Maandag 23 Junie 2014

16 – 22 Junie 2014

Kensanne is nog in die hospitaal en waterpokkies is oral tussen veral die kleiner kinders. Daar is ook opgooiery  en diaree by die babas. Hier is heelwat besoekers, maar die ‘Baby House’ en ‘Nursery’ is in afsondering, hulle mag nie by die babas en kleinkindertjies kom nie, dis om te voorkom dat dit verder versprei en veral die HIV kinders te probeer beskerm. Daar is ook ander kinders wat baie siek is en ons bid voortdurend vir hulle.

Die ‘missionary’ wat laas jaar in Oktober getroud is en haar Mosambiekse man, is terug nadat hulle ’n tyd lank in Oos Londen gewerk en opleiding gedoen het. Hulle wil spesifiek vir die kinders help. Hulle beplan om ’n program van berading, begeleiding, gebed en dissipelskap met die kinders te doen. Hulle praat veral met kinders wat sosiale- en gedragsprobleme het. Daar is ’n leemte op die gebiede en ons bid dat hulle met sy Mosabiekse agtergrond, beter begrip sal hê en so van groot hulp sal kan wees. Donderdag oggend ry ons saam met ’n ander paartjie Suid Afrika toe. Daar is ’n klomp goed wat gedoen moet word. Ons moet na die Mosambiek se konsulaat in Nelspruit toe gaan om verblyf permitte te probeer kry. Die plan is ook om die paartjie Wildtuin toe te neem, hulle was al 4 of 5 keer saam met ons uit, maar nog nooit in die wildtuin nie. Ons is baie geseën met baie diere en sien al die groot 5 behalwe ’n luiperd, maar sien darem jagluiperde en hiënas. Die enigste rus was Sondag.

9 – 15 Junie 2014

Dis ’n bedrywige week, met die internet wat nie lekker werk nie en voorbereidings om die sokkerwêreldbekker opgestel te kry sodat die kinders die sokker op die grootskerm in die saal te kan kyk.
Kensanne, die Downsindroom dogterjie wat laas jaar die hartoperasie gehad het, het longontstekking en is in die hospitaal. Sy is baie swak en ons bid vir haar om gesond te word en goeie behandeling te kry. Almal se vriende, ondersteuners en familie bid saam.
Sommige van die kinders is erg opstroppelis en hou ons en die ‘educators’ besig. Bid asseblief vir insig en wysheid om hulle so te hanteer, dat hulle wyser uit die situasie sal kom.
Alta neem die nuutse sendelinggesin om ’n paar inkopies te gaan doen. Hulle kom van Noorweë met ’n dogterjie wat pas 2 geword het en ’n seuntjie van 7maande. Inkopies met die bus en twee klein kindertjies met net 1uur tyd in die winkels, is ’n uitdaging op sy eie, wat nog van taal en goed wat onbekend is en etikette wat alles eers gelees moet word in ’n ander taal as jou moedertaal.
Woensdagoggend kom Alta toe eindelik 11uur by die verf uit en laat die laaste venster oorstaan vir Saterdag. By Home Groep praat ons oor vergiffenis en hoe dit in verskillende kulture werk, met arbiters of nie. Een van die Mosambiekers vertel toe dat daar baie moeilike situasies is, wat hulle ondervind met voorvadergeeste en bindings. Hy vertel dat as die ouers op ’n stadium nie skuld kon betaal nie, ’n dogter as bruid belowe word en dat sy nooit daarvan weet nie. As sy dan trou werk die huwelik nie, omdat daar ’n spirituele huwelik was, wat dan probleme gee. Laat mens wonder wat alles oor die kinders is, waarvan ons geen benul het nie en wat die invloede daarvan is.
Donderdagaand na kerk begin die sokker en ons kyk die openingserimonie en die wedstryd tussen Brasil en Cameroen? Dis koud in die saal en kom laat in die bed, eers na 00:30. Vrydagaand begin die sokker vroeër en hou darem ook vroeër op.

Saterdagoggend is dit skoonmaak van die tuin en huis. Sondag is die ete vir die borge en die studente, wat hulle ondersteun en ons tuin en huis is die plek waar dit alles gebeur. Die kombuis het kos gemaak en ons het ’n slaai gemaak, tafels gedek en bedien en skottelgoed gewas. Daar bly baie kos oor veral vleis (hoender) en ons nooi al die sendelinge om Sondagaand te kom help minder te maak. Dis ’n heerlike kuier met net enkles wat nie kon kom nie.

Sondag 08 Junie 2014

2 Junie – 8 Junie 2014

Maandag en Dinsdag is die groot opruim en wegpak en skoonmaak na kinderdag. Daar is ook broeke wat korter en die bene wat nouer gewerk moet word. Ons eie goed kry ook die nodige aandag nadat dit ’n ruk lank met tweede plek te vrede moes wees. Die Dinsdagmiddag se program met die kinders was vir ten minste een ’n deurbraak. Ons doen somme met ’n legkaart. Alta verduidelik en hulle wil kortpad vat  en opgee maar sy sê nee, doen dit reg. Hulle kry koeldrank doppies om die tellery te doen, vir een het die doppies nie gewerk nie. Alta het eers nie verstaan wat aangaan nie, want hy duik kort-kort onder die tafel in, maar vir hom het sy vingers en tone beter gewerk en toe die  verstaan kom, blom die gesiggie.
Woensdagoggend word Alta gevra om een van die sendelinge na die Trauma Sentrum toe te neem, dit lyk of sy met nierstene sukkel en verduur baie pyn. Die hele dag word daar gespandeer van 9uur die oggend tot 8uur die aand en sy nog steeds pyn gehad. Ons was ook genooi vir die middag na ’n verjaarsdagviering van die sendeling wat in die gemeenskap woon se huis. Alta mis dié met die hospitaal storie, maar Petrus verteenwoordig ons en kry sy sny koek. Home group is ’n film van ’n ware verhaal van vergiffenis, ‘Railway Man’
Woensdagmiddag begin die rekenaarnetwerk probleme gee en Petrus sukkel 2 dae om dit weer behoorlik te laat werk.

Saterdagoggend kry Alta uit eindelik tyd om die vensters en die deur se roeskolle te verf, maar die witverf  is toe blou. Maar die deur kry toe eerste kans om ’n laag ligbruin verf te kry. Teen 5uur is die meeste geverf en dit moet eers oorstaan tot Maandag vir die tweede laag. ’n Besoekende span  reël ’n spelletjiesaand vir die sendelinge Saterdagaand. Ons geniet dit en lag lekker

Dinsdag 03 Junie 2014

26 Mei – 1 Junie 2014

Na ’n kort kuiertjie saam met van ons eie kinders, keer ons Maandag terug Zimpeto toe. Vanaf aankoms 2 uur word ons besig gehou, die netwerk en internet is van die naweek af (net 1 punt was af), die kinders soek aandag, ens.
Die res van die week gaan oor voorbereiding vir Kinderdag, 1Junie, ’n groot gebeurtenis in Mosambiek (net soos Kersfees). Die kinders kry presente bestaande uit ’n speelding of twee en klere, die dorms word opgemaak met ballonne ens. Op die dag word die kinders vermaak en getrakteer met ’n spesiale ete (rys, gebraaide hoender en slaaiblare).

Ons dorm word egter uitgenooi na die Afrikaanse kerk in Matola vir die oggend en ons kry toestemming om hulle te vat, want die grootste gedeelte van Kinderdag vind eers die middag na kerk plaas. So vertrek ons Sondagoggend 08:00 met 3 voertuie, 22 kinders, 2 personeellede en ons 3 sendelinge. Die oggend se gebeure vind plaas by die nuwe terrein, waarheen die kerk binnekort verskuif, onder groot bome in ’n groot tuin. Daar is pragtige koelte waar ons sit, maar ongelukkig waai daar ’n windjie en die meeste sit en koud kry tot die wind gaan lê, waarna almal sweet want die temperatuur klim na 31°C. Die meeste van die geleentheid word in Engels gedoen en vertaal na Portugees. Daar is ’n poppekas en ‘n geleentheid vir die kinders om ’n spieëltjie of 2 of 3 te versier na die kort preek oor die Woord wat jou spieël as Christen is. Daarna kry almal koek (’n Mosambiek-tradisie), worsbroodjies vir die kleiner kinders en hamburgers vir die res. Die groot seuns trek hulle neuse op vir die hamburgers en eet net een, maar die kleintjies laat nie op hulle wag nie en verslind ook ’n hamburger na die worsbroodjie. Ons het die kinders die Afrikaanse liedjie ‘Ons sê baie dankie, vir die lekker dag’ geleer en dit het groot reaksie by die Suid Afrikaners uitgelok. Moet sê die uitspraak was nogal redelik goed. Oppad terug kry ons probleme met een bakkie se koppelaar wat nie altyd wil werk nie, jy moet jou voet onder die pedaal in haak en dit terugruk sodat dit weer hak en werk. Die jong Irse sendelinkie kry haar opleiding hoe om ’n halfwerkende voertuig van Africa in Africa te bestuur. Dit was ’n baie geseënde dag vir almal, met nog feesvierings toe onsterug kom en ’n ete van hoender, rys en slaai. Die besoek aan die camerata loop ook goed af en Petrus se verjaarsdag word nie vergeet nie en hy word op ‘n bankie in die lug gehou, gelukkig nie op-en-af geskud nie.


Sondag 18 Mei 2014

12 – 18 Mei 2014

Maandag en Dinsdag verloop normaal met die gewone dinge.
Daar is ’n groot naambord met ligte voor die sentrum deur ’n kontrakteur opgesit. Daar is elke keer iets met die woorde verkeerd na dit opgesit is en die laaste keer het net ‘n gedeelte se ligte geflikker en die res het geen lig gehad nie. Hierdie keer toe hulle dit afgehaal het en oopgemaak het, roep die onderhoudsbestuur Petrus om te kom kyk na die elektriese werk. Dit is ’n interresante opset en hulle verklaring, dat die ligte nie almal werk nie, is dat die spanning te laag is. Voor daar iets aan gedoen kan word, het hulle die bord weer aan mekaar en opgesit en enige verdere probleme is nou die sentrum sin. 
Met Donderdagaande se dienste gee hulle ’n teksvers wat die kinders moet memoriseer. Meeste van die tyd doen hulle dit in ’n soort van aflos-wedren-styl tussen die seuns en meisies. Ons kry elke keer die eer om  agter te staan om die kinders wat vorentoe te moet hardloop te beheer. Donderdagaand was die vers agter harte op 2 borde versteek en 8 dogters en 8 seuns moet die harte verwyder totdat die vers leesbaar is en die kompetiesie is sterk. Die dogters wil elke keer wen en dis ’n taak om hulle te laat stil staan totdat die een wat vorentoe is, terug is, voordat die volgende een kan hardloop. Die dogters begin al hardloop as die ander een omdraai, maar daar is geen manier wat Alta hulle kry om te wag tot die een by hulle is nie met die gevolg dat die seuns, wat dit reg doen, altyd verloor.
Saterdagoggend is daar ’n doopgeleentheid gerëel in die see, daar sou 8 uur gery word, maar selfs die pastore was nie betyds nie. Dis koud met ’n ysige wind wat waai. Teen 9uur vertrek die bus, maar die verkeer is druk en ons ry staan staan en is teen 10:15 op die strand. Op die strand is die wind nog kouer en hulle begin eers sing en bid en bietjie inligting word gegee voordat hulle die see in loop. Dis nogal ver wat hulle moet loop, hooggety was 6uur die oggend. Daar is so 20 wat gedoop wil word. Hulle staan in ’n ry en loop nader tot waar die pastore so 70cm diep in die water gestaan het. As hulle terug loop staan daar nog ’n pastoor en sy vrou reg om weer vir hulle te bid. Hulle bibber en trek weer net daar op die strand voor almal uit en aan.
Terug by die sentrum na ons ’n draai in die winkels gaan maak het, maak ons reg vir die braai en spelletjies saam met die sendelinge.

Sondagoggend preek ’n besoeker en dit is ’n baie goeie preek. Daar is ’n sokkerwedstryd in die naby geleë stadium en daar is kaartjies vir ’n klompie en van die groot seun gaan kyk na die wedstryd tussen Mosambiek en Suid Sudan. Mosambiek het 5 – 0 gewen.

Die elektriese werk

 Die doop






Saterdag 17 Mei 2014

5 – 11 Mei 2014

Maandag en Dinsdag doen ons al die aankope vir almal in Zimpeto wat iets uit Nelspruit benodig. Woensdag trek ons ons kruisies en ry terug Maputo toe. Die kinders kom almal vir ’n drukkie toe hulle agterkom ons is terug.
By Home Group Woensdag aand kyk ons na dramafliek wat handel oor Grace en ons kry elkeen ’n stuk oor Grace en Forgiveness wat gelees moet word.
Gedurende die week kom laai ’n pa en stiefma ‘n kind by die sentrum af en verdwyn. Die kind is 4 jaar oud, weeg 10kg, gebreekte arm en vol letsels, daar word ook vermoed dat een been en ribbebene ook gebreek is. Dit is hartseer om te sien, maar dan weer kry ons gratis en goeie behandeling by die privaat hospitaal vir hom.
Waterpokkies het ook kop uitgesteek hier in die sentrum.

Terwyl ons in Nelspruit was, het ons ’n DVD gekoop met die naam, ‘Love, Sex and Dating’ met die oog daarop om dit met die groot seuns te hanteer. Sondagaand draai hulle in die huis rond en kom op die DVD af, dit het hulle nuuskierig gemaak en wil nou net dit sien. Ons moet egter die educator eers daarna laat kyk want hy gaan die vertaling moet doen.

Donderdag 08 Mei 2014

28 April – 4 Mei 2014

Maandagaand neem ons afskeid van die dokter wat vir ’n kort tyd hier was. Ons gaan na die eetplek by die swembad, maar hulle is nou nie juis bekend vir spoedige diens nie. Ons eet lekker, maar was toe ook al so honger na ongeveer twee ure se wag, dat enige iets lekker sou wees.
Dinsdag neem ons weer afskeid van een van die klein seuntjies wat huis toe gaan. Hy is kalm en nie tranerig nie, so dit is vir almal makliker.
Woensdagaand kry ons meer inligting oor tieners en hoekom hulle sulke eienaardige gedrag en optredes kan hê. Dis as of daar ’n kortsluiting in hul breine is, en net nie logiese denke kan hê nie.
Donderdag,  is werkersdag en ook hier is dit ’n vakansiedag. Petrus, Celia, John en Clare  gaan Cumbani toe om die boorgatpomp wat gesteel is te vervang. Vir middagete kry hulle vis in olie gebraai (van die kop tot by die stertvin volledig), pap met te min sout en masinga, of so iets, sous (iets wat van ’n plant se blare gemaak word). Die vis se kop word afgebreek en die res word met die hand stukkie vir stukkie ge-eet. Dus was Petrus Donderdagaand baie honger.
Die skole sluit Vrydag vir ’n week en die kinders is vroeg terug van die skool en neem die huis oor. Dis net met etenstye dat ons stilte ervaar.

Saterdagoggend ry ons  en een van die sendelinge wat deur die grens moet gaan Suid-Afrika toe. Ons waardeer die stilte en sy gaan Sondag met ’n bus terug en ons ry verder Nelspruit toe om Maandagoggend die kar in te neem vir ’n diens. Ons het ’n lang lys goed wat ons moet koop, oplaai en so voorts vir almal en vir die seuns.