Hierdie week is daar nie baie oor die sendingstasie nie, dit gaan meer oor
die kinders se kuier en dinge wat ons van Mosambiek gesien het.
Dit was ’n lekker bedrywige week, met die kinders en kleinkinders wat kom
kuier het, saam met alles waarvoor ons hier ook verantwoordelik is. Maandag het
die gewone gang gegaan, skoonseun se rekenaarkennis is gebruik met probleme, en
Dinsdag is ons met die bus dorp toe, wat die kleinkinders baie geniet het.
Woensdagaand is die kinders saam “home group” toe en almal het die kleinkinders
“adore”. Hulle oë het groot gerek, wanneer hulle met die oudste een praat en sy
hul in Afrikaans geantwoord het.
O ja. Die seuns het hulle nogal gedra met die kinders hier, ons het vir
hulle klei gemaak en die het hulle nogal goed besig gehou, maar om eierdoppe,
lensies en rys te plak met kouelym, was net bo-kant hul vuurmaakplek.
Donderdag was ons Macaneta-eiland toe. Dis nou by die see, so 30km noord
vanaf Zimpeto, om daar te kom, moes ons met kar en al tot op die veerboot ry om
oor die rivier te kom. Dit is ’n eiland omdat die Nkomatirivier hierdie
gedeelte heeltemal afsonder van die res van die vatseland. Aan die anderkant
het ons, op ’n hobbelrige geboude pad tussen moerasse deur gery. Naby die see
het ons deur die sand geploeg na verskillende vakansie-oorde. Hulle is lekker
duur maar die fasiliteite is goed. ‘n Hamburger by een van die plekke kos R100
en ’n blikkie Coke R20. By die oord Tan’n Bietjie het ons eenkant geparkeer en ’n
ruk op die strand deurgebring, waar die kinders in die vlakwater gespeel het.
Dit is interresant dat daar nie naastenby die golwe is wat ons langs die Suid
Afrikaanse kus kry nie, daar is so kleinerige twee golwe op ’n slag.
Daar het ons gesien hoe hulle visvang. Hulle stuur sulke klein skuite met
nette see in en dan trek hul die nette van die land af in. Die nette het lang
toue aan wat van die land af ingetrek word deur ’n groepie van so 17, jong mans
en vroue, party met babas op die rug in ‘n “kapalana”. Die toue word sorgvuldig
opgerol soos hul vorder en as jou tou op
is, hol jy see toe en begin weer vandaar af trek. Wanneer die net eindelik op
die strand is begin die uitsorteer en vissies uit die net gehaal waar hul vas
sit, party gooi dit wat hul nie gebruik nie net daar neer, maar ander gooi darem
verder dat die golwe hul weer in vat see toe. Oral op die strand lê hopies
jellievisse en klein vissies wat hul blykbaar nie eet nie en die wat reeds dood
in die net was. En hier is nie eers seemeeue nie, het op die hele gebied net 2
gesien. (’n Kapalana is so ‘n 2 meter stuk lap met redelik kenmerkende patrone,
wat die vroue om hul heupe dra of baba’s in dra of ook as kopdoeke. Dit word
ook vir skadu gebruik, mens sien dit ook by straatverkopers waar dit as
beskutting van son en wind gebruik word.)
Onder is foto's en wat ons nie vooraf vertel is nie, is dat die veerboot gereeld breek en as jy op die eiland is gaan jy vir 3-4 dae daar moet wag tot die veerboot weer herstel is.
Veerboot |
Op die veerboot |
Strand met vissersnet in die voorgrond |
Vissers |
Vissers wat 'n net uittrek |
Die golwe |
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking