Dinsdag 04 Junie 2013

27 Mei – 2 Junie 2013

Hier het nogal heelwat gebeur by die sentrum in die tyd wat ons weg was. Daar was nog ’n huweliks-seremonie vir Fiona en Vovoti. Hoe dit gewerk het, is dat die eerste was die proses by die Registrateur in Engeland, daarna ’n Christelike seremonie in ’n kerk die volgende dag en laaste ’n seremonie hier in Mosambiek vir familie en vriende in ’n Mosambiekse / Christelike styl. Die aand terwyl hul besig was om die kerk te versier vir die troue  het iemand kom sê dat die skool brand, dit was toe die personeelkamer. Dit was chaos almal het deur die vensters geloer om die vlamme te sien en na die slot oopgebreek is het almal ingestroom en probeer die vlamme blus, geen waarskuwings om terug te staan of dat dit gevaarlik is, het gehelp nie. Die vlamme is geblus en die skade is tot die een kamer beperk. Twee besoekers het besluit om die skade te herstel en het ’n hoëdrukspuit en kompressor met spuitverf-toerusting gekoop om die werk te doen (dis nou vir die sentrum gegee), hulle het alles skoongemaak en geverf en al wat oorbly is om die gebrande dakbalke te versterk.
Die hele week was almal besig met voorbereidings vir kinderdag wat op 1 Junie is.
Op Maandagaand se sendelingvergadering praat ons vroulike leier belas met kindersake oor die stand van en tipe kinders waarmee ons werk. Sy stuur vir ons ’n aantal se geskiedenisse wat kort tevore ingeneem is. (sien onder). Dit haal ons weer uit die groef / veilige area waarin ons mettertyd beland en laat ons duidelik besef hoekom ons hierheen gestuur is.
Woensdagaand sê ons totsiens vir drie van die sendelingkollegas, 2 verskuif na ’n ander sentrum en een gaan terug huis toe. Ons hou hul afskeid by ’n Indiese restaurant in die stad. Ons het almal met die bus (of Chapa beter bekend in MZ) gery en natuurlik soos gewoonlik raserig. By die restaurant, erg Moslem, het ons gekuier, sonder alkohol, gebid en dit was baie duidelik dat ons Christene is. Die eienaars het ons ooglopend ongelukig/ontevrede dopgehou maar kon niks doen aan die saak nie.
Donderdagaand is dit weer kerk vir die kinders en Pastoor Nico vertel ons van ’n dogter ±12 jaar oud wat met hom kom praat het oor drome wat sy kry. Hy laat haar die diens lei wat sy toe ook baie goed doen, met haar teksgedeelte, die verlore seun. Sy weef haar eie lewe en wedervaringe in die boodskap in. Haar pa het weggeloop en haar ma is dood, haar tannie wat na haar sou kyk, het haar as baba hier by Iris kom aflaai. Haar familie het haar vergeet maar God het nie en al spot die klasmaats met haar hou sy vas daaraan dat sy Sy prinses is. Sy sluit af dat sy uitsien dat haar pa na haar toe gaan terugkom en dit alles sit almal aan die huil. Die Vrydagoggend is daar ’n gebedsessie in die bidkamer en daar is ook Donderdagaand tydens die diens gesê dat sendeling, besoekers en kinders almal welkom is. Almal was verbaas oor die hoeveelheid kinders wat opgedaag het. Dit lyk of dit nou ’n gereelde instelling sal word dat die kinders ook saam sal bid Vrydagoggende.
Vrydag is dit die maandelikse aankope vir die baba’s wat die hele dag inbeslag neem.
Saterdag is dit kinderdag, hierdie dag word elke 1 Junie gehou en ontvang elke kind nuwe klere, ‘n speelding of 2, lekkergoed en ’n middagete met hoender (gewoonlik is die enigste vleis wat hulle kry net vis). Daar word baie moeite gedoen om dit vir die kinders ’n spesiale dag te maak. Daar is foto’s hieronder.
Dit was ook Petrus se verjaarsdag, ons spannetjie kom vir hom sing vroegoggend  en later word hy saam met die drie kinders wat verjaar voorentoe geroep in die eetsaal waar daar vir hulle gesing word. Na alles Saterdag afgehandel is het hy darem verder ’n rustige dag gehad.
Sondag het ons soos gewoonlik kerk en nagmaal (dit is die 1ste Sondag van die maand). Hier kan die kinders ook nagmaal gebruik en dit is opmerklik hoeveel kinders weier nagmaal wat beteken hulle neem dit ernstig op. Die metode is om die brood, wat klaar gebreek is, in die druiwesap druk en dan dit eet. Dit word alles na jou toe gebring en party maal het daar stukkies brood in die druiwesap geval.
Weer is daar gelukwense vir verjaarsdae en word Petrus en die drie kinders weer geluk gewens en ook die wat die Sondag en Maandag verjaar. Jy moet op ’n stoel of bankie gaan sit waar daar vir jou gebid word en daarna word jy met stoel of bankie skouerhoog opgetel en die res sing vir jou terwyl jy op en af gewieg word, redelik skrikwekkend.
Sondagaand hou ons braaivleis en vier Petrus en Vella (’n mede sendeling vanaf Engeland) se verjaarsdae, Petrus 1 Junie en Vella 3 Junie.

Die verhale hierbo genoem:
Case 1
The father of these two children abandoned them for another woman. The mother doesn’t have a job, and the house she now lives in was lent to her by the owner of the house. The owners now need the house. The mother has a brother who lives in Khongolotti who accepts for her to come and live in his house, however he does not accept the two children. The team registered the children with the mother present (110mts).

Case 2
This 6 year old girl is seropositive, lives in Guava with her mother in a borrowed house.
The father rejects both the mother and the child as they are both sick (?HIV+). Although he has a job he gives the money to another woman and does not support his first wife or his daughter. The visit was made to the house of the tia in Maxaquene as the mother does not have a fixed address. On admission the girl was severely malnourished her weight less than -3 z score. She was commenced on a dietary regime and has had numerous investigations for other illnesses.

Case 3
The father came to ask for help because he has no job and his wife (28years) is very sick. (HIV+, TB and a known heart condition), this mum has only just started on ARVs. She is in and out for hospital. The grandmother has been looking after the boys but she doesn’t have time to help. She lives in Sao de Marceo. The boys are 2 1/2 years and 5 years old.

Case 4
The father’s story:
The father came and asked for help to take these children into the centre. The mother died about 1 year ago and he finds the children difficult to deal with. They do not go to school and the older brother encourages the younger ones to run away. The younger boy is HIV +.
The story as told by the neighbours and confirmed by the chefe of the quaterao:
The reason they run away is because the madrasta mal treats them the oldest boy won’t leave the little ones so he runs away together with them to protect them.
The father lives with another woman (madrasta) however she doesn’t care for these children. They live in a different small room with nothing in it, they don’t eat with the family and they are given food that is different to the other family members. Sometimes they are given chicken food to eat.

The madrasta is known by both the police and social welfare because of her poor treatment of the boys. She was on TV because she had burnt the oldest boy with a hot piece of metal, the neighbours took her to the police and reported it to the TV. The madrasta was sent to the esquadra (lock up cell) for 3 days for the mal treatment of the children however the father offered to do the 3 days for her so he went to jail for her.

Foto's
Alta se baba-spannetjie




Ons spannetjie het dieselfde kleur hemde aan en staan



Gedekte taffels
Verjaarsdagmaatjies



Saterdag 18 Mei 2013

6 – 12 Mei 2013


Maandagoggend is ons Nelspruit toe om eers vir Catherine af te laai en ’n luidspreker wat herstel moet word en daarna is ons na Kruger International Airport om Bekki en haar ma op te laai wat van Duisland af  by haar in Maputo kom kuier.  Ons het nog altyd gewonder hoe hulle ’n lughawe in die klipkoppie-wêreld gebou het. Ons kan jul verseker, daar is baie grond ingery vir die een. Daarna is daar nog ’n paar dinge wat vir ‘missionaries’ en Iris gedoen moet word, voor ons terug ry Marloth toe. Daar aangekom is dit afpak en toe neem ons die besoekers op ’n wildrit agter op die bakkie. Ons is bevoorreg en sien ’n klompie olifante in die rivier asook ’n buffel. Ons het ook zebras, rooibokke, vlakvarke en kameelperde van nader by gesien. Dit is vir hulle ’n belewenis en hulle dink dis te wonderlik met baie foto’s wat van al die diere en sonsondergang geneem word. Ons besef weer dat ons baie bevoorreg is en dat ons al hierdie dinge as vanselfsprekend aanvaar. Terug by die huis braai ons vleis, ook dit is vir die Duitsers ’n unike ondervindig. Ons kry ook besoek van die nagapie en die leeu het ook van hom laat hoor. Die baie sterre laat hul kort-kort op kyk boontoe.
Dinsdagoggend ry ons terug Maputo toe en die seuns is gou-gou daar en kom soek drukkies.
Woensdagoggend kry Catherine ‘n nuwe kind, ’n dogterjie, sy is ses en erg verwaarloos, maer en ondervoed. Sy is HIV positief, haar pa het haar verwerp en sy het maar so tussen die bure rond geswerf. Haar ma is afhanklik van die pa en gee maar net wat sy sonder sy medewete kan vir haar, die ma is by die sentrum met die opname. Sy word ondersoek, gewas en klere gegee en haar plekkie gewys waar sy kan slaap. Hulle moet nog toetse doen, maar daar word vermoed dat sy TB het en die nodige voorsorgmaatreëls word getref. Woensdag het Alta ook begin verf aan die pasgetroudes se blyplek en Vella het gehelp skoonmaak. Woensdagaand word die nuwe ‘Prayer room’ ingewy deur ‘Home group’ daar te hou en die Brasiliaanse pastoortjie, Celia, se 10 jaar diens by Zimpeto word ook terselfdetyd gevier. Die ‘Prayer room’ was ook Celia se projek en droom.
Donderdag is dit nog verf en werk aan die blyplek langsaan en rekenaar virusseprogramme wat gelaai word. Tussen al die dinge is daar ook nog die seuns en ons daaglikse take wat aandag moet kry.
Daar is 2 jongmanne onder die sendelinge wat ’n diensjaar doen op hulle terme, om meer te sê, sal nie verstandig wees nie, maar soos meeste jong manne is hul mae baie belangrik. Dinsdagooggend en Vrydagmiddag as die bus Shoprite toe gaan is die twee daar. Vrydag ry ons so 12uur om aankope vir die babas te gaan doen en Cathrine ry saam om goed vir haar kinders en die nuwe dogterjie te kry.  Ons is so halfpad oppad terug, toe een van die jongmanne vir Cathrine skakel om te hoor of sy op die Shoprite bus is en of sy vir hulle goed kan koop, want hulle het verslaap en die bus verpas. So hulle moes vir 3 dae sonder kos en lekkernye klaar kom.
Saterdag so 12 uur het ons die pad gevat Marloth toe, ons neem vakansie. Dus vir die volgende 2 weke 12 -26 Mei sal daar nie nuus wees nie, want ons hou vakansie.

Dinsdag 07 Mei 2013

29 April – 5 Mei 2013


Maandagoggend probeer ons vroeg wegkom om die aankope vir die babas te gaan doen en kom so eenuur terug, net betyds om iets te eet voor die kinders kom.
Dinsdag is daar konsternasie in die besoekersarea. Hier is so 5 Noorweegse jonges van so 18/19 jaar wat blykbaar ’n paar Afrika dinge wil doen en een daarvan is om ’n hoender te slag en gaar te maak waarvan hulle geen benul het hoe om dit te doen nie. Eers is hulle na een van ons jongmans toe om ’n byl te kry om die hoender se kop af te kap, hy antwoord nee hy het nie ’n byl vanaf sy huis in Engeland saamgebring nie. Daarna is hulle na John wat verantwoordelik is vir onderhoud, maar hy kon hulle ook nie help nie. Gedurende middagete vertel John sy vrou Clair, wat die dag aandiens is om na die besoekers om te sien, so terloops wat hulle plan is. Sy freak uit en storm hulle om mooi aan hulle te verduidelik wat gebeur as jy ’n hoender se kop afkap en nie behoorlik vashou nie, dat die hoender sonder kop rondhardloop, die skoonmaak van ’n hoender, ens. Sy verbied hulle om so iets hier te doen want dit is ’n kindersentrum. Ons ander wonder net hoe dit sal lyk wanneer die afkop hoender die wêreld volhardloop en in wie se kamer dit dalk kan eindig, miskien die sendeling se kamer met die baie geite.
Woensdagoggend gaan hang ons die laaste gordyne van die gebedskamer op, en Alta begin direk daarna met die gordyne vir die pas getroudes se huis wat ons aangesê is om klaar te kry vir hulle.
Saterdag hou ons partyjie vir Paulo Luis. Hy is die kleinste van die groepie, maar hy het ’n kroniese loop neus en moet gedurig herinner word om sy gesig skoon te maak. Alta het al ‘n tyd gelede vir hom gesê dat as hy sy neus skoon hou, hy vir sy verjaarsdag versiersuiker op sy koek kan kry, maar as sy neus nie skoon is nie, is daar geen versiersuiker nie. Dit het heel goed gegaan, die neusie bly redelik skoon, met so hier en daar ’n waarskuwing en ons hoop dat dit ’n blywende gewoonte sal word. Hy kom help met die koekbakkery en daarna gaan ons vir hom skoene koop, maar as jy nou al ’n steeks donkie gesien het, dis nou hy toe dit by die keuse kom. Ons pak ’n ry tekkies uit wat binne ons begroting pas, maar ons kry sowaar nie sy voet opgelig om te sien of ons die regte grootte het nie. Ons het naderhand ’n klomp mense wat help om aan hom te verduidelik dat hy nou moet aanpas, maar daai voet is geanker op die vloer. Hy skud net sy kop. Naderhand lei  ons af hy wil nie dié hê wat ons gekies het nie, hy wil van die duurder tekkies hê. Dis net 20 mets (R6.00) duurder  en ons gee maar bes. Die partytjie verloop goed.
 Maar nou moet ons ook eers vertel van Augostino se ‘love letter’. Buite die hekkie sit ’n ander seun, bietjie ouer, wat ook gereëld hier kom, maar nie deel van die groep is nie en nie na die partytjie genooi is nie. Hy het hier kom speel saam met hulle en een van die groep het hom uitgestoot en Alta moes praat en sê dat dit nie mooi is om so te maak nie.  Hy bly staan en naderhand sien Alta dat die trane oor sy wange loop en  gaan praat met hom. Hulle wil hom nie hier hê nie en sy groep baklei ook met hom. Hy word toe ingebring en eenkant weg van die ander gehou. Op navraag hoor ons dat hy baie probleme het en sukkel om in te pas. So sit hy toe Saterdag buite die hekkie, ons sien hom maar hy moet maar leer jy kan nie inbreek op ander se partyjie nie. Hy sit buite en maak later die hekkie groot oop en bly doenig by die hek. Na die partyjie loop Alta op na die babas waar sy ook opdiens is en word van die camerada af al vertel dat Augustino iets gedoen het, maar verstaan is moeilik en ’n klompie loop saam om te gaan wys wat vertel word. By die huis gekom sien Alta wat hy, die hele tyd by die hekkie gedoen het.  Die hele koesyn is van bo tot onder vol geskryf, “Love Alta” . Ons lag lekker daaroor en sê as dit maar Petrus was wat dit geskryf het! Nou ja, Augustino moes dit toe maar weer afwas ook.
Saterdagaand het ons die eensame sendelinge weer uitgenooi om te kom kuier, ons bak pannekoek en eet lekker. Pannekoek is toe ook nie ’n vreemde item vir almal nie, daar is net verskillende name daarvoor. Ons kuier lekker en Sonia vanaf Brasilië vertel ons, op haar storievertel manier, hoe die Here haar gekarring het om Mosambiek toe te kom tot sy ingegee het.
Sondag so 12 uur het ons die pad gevat Marloth toe want ons moes vir Bekki en haar ma Maandag in Nelspruit gaan haal, maar meer daaroor volgende week.

Donderdag 02 Mei 2013

22 – 28 April 2013


Maandag die skoolvakansie is verby en ons kry meer gedoen, soos om aan die gordyne te werk. Ons doen nou Portugese lesse op’n hoor en sien sisteem en nie praat nie. Dit beteken ons bou ’n woordeskat op soos ’n baba voordat die begin praat. Maandag-middag/aand ry ons Marloth toe. Petrus het nie rekening gehou dat die Kia se lisensie einde April verval nie en Mosambiek se verkeersbeamptes sal nie verstaan van 21 dae grasie nie. Ons het beplan om 4 uur te ry maar ’n probleem by die babas hou ons hier en ons kom eers 5 uur weg in spitsverkeer. By die grens was dit net 10 minute en totale reistyd 2 en ’n halfuur aan 100km.
Dinsdag word daar voertuiglisensie hernu. Shangaan Bybels word afgelaai vir Iris naby Komatipoort en daarna is ons Malelane toe om materiaal, verf en ’n selfoon te koop, ook alles  vir Iris en so ’n paar goed en middagete vir ons.
Woensdag-oggend stop ons eers in Komatipoort om uiteindelik ’n posbus te kry en daarna terug Zimpeto toe. Woensdagaand lei die Brasiliaanse pastoortjie die ‘Home Groep’ en sy skroef ons op om nie bang te wees of moed op te gee nie, maar slegs een tree op’n slag te neem in ons groei in Christus.
Donderdag is Alta alleen met die kinders. Hulle is heel rustig, hul was redelik besig gehou met goed waar Alta nie nodig is om by te wees nie en het die boodskap gou gesnap dat hulle hul moet gedra en dat die gordyne moet klaar kom.
Vrydag-middag is ons vinnig winkels toe, net die nodige gekry en toe terug.
Saterdag-oggend sit Petrus en John die gordynhangers in die nuwe gebedskamer op, maar Alta is nog besig met die gordyne, 2 van die dogters help ook met die maak en dit vorder bietjie vinniger. Die gebedskamer is reeds Vrydag ingebruik geneem en wanneer die mense daar gaan bid, loer die kinders deur die vensters, dus is die druk vir die gordyne hoog. Saterdagaand begin ons met ‘n program vir hoofsaaklik die enkellopende sendelinge wat eensaam is. Die idee is dat wie ook al lus is en geselskap soek welkom is. Ses daag op en ons begin later Jingles met Uno (waar jy blokkies uit moet terk en dan weer bo-op moet plaas) speel en dit wil voorkom of almal dit geniet het.
Sondag ons gaan na ’n Engelse kerk (Assemblies of God) saam met ander mense van die basis. Wonderlik om weer ’n diens te hoor wat pitkos gee en wat ons kan verstaan.
Ons het nog ’n paar kinders wat ’n bid-ma of -pa nodig het, laat weet asseblief as jy graag vir een kan bid. Ons stuur dan meer spesifieke inligting en die kind se agtergrond. Dit werk, ons sien die verskil in die waarvoor gebid word.

Sondag 21 April 2013

15 – 21 April 2013


Maandag het die skoolvakansie begin, gelukkig is die vakansie net ‘n week. Die kinders was vroeg reeds hier en het die hele dag hier gespeel, met die gewone stryery en rusies.
Dinsdag het ons die kinders na Maputo se Zoological Gardens toe te neem. Dit was nie duur om in te gaan nie, net 45 meticas (dis R15.00) vir 9 kinders en 3 volwassenes. By die ingang is daar ’n fosiel-muurtjie en Alta het verduidelik wat dit is en Amilton het hopenlik reg vertaal. Die tuine aan die begin is redelik, al is die padjie sand, Mosambiek standaard, maar die res is lang gras en erg verwaarloos. Dit was egter vir ons ook ’n belewenis, dis die naaste wat ons seker ooit aan ’n seekoei of ’n krokodil sal kom! Die seekoei is die eerste hok wat ons by kom, die reëling op die muur is afgeroes en plek-plek weg, die seekoei is in die water/modder, dis baie vuil water en die trog is in ’n L vorm. Ons dink nie hy kan omdraai daarin nie. Toe ons later weer daar naby kom sien ons die seekoei is uit sy watertrog en staan met sy ken bo op die muurtjie, hy maak sy bek groot oop asof hy wag dat iemand kos sal in gooi. Na die seekoei kry ons slange in draadhokke, geen glas tussen ons en die slange nie, dis ’n verhoogde sementblad met jakkalsdraad en klein ogiesdraad. Daarna is daar ’n hok waar ’n boom omgeval het en dit lê net so, al vir jare en ons wonder wat van die dier of diere geword het wat daarin was. Die krokodille lê in ’n poel water aan die sonkant, waar uitkom plek is, is digte koelte en die water is vol plastiek bottels en sakke. Die volgend hok waar ons diere in kry is ook krokodille en een lê buite die water en die heining is laag, as jy wil kan jy aan die krokodil raak. Daar was so ’n paar verlore bobbejane in een hok met ’n kleintjie wart deur die heining klim en tussen die mense rondloop. Die blou-ape het 2 hokke en klim ook wanner hulle lus het uit en loop buite rond. Daar is verder geen toiletgeriewe nie en die speelgoed vir kinders is net ’n glyplank wat die kinders se broeke sal skeur en klimrame.  Na ons terug by die sentrum is word die kinders uitgenooi om saam met die groter kinders, in hulle dorm, strand toe te gaan vir die middag. Alta is saam om te help met die beheer. Dit was laagwater en daar was miljuisende krappies en die kinders het hulle gevang en vir ons kom wys. Dinsdagaand is al die sendelinge (±20) na ’n Chinese restaurant om vir Rachel te groet wat Vrydag huis toe vertrek na ‘n jaar diens hier. Op die bus het dit erger as ’n skoolbus geklink, opgemaak met streamers en partjietoeters (blaasgoetjies wat raas). Na die ete het ons aangedring op roomys en die is by’n roomyswinkel geniet wat ons totaal oorgeneem het.
Woensdag probeer ons werk inhaal en gerus kry, maar nie baie suksesvol met die kinders wat besluit het om weer die dag by ons huis deur te bring nie. Woensadgaand het ons die kinderdiens wat gewoonlik Donderdagaande is omdat hier ’n besoekende pastoor vanaf Swaziland is wat die diens waarneem. Hy preek in Engels en ons kan volg maar hy herhaal ook weer alles ’n paar keer.
Donderdagaand het ons Home group, Nancy van Amerika (die vrou waarvan ons vertel het die vorige week se blog) leer ons van ‘round table’ met konflik as die besprekingspunt, Dit is ’n metode om lewensbeginsels te bespreek en daaruit te leer. Ons korrigeer ons self in die vorige week se blog waar ons gesê het sy bied ’n kursus aan wat deur Round Table USA opgestel is, dit is ’n kursus wat opgestel is deur La Red Business Network en meer kan gelees word daaroor op hulle webblad www.lared.org.
Vrydag groet ons Rachel  voor sy weg is lughawe toe en trane vloei. 12:45 het ons ons eerste Portugese-taalles vir ’n uur. Ons het op ’n vorige Home group vertel van ons frustrasies met die beperking om Portugees te praat, waarop Dominique (die Switser wat finansies hanteer) die kans gebruik om die metode waarin hy opleiding ontvang het met taalleer aan te wend, taalvaardigheid is ’n passie by hom en as gevolg daarvan het al die sendelinge nou al die woorde geleer ‘Ek sal bid vir jou’ na ons dit die een aand gesing het. Die opleiding begin met 20 lesse waar jy net na die taal luister, ons het begin om eers te luister na 4 groente soorte, daarna moes ons dit uitwys op prente wanneer dit gesê word, daarna het die werkwoorde, optel en neersit, bygekom waar ons die verskillende items moet optel en neersit, ens. Ons het nou 2 keer ’n week die kursus en sal sien hoe dit vorder.
Uit die gesprek met die sendelinge het ons agtergekom dat daar baie eensaamheid onder hulle is en gevolglik het ons besluit om geleenthede te skep om hulle gereeld by mekaar te bring. Die eerste was kegelbal Vrydagaand, ons was 9 wat met die Basis se bussie hier weg is in spitsverkeer. Dit was nie te duur volgens Mosambiek standaarde nie, R50 per kop. Almal het dit al voorheen gespeel behalwe ons twee, maar ons het nie teruggestaan vir hulle nie en het selfs advies gegee hoe om die bal te gooi. Dit was heel lekker.
Saterdag en Sondag is ons so stil moontlik deur met baie slaap en die veranderinge wat by die huis aangebring is (’n bykomende heining by die voordeur), het gehelp om die kinders weg te hou wanneer ons privaatheid soek.
As julle Ockie se stuk oor muskiete gelees het, dit is so dat hulle jou bykom as enige deel van jou aan die net raak. Hier is ’n nuwe plaag van muskiete tans en dit voel partykeer mens moet die deure oopmaak sodat hulle uit die huis uit kan kom, so baie is daar in die huis.
Ons kry net klagtes dat julle almal koud kry, hier is die temperatuur nog heel aangenaam (julle hoogste temperatuur is gelyk aan ons laagste) en het Saterdagaand ’n redelike swaar reenbui gehad.

Krokodil en heining is 1.2 m hoog

Bobbejaantjie wat uit die hok klim
Blou-aapie wat buite rondloop

Die seekoei
 
Toestand van dieretuin

Ete by Chinese restaurant

Die roomysplekkie, Rachel is die meisie met die grys sweetpaktop en kameraband in die hand

Verstaan dat ons die roomysplek oorgeneem het

Alta in aksie

Sondag 14 April 2013

8 – 14 April 2013


Dinsdag kry Petrus die versoek om ’n besoeker met die rekenaarnetwerk te koppel, haar naam is Nancy en sy is van USA. Sy is ons ouderdom en kom al vir 11 jaar na Iris se basisse toe, ±5 weke per jaar. Baie praat, is nie die regte woorde vir haar nie, so veel so dat syself gesê het dat sy ons koppe van ons lywe af praat en toe ons nalaat om dit teen te staan was sy baie gebelg en selfbewus daaroor, maar dit het haar nie lank afgesit het nie en sy eindig op om saam met ons te eet en te help skottelgoed was. Ons ken haar hele geskiedenis, sy het ons ook vertel van ’n voorval waar sy en ander persoon gebid het vir ’n baba wat geen oë gehad nie en na hulle gebed,  het hulle gesien hoe die oog in die baba vorm. Sy het ook vertel van ’n gebeurtenis waar ’n groep gebid het vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees, later het hulle op foto’s, wat gedurende die gebed geneem is, vuurtonge bokant elkeen se kop gesien, sy het vir ons die foto gewys. Daar was nog baie maar sy het ons dronk gepraat. Sy is baie entoesiasties en bied hierdie jaar ’n kursus aan wat deur Round Table USA opgestel en aangebied word. Ons sal meer daaroor vertel volgende week want ons deurloop die kursus hierdie komende Woensdagaand. Hier is ook nou ’n nuwe lang termyn sendeling wat Dinsdag gearriveer het. Helen is vanaf  New Zealand en help by die kliniek. Sy het ons vertel dat sy nog in haar kinderskoene staan as ’n Christen, sy is nou so ’n jaar ’n Christen en sy was by die Harvest School. Ons is nie meer die nuutste sendelinge  hier nie!!!
Woensdagaand is dit ons beurt om Home Group aan te bied. Ons het begin met eers ’n teksvers of twee en dan sing van ’n lied wat daarby gepas het. Hulle het ons uitgedaag en ons het dus vir hulle ook ’n Afrikaanse liedjie laat sing na ons dit eers vertaal het, dit was ‘Ek sal bid vir jou’. Ons het nagmaal gevier en elkeen ’n kans gegee om te vertel van probleme wat hy/sy het en waarvoor daar vir hulle gebid kan word. Dit was fantasties almal het deel geneem en ons het Donderdag ’n lys uitgestuur van elkeen se gebedsversoeke. Daar was ook verder baie positiewe terugvoer van die sendelinge wat wys maak nie saak wat se werk jy doen nie, jy bly maar net ’n mens met persoonlike probleme. Daar is ’n voorstel dat ons dit teminste een keer per maand doen.
Donderdag was heelwat koeler en  ons het baadjies en truie gesoek, iewers deur die dag was daar ook ’n paar druppels. Die kinders was knorrig en ge-irriteerd.
Vrydag was dit John se verjaarsdag en Clare wou vir hom ’n verrassing reël by die werkswinkel in samewerking met die werkers, sy stuur ook ’n email vir al die sendelinge en vergeet om sy naam van die groep af te haal, gelukkig het hy nie die email gelees nie. John het egter met middagete Vrydag besluit hy het klaar gewerk en wil saam met die bus Shoprite toe gaan. Na ons hom met ’n storie by die werkswinkel gekry het, het ons fees gevier tot hulle Shoprite toe is.
Saterdag besluit ons om 2 van die seuns saam te neem stad toe as ’n ‘outing’ vir hulle. Hulle ry roltrappe en kyk hoe mense ten pin bowling speel. Ons ry strand langs en kom op mooi ou geboue af en kom eers na ete by die huis terug. Hulle eet toe elk 4 snye brood en eiers vir middagete. Catherine het ’n braai gereël Saterdagaand hier by ons, vir al die sendelinge en vir ons huweliksherdenking verlede week. Meeste daag op en dit is ’n heerlike kuieraand. Laura en Steve en Ros vertel staaljies van jare gelede en almal lê soos hulle lag.
Sondag is ons kerk toe soos normaalweg en Sondagaand kom kyk die kinders DVD. Hulle het nou ’n week skoolvakansie. Dit kom voor asof die kinders begin vastigheid vind deur ons, hulle is kalmer, gehoorsamer en kom soek gereeld individuele aandag by ons. Hulle is jaloers op hulle tyd met ons en jaag die ander kinders, wat nie deel van die groep is nie, weg indien hulle ook hier wil kom speel.

Bid saam met ons vir een van die ouer kinders wat al swakker word, hy is HIV positief, het TB en kanker. Dit is hartverskeurend om hom so te sien lei en hy weet dat die einde nader kom. Dankie vir die wat aangebied het om vir individuele kinders te bid, daar is nog vir wie gebid kan word, laat weet asb. indien jy belangstel om deel te neem. Een van die kinders waarvoor gebid word was een van die moeilikes en hy is besig om al hoe meer rustig en gehoorsaam te word en ons glo dit is omdat daar vir hom spesiaal gebid word.

Maandag 08 April 2013

1 – 7 April 2013


Maandagaand by die ‘Business Meeting’ kry Clare en ons sjokolade vir die versiering van die kerk.
Dinsdag  was die maandelikse aankope van voorraad vir die ‘Nursery’. Dis nogal uitputtend en jy het baie geduld nodig, dis Afrika en als word op Afrika-tyd gedoen.
Woensdagaand kry ons koud en trek vir die eerstekeer ’n warmding aan. By ‘Home Group’ word daar afskeid geneem van Ma Nellie, daar word dankie gesê en trane gestort. Hulle bid vir Ma Nellie en vir ons. Sien die foto’s onder. Daar was ’n lekker koek en Petrus het lekker ge-eet, soos altyd, ook ’n doggybag huis toe. Die groepfoto wys omtrend al die sendelinge hier, daar is net 5 van jonger meisies nie op die foto nie: een het die foto geneem, twee is vir ’n tydperk huis toe, een het besoekers rond geneem en een het saam met haar ma en pa vakansie gehou. Die swartetjie is een van die groter kinders hier wat die tolk was vir twee Brasilianers wat nie Engels magtig is nie.
Donderdag is dit steeds koud die oggend maar later begin die son bak en dit word warm. Die kinders kyk DVD die middag en so 3 uur val ons in die pad Marloth toe met ’n lang lys van goed wat ons vir almal in Nelspruit moet kry, John en Clare is weer saam want hulle moet deur die grens om hulle visa vereistes na te kom.
Vrydag-oggend is Alta se stem weg en ons kan dit nie vind nie en dit op ons 32ste huweliksherdenkking. Ons val in die pad Nelspruit toe, spandeer ’n uur by ’n materiaal winkel sonder om baie te kan wys, jaag na die oor-mense om Ma Nellie se nuwe gehoorapperaat te kry wat ’n verder 1¼ vat, daarna die eerste mall waar ons eet, kos koop en van die goed wat op die lys is, ’n goeie 3 ure. Daarna na die volgende mall waar ons vir Louis Koster (’n klompie van julle sal hom ken) raakloop en lekker gesels, ’n verdere uur. Daarna na die derde mall waar daar so ‘n bietjie vergeet word om als te doen (en dit sal natuurlik juis die moeilike sendeling se goed wees, wat vergeet word) want ons val vas in CUM. 4 uur jaag ons terug middestad toe na die krale winkel vir Clare waar sy tot 5 uur deurbring en die winkel leeg koop. Ons keer terug Marloth toe met ’n lys waarvan daar nog baie nie afgehandel is nie. (Sorry dit is maar so en dit sal moet wag tot iemand weer Nelspruit toe gaan).  
Saterdag is Alta se stem terug maar sy het koors en is ons Komatiepoort toe vir pille en vleis, ons het ’n slaghuis gevind waar die vleis en biltong goed en redelik goedkoop is (veral in vergelyking met Mosambiek, biltong kos R330/kg teenoor R168/kg in SA). Saterdagaand gee Clare vir ons 'n pakkie, wat sy vir ons gekoop het Vrydag by CUM, as dankie dat ons hulle rondry en ook vir ons huweliksherdenking. Sy het iets in Afrikaans gesoek en besluit op Angus Bucham sonder om vir iemand daar te vra om vir haar dit te vertaal na Engels sodat sy weet wat sy koop, wel dit was toe 'Woorde van Wysheid vir jou Pa' Ons het almal lekker daaroor gelag, maar Petrus gebruik dit.  
Sondag is ons weer AGS kerk toe in Komatiepoort en John en Clare is saam. Die pastoor wend ’n goeie poging aan om ook Engels in sy preek te gebruik om die Engelssprekendes te akkommodeer. Ons het ’n punt daarvan gemaak om elke keer Komatipoort toe, dieselfde pad te ry sodat Ma Nellie dit kan leer en ons los haar op Marloth, sy is baie gelukkig, Sondagmiddag met die opdrag dat sy die afstandbeheer van die alarm en haar telefoon die heeltyd saam haar moet dra. Dit gaan vinnig by die grens, so ver so dat aan Mosambiek kant vra Petrus die doeanebeampte om die voertuig deur te gaan en hy besluit hy sit te lekker en vra net watter voertuig is ons s’n, wat nogal amper tot teen die dak gelaai was, praat iets in Portugees waarop Petrus sê hy verstaan nie en die ou teken die dokument en ons is weg. Alta is nog steeds siek en die aand is ons kliniek toe waar sy getoets is vir malaria, wat negatief is, deur ’n verpleegster wat glad nie Engels kan praat of verstaan nie.
’n Storie van vasbyt: Hier daag ’n Switzerse familie op, wat ’n voertuig gehuur het in SA (Landrover) om deur Mosambiek te toer. Hulle stop hier by Zimpeto vir ’n paar dae, want hulle ken een van die sendelingpare wat ’n uitreikpunt het naby Marracuene, Dinsdagoggend wil hulle saam, met hulle gehuurde voertuig,  Marracuene toe gaan, hulle het net tot buite die hek gevorder en daar het die Landrover geen ratte nie (die vermoede is dat hulle 4 wiel wou gebruik by die hek en die koppeling het iewers weggeraak in die aandrywing gedeelte tussen hoë- en laeaandrywing. Ons sleep hulle terug tot in die voertuigpark. Iris se werktuigkundige is seker hy kan dit regmaak, maar die verhuringsmaatskappy wil eers met die werktuigkundige praat en daar is ’n taal probleem. Later stuur hulle 'n plaaslike maatskappy om die voertuig te kom haal en hulle laat weet dat hulle ’n ander voertuig stuur en ’n ratkas vir die gebreekte een. Twee dae later is hulle hier weg met die nuwe voertuig op die res van hulle toer, net om die naweek verder noord in Mosambiek te gaan staan met die voertuig wat net een rat het, nl. 5de. Die maatskappy stuur glo weer vir hulle ’n ander voertuig van Johannesburg af. Dit is goeie diens van ’n maatskappy wat voertuie verhuur, maar wie se voertuie in ’n swak toestand is.