Saterdag 11 Januarie 2014

30 Desember 2013 – 5 Januarie 2014

Maandag word die werk voortgesit in camarata se badkamer en voorbereiding vir nuwejaarsvieringe getref. Petrus, Peet, Steve en sy seun is vroeg weg gholfbaan toe waar hulle goed nat reën. Verder besluit die regering om Donderdag en Vrydag ook as openbare vakansiedae te verklaar wat nie baie help met die werkspas by die camarata se badkamer nie.
Dinsdag op die oujaar begin die vieringe met ’n middagslapie vir ons en die kinders. Vroegaand se vieringe vir die kinders om hulle besig te hou is kreaktiwiteit goed soos kralletjies in ryg, goed versier, vliegtuigies vou, strooitjies in die hare steek en so meer. Later na almal moeg is, word vir hulle fliek gewys en op worsbroodjies en koeldrank getrakteer. Die worsbroodjies was ons drie se werk en Peet het 250 stukke wors op die vuur gebraai.  Half 12 sit Petrus, Peet en 3 ander af sokkerveld toe om vir die vuurwerke voor te berei. Dit gaan maar so sukkel – sukkel om die vuurwerke af gevuur te kry, met ’n lastige windjie wat die vlam gereeld dood waai, maar daar word ’n hele klompie afgevuur. Vuurwerke is net vir ’n uur wettig om die nuwe jaar te vier. So 1 uur begin ons alles oral waar ons was opruim en skoonmaak om die bed so teen 2uur te vind (tot 11 uur die oggend). Vella moes ook afgelaai word en dis toe dat ons een van die groot seuns van die camarata buite die sentrum sien. Terug by die sentrum gaan ons toe eers kyk of hy terug is, om te vind dat hy reeds uit is teen 4 uur die middag en nog nie terug was nie.
Hy daag toe eers die Woensdagoggend half sewe by die sentrum op en ons moes toe op die eerste dag van die jaar straf uitdeel. Hy word gehok vir ’n maand en moet skriftelike toestemming kry om vir skoolgoed uit te mag gaan, sy foto is ook vir die sekuriteitswagte by die hek opgeplak.
Die dag is redelik stil, die teëlers het die dag afgevat en die personeel was ook af. Gelukkig werk hulle toe Vrydag. Petrus en Peet sit die waaiers, wat geskenk is, in die kamers op en word getrakteer op ’n middagete in ’n straat-restaurant. Hulle kry varktjops en wors (op ’n vuur gebraai), pap, tamatie en uie, dit was nogal ‘n  heerlike ete.

Saterdagoggend val ons in die pad Jay’s Beach Lodge op Macaneta Eiland toe om vir 3 nagte te gaan kamp. Die verkeer is besonder besig en ons sien baie SA mense wat terugkeer huis toe. By die veerboot is ons so na ‘n halfuur op en oor die rivier. Aan die anderkant het daar so ’n tou van ’n kilometer gestaan van meestal SA mense wat oppad terug huis toe was en ons verneem ook later dat die boot na ons oor is weer gebreek het en vir 2 ure gestaan het. Wat beteken het dat die terugkerendes lank moes wag om oor die rivier te kom. By Jay’s Beach Lodge aangekom boek ons in, gaan parkeer die Kia onder ’n boom by ons kampplek en gaan swem eers in die see, aangesien dit baie warm, met ’n hoë humiditeit is. Oppad terug stop ons by die restuarant vir koeldranke, waar ons die eienaares (Elna) raakloop. By die kampplek aangekom, terwyl ons nog besluit waar ons die tente wil opslaan, stop die eienaares by ons en nooi ons om gou saam met haar te ry. Sy vat ons na een van die chalets toe en bied dit vir ons aan om in te bly sonder enige bykomende koste, haar verklaring is dat Alta te moeg lyk om in ’n tent te slaap. Deur Elna se goedhartigheid hou ons vir 3 nagte gemaklik vakansie by die see. Dankie Elna en ook dank aan ons hemelse Vader vir die seëninge.

Oujaarsaand




Jay's Beach se chalet

See is reguit met hierdie paadjie oor die duin

Woensdag 01 Januarie 2014

23 - 29 Desember 2013

Dit is die week van Kersfees. Sondag is daar geskenke aan almal gegee wat in die kerk was en in die gemeenskap woon. Maandag word daar ook ’n ete gegee vir 100 kinders van Hulene.
Maandag doen ons wat gedoen moet word en kry alles wat nodig is in Komatipoort. Ons arriveer so 1 uur by die grens en gaan vinnig deur SA-kant, in Mosambiek-kant sukkel ons met parkeerplek en die tou is redelik lank maar ons is so na 30 minute deur en oppad. Van die mense wat ons by die grens raakloop sê dit is baie stil by die grens in vergelyking met die vorige jare. Hier in Mosambiek  is die winkels en verkeer net so besig kort voor Kersfees soos in SA.
Dinsdagmiddag bedien ons, sendelinge, die sentrum se personeel met middagete waarna hulle huistoe is, behalwe die wat aandiens is. Dinsdagaand is daar opvoerings en sing ons ‘carols’ in die kerk en daar word afgesluit met ‘carols at candle light’ wat ons laat bontstaan met die kleintjies om te kyk dat hulle nie mekaar aan die brandsteek nie. Dinsdagaand is al die sendelinge uitgenooi na die sentrumbestuuders se huis vir verversings waar elkeen ’n geskenk ontvang.
Woensdagoggend, Kersfees, die sentrum bestuurders gaan van camarata na camarata en wens almal geseënde Kersfees en deel van die geskenke pakkies uit aan die kinders. Ons is weer die laaste op die program. Die kinders raak verveeld met die wag en dis baaaie warm en dit is ’n taak om almal bymekaar te hou. Nadat almal hul geskenke gekry het, eet almal weer in die eetsaal saam. Kersaand het die sendelinge, en die drie besoekers, ’n ete saam waar elkeen iets gemaak het vir die ete. Daarna was dit die geskenk uitruil storie. Dit het so gewerk, elkeen moes ’n geskenk van so R100.00 bring. Ons het elkeen ’n nommer gekry en dan kry elkeen ’n beurt om ’n geskenk te gaan kies. Die reël is, as jy aan een geraak het moet jy daardie geskenk neem en voor almal oopmaak. Jy hoef nie ’n geskenk te vat op die tafel nie, jy kan ook ’n geskenk neem by iemand wat reeds ’n geskenk gevat het, as jy dit graag wil hê. Nadat ’n geskenk vir die derde keer ’n nuwe eienaar het, is dit gevries, dan kan dit nie weer “gesteel” word nie. Daardie persoon kan dan weer ’n geskenk gaan haal by iemand of van die tafel af. Dit veroorsaak nogal snaakse kommentare en aanbiedinge as iemand nie het wat hy wil hê nie, en iemand probeer oorhaal om sy geskenk te “steel”.
Donderdag is ons besig om gereed te maak vir die 8 kinders wat oorskuif na ons camarata, die volgende dag is die groot dag. Die kinders wat oorkom is tog te gretig en bly om ons draai. Ons reël vir 3uur, maar daar daag ’n kerk groep op wat die kinders kom bederf met eetgoed, speelgoed en ’n opvoering en dit skuif alles aan tot na hulle weg is. Hulle is goed bederf deur die groep en kry toe nog springmielies en koeldrank as afskeid voordat hulle oor beweeg na camarata 4. Daar word hulle met ’n handeboog en singery verwelkom en kry nog chippies voordat hulle vir hul ’n bed kan kies. Daarna is dit tyd vir aandete en dis hul eerste ervaring om saam met die ander in die eetsaal te eet. Dit lyk of alles goed verloop en hulle het ’n rustige nag.

Dit is ook Catherine se laaste aand en haar ma-hulle is hier om haar te kom haal en ons braai die aand saam. Saterdagoggend kom groet hulle en ry terug Suid –Afrika toe.

Optreedes Dinsdagaand



Carols by candle light

Uitdeel van presente in dorm


Ete Kersaand

Besoek deur 'n kerk en opvoerings

Skenkings deur die kerk

Intrek van nuwe kinders





Vrydag 27 Desember 2013

16 - 22 Desember 2013

Maandag gaan  hulle verdere werk aan die badkamer soos met pleisterwerk, verskuif die venster en doen van die loodgieterwerk. Dit hou ons besig, ons moet kort- kort daar wees om seker te maak alles word reg gedoen.
Woensdag vroegaand is ons met die bus weg om ‘Home Group’ by oud sendelinge van Iris, wat nou hul eie ding in Matola doen, te gaan hou. Die besoek is ’n jaarlikse instelling om kersliedere te sing en ons word erg bederf met heerlike eetgoed. Ons geniet die aand en besef die verskille tussen nasionaliteite toe ons die liedjies van die verskillende lande sing, waarvan baie vir ons vreemd is.
Ons word gevra om vir die Mosambiekse leiers by die sentrum ’n kersete in die vorm van ’n braai aan te bied Vrydagmiddag. Dus, Donderdag word hoofsaaklik bestee aan die aankope en voorbereiding vir die ete. Saam met alles moes ons die tuin in ’n aanvaarbare toestand kry, want dit is waar die ete voorgesit word. Dit het beteken ons moes die kinders uit die mafuraboom (rooi essenhoutboom) hou, want hulle breek die takke om die vrugte in die hande te kry en met die afspring bly daar dan ook nie veel van die gras oor nie. Vrydag was die braai en alles daarmee saam en die middag vat ons af na alles afgehandel is.
Na die tyd gee ons vir die drie wat gehelp het om die blare van die twee bome op te tel, die tafels en stoele skoon te kry en reg te sit, hulle vleis wat ons vir hulle eenkant gehou het. Dis nogal ’n storie, hulle kon nie wag vir die vleis nie.  Die kombuis het van die kos voorberei en sou dit wat oorgebly het, kom haal.
Teen 16:15 is hulle nog nie hier nie en ons laat die ‘educator’ weet om die dorm te bring om dit te kom eet. Hulle eet elkeen ten minste vyf groot opskeplepels rys.
Chaterine het so ’n maand gelede gevra of sy haar afskeid ook in die tuin kan hou. Sy wil ’n koek en tee piekniek hê. Ons beplan dit en sy sê dat sy van verrassings hou en dat sy nooit dit kry nie. Dus beplan Alta toe vir haar ’n paar dinge om as verrassing te dien. Ons kry ’n boekie en vra almal om vir haar ’n boodskap na ons toe te stuur en stel die boekie saam met allerhande dinge wat by haar herinneringe sal oproep. Sy is baie opgewonde toe sy die boekie kry.
Ons moet Peet gaan haal om by ons te kuier vir die Kerstyd en het beplan om Sondagoggend te ty, maar hoor dis baie besig en besluit toe om dadelik te ry en eerder in die aand te wag as  in die hitte van die dag. Dit is toe heel rustig toe ons by die grens kom en was ons vinnig deur.

Sondag ontstaan daar ‘n brand in ‘n ‘container’ waarin Bybels, skoene(’n skenking van so ’n paar weke terug) en matrasse gebêre word. Die ‘container’ is deel van die grens en die gemeenskap het vuilis teen die ‘container’ aan die brand gesteek, wat die goed binne laat begin smeul het. Die brandweer was driemaal hier om die brand te blus wat telkens weer op gevlam het. En so is daar toe ook vir hulle gebid  en Bybels aan hulle gegee. So word die ramp toe ’n geleentheid om die Woord uit te dra.
Die week wat kom is baie bedrywig en die kleiner seuntjies kom oor na camarata 4 toe. Bid asseblief dat alles glad verloop en dat hulle goed sal aanpas en die groottes hulle sal aanvaar en nie boelie nie.





Maandag 16 Desember 2013

9 - 15 Desember 2013

’n Familielid van een van die sendelinge hier, het foto’s gesien van die vorige Kersetes en het besluit om fondse in te samel om met hierdie Kersete te help. Wat dit so uniek maak, is dat hierdie familielid ’n seun van so 10 jaar is wat kanker het en as gevolg daarvan alreeds sy regterbeen verloor het. Hy het besluit om aan ’n een kilometer padwedloop deel te neem met krukke en die hoop dat hy sal klaar maak en so 300 dollar daarmee in te samel. Hy het klaar gemaak, was nie die laaste oor die lyn nie, en 2000 dollar ingesamel vir die ete.

Maandag trek ons kinders oor na die Bybelskool se dorm, sodat hulle dorm se badkamer oorgedoen kan word. Die kinders vind dit baie avontuurlik en iets om te doen en nuwe terein om te speel. Die volgende oggend is daar begin met afbreek en uitslaan van mure, nuwe deuropeninge ens. En teen 12:00 was hulle klaar daarmee en het hulle al begin met die bou van die mure waar dit moet kom. Dit lyk of die terug trek nog voor Kersfees sal wees.

Daar is tans net SA besoekers hier en hulle is in verskillende groepe hier, dis besonders. Ons nooi hulle uit vir ’n bring-en-braai by ons Saterdagaand. Hulle is so 8 en 5 is pas gegraduere dokters of besig met mediese studies. Dit het die gevolg gehad dat daar redelik medies gesels is en party van die nie-mediese groep het met tye erg gebloos oor dit wat bespreek is. Een wat nou net klaar gemaak het, het onomwonde verklaar, dat as daar na die menslike liggaam gekyk word en die ingewikkelde werking van elke deeltjie van die liggaam, moet daar ’n God wees wat die mens geskep het en kon nie deur ’n ‘big bang’ tot stand gekom het nie. Hy het verder sy stelling verdedig, dat wetenskaplikes kon selle soortgelyk aan menslike selle skep, maar kon nie dit lewe gee nie.
Wel, ons het tot laat lekker gekuier (dis nou vir ons twee). Hulle was baie dankbaar en het ook vir ons gebid voor hulle terug is na hulle kamers.

Hier oor die Kerstyd gaan baie kinders na hulle families toe of na vriende wat hulle uitnooi, wat nogal ’n hoogtepunt vir hulle is. Ons het ’n lys gekry van wie mag uitgaan, na wie toe en wie nie. Die wie nie mag uit gaan nie, is die wie geen familie of vriende het nie, voorheen mishandel is of mediese behandeling ontvang. So het ons seun wat kanker het en behandeling kry, se ouma skielik na 2 jaar opgedaag en wou hom vir ’n tydlank saamneem. Ons kon hom egter nie laat gaan nie, weens sy behandeling en om te voorkomend dat hy infeksies kan optel by ander, sy ouma is reeds ook siek. Hoewel die leiers aan hom verduidelik het wat die situasie is, is hy nie vir hulle kwaad nie, maar vir Alta en die verpleegster. Sy hart was baie seer dat hy nie kon gaan nie, hy het baie daarna uitgesien en ons was saam met hom hartseer.

Bid asseblief vir die glad verloop van die reëlings en die inskakeling en aanpassing van die jonger seuntjies wat net na Kersfees deel word van Camerata 4.

Bid asseblief ook vir die kinders se hartseer en gemis aan ’n familie wat omgee en wys dat hul omgee.


Die kuier Saterdagaand



Die badkamer
Wanneer daar nie 'n trapleer naby is nie.

Dinsdag 10 Desember 2013

2 - 8 Desember 2013

Maandagmiddag heet ons die nuwe missionaries welkom wat Donderdagaand gekom het. Dis ’n gesin en die dogter van die base wat vir ’n jaar gekom het. Sy is ’n verpleegster en hulle het 2 dogtertjies.
Dis ’n koel reënirige week, veral in die nagte reën dit en dan slaap mens baie lekker.
Almal is bedrywig met die regmaak van die Kersgeskenke vir die kinders en ander voorbereidings daar rondom.
Woensdagaand se Home Group is ‘n ‘worship’-aand met mense wat vantevore hier was, en waarvan ons baie hoor, maar nog nie ontmoet het nie. Hulle bly nog in Mosambiek en doen opleiding met mense in verskillende rigtings en die man is  ook die bestuurder van ‘n ‘cashew nut’ fabriek hier.
Donderdag het ons vergadering, die camarata se badkamer moet opgegradeer word en die koste moet bereken word en die kontrakteurs kom kyk wat alles gedoen moet word sodat hulle kwotasies kan gee. Ons ry later deur Marloth toe en kom Maandag terug.
Ons het behoefte vir ’n paar gebede:
·        Ons kry klein seuntjies 27 Desember, vanaf ’n ander camarata, bid asseblief dat hulle opgewonde oor die verskuiwing sal wees en dat dit glad sal verloop en die groot seuns hulle oor die kleiner seuns sal ontferm.
·        Dat die badkamer veranderinge sal deurgaan soos beplan, dis regtig baie nodig. Dat die kwotasies billik sal wees en dat dit afgehandel sal wees voordat die klein seuntjies hul intrek moet neem. (Die ou teëls val oral af en die toilette het vervanging nodig. Daarby wil die Sosiale dienste hê dat die ‘educator en tia (skoonmaker) hul eie badkamer moet hê.)
·        Bid asb ook dat ons geduld sal hê met die kinders (die vakansie is nog 7 weke lank voordat hulle skole weer begin)

·        Dat ons Portugees sal verbeter sodat hulle ons en ons hulle beter sal verstaan.

Sondag 01 Desember 2013

25 November – 1 Desember 2013

Die kinders is nou al ’n maand met vakansie en hou hul besig met karretjies maak uit bottelproppies, draad en riet (keniso), speel hopscotch as die sand nat is en albasters. Verder eet hulle groen mangos en die Mafura-vruggies (Rooi Essenhout) begin ryp word en nou soek hulle gedurig suiker om die te eet. Saam met dit val een van die kinders uit die Mafura boom in ons tuin. Die beskerm-engeltjies werk hard en hy kom niks oor nie.
Om hulle besig te hou word daar uitstappies gereël so 1 keer ‘n week en vasvrae gehou en toe wen Camarata 4 die Bybelvasvra Woensdagmiddag. Ons is heel trots op hulle, gewoonlik is hulle net in die moeilikheid.
Home Group is Woensdagaand by ons, die sendelinge is uitgedun, maar ons het die afgelopetyd ’n nuwe inwoner in die huis wat elke aand huis toe kom, ’n rot. Wat toe ook Home Group kom besoek. Hy is baie gesondheidsbewus, deur ons mango’s, papaja en tamaties te eet. Woensdagaand met afsluiting lees Petrus ’n gebed voor en waar die gebed sê “We are feeble in heart, but with You there are help” gil Catherine, wie se oë nie toe was nie, toe die rot verby haar hardloop die kamer in. Na almal weer tot ruste kom gaan Petrus voort met die gebed wat met die volgende woorde aangaan “we are restless, but with You there is peace”, noodeloos om te sê almal het weer geskater. Dit het ’n rukkie gevat voor ons die gebed kon afhandel.  
Donderdag begin dit reën en dis nogal koelerig. Hier is ’n besoeker wat Vrydag terug is huistoe in Switserland en behalwe dat sy reeds koud kry met die koeler weer hier, sy sê die temperatuur verskil is tans 40° tussen hier en Switserland, sy gaan ’n bietjie sukkel om weer in Switserland aan te pas.
Sondag vra ’n Mosambiekse vrou om voor in die kerk te sing uit dankbaarheid, want haar man sou op die vliegtuig, wat Vrydag in Namibie geval het, gewees het, maar daar het iets voorgeval en hy het toe nie gevlieg nie.

Alta het toe toegegee om die toesig oor die naaldwerk-afdeling oor te neem en staan nou die babatjies en biblioteek af.

Sondag 24 November 2013

18 – 24 November 2013

Sondagaand het Alta gou gaan kyk dat alles reg is vir die nag by die babas en terwyl  sy nog daar is kom daar ’n nuwe baba aan. Dis ’n noodgeval, die ma is in die hospitaal, omdat die pa haar geslaan het, nadat sy hom gekonfronteer het omdat hy met ’n ouer kind van hulle gelol het en hy is nou in die tronk. Later in die week hoor ons dat die ma se duim geamputeer moes word en ’n week later is die baba nog steeds hier.
Die verkiesing verloop so ver ons weet rustig en kalm, ons het weg gebly uit die strate, maar het ook niks gehoor nie.
Die kinders hou ons besig. Een het gevra dat hy ‘n matjie vir voor die bed wil hê en Alta sê  dan moet hy dit self maak. Alta doen die lappies se sny werk en die tia’s doen op die ou end meeste van die werk. In die week sien ons dat van die ander tia’s ook saam sit en lappies knoop aan die matjies. Almal wil nou matjies maak en gaan vra by die kombuis vir uie sakkies om dit te kan doen. Alta vra  afval lappies by die naaldwerkkamer.
Donderdag word ons gevra vir ’n vergadering by die bestuurders. Petrus se goed word bespreek en Alta se take en die camerada. Daar gaan gekyk word om die badkamer van die camerada oor te doen voor ons die nuwe seuntjies op 27 Desember kry. En Alta word gevra om te kyk of sy kans sien om toesig oor te hou in die naaldwerkkamer. Dit lyk nie of dit net ’n vinnige half uur ’n dag gaan behels nie, veral aan die begin sal dit meer tyd neem tot dat  ons seker is, wat en hoe alles werk. Sy sal een van haar ander huidige pligte moet afstaan en hier lê die moeilike besluit.
Ons het belowe om meer van Kenssane te vertel. Kenssane het Woendag 2 jaar oud geword. Almal is so dankbaar dat sy wel so goed gevorder het, selfs die operasie letsel is amper nie meer sigbaar nie. Sy het by die sentrum gekom as ’n klein babatjie wat ’n hart kwaal het en is boonop ’n Down Sindroom-kindjie. Sy was stadig met ontwilleling en het nie die vermoë gehad om haar tempratuur te beheer nie. Die mediese dienste het gesê sy moet 6kg weeg voordat hulle haar kan opereer vir haar hart probleem en dit het ongeveer 15 maande geneem om haar daar te kry. Met baie moeite en spesiale diëte het sy uiteindelik daar gekom en is die goedkeuring gekry. Die hart-hospitaal sal die operasie gratis doen, dit het toe 26 Junie gebeur. Onthou jul nog die bloedskenkingstorie,  nou dit was vir haar. Sy het pragtig gevorder na die operasies en is ook so ’n maand of wat gelede oorgeplaas na die Babahuis. Alta het haar een middag die week saamgevat om in die ‘nuresry’ te gaan kuier. Die tia’s was verstom, en het haar bekyk soos ’n mens ’n pas gebore baba bekyk, want sy het nou vet wangetjies en haar maer beentjies het nou kuite, sy lag en gesels en klap handjies, gee drukkies en soentjies vir die tia’s en geniet die bekende speelgoed en bekyk die nuwe babas as of sy vir hulle iets wil sê. Sy is ’n voorbeeld van baie verhoorde gebede vir haar sedert sy hieraan gekom het vir die eerste keer. Mens staan elke keer verwonderd oor haar vordering sedert die operasie, ook hiervoor was daar baie gebede wat nogmaals verhoor is.

Ons gaan nog kleiner seuns in die dorm kry, 27 Desember is beplande datum. Ons vra asseblief dat julle sal bid vir die oorgang, dat alles goed sal verloop, dat hulle gou sal aanpas en dat die ander kinders in die camerada hulle sal aanvaar en baie mooi met hulle sal werk. Ook dat ons en die tia’s en ‘educators’ die geduld en wysheid sal kry om hulle reg te hanteer.