Saterdag 19 Desember 2015

November 2015

Die kinders skryf eksamen of toetse soos hulle dit noem, in een klas kry die kinders skielik goeie punte en na een dorm parent so ‘n bietjie uitvra kom dit uit dat die onderwyser die antwoorde op die bord geskryf het, wat nie teveel vir een van ons seuns gehelp het nie, hy het steeds 3 uit 20 gekry. Joe is ongelukkig, want hy het ‘n ooreenkoms met sy kinders dat wanneer hulle goeie punte kry vir ‘n vak gee hy hulle ‘n koeldrank, brood en ‘n ‘pajea’, en hy moes skielik baie koop. Interresant is dat alle toetse uit 20 tel tot by die Bybelskool met die verklaring dat niemand kan persentasie uitwerk nie, daarom kan toetse nie 30 of enige ander punt wees nie.

Die eerste dag  van vakansie en die kinders het reeds begin baklei. Ons probeer om ons laaste dag of twee nie te raas as hul stout is nie.

Een oggend is daar probleme, een van die sekuriteitshonde het glo ‘n kind gebyt en so erg dat ‘n stuk van sy lip afgeskeur is. Die waarheid wat later bepaal is, is dat die seun wat kos vir die honde aandra maar nie naby hulle mag kom nie, oor ‘n muur geklim het in ‘n lee hok in, om te sien wat die oppasser maak en het sodoende te naby aan die honde gekom en een het hom met sy pootnael deur die draad aan sy lip gehak. Die wond was nie naby so erg nie slegs een steek was nodig om die sny in die lip te heg.

Ons laaste week bestaan uit pak, huis skoonmaak en afskeidsfunsies. Woensdagaand se afskeid saam met die sendelinge is besonder want die dormseuns en ‘n groep van die meisies met wie Alta kontak gehad het by die naaldwerkkamer, is teenwoordig. Die seuns sing, een lees ‘n groeteboodskap en die meisies lewer ‘n dans item. Onder is die seuns se singitem wat Donderdagaand weer in die kerk herhaal is na daar vir ons gebid is. Vrydagmiddag het ons ‘n afskeidsbraai saam met die Onderhoud- en Vervoer-afdelings waar Petrus betrokke was, se personeel en 3 ure later braai ons weer saam met Joe vir oulaas op ‘n Vrydagaand. Joe, ‘n  Wes-Transvaalse boer, het elke Vrydagaand ‘n bring en braai vir die sendelinge wat daar is en die besoekers, so maak hy seker dat ons Suid Afrikaanse ‘braai’ nie as BBQ die wêreld ingestuur word.

Saterdagoggend net na 8 uur, groet ons die kinders, ons gee klappers (coconut) wat twee moet deel. Alles gaan goed tot een van die seuns begin huil, die nagevolg, al die vrouens en toesighouer is in trane. Later kom ons agter een van die seuns is nie daar nie, daar word orals gesoek maar niemand kry hom nie. Terugvoer die volgende dag is dat die een wat gehuil het die middag gelukkig op die speelgrond rond was, die verlore een was stil gewees. Die vermoede was dat hy nie kans gesien het om te groet nie.

En so kom ons werk by Iris Zimpeto ten einde. 

 

 

 

Maandag 16 November 2015

September / Oktober 2015

Vir die wat nog nie weet nie, ons pad eindig einde November 2015 hier by Zimpeto en volgende jaar gaan ons na ‘n Bybelskool toe in die Wes-Kaap. Daar word gepak en goed word terug gery huis toe, kinders se Kersfees presente word reg gekry en huis uitgesorteer met alles wat oor die amper 3 jaar opgegaar is.

Daar is begin met kleingroepe hier op die basis. Daar is baie sendelinge weg vir ‘n kuier by die huis en ons word gevra om een groep te lei tot die permanente groepleiers terug is. By die eerste byeenkoms was worship ‘n belewenis, het nog nie so iets by ‘n kleingroep belewe nie.

Soos voorheen vertel woon ons ook ‘n selgroep in die stad by wat onder die Lewende Gemeente Maputo val. Die groepleiers bly op die 13de verdieping waar ons bymekaar kom. Daar is 3 hysbakke, kan nie onthou dat ons al ooit aldrie gelyk  in ‘n werkend toestand gekry het nie, maar hierdie keer wou nie een ons vervoer nie. So ons is met die trappe op 13de vloer toe, dit het ‘n rukkie geneem maar ons het dit gemaak sonder om te hard te blaas of styf te wees die volgende dag, dit moet ons daaglikse stappery hier op die sand wees wat ons fiks genoeg gemaak het. Die terugtog was 2 verdiepings se trappe en ander werkende hysbakke in ‘n ander vleuel van die gebou waarvan ons nie geweet het nie.

Na baie gesukkel word die kinders nou Donderdagaande met die kerkdiens meer betrek en so gebeur dit dat ‘n seun van so 12 een aand die diens lei en ook sy getuienis met ons deel. Hy vertel hoe sleg hulle by die huis deur hulle stiefma behandel is en sodoende hier beland het en Jesus hier gevind het. Dit laat mens weer perspektief kry hoekom jy hier is, oor tyd en met baie frustrasies en probleme begin mens moedeloos word.
Daar is ‘n toename in longontsteking onder die kinders wat maar seker aan die oorgang van seisoen toegeskryf kan word. Ons cam het al 4 gevalle gehad in 6 weke se tyd.


Die kinders word al moeiliker om te beheer en ons kan nie agterkom of dit is omdat ons weggaan nie en of dit maar nou net is dat hulle moeg is aan die einde van die skool jaar nie. 

Saterdag 19 September 2015

Julie en Augustus 2015

Daar word tans ‘n probleem ondervind met ‘n tekort aan huisvesting vir sendelinge, veral vir getroude pare wat aan die toeneem is. Die gebou waarin in huis is, is heringedeel sodat daar nou 3 pare in kan woon en wat meegebring het dat ons twee kamers afgestaan het. Dis is nie ‘n probleem nie, ons moet net weer van opgehoopde rommel ontslae raak en vir die res pakplek soek.

Een van ons eerste seuns nou so 11 jaar is die kleinste in die groep (‘n meter hoog en 30kg) maar die vinnigste om sy vuiste te gebruik, het een oggend by die skool buite die klas met sy maatjies gespeel want die onderwyseres was nie in die klas nie. ‘n Ander onderwyser wat verby gestap het, het hulle glo aangesê om in die klas in te gaan (dis wat vir ons vertel is, maar nie so seker dit was al nie). Die knaap het losgetrek en die onderwyser met die vuis bygekom en daarna met ‘n besemstok. Einde was die onderwyser het by die kliniek geëindig en die knaap vir ‘n week op sy bed en geen snoepgoed vir ‘n paar dae.
Een van die groot seuns vra om gedurende die skoolvakansie vir ‘n week te gaan kuier, hy word 2 dae toegestaan maar kom eers 7 dae later terug waarna hy baie kwaad is om hy tot Februrie volgende jaar gehok is.
Wat ook met hierdie episode uitgekom het, is dat die kinders nie weet dat daar ‘n rekord van elkeen bygehou word en dat alles oor hulle in dit bygehou word nie. Hulle weier om dit te glo en sê ons jok vir hulle.
Dan is daar ook die tieners (seuns en meisies) met hulle hormone wat graag saam wil kuier en nie mag nie. So was een van ons seuns in die moeilikheid daaroor.   

Na trotsering van Bloemfontein se minus temperature en ook Guateng se koue kon ons nie wag om na 3 weke weer Marloth en Mosambiek na se hitte te voel nie.

Ons arriveer terug van SA na ‘n maand se kuier by die kleinkinders (en ook kinders) vroeg Augustus en loop ons vas in ‘n muskietplaag, honderde van hulle. Enigste antwoord was die echo vriendelike elektriese-raket, dit het ons voorarm en rughand goeie oefening gegee, maar ons het gewen en die huis is amper muskietloos.

Die kinders word so 2 keer ‘n maand, meestal minder, met die bus uit die sentrum geneem meestal strand toe. Ons verneem met die tyd dat die ander dorms soms ook na ‘n rivier toe geneem word. Toe dit weer ons groep se beurt is om uit te gaan vra ons om ook rivier toe te gaan. Dis ‘n belewenis vir die kinders. Ons eindig toe op by Maccanetta waar die ferry is. Dis ‘n Saterdag-middag en in die area waar die ferry vasgemeer word is vol voertuie en mense. Die ongelooflike is dat die bus-bestuurder daar inry met die bus en toe nog parkeer plek tussen al die voertuie soek. Ons klim af en bekyk die wȇreld saam met die kinders, daar is baie dinge aan die gang. Hulle is besig om ‘n brug oor die rivier te bou en die ferry is vol en trek weg na die oorkant, alles dinge wat die kinders nog nooit beleef het nie. Ons verduidelik wat alles gebeur en wys hulle ook waar die plaaslike mense visvang, meestal met ‘n gewone stok of riet en ‘n stuk vislyn.
So kom ek toe nou agter dat die kinders regtig nie verstaan het wat hulle gesien het nie, wat nog te sê van die brugkonstruksie wat ons probeer verduidelik het. In die programme wat ons doen leer ons hul van die aarde, kontinente, oseane, riviere ens. En dis nou hier wat hul geen begrip het van ‘n rivier nie en dit nadat ons by ‘n rivier met hulle was nie. Water is deel van die oseaan, nie van riviere en mere nie! Kry net nie die begrip oorgedra nie.


 

 

 



Een Sondag word ons deur ons selgroepleiers genooi om gebraaide hoender op Maputo se stand te gaan eet. Dit is ‘n unieke ondervinding van Mosambiek. Jy kan kies of jy ‘n heel hoender of halwe een wil hê. Dit word langs jou agter ‘n skerm op ‘n rooster gebraai en dan saam met slaai en slap-chips voor gesit. Voor jy begin eet, bring hulle vir jou water waarmee jy jou hande was en daarna val jy weg met jou hande en eet die hoender wat baie lekker voorberei was. Ons elk het‘n halwe hoender gehad en moes ‘n groot deel huis toe vat vir later. (Met dank aan Hendrik en Kittie)



Saterdag 20 Junie 2015

19 Januarie – 30 Junie 2015

Ons het ‘n bietjie lui geword om te skryf maar ons is oor die vingers geraps, so hier gaan ons weer.

Januarie tot Maart was erg warm met hoë humiditeit. Ons het agter gekom dat dit moeilik is om ‘n voldag se hande-arbeid te kan handhaaf met die hoë temprature, dit voel soms ons het sleg geword. Verder wil dit nou voorkom of ons geklimatiseer het, want nou hier in Junie met temperature van 21° -24°C kry ons koud en soek ‘n warmding en kombers op die bed. Alta se neus wat altyd eers so by 16°C koud geword het in Middelburg, word nou al by 24°C koud in Maputo.
  
Met die 27 kinders gaan dit goed, kinderdag 1 Junie was groot pret vir die kinders, met sport by die skool en by die sentrum klere en presente. Dit was ‘n suksesvolle dag en met die ondersteuning van die Lewende Gemeente Maputo, wat 31 Mei ons groepie kinders bederf het met geskenke en eetgoed was dit nog ‘n groter ervaring vir die kinders. Hulle het ook vir elke kind ‘n sokkerbal gegee, wat die ‘educator’ mal gemaak het met die geraas wanneer elkeen sy bal in die camarata gehop het, dit gaan nou rustiger met die balle behalwe dat ons nou elke dag so 2-4 balle moet stywer pomp.


Saam met die al geskenke wat hulle gekry het, het hulle ook ‘n fiets vir die camarata gekry. Ons moet nou 23 seuns leer fiets ry en die plek daarvoor is ook nou nie volop waar daar met ‘n fiets gery kan word nie, as gevolg van die natuurlike sandput waarin ons bly. Wees verseker dit is makliker om jou eie 3 kinders te leer fiets ry as 23 energieke seuntjies wat glo dit is net op klim en trap en dan ontdek dit werk nie so maklik nie. So daar is begin met ‘n middag na badtyd vir 1 kamer op ‘n slag. Ons ontdekking is dat uit die hele span is daar net 1 wat kan onafhanklik ry en ‘n groot aantal het geen voetkoördinasie nie, hulle trap met een voet tot onder en in plaas daarvan oor te beweeg met die ander voet om met die te kan trap, trap hulle agter toe. Selfs met die balanseer wiellietjies kan hulle nie regop bly nie, met die gevolg dat die trappe en wiellietjies afgehaal is en nou moet hulle die fiets met hulle voete stoot en leer om te balanseer.
            Gebed: Ons se dankie vir talle skenkings en bydraes om die dag vir die kinders besonders te maak.




Daar is in die verlede min ag geslaan op huiswerk, maar hierdie jaar is besluit dat die kinders beter beheer moet word en ag gegee moet word aan hul huiswerkopdragte. Daar was nogal teenstand uit die meesonverwagte oorde. Die persepsie het posgevat dat die sentrum se kinders nie huiswerk hoef te doen nie, by die kinders en die ‘educators’. Dit het inspanning en motiveering gekos om almal sover te kry om saam te werk, maar dit gaan al beter en die kinders se toets uitslae lyk alreeds beter as in die verlede.
            Gebed: Ons is dankbaar vir die vordering wat gemaak is. Vir die onderwysers en ‘educators’ se samewerking en bid dat die kinders besonder goed sal vorder in die skool.


Die kinders het nou te veel geword om elkeen ‘n afsonderlike verjaarsdag-patytjie te hou en gevolglik word daar nou eenmaal per maand een groot partytjie gehou vir almal wat die maand verjaar. Hulle kry pasta en ‘n hoenderige sous en is baie opgewonde oor die vooruitsig en gewoonlik gebeur die etery net na middagete gehad het. Ons probeer ook om vir hulle ‘n koek te gee, dis baie belangrik by enige feesgeleentheid hier, as die stowe werk!


 Daar is ‘n 5 aan ‘n kant sokkerbaan vir die kinders gebou en is op 30 April geopen met ‘n wedstryd tussen die sendelingmans (met dieselfde aantal groot seuns van die sentrum, om ons af te los) teen die werkers. Ons onfikse klomp sendelinge het so 3 minute gespeel dat weer afgelos vir dubbel die tyd waarna ons weer so 3 minute gespeel het en ons was ook in die moeilikheid dat ons nie altyd net 5 op die baan was nie. Ons het gewen 1 – 0. Baie trots op ons self.


Ons het ook by ‘n selgroep van die Lewende Gemeente ingeval en kom elke Dinsdag in Maputo by Hendrik en Kitty by een. Dis besonders om so ‘n saam groei en leer geleentheid in ‘n vreemde land in Afrikaans te kan hȇ, selfs al praat ons soms Engels en lees uit ons Engelse Bybels. Ons is nou 8 Suid-Afrikaners op die basis en 5 van ons woon die groep by.
            Gebed: Dankbaarheid vir die voorreg om in vrede en veiligheid bymekaar te kan kom, vir elkeen se bydrae in die land en vir elkeen in die groep se persoonlike omstandighede.

Ons is nou 8 Suid Afrikaners hier, 3 getroude pare en 2 enkelopendes (die meerderheid onder die sendeling nationaliteite). Die een enkelopende is ‘n gewese boer van die Wes-Transvaal en van dag een af was hy in die moeilikheid by ‘n ouer enkellopende vroulike sendelinge tot groot plesier vir ons ander Suid Afrikaners (ons het iets om hom mee te terg in Afrikaans en net ons verstaan dit). Dit het weer sterk na vore gekom hoe moeilik dit kan raak tussen mense met verskillende persoonlikhede in ‘n klein gemeenskap om saam te leef.


‘n Egpaar van Engeland oor wie ons al geskryf het en met wie ons goeie vriende geword het, is nou permanent terug huis toe wat vir ons negatief is. Die laaste Suid Afrikaanse egpaar wat Januarie geariveer het en ook ons ouderdomsgroep is maak egter daarvoor op.



Donderdag 22 Januarie 2015

17 November 2014 – 18 Januarie 2015

Dit is ’n  lang tyd sedert ons laas geskryf het, maar dit was ook baie besig.
Ons was die naweek van 21-23 November in Middelburg en het ’n paar dinge daar gedoen wat aandag nodig gehad het en toe ook saam met ’n paar bekendes gekuier en Sondag weer by ons ou kerk gekuier. Dit was besonders en lekker om op te vang en te hoor hoe dit met almal gaan. Dankie vir al die goeie wense en gebede, dit dra ons.
Daarna het ons ouma opgelaai en gaan kennis maak met ons nuwe kleindogter. Ons is die volgende oggend Bloemfontein toe, waar ons ‘n week by ons oudste dogter gaan kuier het en toe terug is na die tweede oudste om weer daar ’n week te kuier. Daarna is ons terug Middelburg toe om nog sake te gaan afhandel, Nelspruit toe om dinge daar te gaan doen en toe Marloth toe. Daar het ons skenkings uitgesorteer en besluit wat kan later gaan en wat nou moet saam terug vir die kinders vir Kersfees. ’n Paartjie het vir die naweek kom kuier en ons is die Maandag terug Zimpeto toe. Naby Matola het ’n oorlaaide bakkie met ‘n sleepwa aan ons linkerkant, tussen die geelstreep en die skouer van die pad by ons probeer verby steek en ons getref met die sleepwa se wiel. Die skade was nie te erg nie, maar dit was ’n lang proses om by die polisie en versekering alles gedoen te kry. Dis ‘n bestuuring dat niemand beseer is nie. Die kar is nog nie reg nie, met al die vakansiedae in hierdie tyd, sloer dinge maar.
Kersfees was baie warm en besig, ’n lang dag, met almal spoggerig in hul nuwe klere. Nuwe jaar het vinnig gevolg en die kinders is vermaak en besig gehou, en die aand is afgesluit met vuurwerke middernag.
Maandag 5 Januarie het ons die 8 seuntjies van camatata 5 ontvang. Almal baie opgewonde oor die nuwe bly plek. Sover gaan dit goed en lyk dit of hulle goed inskakel, hoop en bid dit hou aan. Daar is 2 wat bekend is vir die moeiliheid  wat hulle maak. Ons het ook een van die groot seuns gegroet, wat in die huis, wat sy ma vir hulle agtergelaat het, ingetrek het. Ons het dus nou ‘n dorm met 23 kleiner seuns en 4 grotes.
Ons is dankbaar vir talle seeninge en ons pragtige kinders en kleinkinders en die voorreg om ook hier die hande en voete van Jesus te kan wees en ’n verskil vir hierdie kinders te kan maak.

Bid asseblief vir ons in hierdie jaar vir:
Baie geduld en insig wat hierdie kinders betref, en aanleer van die taal,
Die veranderinge en aanpassings vir die wat huis toe gaan of hier moet inskakel,
Volgehoue finansies om te kan doen wat ons doen en ook vir die finansies van Iris Global en Zimpeto,
Gesondheid, beskerming teen malaria muskiete en bose magte,
Goeie vordering  van die kinders in die skool en vir die onderwysers om hul beste te lewer,
Dat die wat na die kinders omsien (educators) werklik vir hulle sal omgee.


3 - 16 November 2014



Die week was besig met tieners wat hul wil wil afdwing en ’n houding het van ek is groot en maak soos ek wil. Gordyne hang en maak, klere uit sorteer en sien wat kort en wat moet gekry word. Ons is besig om die goed wat ons van skenkings ontvang het uit te sorteer vir Kersfees, soos Kinderdag, is Kersfees die ander groot dag en almal kry klere en speelgoed op die twee dae. Ons gaan oor ’n week Suid-Afrika toe vir ’n paar dae, om by die kinders en Ouma te kuier en ook om ons nuwe kleinkind te verwelkom. Ons het baie T-hemde vir die kleiner seuns, maar min vir die groter seuns en kort broeke, onderbroeke en kouse is vir almal in groot aanvraag. Dan is daar ook die gereed maak vir die klompie kleintjies wat ons van die ander ‘camarata’ gaan ontvang net ’n paar dae na Kersfees.