand is daar weer ‘n kerkdiens waar ‘n pastoor wat in Georgian se span is, preek. Daarna bid Georgian vir ons hoof pastoor uit verskillende plekke in die Bybel wat naby aan ’n uur geduur het. Daarna bid sy span vir konferensiegangers wat voorentoe gekom het, die duiwel word ook uit ’n vrou gedryf en dit is nogal angswekkend saam met geweldige harde musiek en dromme, en so teen 10uur besluit Georgian dis tyd om te gaan slaap, die baas en Alta het reeds verdwyn, Alta moes ’n batterylaaier gaan soek vir die gas se AppleMac rekenaar en net Petrus, doof van die musiek, was oor om hom terug te vergesel. Ons het eers na 12 in die bed gekom.
Woensdagoggend na ontbyt vertrek Georgian. 9 uur is daar gebedsgenesing vir konferensiegangers en die gemeenskap deur die groep wat die vorige dag opgelei is, daar vind talle genesings plaas onderandere ’n been wat langer word om by die ander een te pas, verlamde arm herstel en ’n vrou ontvang genesing wat sedert die geboorte van haar baba buikpyne gehad het. Eer aan God. Die aand het ons weer kerk as afsluiting van die konferensie.
Donderdag rus almal van die vorige dae se besig wees.
Vrydag is ons stad toe vir die maand se aankope vir die baba’s.
Saterdag herstel ons nog steeds van die week se dinge en Saterdagaand is ons huis weer oop  vir sendelinge wat wil kuier (geselskap soek)
Sondagoggend vat ons die pad Matola toe na die Afrikaanse kerk toe met Cathrine en 2 besoekers van SA, dis afrikaansprekende dames van die Kaap. Na kerk word daar vleisgebraai en doof gepraat deur die vroumense.


Hier is ’n link na YouTube van ’n video wat Petrus geneem het van ‘worship’, sit net die klank deur ’n versterker, sit ’n luidspreker langs elke oor en stel die klank op 90% van maksimum en jy sal hoor wat ons gehoor het.

Dinsdag 02 Julie 2013

24 - 30 Junie 2013

Woensdag word Kanssane ge-opereer en die operasie is suksesvol, sy was vir drie dae in intensief en Saterdag oorgeplaas na ’n gewone saal. Ons het Saterdagmiddag vir haar doeke geneem. Sy het so klein gelyk in die groot hospitaalbed. Sy het ’n tia (oppasser) wat die hele tyd saam met haar daar is. Sy is ’n bietjie bleek maar gee haar glimlaggie vir ons. Hou asb aan om vir haar te bid dat sy nie enige infeksies nou op doen nie. Die operasie is in ’n privaat hospitaal uitgevoer en die hospitaal het self die koste daarvoor gedra, dit is ‘n gemeenskapsdiens wat hulle lewer aan behoeftige kinders.
Woensdagaand is Home Group by ons en ons moet ook leiding neem, Alta hanteer ’n aantal mekaar opdragte uit die Bybel met die groep en ons hanteer weer persoonlike gebedsversoeke van sendelinge soos die vorige keer wat ons dit hanteer het. Terugvoer is positief in verband met vorige versoeke. Hierdie keer neem dit meer as ’n uur inbeslag en almal neem vrymoedig deel, al het ons dit duidelik gemaak dat hulle nie hoef versoeke te gee nie. Ons kan nie verstaan hoekom daar nie meer aandag hieraan gegee word, op ander Home Group byeenkomste nie, want daar bestaan defnitief ’n behoefte daarvoor.
Woensdagaand het daar ’n paartjie van Australië en vriende van die sentrumleiers, hier aangekom. Hulle bied huwelikswerkswinkels al vir baie jare in Australië aan en lei ook ‘n “prayer healing centre” daar. Saterdag het hulle vir al die getroudes en almal wat belangstel ’n verkorte werkswinkel oor die huwelik aangebied en soos gewoonlik was hierdie een ook insiggewind.
Na die huweliks-storie is ons hospitaal toe wat naby die kus is en van daaraf het ons langs die see gaan sit en die middag net rustig vir die see sit en kyk.
Sondagaand was hier ‘n byeenkoms in ons huis vir die sendelinge en ’n span pastore van Brazilië en die Australiese paar. Die klomp kuier gesellig en eet lekker aan die kos wat die sendelinge gemaak het.. Die sendelinge moes sê wat hulle bereid is om te maak vir die ete. Hulle noem dit ’n ‘pot luck’. Iets soos ons bring-en-braai.

Die komende week is besig, met ‘n 3 dae kerkkonferensie en ’n groot aantal besoekers. Ons huisves ’n BBP (VIP) vir 2 nagte in die spaarkamer.

Bid asseblief dat almal veilig sal aankom en weer by hul bestemmings uitkom.

Dinsdag 25 Junie 2013

17 - 23 Junie 2013

Hier is ’n baba-dogtertjie van 17 maande (Kenssane, foto onder) sy het Down sindroom en ’n gaatjie in haar hart, sy kan sit maar nog nie staan of loop nie. Sy moet ’n hart operasie ondergaan en daarvoor moet sy eers 6kg weeg, sy het nou 6kg bereik. Die afgelope paar weke is daar beplan om 10 eenhede bloed vir haar te kry en dit werk so, indien 10 persone gaan bloed skenk by die bloedbank, dan sal die bloedbank die 10 eenhede in die tipe bloed wat benodig word vir die operasie aan die hospitaal gratis voorsien. Hierdie skenking kan egter nie te vroegtydig gedoen word nie, want dan vergeet die bloedbank daarvan en ook nie te laat nie, want dan is daar nie tyd om al die toetse op die bloed te doen nie. Vroeg die maand word verneem dat die operasie op Woensdag 26 Junie gedoen gaan word en reëlings word vir die bloedstorie gedoen wat Donderdag plaasvind. Alta is een van die skenkers. Die skenkers moet 9 uur reg wees om met die bus stad toe geneem te word, ’n ander vrou met oog-probleme en ’n sendeling, om haar te help, gaan ook saam. Vroër die maand het van die wat belowe het om bloed vir Kenssane te skenk, bloed geskenk vir ’n ander kind en dus is die skenkers maar redelik skaars. Ons is 7 sendelinge wat gaan en 3 van die Bybelskoolstudente.
Die vrou met die oogprobleem word karsiek, dit is die vrou waarvan ons ’n tydgelede vertel het wat die busbestuurders geweier op te laai, en trap die bestuurder uit omdat hy solank neem om daar te kom. Die bloedbank is bietjie oorweldig met die skielike groot aantal mense wat bloed kom skenk, maar hanteer dit heel goed. Eers moet ons in ’n ry wag waar ons geweeg, bloedruk gemeet en ’n vingerprik kry om te kyk of ons geskik is om bloed te skenk. Dis dan ook net hier waar een wat te lig is weggewys word en ons skielik ’n ander skenker moet opspoor. Die busbestuurder word gevra en hy willig in!  Een van die eerstes wat se bloed getrek word, word flou op die stoel. Sy vertel agterna dat die sakkie vreeslik vinnig vol geraak het en toe voel sy of al die bloed uit haar kop is en dis toe dat sy flou word. Alles het verder goed verloop. ’n Paar het gekla dat hul maar rof met die naald se insteek was, as hul die aar nie raak gesteek het nie, het hulle die naald heen-en-weer beweeg tot hul die aar kry. Na die bloedskenk het ons die ander 2 wat vroër afgelaai is, weer gaan oplaai en weer afgelaai en gaan KFC koop. Ons was eers weer 15:00 terug by die sentrum. Nou bid ons dat alles goed sal verloop en dat die bloed wel Woensdag by die hart hospitaal sal wees vir die operasie. (daar was Maandagaand voor die operasie klaar gerugte dat die bloed nie betyds by die hospitaal gaan wees nie, weens die dokters se staking wat die beskikbaarheid van bloed beïnvloed)

Hier is ook 2 ander dogters wat baie siek is vir wie ons die laaste week al voor bid. Een is ’n tiener wat ’n diabeet is en aanhoudend opgooi, sy is in intensief en die ander een is ’n dogter van 5jaar wat ook opgooi en die toetse lewer geen resultate nie. Hulle het al talle kere vir malaria getoets en sy is nou in afsondering want hul vermoed breinvliesontsteking. Hulle het egter vir ons vertel dat toe sy in die saal was saam met die ander, sy vir die ander kinders bid, van Jesus vertel en lofliedere gesing het. Pragtige getuienis vir so ’n klein dogtertjie.

Donderdagaand hoor ons vir die eerste keer dat daar politieke probleme hier is (ons kyk of luister nie nuus nie). Dit is egter so 1000km noord van ons en raak ons nog nie.

Vrydag is ons vir die naweek deur SA toe vir die maandelikse stempel van paspoorte, medisyne en kos.


Kenssane

Hierdie foto is nou gekry en wys hoe Petrus geluk gewens is met sy verjaarsdag 


Maandag 17 Junie 2013

10 - 16 Junie 2013

Ons het ’n rustige week. Woensdagaand  met Home Group wys Laura vir ons ’n fliek oor vergewing. Dit gaan oor wat gebeur het na die moorde op die Tutsi-stam deur die Hutu-stam in Rwanda. Dit vertel hoe Hutu’s, wat bure was met Tutsi’s en hulle persoonlik geken het, hulle vermoor het en dat oorlewende familie later die moordenaars vergewe het en vrede gevind het daardeur. Dit bly steeds so, dat solank jy nie iemand wat jou te nagekom het, vergewe nie, gaan jy nie vry wees nie en sal jy nie vrede smaak nie.(vergewe ook jouself)
Van die Vrydag voor kinderdag (1 Junie) word die kinders van die sentrum uitgenooi om Vrydagoggende 7 uur na die gebedskamer toe te kom waar die sendelinge dan vir hulle sal bid. ‘n Hele klompie van die kinders neem hierdie uitnodiging met ope arms aan en is elke Vrydagoggend daar.
Hier in Mosambiek is die dokters steeds besig met ’n staking en die effek begin nou deur die gemeenskap gevoel word. Gedurende hierdie week is daar familie van twee van die personeellede dood wat in hospitale was. Hierdie mense is moedeloos oor die diens in hospitale, dokters wat staak en die korrupte regering. Die gewone Mosambiekse burger het ons gebede nodig.
Daar is egter ook ’n anderkant aan hierdie storie, daar is ’n 15 jarige dogter by die sentrum wat ’n diabeet is en aan swaar depressie ly. Dinsdagaand is sy weer in die hospitaal opgeneem na sy vroeer die dag ontslaan was. Sy het enige behandeling teengestaan en geweier om te eet. Woensdag het haar toestand so verswak dat sy na intensief verskuif is en haar hande en voete vasgemaak is om te keer dat sy die buise uittrek. Deur die behandeling van die hospitaal, sonder dokters, het hulle tog dit reggekry om met die Here se hulp deur baie gebede, haar te red, sy is vandag Maandag uit intensief na ’n gewone saal oorgeplaas.
Sondagmiddag gebruik een van die sendelinge ons huis om ’n verrassingspartyjie vir haar Mosambiekse man te hou, nie juis enige werk vir ons nie en Petrus geniet die verjaarsdagkoek.

Ons het die afgelope tyd e-posse van Ockie en Lenie, wat in Zambie is, ontvang wat ons dink julle sal interresant vind (vir die wat dit nie direk ontvang het nie), hieronder is die e-posse en ons plaas dit met hulle toestemming:

Dagsê al die "peoples".

Alle eer aan God in die Hoogste Hemele....!!!

Dit is met groot vreugde in ons harte dat Lenie en ek hierdie terugvoer gee oor die afgelope naweek se Mediese uitreik na die Tongwa-village.
Ons was vir omtrent 'n dag-en-'n-half besig in die village maar verseker sal ons 'n boek kan skryf oor wat daar gebeur het.
Soos meeste van jul bewus is het ons in die verlede na villages toe gegaan op Mediese uitreike.
Tydens so'n uitreik het ons dan soveel moontlik pasiente probeer sien. En Medikasie uitgedeel. Elkekeer by 'n village gekom was dieselfde probleme maar weer daar. 70% van pasiente het Malaria, baie met rugprobleme en baie met knieprobleme. As gevolg van die groot menigtes, het ons baie op die uitgee van medikasie gesteun en min op gebed.
Tydens 'n onlangse opleidingsessie wat Lenie bygewoon het en wat ook deur heelwat verskillende inwoners van verskillende villages bygewoon is, het dit uitgekom dat die villagers se prioriteite totaal verskil van ons Mediese span se prioriteite. Vir ons is "gesondheid" nommer 1. Vir die mense in die village is gesondheid nommer 11 vanuit 12 opsies. Vir die villagers is heksery dié nommer 1 probleem en nommer 2 en 3 wat baie gelyk loop daarmee is alkoholisme en liefde vir geld.
Die liefde vir geld kom daarop neer dat hul eerder in haaglike omstandighede sal leef, hul kinders met fodde om die lyf sal laat loop en honger gaan slaap eerder as om die groot nes-eier, onder die bed aan te raak. Die nes-eier word dan ook aan die gode ge-offer.
Tydens en na die genoemde opleiding het die Here vir Lenie op die hart gedruk dat ons ons benadering sal moet verander.
Saterdag oggend terwyl Ockie en ons leier na die nuwe plot toe stap kyk ek, wat Lenie is, na dvd's wat al ses maande op my bedkassie stof vergader. Skynbaar was dit nou die regte tyd om dit te kyk. Nodeloos om te sê, die dvd's is kragtige bevestiging maar BAIE "challenging"! Met Ockie se tuiskoms 5 ure later vertel ek hom dat ek nou weet ... Ons benadering moet wees om op God, die Groot Geneesheer te vertrou en die naweek met gebed uit te reik na Tongwa-village. 
Wat 'n vreeslike klemverskuiwing vir my, Ockie. Ek, Gereformeerd, met min of geen klem op geloofsgenesing nie. Vir die "locals" hier op die Basis is dit weer snaaks dat ek niks van geloofsgenesig weet nie. Vir hul was dit dus nie so'n groot "skok" toe Lenie met die nuus kom dat ons op 'n Mediese uitreik gaan, sonder medisyne nie. Die leierskap het dit met ope arms aanvaar behalwe vir paar spanlede wat dink dit is malligheid. Die Here is egter getrou en bevestiging kom uit alle oorde.
So, tydens die opbou na die naweek moes ons heelwat huiswerk doen. Huiswerk in die sin dat ons na dvd's gekyk het waar die "spiritual" beklemtoon word. Ons leer baie, bid baie en lees saam die boek van Lukas as mediese span om ons geloof te versterk.
Die films is kort maar kragtig wat gemaak is waar mense in Indië, Taiwan en Afrika werk om heksery, demone en derglike dinge te bekamp asook hande oplê en bid vir die siekes, dowes, blindes. Ons in die sogenaamde Weste kom gladnie of min-min in aanraking daarmee. Vandaar my skeptiese uitkyk daarop.

Nou vir die naweek se gebeure.

Vrydagoggend so teen 10h00 vertrek ons per boot vanaf basis. Rit was so 1 en half uur lank.
Daar gekom, gou die kerkleiers gegroet wat ons "host" vir naweek. Nie veel gesê dat ons nie medisyne gebring het nie. Daarna het hele span gou vir die "village-chief" gaan groet en sy blessing gekry op ons besoek.
Na die besoek aan die "Chief" is ons terug na ons "host". Daar het ons gebid, lofliedere gesing en Nagmaal gebruik om so ook God se seën te verkry op die naweek. Hier het ons begin ondervind dat die "bose" ons nie daar wil hê nie. Elkekeer wat ons begin lofliedere sing was daar 'n span mense agter ons gebou, wat hul dromme met oorverdowende knalle begin speel het. Sodra ons stop met sing het hul ook gestop. Klaarblyklik is dit 'n manier van rekreasie vir hulle om elke dag dromme te speel. Mense het egter getuig dat hul vir die afgelope week geen dromme gehoor het nie. Later sou ons ook beleef hoe hul met die dromme die klank van die Jesus film probeer uitdoof. Ons beleef hoe die die Here ons gebede beantwoord toe die splinternuwe kragopwekker nie wil werk nie, die klank sisteem nie wil werk nie. Ons vertrou vir 'n wonderwerk en uiteindelik speel die film en sowat 200 mense sit vasgenael voor die televisie. Hul sit op klippe en in die sand en mens kan amper 'n speld hoor val (behalwe vir die dromme gedreun). Die trommers het toe maar die aftog geblaas toe hul sien hul strategie werk nie. Prys die Here!
Die kritieke oomblik in die fliek toe Jesus aan die kruis sterf, sny die kragopwekker vir geen rede uit en die skerm is pikswart. Alles pikswart want daar is geen ander ligte in die village nie. Ons snak na ons asems, ons bid, ons sing en stadig kom almal weer tot orde en die film kan aangaan nadat die kragopwekker gou weer gevat het.. Ons kyk na mekaar en weet en beleef Efesiers 6 "our struggle is not against flesh and blood ...."
Ons kondig af dat om 09h30 Saterdag oggend mense na die "prayer clinic" kan kom vir gebed.
Saterdagoggend het gekom en het ons vooraf gesing, saam gebid en toe Bybelverse die verskillende Name van die Here oral op die muur vasgeplak. Dit het ons bemoedig en ons herhinner waaroor dit gaan die dag. Ons word ook gemaan om nie die mense te salf soos die Bybel voorskryf nie, want hul kan dink dit is toordery!
Mense wag reeds en ons begin bid. 'n Jong seun, so 10 jaar oud, kom vra gebed vir bisarre nagmerries elke nag. Ons vertaler sê dié een is spiritueel. Ons bid en die kind staan kop onderstebo en oë baie-baie ontwykend. Hy kan glad nie opkyk of met ons oogkontak maak nie. Ons leer dis hoe dit is met die "demons". Na gebed sê hy dat hy voel baie beter en glimlag skeef-skeef. Paar uur later kom die seun met drie maats en wys na my en Ockie en vat aan sy lyf, baie opgewonde. Ons weet nie mooi wat aangaan tot ek hoor "pepe" wat beteken om te bid. Toe sien ons, kan dit wees? Dit is die seun, hy lag van oor tot oor en getuig aan sy vriende dat ons vir hom gebid het en dat hy soveel beter voel. Die verskil in sy voorkoms is soos dag en nag. Dankie Here!
Joyce kom en vra dat ons vir haar linkervoet moet bid wat so erg pyn dat sy soms nie kan loop nie. Joyce is 'n gelowige en ek, Lenie vra of ek haar voet kan salf. Sy sit en ek staan teen die muur en vat haar voet in my hande en saam bid ons. Tot my verstomming voel ek hoe kraak die bene in haar voet! Sy spring op en af op die voet en prys die Here. Sondag oggend in die erediens getuig Joyce hoe die Here self die betrokke oggend aan haar voet gewerk het en die maandelange pyn weg is. Ons geloof styg en styg en ons "awe" oor die grootheid van onse God.
So kom daar 'n man wat huweliksprobleme het agv sy rugpyn. Ons span bid en Ockie sit sy hand op die man se rug. Ockie en die man is verwonderd oor wat hul beleef. Hul albei het baie duidelik die Here voel werk. Ockie in sy hand en die man op sy rug. Dit het vir my gevoel asof iemand met sy vinger in die palm van my hand skryf; sê Ockie. Die man het dieselfde gevoel van vinger wat skryf op sy rug beleef waar Ockie se hand was. Weg is sy pyn!
Later kom 'n vrou en kla oor huweliksprobleme. Min weet ons dit die man met seerrug se vrou. Ons bid en praat uit spreuke oor vrouwees, oor jou man respekteer en eer. Sondag by die kerk kan die vrou nie ophou lag en dankbaar wees nie. Ons Here genees seer rue en seer huwelike.

So kom hulle en ons bid.

Nooit geweet bid is sulke harde werk nie...en toe kom Emmanuel. Gou sien ons hier kom 'n ding "demons" sê die locals in ons span. Na so 5 ure se stoei en kragtig bid raak dit rustig maar gou begin die "demon" weer die jong man treiter. Dit vat 4 sterk manne om hom in toom te hou. Die sweet tap hul af. Daar word gebid, gesing, Woord gebid, maar die "ding" lag en sê hy kom nie uit nie. (Ons het al hiervan gehoor en gelees maar nooit ondervind nie.) Later belei Emmanuel dat hy diep in satanisme vasgevang is en wil vry kom. Die kerk vat oor en sover ons weet gaan dit 'n lang pad wees. Hy kom kyk die Jesus film Saterdagaand en is in die kerk Sondagoggend en spring op toe mense vir gebed genooi word! 'n "Captive" vrygemaak deur die bloed van Jesus!

Janet, so'n 12 jaar oue dametjie kom en wil die Here aanneem as haar Verlosser. Ons bid saam met haar en haar ma. Verwys haar na 'n plaaslike gemeente.

Die 2de Jesus film vertoning, Saterdagaand verloop glad en geen tromme gedreun nie.

Seën vir julle.

Lenie en Ockie.

En


Hi,

Dit is Vrydagoggend en ons span van 14 mense is oppad na die Chipwa village vir ons tweede "Faith trip".
Die span bestaan uit tien van ons eie span en 4 Amerikaanse studente dames wat vir hul somer vakansie hier op uitreik is.
Ons moet in twee groepe vaar want die boot is nie groot genoeg vir die 14 mense plus die bagasie nie. Die bagasie bestaan o.a. uit 'n kragopwekker, TV, luidsprekers, tente, eetgerei en slaap- en rugsakke. Ek, Ockie en twee ander mense en die bagasie gaan met die eerste rit.
Hoe verder ons vaar hoe groter word die golwe as gevolg van die wind van voor af wat al sterker word. Ek en Ockie bid teen die storm, maar die skipper besluit ons moet aan wal gaan by 'n klein village om te wag tot die storm bedaar.
By die village sien ons hul is besig om 'n kis te maak vir iemand wat afgesterf het. Soos gebruiklik gaan sit ons onder 'n boom saam met die treurendes om simpatie te betoon. Na sowat 'n uur se wag klim ons weer in die boot en vertrek. Ons is nog nie eers by ons bestemming en reeds is my wat Lenie se goed beplande program van koers af. Ons leer stadig, maar ons leer wel wat dit waarlik beteken om "flexible" te wees, nie dat ons altyd daarvan hou nie!
In Chipwa aangekom en na die gebruiklike groet van ons eie sendeling daar  en die hoofman slaan ons as voorlopers die tentkamp op sodat ons kan begin met die program sodra die tweede groep arriveer. Die VSA studente is vol afwagting oor alles wat voorlê...
Ons as span het weereens as deel van ons voorbereiding vir die naweek na dvd's gekyk oor "Divine healing", die Woord bestudeer en gebid vir die Here se leiding vir die naweek. Min het ons geweet wat wag.
'n "Prayer walk" is eerste op die program vir Vrydag-agtermiddag en die span verdeel weer in twee. Die jonges en fikses takel die roete berg op en bid en sing lofliedere van bo die koppie wat oor Chipwa uitkyk. Sowat 20 vroue van ons sendeling se vrou se damesgroep sluit aan by die deel van die span. Ons vra hul waarvoor moet ons bid en weereens kom dieselfde dinge uit: heksery, alkoholisme, liefde vir geld, ontrouheid in die huwelik, leuens en malaria.
Vir die wat deel was van die "prayer walk" was dit 'n wonderlike ervaring. Ons wat agter bly het ook gou 'n gehoor en ons leier se vrou gee 'n lessie in wiskunde "tafels" en gou loop dit uit op "worship"! Dit blyk die Here se program verskil van myne, en dit werk!
Die "prayer walk" duur amper twee ure ipv 'n uur soos beplan. Na aandete vertel David vir die sowat 30 mense die Bybel verhaal van Genesis tot Jesus, spesifiek met die doel om hul voor te berei vir die Jesus film Saterdagaand.
Vier mense neem 'n besluit vir Jesus as hul verlosser. Ons weet die engele juig en ons is dankbaar.
Tydens ons voorbereiding voel 'n spanlid dat ons as span sewe keer om die gebou moet loop waar ons die "bid kliniek" gaan hou. Soos die Isrealiete van ouds. Ons loop en sing psalms, lofliedere en bid . Ons bid oor enige versteekte "charms" in die gebou, verbreek deur gebed die krag van enige rituele wat in of oor die gebou gedoen is. Die skoolgebou waar ons die "kliniek" hou is ver uit die woongebied en ons wonder of die mense so ver sal kom omdat ons nie  medisyne het nie.
Alreeds het die, wat ons as  verpleegsters herken het begin vra oor die kliniek. Ons bid dat die Here dié sal stuur wat Hom nodig het as die Groot Geneesheer. En jou waarlik hulle kom! Alle eer aan God!
Gou raak dit 'n. demone-slagveld en ons moet verskuif na 'n klaskamer langsaan. Ons sien en beleef die kragtige werking van die Heilige Gees en die uitwerking van die net die "Naam van Jesus" op die demone. Een na die ander bevry die Here die mense van demone. Ons bid, huil van aandoening, bid, prys en lê hande op. Ons beleef die outoriteit wat ons het in Jesus. Die Heilige Gees maak ons oë oop en lei ons waarvoor om te bid. Ons sien die versteekte "charms" die toordokter se "tatoos" op die arms, bene en lywe.
Ons bid vir 'n pragtige jong meisie met erge misvorming van haar rug. Sy droom gereeld van baie slange wat sy probeer doodtrap in die drome maar kry dit nie reg nie. Ons sien hoe sy wriemel soos 'n slang met ongelooflike krag. Na so 6 minute raak sy doodkalm. Sy staan op van die vloer af en haar rug is so reguit soos kan kom en skouers perfek. Prys die Here! Iemand wag soos hul uitkom om die evangelie aan hul te gee en word ook na die kerk verwys vir dissipelskap. In Lukas 11:24 tot 26 leer onse Here Jesus ons dat: "Wanneer 'n onrein gees uit 'n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na 'n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: 'Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.' Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so 'n man slegter daaraan toe as aan die begin." Dit hoekom ons dadelik begin met dissipelskap!
Ons sien die ou oompie uitstap sonder sy kiere en sy kreupel-waggel van 1 uur te vore. Ons is oorstelp en ons geloof groei, groei, groei en groei.
Later die aand daag sowat 350 mense op vir die Jesus film.
Voordat ons die Jesus film wys doen ons 'n kort drama genaamd: "The Burden". Dit tref in die kol want dit gaan oor die laste soos die geld-god, drankmisbruik en toordery.
Hul bibber van die koue wind wat waai maar hul sit en kyk. Hulle hoor van Ringwell 'n spanlid, hoekom ons almal Jesus nodig het as ons Koning. Sowat 35 mense neem Jesus aan as verlosser en ons is dankbaar en in verwondering. Dankie Here!
Sondag oggend gaan 'n deel van die span oor na die deel Chipwa village wat in Tanzanië geleë is. Net die Colomborivier skei die twee villages. Ons doen weer die "burden" drama soos Saterdagaand en ons bid vir verskeie siekes.
Jul vra dalk hoe weet ons 'n persoon is duiwelbesete? Ons leiers het soveel ervaring op die gebied en ons leer van hulle.
Ek, Lenie verstaan ook nou hoekom so baie mense met dieselfde simptome na die vorige "mediese" klinieke gekom het wat ons in die verlede gehou het.
Die volgende dinge is 'n goeie aanduiding van die teenwoordigheid van demone in 'n mens: algemene liggaamspyne, angs, hoofpyne, baie vinnige hartklop, maagpyne, drome van dood, drome van slange, drome van leeus, drome van beeste of enige diere wat hul jaag, drome van mense wat hul vreemde goed wil laat eet. Ons leer baie en later kan ons al beter sien hoe so 'n persoon se gesigsuitdrukking en oë lyk.
Sjoe! Ons beleef dinge wat ons nooit self sou geglo het nie.

Baie moeg kom ons Sondagmiddag by die basis aan en bly steeds dankbaar en vol verwondering.

In die Naam van Jesus van Nasaret bid ons julle Sy liefde en seën toe!

Lenie en Ockie.

Maandag 10 Junie 2013

3 - 9 Junie 2013

Maandag en Dinsdag gebeur daar niks interresant nie.
Woensdag moet Petrus help om ‘n voertuig wat die vorige aand in Matola gebreek het reg en terug te kry by Zimpeto. Die eerste inligting is dat die automatiese ratkas opgepak het, maar na ondersoek word gevind dat die linkervoor-remskoene (3 maande oud) se ‘pads’ van die ysters losgekom het met die gevolg dat dit yster op yster was en die skyf is beskadig. Die skyf moet eers laat sny word en nuwe remskoene gesoek word, Petrus was later nie baie gewild omdat hy Ferodo remme gekoop het teen 3 keer die prys van die ander wat beskikbaar is in Mosambiek nie(en nie hou nie). Dit hele proses vat die hele dag en teen 4 uur die middag moes Petrus die voertuig terugbestuur sonder die voertuig se dokumente en al die goed wat wettiglik in die voertuig moet wees, dit was gelukkig spitsverkeer en hy is nie voorgekeur nie. Woensdagaand vertel Celia ons van haar uitreik saam met van ander pastore in haar kerk na ’n baie afgeleë plekke in sentraal Mosambiek waar hulle die vorige week was.
Donderdagaande gedurende die kerkdiens word die kleiner kinders na lofprysing (’n uur of so) toegelaat om te gaan slaap, dit sluit ook ons spannetjie in (hulle raak al aan die slaap voor lofprysing klaar is). Na die kinders ’n rukkie uit is kom die ‘educator’ (toesighouer) terug wat nie mag gebeur nie, hy is veronderstel om heeltyd in die camerada te wees wanneer die kinders moet slaap. Petrus loop kyk toe wat aangaan in die camerada en daar was chaos, die arme chefe (’n ouer kind wat as prefek moet optree) kan hulle nie beheer nie, maar na ’n uur het die kinders geslaap. In die tydperk stap Petrus vir die eerstekeer in die badkamer in om te vind dat geen toilet meer werk nie en dat die res in net so ’n swak toestand is. In opvolg die volgende more vind hy uit dat daar nie onderhoud gedoen word nie, omdat die kinders enigiets wat herstel word net weer breek, maar niemand kon antwoord hoekom die educators nie verantwoordelik gehou word vir enige vandalisme nie, hulle is veronderstel om toesig te hou. So daar is ’n nuwe probleem wat aandag nodig het.
Vrydagmiddag gee die bestuurder van die sentrum vir Petrus ’n nuwe TV vir die camerada na die vorige een opgepak het, Petrus kry die dankie en waardering van al die kinders ipv die bestuurder.
Saterdagoggend maak ons tuin, huis en Kia skoon (dit sluit ’n polish in) met die gevolg dat ons van Sondagaand af koud kry. Saterdagaand vertrek ons weer op die bus stad toe om pizza te gaan eet om afskeid te neem van die 2 Engelsmannetjies wat na ’n jaar terug huis toe gaan. Alles het rustig en normaal begin, self parkeerplek voor die restaurant vir die bus gekry en die kos wat vooraf bestel was, was gereed. Die avontuur begin toe een paartjie wat met ’n ander voertuig daar was, terugry op ’n ander roete en voorgekeer word deur polisie en die vrou het nie haar paspoort by haar nie. Hulle word toe poliestasie toegeneem met dreigemente dat die voertuig, wat die sentrumbestuurder s’n is, ook gevat gaan word. Hierdie is die metode wat hulle gebruik om ’n persoon bang te maak en dan omkoopgeld eis. Gedurende die storie bel die twee toe die sentrumbestuurder wat besig is om ons bus te bestuur. Op daardie stadium staan ons in ’n verkeersknoop stil en terwyl hy nog oor sy iPOD4 met hulle praat, gryp iemand die selfoon uit sy hand deur die oop venster en laat spander . Teen die tyd dat ons ander besef wat aangaan, is die dief buite sig en agterna sit nodeloos. Terug by sentrum kon ons gelukkig toegang kry na die paartjie se woonstel om die paspoort te kry, waarna die sentrumbestuuder en Petrus terug is na die polisiestasie in die stad om die twee uit te kry. Alles het toe goed verder afgeloop, met die paspoort afgelewer, is hulle laat gaan en al is hulle by 3 ongeluktonele verby, het almal veilig by die huis gekom.


Sondagoggend is ons en Cathrine Matola toe om die Afrikaanse kerk (Die Lewende Gemeente Maputo,’n interkerklike gemeente wat deur die NGK ondersteun word) te gaan soek. Ons vind dit waar die straat geblokkeer is, met voertuie by ’n huis en waar daar ook baie SA voertuie staan. Daar is so 40 mense teenwoordig en die diens is baie soos MBG noord behalwe vir die sang wat stadig was. Die boodskap was nogal heel interresant, dit was die afsluiting van ’n reeks wat hulle gedoen het met preke en ook in selgroepe hanteer het. Dit handel oor die hanteering en verantwoordelikheid wat ons het wat God aan ons toevertrou het en dat ons net tydelik hier op aarde is. Die slagspreuk “Die hemel is my woning en die aarde net ’n hotelkamer” Een van die punte wat gevra is, is as jy in ’n hotelkamer bly vir ‘n tydjie, gaan jy nie vir jou ’n beter matras en yskas koop nie, want jy kan dit nie weer saam vat nie. So is daar baie dinge wat ons baie goed sonder kan klaar kom en die geld en tyd wat ons daaraan sou spandeer op beter en belangriker dinge kan spandeer, wat vir God van groter belang is. Na die diens is ons terug, want ons is gevra om regtestaan vir ’n groep van 24-28 mense met ’n braai vanaf 4 uur die middag. Dit was ’n groep Amerikaners van ’n kerk wat die naskoolse studiegelde van kinders wat hier groot geword het, betaal en ook hierdie studente. Alles het goed verloop en ons was ’n bietjie moeg Sondagaand.