Die week verloop op normaal as daar so iets is. Woensdagaand se ‘Home
Group’ was hier by ons. Een van die ouens hier se pa het kom kuier en hy is ‘n
‘pastor’ in Engeland, hy het Sondag gepreek en ook die ‘preek’ of leer gedeelte
by ‘Home Group’ gehanteer. Moet sê dit was baie gaaf, bedoelende vir ons om aan
te hoor. Sy preek die Sondag het meer om die lyf gehad as wat ons meestal hier
kry. Woensdagaand het hy ons herhinner om te onthou waarom ons hier is en nie
in die daagliks dinge verstrengel te raak nie, maar om gereeld terug te kyk en
te onthou wat ons roeping is.
Ouma was Donderdagmiddag weer saam op Hospitaalbesoek, hul was na die
ortopediese saal, waar almal omtrent skouer operasies gehad het. Daar was ook
heel party mense met brandwonde.
Ouma vertel dat die suster, 2 verpleegsters en iemand wat medisyne
uitgedeel het gestaan en kyk het hoe een pasiënt, wie se een been en
teenoorgestelde hand ge-opereer was, op sy boude aan gesukkel het toilet toe en
dat niemand hom kom help het of ’n rolstoel gebring het nie. Sy sê dat dit
ontstellend was om te sien.
Hier was hierdie
week so 12 besoekers van ’n groep van Potchefstroom, wat ’n jaar vir Chrustus
doen, Koreane van Amerika,’n meisie van Duitsland en ’n Portugees wat in Londen
bly en in Suid-Afrika gewoon het tot hy 13 jaar oud was.( Dis nogal snaaks, hy
koop alles wat hy as kind in Suid-Afrika geken het, maar nie in Londen kan kry
nie. So waardeer jul Eet-Sum-More, Romary Creams, NikNaks ens.)
Vrydagaand is ons saam na ’n Gospel-konsert, Som de Ceu (songs of heaven), van Daniel Alencar. Hy is ’n sanger van Brasilië. Dit was gratis en hulle het
opnames gemaak vir DVD en CD. Altwee die busse met 30
sitplekke elk, is hier weg stad toe na die Teatre Scala. Met die vertrek, terwyl ons in
die bus sit en wag dat almal inklim, kom ons agter hier is ’n groot stryery aan
die gang, dis toe een van die weduwees wat hier bly, wat saam wil gaan, met ’n
groot blou emmer, en nie een van die bestuurders wil haar in sy bus laat ry
nie, want sy word karsiek. Sy moes toe maar agter bly, met emmer en al!
Die teater moes
’n baie mooi plek gewees het, maar is soos meeste van die ou geboue afgeleef en
het dringend herstel werk nodig. Dit lyk of die dak lek, daar is oral kolle en
gate in die plafon, die sitplekke is nog met leer oorgetrek en kan doen met ’n
goeie opstop. Wanneer die gehoor opgesweep word en begin spring beweeg die hele
houtvloer onder ons afgesien van die vibrasie van die musiek, Alta het gebid
dat die vloer moet hou, want as dit padgee onder ons, hoe ver gaan ons val? Die
verhoog was met swart doeke getooi met droë takke waarop hulle fokus-ligte
gegooi het en hulle het die ligte met verskillende kleure afgewissel. Dit het
mooi gelyk en mens die gehawendheid van die saal laat miskyk. Hulle het ons
kort-kort verblind (spreiligte) om skote van die gehoor te neem (as julle sy nuwe DVD koop sal julle ons dalk
daarop sien, dis die twee wat in die middel oopbek staan en die gedoente
gadeslaan). Ja, jul sal ook
sê, jul kan dit nie glo nie, ons gaan na ’n blêrende konsert waarvan ons nie ’n
woord verstaan nie! Is nogal vir ons ook snaaks, maar nou ja, ons was daar en
dit was ’n interessante aand uit. Daar was ook Mosambiekers wat tussenin gesing
het om die ander ’n ruskans te gee. Hulle het in Shangaan gesing en die woorde
in Portugees en Engels op die skerm gegooi. In een lied het hulle van een reël
’n hele liedjie gemaak deur dit te herhaal en te herhaal, ’n tweede het net
twee reëls gehad. Dit laat ons besef hoe
min ons in SA van die ander kulture weet, ek onthou dat hulle musiek altyd vir
my eentonig geklink het, maar ons nooit werklik die kontak gehad het, soos wat
ons nou met die Shangaan kultuur hier het nie.
Daniel Alencar het ook ’n getuienis oor wat die Here gedoen het met die
swangerskap en geboorte van hulle kind, sy is nou so amper 2 jaar oud. Dit was alles in Portugees en Pastoor Nico
het in die bus oppad terug vir ons die storie vertel, so dit is tweedehands.
Toe Daniel se vrou 6 maande swanger was het die
dokters hulle meegedeel dat haar lewe ingevaar is en dat hulle die baba moet
verwyder om die vrou se lewe te red. Hulle het die Here in gebed gevra wat om
te doen en ook baie mense via sms en internet gevra om saam te bid. Die
baba is toe op 6 maande gebore. Terwyl
die baba in die broeikas was met asemhalings probleme het sy een keer al hoe
moeliker begin asemhaal, hulle het weer dringend versoeke uitgestuur vir gebed
dat sy weer moes begin sterker asemhaal. Dit het gebeur maar sy kon nie alleen
asemhaal nie, daar is weer gebid dat sy moes begin om alleen asem te haal en
dat daar nie breinskade moet wees nie. Een dag het die alarms afgegaan en almal
het gedink sy is dood, maar toe hulle by haar kom was die suurstofpype uit haar
neus en het sy op haar eie asem gehaal. Sy was 2 maande in die hospitaal en
hulle sê daar is geen breinskade nie.
Met die terug kom
is dit so tienuur die aand, en kon ons nie glo hoeveel mense nog opstraat was wat
wag vir Taxi’s nie. Daar is tot nog stalletjies langs die pad oop. Mens kom tot
nog brood kry by ‘Bread corner’.
Saterdag was ’n
rustige dag en party van die seuns was al vroeg hier en het rustig gespeel. Ons
moes hul later wegstuur en die hek sluit, sodat ons ’n middagslappie kon
probeer in pas, Dit het toe nie gewerk nie, want die groter seuns het besluit
om sokker in die pad tussen die huis en skool te speel. Saterdagaand het ons ’n
‘prayer and worship’ by die ‘prayer room’ gehad (die’prayer room’ is deel van
ons huis, maar darem afgeskort met ’n eie ingang) Dit was hoofsaaklik die
besoekers (westerlinge) wat teenwoordig was, daar was drie kitare en ’n drom en
elkeen kon sing, bid, in- en uitgaan soos hulle wou. Wat steeds vir ons opval
(ook wanneer net die sengelinge alleen saam worship) en nog moeilik gesluk word,
is die enkele frases van ’n lied wat oor en oor, tot 10 keer, herhaal word. Ook
die manier waarop die ‘worship’ liedere gesing word, is nie vrolik en prysend
nie, dit is eerder klaagliederig, al is die woorde vrolik. So julle Doppers
moet nie klaag oor verandering en aanpassing nie. Ons geniet dit steeds en is
oop vir die aanpassings, solank dit wat hoofsake is, skiftuurlik regverdig kan
word.(dankie Francois vir jou opvoeding om die onderskeid te kan maak.)
Sondag was ook
rustig, Catherine het Saterdag ’n hele hoender gaargemaak, wat op die ou einde
te veel was en nie vir haar lekker genoeg gesmaak het nie. Sy het dit
Sondag-middag gebring en ons het dit bietjie opgekikker en saam met haar ge-eet.
Ons het die seuns Sondagaand gaan haal om DVD by ons te kyk wat vir hulle spesiaal is.
Ons kom net agter dat die taal ’n probleem is omdat ons nie behoorlik met hulle
kan kommunikeer nie, maar ons werk daaraan net die die brein kan nie meer so
lekker memoriseer nie.
Foto's
Die verhoog gedurende die optrede |
Die spannetjie baba's waar Alta betrokke is |
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking