Sondag 08 Junie 2014

2 Junie – 8 Junie 2014

Maandag en Dinsdag is die groot opruim en wegpak en skoonmaak na kinderdag. Daar is ook broeke wat korter en die bene wat nouer gewerk moet word. Ons eie goed kry ook die nodige aandag nadat dit ’n ruk lank met tweede plek te vrede moes wees. Die Dinsdagmiddag se program met die kinders was vir ten minste een ’n deurbraak. Ons doen somme met ’n legkaart. Alta verduidelik en hulle wil kortpad vat  en opgee maar sy sê nee, doen dit reg. Hulle kry koeldrank doppies om die tellery te doen, vir een het die doppies nie gewerk nie. Alta het eers nie verstaan wat aangaan nie, want hy duik kort-kort onder die tafel in, maar vir hom het sy vingers en tone beter gewerk en toe die  verstaan kom, blom die gesiggie.
Woensdagoggend word Alta gevra om een van die sendelinge na die Trauma Sentrum toe te neem, dit lyk of sy met nierstene sukkel en verduur baie pyn. Die hele dag word daar gespandeer van 9uur die oggend tot 8uur die aand en sy nog steeds pyn gehad. Ons was ook genooi vir die middag na ’n verjaarsdagviering van die sendeling wat in die gemeenskap woon se huis. Alta mis dié met die hospitaal storie, maar Petrus verteenwoordig ons en kry sy sny koek. Home group is ’n film van ’n ware verhaal van vergiffenis, ‘Railway Man’
Woensdagmiddag begin die rekenaarnetwerk probleme gee en Petrus sukkel 2 dae om dit weer behoorlik te laat werk.

Saterdagoggend kry Alta uit eindelik tyd om die vensters en die deur se roeskolle te verf, maar die witverf  is toe blou. Maar die deur kry toe eerste kans om ’n laag ligbruin verf te kry. Teen 5uur is die meeste geverf en dit moet eers oorstaan tot Maandag vir die tweede laag. ’n Besoekende span  reël ’n spelletjiesaand vir die sendelinge Saterdagaand. Ons geniet dit en lag lekker

Dinsdag 03 Junie 2014

26 Mei – 1 Junie 2014

Na ’n kort kuiertjie saam met van ons eie kinders, keer ons Maandag terug Zimpeto toe. Vanaf aankoms 2 uur word ons besig gehou, die netwerk en internet is van die naweek af (net 1 punt was af), die kinders soek aandag, ens.
Die res van die week gaan oor voorbereiding vir Kinderdag, 1Junie, ’n groot gebeurtenis in Mosambiek (net soos Kersfees). Die kinders kry presente bestaande uit ’n speelding of twee en klere, die dorms word opgemaak met ballonne ens. Op die dag word die kinders vermaak en getrakteer met ’n spesiale ete (rys, gebraaide hoender en slaaiblare).

Ons dorm word egter uitgenooi na die Afrikaanse kerk in Matola vir die oggend en ons kry toestemming om hulle te vat, want die grootste gedeelte van Kinderdag vind eers die middag na kerk plaas. So vertrek ons Sondagoggend 08:00 met 3 voertuie, 22 kinders, 2 personeellede en ons 3 sendelinge. Die oggend se gebeure vind plaas by die nuwe terrein, waarheen die kerk binnekort verskuif, onder groot bome in ’n groot tuin. Daar is pragtige koelte waar ons sit, maar ongelukkig waai daar ’n windjie en die meeste sit en koud kry tot die wind gaan lê, waarna almal sweet want die temperatuur klim na 31°C. Die meeste van die geleentheid word in Engels gedoen en vertaal na Portugees. Daar is ’n poppekas en ‘n geleentheid vir die kinders om ’n spieëltjie of 2 of 3 te versier na die kort preek oor die Woord wat jou spieël as Christen is. Daarna kry almal koek (’n Mosambiek-tradisie), worsbroodjies vir die kleiner kinders en hamburgers vir die res. Die groot seuns trek hulle neuse op vir die hamburgers en eet net een, maar die kleintjies laat nie op hulle wag nie en verslind ook ’n hamburger na die worsbroodjie. Ons het die kinders die Afrikaanse liedjie ‘Ons sê baie dankie, vir die lekker dag’ geleer en dit het groot reaksie by die Suid Afrikaners uitgelok. Moet sê die uitspraak was nogal redelik goed. Oppad terug kry ons probleme met een bakkie se koppelaar wat nie altyd wil werk nie, jy moet jou voet onder die pedaal in haak en dit terugruk sodat dit weer hak en werk. Die jong Irse sendelinkie kry haar opleiding hoe om ’n halfwerkende voertuig van Africa in Africa te bestuur. Dit was ’n baie geseënde dag vir almal, met nog feesvierings toe onsterug kom en ’n ete van hoender, rys en slaai. Die besoek aan die camerata loop ook goed af en Petrus se verjaarsdag word nie vergeet nie en hy word op ‘n bankie in die lug gehou, gelukkig nie op-en-af geskud nie.


Sondag 18 Mei 2014

12 – 18 Mei 2014

Maandag en Dinsdag verloop normaal met die gewone dinge.
Daar is ’n groot naambord met ligte voor die sentrum deur ’n kontrakteur opgesit. Daar is elke keer iets met die woorde verkeerd na dit opgesit is en die laaste keer het net ‘n gedeelte se ligte geflikker en die res het geen lig gehad nie. Hierdie keer toe hulle dit afgehaal het en oopgemaak het, roep die onderhoudsbestuur Petrus om te kom kyk na die elektriese werk. Dit is ’n interresante opset en hulle verklaring, dat die ligte nie almal werk nie, is dat die spanning te laag is. Voor daar iets aan gedoen kan word, het hulle die bord weer aan mekaar en opgesit en enige verdere probleme is nou die sentrum sin. 
Met Donderdagaande se dienste gee hulle ’n teksvers wat die kinders moet memoriseer. Meeste van die tyd doen hulle dit in ’n soort van aflos-wedren-styl tussen die seuns en meisies. Ons kry elke keer die eer om  agter te staan om die kinders wat vorentoe te moet hardloop te beheer. Donderdagaand was die vers agter harte op 2 borde versteek en 8 dogters en 8 seuns moet die harte verwyder totdat die vers leesbaar is en die kompetiesie is sterk. Die dogters wil elke keer wen en dis ’n taak om hulle te laat stil staan totdat die een wat vorentoe is, terug is, voordat die volgende een kan hardloop. Die dogters begin al hardloop as die ander een omdraai, maar daar is geen manier wat Alta hulle kry om te wag tot die een by hulle is nie met die gevolg dat die seuns, wat dit reg doen, altyd verloor.
Saterdagoggend is daar ’n doopgeleentheid gerëel in die see, daar sou 8 uur gery word, maar selfs die pastore was nie betyds nie. Dis koud met ’n ysige wind wat waai. Teen 9uur vertrek die bus, maar die verkeer is druk en ons ry staan staan en is teen 10:15 op die strand. Op die strand is die wind nog kouer en hulle begin eers sing en bid en bietjie inligting word gegee voordat hulle die see in loop. Dis nogal ver wat hulle moet loop, hooggety was 6uur die oggend. Daar is so 20 wat gedoop wil word. Hulle staan in ’n ry en loop nader tot waar die pastore so 70cm diep in die water gestaan het. As hulle terug loop staan daar nog ’n pastoor en sy vrou reg om weer vir hulle te bid. Hulle bibber en trek weer net daar op die strand voor almal uit en aan.
Terug by die sentrum na ons ’n draai in die winkels gaan maak het, maak ons reg vir die braai en spelletjies saam met die sendelinge.

Sondagoggend preek ’n besoeker en dit is ’n baie goeie preek. Daar is ’n sokkerwedstryd in die naby geleë stadium en daar is kaartjies vir ’n klompie en van die groot seun gaan kyk na die wedstryd tussen Mosambiek en Suid Sudan. Mosambiek het 5 – 0 gewen.

Die elektriese werk

 Die doop






Saterdag 17 Mei 2014

5 – 11 Mei 2014

Maandag en Dinsdag doen ons al die aankope vir almal in Zimpeto wat iets uit Nelspruit benodig. Woensdag trek ons ons kruisies en ry terug Maputo toe. Die kinders kom almal vir ’n drukkie toe hulle agterkom ons is terug.
By Home Group Woensdag aand kyk ons na dramafliek wat handel oor Grace en ons kry elkeen ’n stuk oor Grace en Forgiveness wat gelees moet word.
Gedurende die week kom laai ’n pa en stiefma ‘n kind by die sentrum af en verdwyn. Die kind is 4 jaar oud, weeg 10kg, gebreekte arm en vol letsels, daar word ook vermoed dat een been en ribbebene ook gebreek is. Dit is hartseer om te sien, maar dan weer kry ons gratis en goeie behandeling by die privaat hospitaal vir hom.
Waterpokkies het ook kop uitgesteek hier in die sentrum.

Terwyl ons in Nelspruit was, het ons ’n DVD gekoop met die naam, ‘Love, Sex and Dating’ met die oog daarop om dit met die groot seuns te hanteer. Sondagaand draai hulle in die huis rond en kom op die DVD af, dit het hulle nuuskierig gemaak en wil nou net dit sien. Ons moet egter die educator eers daarna laat kyk want hy gaan die vertaling moet doen.

Donderdag 08 Mei 2014

28 April – 4 Mei 2014

Maandagaand neem ons afskeid van die dokter wat vir ’n kort tyd hier was. Ons gaan na die eetplek by die swembad, maar hulle is nou nie juis bekend vir spoedige diens nie. Ons eet lekker, maar was toe ook al so honger na ongeveer twee ure se wag, dat enige iets lekker sou wees.
Dinsdag neem ons weer afskeid van een van die klein seuntjies wat huis toe gaan. Hy is kalm en nie tranerig nie, so dit is vir almal makliker.
Woensdagaand kry ons meer inligting oor tieners en hoekom hulle sulke eienaardige gedrag en optredes kan hê. Dis as of daar ’n kortsluiting in hul breine is, en net nie logiese denke kan hê nie.
Donderdag,  is werkersdag en ook hier is dit ’n vakansiedag. Petrus, Celia, John en Clare  gaan Cumbani toe om die boorgatpomp wat gesteel is te vervang. Vir middagete kry hulle vis in olie gebraai (van die kop tot by die stertvin volledig), pap met te min sout en masinga, of so iets, sous (iets wat van ’n plant se blare gemaak word). Die vis se kop word afgebreek en die res word met die hand stukkie vir stukkie ge-eet. Dus was Petrus Donderdagaand baie honger.
Die skole sluit Vrydag vir ’n week en die kinders is vroeg terug van die skool en neem die huis oor. Dis net met etenstye dat ons stilte ervaar.

Saterdagoggend ry ons  en een van die sendelinge wat deur die grens moet gaan Suid-Afrika toe. Ons waardeer die stilte en sy gaan Sondag met ’n bus terug en ons ry verder Nelspruit toe om Maandagoggend die kar in te neem vir ’n diens. Ons het ’n lang lys goed wat ons moet koop, oplaai en so voorts vir almal en vir die seuns.

Dinsdag 29 April 2014

22 April -27 April 2014

Maandag met die vergadering word ons gevra om vir Woensdag se ‘home group’ ons ervarings van wonderwerke aan te stuur. Hier volg ’n paar van die wonders wat vertel is:
Iemand vertel dat sy wakker geword  het met die gevoel sy moet ernstig bid vir ’n vriend se suster wat sy nog nooit ontmoet het nie, dit was kort voor Kersfees. Sy bid vir 4 ure wat nie gewoond vir haar is nie. Na die feestyd vertel die vriend vir haar dat sy suster  selfmoord wou pleeg en dat sy betyds gevind is en die tyd die gebeure het oor een gestem met die dag en tyd wat sy vir die vrou gebid het.
Nog een vertel van ’n uitslag wat sy vir ’n tyd gehad het en dat daar vir haar gebid is en dat sy later dieselfde dag gesien het dat die uitslag weg is.
’n Dokter, wat ‘n besoeker is, vertel van iemand wat geval het en sy hand ontwrig het, die kneukels het heeltemal op die verkeerde plek gesit en hy wou nie hê dat hulle vir hom moet bid nie, want dit was sy eie skuld omdat hy nie gekyk het wat hy doen nie. Hulle  neem toe sy hand om te kyk en begin toe bid en daar skuif die kneukels terug in posisie in en die ou het dit nie eens agter gekom nie. 
By ’n Bybelskool het ’n vroue student vertel dat sy nie met die kursus kan aangaan nie,  want die dokters het gesê dat haar bene in ‘n te slegte toestand is en dat sy dinge baie rustiger sal moet neem. Die instrukteur in die klas sê toe sy moet aanhou klas toe kom en dat sy sal genees want hulle gaan vir haar bid. Toe sy egter die sere aan die vrou se bene sien het sy gewonder hoekom sy  dit gesê het, want dit het glad nie goed gelyk nie. Hulle het gebid en sy het gesond geword en die kursus voltooi.
Nog iemand het vertel van ‘n meisie vir wie sy gebid het wat baie siek was en drie maande later het sy gehoor dat sy heeltemal genees is.
Sy het ook vir ’n kind gebid wat baie probleme gehad het, onder andere erge skoliose, asemhalings probleme en nog ander goed ook en toe vertel die dokters dat daar ook ’n probleem met haar oë is en dat hulle nie dink sy sal kan sien as sy ouer is nie. Sy het gevoel dat die kind soveel probleme alreeds het dat sy moedeloos en frustreerd gebid het en gevra het dat dit asseblief nie ook nog met die kind moet gebeur nie. Sy moes maandeliks terug hospitaal toe vir ondersoeke en na ’n aantal maande was hier ’n besoekende oogkundige-span. Sy vra hulle om assebief na die kind se toetse te kyk, die oë te ondersoek en vir haar te sê wat hulle mening daaroor is. Hulle het die toetse deurgegaan en hul eie toetse gedoen en naderhand gevra of daar nog ’n kind met dieselfde naam is, want hulle kry glad nie ’n verband tussen die kind wat hulle ondersoek het en die vorige toetse resultate nie. Haar oë was normaal en is tot vandag, ’n hele paar jaar later, nog steeds 100%.

Donderdagaand se diens was uitsonderlik, meer besonderhede is op facebook. www.facebook.com/petrusenalta
Die knappie wat die TV beskadig het lê Donderdagaand en slaap toe ons vir almal moet bid wat so hartseer was. Na ’n rukkie kom ons agter dat daar iemand by hom sit en baie ernstig vir hom bid, maar ons verstaan nie wat hy bid nie. Na hierdie gebed merk ons die laaste paar dae dat hy besonder kalm en rustig is, daar is ook ander wat al ’n tyd lank vir hom bid. Dit lyk of al die gebede werk, dit gaan beslis met hom beter. Ons kry hom eintlik jammer, daar is nou weer ’n TV in die camerata, maar sy straf was dat hy nie mag TV kyk vir ’n week nadat hulle ’n nuwe TV gekry het nie. Die ander laat hom dit ook nie vergeet nie. Vannaand is ons camarata toe en vind hom alleen op sy bed terwyl die ander kyk. Hy lyk maar bedremeld, maar kla glad nie. Moet sê hy vat sy straf soos ’n man, nie soos van die ander wat altyd ander beskuldig en alles doen om uit die straf te kom nie.


Tydens Sondag se diens handel die preek oor eenheid en vertroue in God en as jou verhouding met jou pa nie goed was nie is dit moeilik om God te vertrou. Almal kry toe geleentheid om vorentoe te gaan sodat daar vir hulle gebid kan word, met 3 pa’s wat hulle pa’s verteenwoordig  en toe word daar ook 3 ma’s gevra om dieselfde te doen. Daar is toe net Alta wat ’n ma is,  om die sendlinge te verteenwoordig.

Dinsdag 22 April 2014

14 April – 22 April 2014

Ons pak die Portugees die week aan met een van die seuns in die camerata om ons te help met sinskonstruksie en uitspraak. Na ’n besige dag voel dit of  die inligting te veel vir ons breine is. Ons gaan dit 3 maal ’n week doen.
Alta help uit in die ‘nursery’, want die mense wat daar toesig hou, moet Suid-Afrika toe om aansoek te doen vir die verlenging van hul visa. Daar is 3 nuwe kinders; tweeling dogtertjies van ’n jaar, baie ondervoed en hulle kan skaars sit, lyk soos klein 6maande baba gewoonlik lyk en nog ’n dogtertjie van 5 maande wat soos ‘n 2maande oue baba lyk, net langer. Sy lyk vir my oud, haar gesigies is verrimpel. Dit maak mens sommer hartseer om sulke kinders te sien, daar is geen lig in die tweeling se ogies nie, nie eers as daar met hulle gespeel word nie.
Woensdag ongeveer 13:00 kry ons ’n oproep, daar is ’n nuwe seun, hulle het gedink om hom by camerata 5 te plaas, maar hy is te groot en hul dink dit sal beter wees as hy by ons geplaas word. Hy en sy boetie(baby house) is deur ’n ‘ouma’ van die gemeenskap versorg terwyl die ma in die hospitaal is. Die kerk het met die familie gepraat, maar die sien nie kans vir nog kinders nie en het toestemming gegee dat hulle Iris kontak om die kinders op te neem. Dis vinnig klere bymekaar sit vir hom, want niks word by die families geneem nie.
Die gas van Pemba wat agter moes bly, geniet die kinders en help met aktiwiteite, hy is nogal goed met hulle en hulle geniet die man wat met hulle speel. Die ou van Suid-Afrika sukkel nog met die bakkie. Die plan is dat hy Woensdag sal terugkom en dan vlieg hul Donderdag op Pemba toe en kom so oor 2 of 3 weke terug om die kar en die ander goed wat gestoor word, te kom haal.
Ons ry Donderdag teen 11:00, vir die maandelikse uit en in, grens toe en Marloth toe vir die naweek. Toe ons die e-posse oopmaak sien ons dat nog ’n seun volgende week huis toe gaan. Die 2 boeties is beide in die sentrum en die oudste een sou huistoe gaan, maar die jonger een sou eers bly en later in die jaar gaan. Die ma het blykbaar versoek dat hy ook nou kan gaan, ons is bly daaroor, want hy sou dit baie moeilik aanvaar het om te moes bly.

Gededsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat terug geplaas is, vir aanpassing en inskakeling, sodat hulle daar ook gelukkig sal wees en sal onthou wat hul hier van Jesus geleer het en altyd aan Hom sal vashou en glo.
Vir samewerking van die personeel met die sendelinge.
Vir die camerata met al die uitplasings en die nuwe kind en sy boetie.
Vir die wat siek is en beskerming teen malaria en allerhande ander siektes.