Maandag 30 September 2013

23 - 29 September 2013

Maandagoggend word ons begroet met die nuus dat ‘n onderwyser van die skool dood is en sy vrou erg beseer is, nadat hul aangeval is Sondagaand oppad huis toe van ’n troue af. Sy het hulp by die sentrum kom soek en is hospitaal toe geneem met kapwonde aan haar kop. Die skool neem 2 dae as rou en gee die kinders af. Ons bid vir die onderwysers en skool en die gesin. Die vrou het hier op die sentrum groot geword. 
Die Woensdag is ’n nationale vakansiedag. Die kinders is oral en verveeld en verder is dit warm.
Donderdag is die begrafnis en van die ‘educators’ en grooter kinders gaan saam met die busse wat gereël is.
Vrydag is dit baie warm en ons is besig met reëlings vir ‘n kombuistee vir die bruid wat volgende Saterdag trou en ‘n braai vir die manne, om hulle besig te hou, by ons huis.
Vroeg Saterdagoggend moet die rekenaar, wat vir die inklok van personeel gebruik word en in ’n baie stowwerige plek staan, skoongemaak word. Daarna help ons ’n sendeling wat na ’n huis in die gemeenskap trek. Dit is nie te ver nie maar dit is dik sand vir so ’n kilometer en ’n half met die sentrum se 4x4 bakkie.
Die wind waai erg en later die aand begin dit reën. Laat aand bel die wagte en sê dat daar ’n ontploffing by die transformator was en Petrus moet gaan kyk. Hy het gedink opstaan en uitgaan in die reën om elektrisiese probleme uit te sorteer was verby na hy by die stadsraad weg is. Die probleem is nie groot nie, die eintlike probleem is om die elektrisiteitsvoorsiener hier te kry om die hoogspanningsekerings te kom vervang, teen Sondagaand het hulle nog nie opgedaag nie. Die noodgenerator word deur die nag afgesit en Petrus moes dit Sondagoggend 6 uur weer aan die gang sit, so hy het 2 vroeë oggende gehad. 
Sondag is dit koud en kort-kort drissel dit en die generator wil nie byhou met die vrag nie wat meebring dat vragbeheer gedoen moet word.

Die wêreld is mooi skoon na die reën en dit is nou weer makliker om op die sand te loop wat deur die reën gekompateer is (dit is soos om op die strand te stap, dit is makliker naby die water waar die golwe spoel as hoër op waar die sand los is).

Sondag 22 September 2013

16 - 22 September 2013

Maandag kom ons terug na Zimpeto en die grens is chaos. Elke taxi word afgepak en deursoek en die pad word totaal geblok, sodat al die ander ook moet wag tot daar spasie is om deur te kom. 
Dinsdag is dit Inacio se verjaarsdag en hy het ’n foto van ’n drie-laag-toebroodjie in ’n tydskrif gesien en dit vir sy verjaarsdag bestel. Hulle het die foto presies gevolg en hul eie broodjies gebou. Later die middag het ons vir Paulo winkel toe gevat en vir hom ’n T-hemp gekoop, dit was sy verjaarsdag verlede Saterdag.
Woensdag hou ons partyjie vir die groot seuns om Inacio en Betino se verjaarsdae te vier. Betino kry kans om te help om die koek te bak. Donderdag is Betino se eintlike verjaardag.
Vrydag is baie warm, 39ºC, nie dat die vorige 2 dae veel koeler was nie (37ºC) en almal kla oor hoofpyn en moegheid van die hitte.
Saterdag is erg winderig en word al kouer soos die dag aanstap. Deur die nag drip dit bietjie, maar die sand is nie eers nat onder die bome nie. Sondag is die windjie koud, maar nie so sterk nie.

Aangesien daar nie veel gebeur het nie, afgesien van die verjaarsdae, het ons gedink om terugvoer te gee i.v.m. die siek kinders waarvoor ons vroër van jaar gebid het. Lucia vorder goed, sy kry gereeld fisio om haar sterker te maak en te keer dat haar hande en spiere nie ineentrek nie. Ons is dankbaar vir haar vordering, die dokters het nie gedink dat sy sal oorleef nie en haar gees is sterk, sy het 2 weke nadat sy uit die hospitaal ontslaan is gevra om in die kerk te sing. Kenssane die een wat die hartoperasie gehad het, vorder baie goed, sy brabbel, sing en klap hande uit haar eie sonder dat iemand haar voorsê en aap almal na. Inacio het ook lanklaas ’n infeksie gehad en was besonder opgewonde oor sy verjaarsdag.

Inacio en die toebroodjie


Betino

Maandag 16 September 2013

9 - 15 September 2013

Maandagoggend daag die Predikant van die Afrikaanse kerk in Matola hier by ons op vir ’n kort besoek. Hy het gesien ons is nog in Maputo, na ons Sondag weer ’n keer by die kerk was, en besluit om by ons aan te kom terwyl hy hier by ons verby gery het. Die eerste waaroor hy met ons praat is ons ‘dires’ (werkpermitte), nou ons het nie sulke goed nie en weens die koste (±R6000 elk per jaar) het ons dit afgeskryf en aanvaar dat ons nie die geld het nie. Hy vra of hy die kerkraad namens ons vir die fondse kan vra. Dinsdag skakel hy ons en vertel dat die fondse bewillig is, ±R13000 wat ons nodig mag hê vir die permitte. Ons is sprakeloos en al antwoord daarop is dat God ons steeds in Mosambiek wel hê.  

Dinsdagoggend sien Alta een van die kleiner seuns by die skool en sy wange is dik geswel. Na skool neem hulle hom kliniek toe en sê dat hulle pampoentjies vermoed. Hy word in isolasie geplaas om die kinders wat HIV positief is te beskerm en ook die groter seun in die ‘camerada’. Die volgende dag sien hy die dokter wat dit bevestig en hy moet nog 7 dae daar bly. Siestog hy en die oppasser is beide so verveeld en hy word erg bederf om op te maak vir die afsondering en eensaamheid. So ver is daar nie nog pampoentjie gevalle aangemeld nie.

Woensdag begin die krag probleme, die voorsieningsowerheid is blykbaar besig met onderhoud en ons kragopwekker wil nie byhou met die vrag nie, wat beteken gedeeltes moes afgeskakel word. Laat middag skakel hulle die krag aan maar daar is 2 fases weg en hulle word geskakel om reg te kom maak. Hulle daag eers 11 uur die nag op en daarna kom almal se krag eers weer aangeskakel word. Donderdag was weer ’n herhaling van Woensdag en wat oor die res van die tyd gebeur het weet ons nie, want ons was in SA.

Woensdagaand bied ons Home Group hier by ons aan, in die kinders se speelkamer en almal pas in. Ons vra dat hulle gebedsversoeke gee en almal gee hul versoeke en terugvoer is ook goed.
In die ‘nursery’ is ’n nuwe babatjie, Tiago, (Jakobus se Portugese weergawe) hy weeg 2.6kg en is 2 maande oud. Dis chaos met die krag wat af is en boon-op is al die babas nog siekerig ook.


Vrydag tot Maandag is ons Marloth toe en het lekker gerus want Petrus het weer nie alles ingepak wat Alta wou saamvat nie, met die gevolg die naaldwerk wat Alta daar wou doen nie daar was om te doen nie.

Maandag 09 September 2013

2 - 8 September 2013

Maandag hou ons die opening van die ‘Prayer Room’. Dis al die naweek ’n geskarrel om alles gereël en op die regte plekke te kry. Ons hoor dat daar ongeveer ’n duisend mense gaan wees en verstaan nie mooi waar almal vandaan gaan kom nie, maar doen alles soos gevra. Wat ’n gesig om soveel kinders en mense saam in die kerk te sien. Maar moet sê dis nogal ’n storie om die kinders, veral die kleintjies van die ‘Baby house’ en ‘Nursery’ betyds in die kerk te kry en net toe hulle gereed was en oppad kerk toe, daag een dogterjie wie aangeneem word se aanneem-ouers op met koek en koeldrank om dit te vier. Nodeloos om te sê hulle was nie betyds nie, maar daag bietjie later op.
Die opening is deur die kinders, sendelinge, pastore, personeel en besoekers bygewoon. Dit het begin in die kerk met ‘worship songs’, gebede, opvoerings en getuienisse oor die gebedskamer se oorsprong. Daarna is die sentrum se afdelingleiers, pastore en sendelinge vooruit na die gebedskamer toe gestuur om ’n seëntonnel in die huidige gebedskamer te vorm. Daar het elkeen olyfolie gekry om sy/haar hande te smeer en daarna het almal vanaf die kerk gekom en deur die tonnel geloop. Waar vir hulle gebid is en geseën is deur aanraking van die geoliede hande. Na die seën is die leiers, pastore, sendelinge en besoekers met die trappe op na die halfklaar werklike gebedskamer waar daar nagmaal gevier is. Dit is ook duidelik gemaak dat die gebedskamer net ’n gebou is, maar dat dit ’n praktiese plek is waar enige iemand kan kom sit / staan / lê / kniel in gebed / ‘worship’ vir en met God.
Woensdagaad se ‘Home Group’ sê Celia, die sendeling wat in ’n ongeluk met ’n kind betrokke was, dankie vir almal se bystand en gebede en gee terugvoer oor hoe en wat alles met die hofsaak gebeur het. Die hof het haar ’n boete van 14 000 meticals opgelê al was sy nie werklik verantwoordelik vir die ongeluk nie. Die pa, van die kind wat dood is, is ’n pastoor en hy wil nou oorkom met sy gemeente na Celia se kerkverband in Mosambiek (Celia is wel ’n sendeling hier by Zimpeto maar sy doen ook uitreike in haar kerkverband wat haar hierheen gestuur het). Daarna gee ’n besoeker, wat spesiaal gekom het vir die opening van die gebedskamer, en 2 van die sendelinge woorde van seën, bemoediging en profesië aan al die sendelinge. Die besoeker is baie akkuraat en sy ken ons nie.
Saterdagoggend besef Alta een van die kleiner seuns verjaar volgende naweek en ons sal nie hier wees nie, want ons moet SA toe gaan, so sy begin met verjaarsdagreëlings en ons hou verjaarsdagpartytjie die middag.
Sondag is ons vir ’n slag weer na die Afrikaanse kerk toe, in Matola. Jan de Wet is die naweek hier en lei die diens. Alta sê sy het weer vir ’n slag lekker saamgesing. Moet sê ons is nou al goed geoefen in lang dienste, want die uur en ’n half wat die diens geduur het was vinnig om, veral omdat ons verstaan het wat gesê was. 
Ook 'n bietjie op YouTube gesit en die link is http://youtu.be/QTURXz-aE6c
Gedeelte in kerk

Binne die  onderste gedeelte van gebedskamer

Seëning

Nagmaal


Aansigte van die gebedskamer se gebou


Maandag 02 September 2013

25 Augustus – 1 September 2013

Terwyl ons in SA is verneem ons dat daar ’n nuwe seuntjie ingeneem is by die sentrum en by ons groep geplaas is. Dit is interessant om te sien hoe hy alles geniet hier by die sentrum en dit lyk glad nie of hy na sy ouma verlang nie.

Toe ons by die huis kom die Sondagmiddag  is die venster van die deur oop en gebreek. Ons het ’n besoekertjie gehad wat deur die diefwering 270x200mm geklim het. DVD’s lê die sitkamer vol en ook in die kombuis. Die waaiers was aan en meneer het ’n nuwe melk opgemaak, die ketel ingeprop en vir hom ’n koppie tee met suiker en melk gemaak. Hy het ook vir hom en sy maatjie ’n broodjie gesmeer en in die koskas op die goed geklim om by lekkers en grondbonebotter uit te kom. Voor hulle by ons uitgekom het, het hulle ook by die besoekersentrum ingebreek en probeer een van die sentrum se voertuie steel. Hulle is gevang en hulle straf was om in ons tuin Maandag na skool te kom werk, (Alta moes hulle twee en ons 8 seuns besig hou en was moër as hulle twee) en hulle is ook vir ’n week huis toe gestuur. Dit bring mee dat die familie weet wat hul gedoen het, en dan moet hulle ook nog met taxi’s by die skool kom en terug gaan.
Nadat ons uitgepak en opgeruim het, is ons na die sportveld waar daar ’n span van Engeland vir die kinders sport/speletjie aangebied het en dit met ’n worsbroodjie en ’n koeldrank vir elkeen afgesluit het. Die kinders het dit baie geniet. Dit was nogal interessant om die Engelsmanne dop te hou worsbraai in vlamme ipv op kole.

Maandag en Dinsdag verloop normaal, die kinders geniet die tuin en speelkamer by die huis baie. Ons het ’n e-pos van ’n Afrikaanse vrou in Abu Dhabi gekry wat ons blog gesien het en hul werk daar met kinders en hulle wil vir ons camerada se kinders bid. Dis so wonderlik! Ons het met die seuns gepraat en hulle sal hul versoeke vir ons gee om aan te stuur. Ons het ook ‘n ‘playstation’ gekry en Dinsdagaand vir die groter seun gesê dat hulle mag kom speel en dat net ons camerada se groot seuns mag speel, hulle kon nie wag nie en was Woensdag vroeg al hier. Die hele sentrum se seuns beny hulle en ons kleintjies die meeste. Dit wil voorkom of dit die deurbraak was met die groot seuns, want hulle is nou baie meer oop en praat met ons.
Woensdag moes Petrus vroeg opstaan om 06:30 saam met die baas van die sentrum, ontbyt in die stad te gaan eet en daarna ’n potjie golf op Maputo se gholfbaan te gaan speel. Soos met alles in Mosambiek het die gholf ook sy eie uniekheid gehad. Jy ry tussen die privaat hospitaal en privaat Portugese skool deur op ’n teerpad (luuks en baie geld) na ’n grondpad wat eintlik nie lyk of dit rybaar is nie met lae inkomste huise. Die pad eindig na so 3km by die hek van die gholfbaan. Die parkeerterrein en geboue is maar vervalle, jy betaal baanfooie by die sekuriteitsgeboutjie (400 meticas). Daar het 2 joggies (200 meticas elk) opgedaag en een het volgens hom ’n voorgee van 10. Daar is nie so iets soos ’n telkaart wat vir jou die putjie-uitleg wys en baansyfers gee nie. Die baan is egter nogal in ’n goeie toestand en mooi groen. Jy moet egter maar jou oë oophou want daar is baie voetgangers op die baan, want daar is huise regom die baan en die baan is ’n kortpad. Orde is daar ook nie, wanneer jy by jou bal kom maak die joggie ’n grashopie en plaas jou bal daarop, as jy in water beland gaan haal hulle jou bal en plaas dit pragtig vir jou. Jou telling is jou eie probleem. Petrus se joggie was na die einde se kant toe redelik moedeloos met hom want Petrus doen niks wat hy vir hom vertel hoe hy moet slaan nie (dis nou nie dat hy nie wou nie). Woensdagaand met ‘home group’ vertel ’n oud sendeling, Maureen  hoe sy hierheen gekom het en dat god dit op haar gelê het om vir die sentrum en kinders te bid en dat die gebedskamer-idee by haar begin het.

Vrydag is vrek warm en dit sneeu in die kaap. Voorbereidings begin vir die ‘opening’ van gebedskamer, Maandagoggend.
Saterdag moet Petrus grassny met die elektriese-kantsnyer wat van SA saamgebring is. Daar is nie grassnyers hier beskikbaar nie.

Sondagoggend is die kerk weer met oorverdowende volumes, almal wonder hoe om die Mosambiekers te kry om dit sagter te kry, later (13:30) braai ons, ‘n kort middagslapie en verdere voorbereiding vir die opening van die gebedskamer Maandag. Julle sal dalk onthou dat ons al so iets gedoen het, wel dit was net die onderste vloer en net ons hier op die basis. Intussen is die boonste verdiepping gebou en is selfs die dak al op, kort nog vensters en ’n paar deure. Die plan was dat dit sou klaar wees, maar dit werk toe nou nie so uit nie, maar omdat daar met gaste soos Maureen gereël is, wat ver gekom het, om hier te wees gaan ons voort met die amptelike inwyding.





Sondag 18 Augustus 2013

12 - 18 Augustus 2013

Ons het verlede week geskryf van die kinders wat siek is en dat ’n mens tog geheg raak aan hulle. Ons kon nog altyd ’n afstand handhaaf maar nou raak dit al moeiliker, ons is die week ingelig hoe om die een kind in ons dorm te begelei want medies kan daar niks meer gedoen word nie. Daar word nou gewag vir Jesus om hom te kom haal wat binne dae of nog ’n jaar of twee kan wees maar daar is steeds wilskrag in hom en hy erken nie openlik dat hy siek is nie. Verder is daar die klein dogtertjie wat nou van die hospitaal terug gestuur is want hulle kan ook niks verder vir haar doen nie en wanneer jy na daardie gesiggie kyk dan raak dit jou hart.

Ons is besig om in die camerata dit beter en mooier te maak vir die kinders. Een van die sendelinge doen houtwerk en hy het klerekaste vir die klein seuntjies gemaak, waaroor hulle erg opgewonde is en ons is vertel dat hulle name op hul kassies geskryf moet word. Die badkamers is in die proses om geverf te word en ons het ou tafels wat stukkend is gekry om reg te maak en af te skuur vir ’n nuwe laag verf en nuwe blaaie.
Ons het die kinders gevra wat hulle graag  in die camerata wil hê en die eerste ding wat genoem is, was waaiers. Hulle wil ook graag ‘n “disco” hê, dit is ’n CD speler. Verder wil hulle ook ’n yskas en ‘n “sofa” hê. Nou ja dis nou ook nie goed wat met die klap van die vingers aangestap sal kom nie, maar die yskas is nogal nodig veral vir die kind wat siek is en nie altyd vir die rys en droë bone-geregte lus is nie. Hy is baie lief vir yoghurt en melk en dit hou nie as dit nie in ’n yskas is nie en die ander smag na koue water in die warm weer. Dit was alreeds hierdie week weer hier rondom 31°C.

Vrydagaand so half nege word ons ontbied deur die hoof educator, 3 van ons seuns is gekry met DVD’s wat nie aanvaarbaar is nie. Twee was horrors en een aksie maar net een het ’n hoë ouderdomsbeperking gehad. Die vraag is waar trek jy die streep, want enige seun hou tog van aksie flieks en alles kan tog ook nie van hulle weggehou word nie met ’n gevolglike totale onkunde wanneer hulle die wêreld buite moet betree nie.

Saterdag is ons deur die grens Marloth toe vir ’n week van rus en Vella wat so 4 vt iets hoog staan, is saam met ons. Sy kom van Engeland af en is al 8 jaar by Iris. Ons sal nie volgende week ’n blog-inskrywing plaas nie.


Ons sal graag nog mense wil hê om vir die kinders te help bid. Stuur asseblief ’n e-pos en ons sal meer inligting gee oor een of twee van die seuns as julle jul weg oopsien om vir hulle te bid. Die meeste van die seuns het nie ouers of ander familie nie en dus niemand wat vir hulle bid nie. Hulle wissel tussen 13jaar en 18jaar. Hulle het ook nie ‘n plek waarheen hulle sal kan gaan, wanneer hulle die sentrum verlaat nie.

Maandag 12 Augustus 2013

29 Julie – 11 Augustus 2013

Ons het weer ’n week gemis omdat ons verlede naweek getrek het en die res van die week uitgepak het en moes ook voorberei om Woensdagaand se Home Group te lei.

So 2 maande gelede het die Switserse egpaar met 4 kinders gevra of ons nie huise wil ruil nie, want waar hulle aan die anderkant van die sentrum woon is die naweekgeraas en honde van die sentrum en hulle kan glad nie met die geraas slaap nie. Hulle is intussen met vakansie terug Switserland toe en ons het oor naweke gaan luister of dit regtig so erg is met die slotsom dat dit nie is nie. Hier in Mosambiek is daar ooral kroeë en nagklubs in die woongebiede (waarvan daar 2 reglangs die muur van die sentrum is) waar daar naweke van Vrydagaand tot Maandagoggend heeltyd geraas word met musiek op maksimum volume. Ons bevinding was, dit is dieselfde geraas as waar ons bly en besluit om te ruil as dit die Switsers gelukkig sal maak en dit het verlede Saterdag gebeur na hulle terugkeer. Met die pakkery die voorafgaange week kon ons nie glo hoe vinnig mens kon opgaar nie en dit in 7 maande, maar moet darem toegee dat ’n groot hoeveelheid vir die kinders is wat ons hou om met tyd uit te deel. Die nuwe huis is grooter met verskillende vertrekke en nie soos die eerste met kamers wat in ’n groot leefruimte en kombuis uitloop nie. Die voordeel is, dat daar ’n tuin met 2 groot bome is, wat heerlik sal wees in die somer en die huis het ook plafonne in wat dit koeler maak. Na 2 naweke is ons bevinding dat dit vir ons baie stiller hier is, al is daar ’n dorm met 4 jariges aangrensend en oor naweke is die geraasvlak dieselfde as by die ander huis en die honde is ook nie ’n probleem nie. Wat ons nie meer hoor nie is die verkeer in die straat en die kinders by die skool gedurende die dag.

Dit gaan nie goed met ons siek kinders in die sentrum nie. Judith, ’n sestienjarige diabeet, wat sukkel om haar suiker af te hou is, weer in die hospitaal na die hospitaal haar medikasie met sterioide gegee het en dit haar suikervlakke erg beïnvloed. Lucia die vierjarige met TB en nog iets wat nie bepaal kan word nie, is ook weer in die hospitaal in intensief en dit wil voorkom dat sy intussen breinskade gekry met haar siekte, die graad van skade en moontlike herstel is nog nie bekend nie. Inacio, die 16 jarige seun in ons dorm wat kanker het, het sy op-en-afdae maar het nou ook sere in die mond, hy is ook Donderdag gedoop waaroor ons verder onder toe vertel. Dan is daar Raphael, ’n gestremde seun, wat al vir ’n maand opgooi en geen oorsaak kan gevind word nie. Die probleem is dat mens geheg raak aan die kinders selfs al probeer jy om nie te emosioneel betrokke te raak oor hulle nie. Die goeie nuus is dat dit met Kensane wat die hartoperasie ondergaan he, baie goed te gaan, sy lag nou hardop, sy babbel en probeer kruip. Sy is baie meer energiek na die operasie.

Woensdagaand vertel Sonja ons van die reëlings om Inacio en ‘n ander seun te doop en dat dit by ’n huis met ’n swembad iewers gedoen gaan word. Omdat Inacio een van ons dorm se kinders is, gaan Alta Donderdag saam vir die doopery. Ons is 9 wat 9:30 vertrek van die sentrum af en is so 15 – 20 minute later daar. Die vrou waar hulle die doop hou is gereëld in die kerk en sit altyd waar die vertaling in Engels is, sy is van Suid Afrika ( Xhosa) vind ons uit toe ons daar is. Sy doen baie moeite en verskaf ook ’n ete vir ons almal en die seuns kry elkeen ’n nuwe geskenkstel handdoeke. Haar 2 seuns word ook gedoop. Gelukkig draai die dag uit om goed warm te wees vir die wat die water moet aandurf. Die doop is vir elkeen besonders. Ons was 13:20 terug by die sentrum.

Dit wil voorkom of die groot seuns van die dorm ons begin aanvaar, die oudstes is nog baie terughoudend. Ons het hul name en geboortedatums aangevra en kom toe agter dat daar ’n paar is wat verjaar het in die tyd wat die oorname geneem het. Ons het hul uitgesonder, weg van die kleintjies en gereël om Saterdag ’n tydjie met hulle te spandeer. Alta het vir hulle kolwyntjies gemaak en saam met lekkers en koeldrank gegee. Later is daar klere uitgedeel en dit was interresant dat enigiets waarvan hulle nie hou nie, nie sal vat nie al moet hulle sonder dit klaar kom.  

Vrydagaand het ons ’n oproep gekry om ons te vertel dat daar ’n klere skenking van ’n kettinggroep gekom het en dat ons dit Saterdagoggend 9 uur moet uitsorteer en onder die kinders verdeel sodat ’n TV-stasie 10 uur die kinders kan verfilm as advertensie vir die maatskappy. Die probleem is dat stiptelikheid ook hier nie belangrik is nie met die gevolg dat daar net 35 minute was om die klere vir die kinders uit te soek. Die skenking het groot opgewondenheid veroorsaak. Die jongeres het “flees” baadjies gekry, maar vir die grootes was daar meestal onderklere en dan was daar klere vir dogters.

Klein Kensane

Inasio na hy gedoop is, hy het vreugde vol gelag na die doop