Saterdag 19 Desember 2015

November 2015

Die kinders skryf eksamen of toetse soos hulle dit noem, in een klas kry die kinders skielik goeie punte en na een dorm parent so ‘n bietjie uitvra kom dit uit dat die onderwyser die antwoorde op die bord geskryf het, wat nie teveel vir een van ons seuns gehelp het nie, hy het steeds 3 uit 20 gekry. Joe is ongelukkig, want hy het ‘n ooreenkoms met sy kinders dat wanneer hulle goeie punte kry vir ‘n vak gee hy hulle ‘n koeldrank, brood en ‘n ‘pajea’, en hy moes skielik baie koop. Interresant is dat alle toetse uit 20 tel tot by die Bybelskool met die verklaring dat niemand kan persentasie uitwerk nie, daarom kan toetse nie 30 of enige ander punt wees nie.

Die eerste dag  van vakansie en die kinders het reeds begin baklei. Ons probeer om ons laaste dag of twee nie te raas as hul stout is nie.

Een oggend is daar probleme, een van die sekuriteitshonde het glo ‘n kind gebyt en so erg dat ‘n stuk van sy lip afgeskeur is. Die waarheid wat later bepaal is, is dat die seun wat kos vir die honde aandra maar nie naby hulle mag kom nie, oor ‘n muur geklim het in ‘n lee hok in, om te sien wat die oppasser maak en het sodoende te naby aan die honde gekom en een het hom met sy pootnael deur die draad aan sy lip gehak. Die wond was nie naby so erg nie slegs een steek was nodig om die sny in die lip te heg.

Ons laaste week bestaan uit pak, huis skoonmaak en afskeidsfunsies. Woensdagaand se afskeid saam met die sendelinge is besonder want die dormseuns en ‘n groep van die meisies met wie Alta kontak gehad het by die naaldwerkkamer, is teenwoordig. Die seuns sing, een lees ‘n groeteboodskap en die meisies lewer ‘n dans item. Onder is die seuns se singitem wat Donderdagaand weer in die kerk herhaal is na daar vir ons gebid is. Vrydagmiddag het ons ‘n afskeidsbraai saam met die Onderhoud- en Vervoer-afdelings waar Petrus betrokke was, se personeel en 3 ure later braai ons weer saam met Joe vir oulaas op ‘n Vrydagaand. Joe, ‘n  Wes-Transvaalse boer, het elke Vrydagaand ‘n bring en braai vir die sendelinge wat daar is en die besoekers, so maak hy seker dat ons Suid Afrikaanse ‘braai’ nie as BBQ die wêreld ingestuur word.

Saterdagoggend net na 8 uur, groet ons die kinders, ons gee klappers (coconut) wat twee moet deel. Alles gaan goed tot een van die seuns begin huil, die nagevolg, al die vrouens en toesighouer is in trane. Later kom ons agter een van die seuns is nie daar nie, daar word orals gesoek maar niemand kry hom nie. Terugvoer die volgende dag is dat die een wat gehuil het die middag gelukkig op die speelgrond rond was, die verlore een was stil gewees. Die vermoede was dat hy nie kans gesien het om te groet nie.

En so kom ons werk by Iris Zimpeto ten einde. 

 

 

 

Maandag 16 November 2015

September / Oktober 2015

Vir die wat nog nie weet nie, ons pad eindig einde November 2015 hier by Zimpeto en volgende jaar gaan ons na ‘n Bybelskool toe in die Wes-Kaap. Daar word gepak en goed word terug gery huis toe, kinders se Kersfees presente word reg gekry en huis uitgesorteer met alles wat oor die amper 3 jaar opgegaar is.

Daar is begin met kleingroepe hier op die basis. Daar is baie sendelinge weg vir ‘n kuier by die huis en ons word gevra om een groep te lei tot die permanente groepleiers terug is. By die eerste byeenkoms was worship ‘n belewenis, het nog nie so iets by ‘n kleingroep belewe nie.

Soos voorheen vertel woon ons ook ‘n selgroep in die stad by wat onder die Lewende Gemeente Maputo val. Die groepleiers bly op die 13de verdieping waar ons bymekaar kom. Daar is 3 hysbakke, kan nie onthou dat ons al ooit aldrie gelyk  in ‘n werkend toestand gekry het nie, maar hierdie keer wou nie een ons vervoer nie. So ons is met die trappe op 13de vloer toe, dit het ‘n rukkie geneem maar ons het dit gemaak sonder om te hard te blaas of styf te wees die volgende dag, dit moet ons daaglikse stappery hier op die sand wees wat ons fiks genoeg gemaak het. Die terugtog was 2 verdiepings se trappe en ander werkende hysbakke in ‘n ander vleuel van die gebou waarvan ons nie geweet het nie.

Na baie gesukkel word die kinders nou Donderdagaande met die kerkdiens meer betrek en so gebeur dit dat ‘n seun van so 12 een aand die diens lei en ook sy getuienis met ons deel. Hy vertel hoe sleg hulle by die huis deur hulle stiefma behandel is en sodoende hier beland het en Jesus hier gevind het. Dit laat mens weer perspektief kry hoekom jy hier is, oor tyd en met baie frustrasies en probleme begin mens moedeloos word.
Daar is ‘n toename in longontsteking onder die kinders wat maar seker aan die oorgang van seisoen toegeskryf kan word. Ons cam het al 4 gevalle gehad in 6 weke se tyd.


Die kinders word al moeiliker om te beheer en ons kan nie agterkom of dit is omdat ons weggaan nie en of dit maar nou net is dat hulle moeg is aan die einde van die skool jaar nie. 

Saterdag 19 September 2015

Julie en Augustus 2015

Daar word tans ‘n probleem ondervind met ‘n tekort aan huisvesting vir sendelinge, veral vir getroude pare wat aan die toeneem is. Die gebou waarin in huis is, is heringedeel sodat daar nou 3 pare in kan woon en wat meegebring het dat ons twee kamers afgestaan het. Dis is nie ‘n probleem nie, ons moet net weer van opgehoopde rommel ontslae raak en vir die res pakplek soek.

Een van ons eerste seuns nou so 11 jaar is die kleinste in die groep (‘n meter hoog en 30kg) maar die vinnigste om sy vuiste te gebruik, het een oggend by die skool buite die klas met sy maatjies gespeel want die onderwyseres was nie in die klas nie. ‘n Ander onderwyser wat verby gestap het, het hulle glo aangesê om in die klas in te gaan (dis wat vir ons vertel is, maar nie so seker dit was al nie). Die knaap het losgetrek en die onderwyser met die vuis bygekom en daarna met ‘n besemstok. Einde was die onderwyser het by die kliniek geëindig en die knaap vir ‘n week op sy bed en geen snoepgoed vir ‘n paar dae.
Een van die groot seuns vra om gedurende die skoolvakansie vir ‘n week te gaan kuier, hy word 2 dae toegestaan maar kom eers 7 dae later terug waarna hy baie kwaad is om hy tot Februrie volgende jaar gehok is.
Wat ook met hierdie episode uitgekom het, is dat die kinders nie weet dat daar ‘n rekord van elkeen bygehou word en dat alles oor hulle in dit bygehou word nie. Hulle weier om dit te glo en sê ons jok vir hulle.
Dan is daar ook die tieners (seuns en meisies) met hulle hormone wat graag saam wil kuier en nie mag nie. So was een van ons seuns in die moeilikheid daaroor.   

Na trotsering van Bloemfontein se minus temperature en ook Guateng se koue kon ons nie wag om na 3 weke weer Marloth en Mosambiek na se hitte te voel nie.

Ons arriveer terug van SA na ‘n maand se kuier by die kleinkinders (en ook kinders) vroeg Augustus en loop ons vas in ‘n muskietplaag, honderde van hulle. Enigste antwoord was die echo vriendelike elektriese-raket, dit het ons voorarm en rughand goeie oefening gegee, maar ons het gewen en die huis is amper muskietloos.

Die kinders word so 2 keer ‘n maand, meestal minder, met die bus uit die sentrum geneem meestal strand toe. Ons verneem met die tyd dat die ander dorms soms ook na ‘n rivier toe geneem word. Toe dit weer ons groep se beurt is om uit te gaan vra ons om ook rivier toe te gaan. Dis ‘n belewenis vir die kinders. Ons eindig toe op by Maccanetta waar die ferry is. Dis ‘n Saterdag-middag en in die area waar die ferry vasgemeer word is vol voertuie en mense. Die ongelooflike is dat die bus-bestuurder daar inry met die bus en toe nog parkeer plek tussen al die voertuie soek. Ons klim af en bekyk die wȇreld saam met die kinders, daar is baie dinge aan die gang. Hulle is besig om ‘n brug oor die rivier te bou en die ferry is vol en trek weg na die oorkant, alles dinge wat die kinders nog nooit beleef het nie. Ons verduidelik wat alles gebeur en wys hulle ook waar die plaaslike mense visvang, meestal met ‘n gewone stok of riet en ‘n stuk vislyn.
So kom ek toe nou agter dat die kinders regtig nie verstaan het wat hulle gesien het nie, wat nog te sê van die brugkonstruksie wat ons probeer verduidelik het. In die programme wat ons doen leer ons hul van die aarde, kontinente, oseane, riviere ens. En dis nou hier wat hul geen begrip het van ‘n rivier nie en dit nadat ons by ‘n rivier met hulle was nie. Water is deel van die oseaan, nie van riviere en mere nie! Kry net nie die begrip oorgedra nie.


 

 

 



Een Sondag word ons deur ons selgroepleiers genooi om gebraaide hoender op Maputo se stand te gaan eet. Dit is ‘n unieke ondervinding van Mosambiek. Jy kan kies of jy ‘n heel hoender of halwe een wil hê. Dit word langs jou agter ‘n skerm op ‘n rooster gebraai en dan saam met slaai en slap-chips voor gesit. Voor jy begin eet, bring hulle vir jou water waarmee jy jou hande was en daarna val jy weg met jou hande en eet die hoender wat baie lekker voorberei was. Ons elk het‘n halwe hoender gehad en moes ‘n groot deel huis toe vat vir later. (Met dank aan Hendrik en Kittie)



Saterdag 20 Junie 2015

19 Januarie – 30 Junie 2015

Ons het ‘n bietjie lui geword om te skryf maar ons is oor die vingers geraps, so hier gaan ons weer.

Januarie tot Maart was erg warm met hoë humiditeit. Ons het agter gekom dat dit moeilik is om ‘n voldag se hande-arbeid te kan handhaaf met die hoë temprature, dit voel soms ons het sleg geword. Verder wil dit nou voorkom of ons geklimatiseer het, want nou hier in Junie met temperature van 21° -24°C kry ons koud en soek ‘n warmding en kombers op die bed. Alta se neus wat altyd eers so by 16°C koud geword het in Middelburg, word nou al by 24°C koud in Maputo.
  
Met die 27 kinders gaan dit goed, kinderdag 1 Junie was groot pret vir die kinders, met sport by die skool en by die sentrum klere en presente. Dit was ‘n suksesvolle dag en met die ondersteuning van die Lewende Gemeente Maputo, wat 31 Mei ons groepie kinders bederf het met geskenke en eetgoed was dit nog ‘n groter ervaring vir die kinders. Hulle het ook vir elke kind ‘n sokkerbal gegee, wat die ‘educator’ mal gemaak het met die geraas wanneer elkeen sy bal in die camarata gehop het, dit gaan nou rustiger met die balle behalwe dat ons nou elke dag so 2-4 balle moet stywer pomp.


Saam met die al geskenke wat hulle gekry het, het hulle ook ‘n fiets vir die camarata gekry. Ons moet nou 23 seuns leer fiets ry en die plek daarvoor is ook nou nie volop waar daar met ‘n fiets gery kan word nie, as gevolg van die natuurlike sandput waarin ons bly. Wees verseker dit is makliker om jou eie 3 kinders te leer fiets ry as 23 energieke seuntjies wat glo dit is net op klim en trap en dan ontdek dit werk nie so maklik nie. So daar is begin met ‘n middag na badtyd vir 1 kamer op ‘n slag. Ons ontdekking is dat uit die hele span is daar net 1 wat kan onafhanklik ry en ‘n groot aantal het geen voetkoördinasie nie, hulle trap met een voet tot onder en in plaas daarvan oor te beweeg met die ander voet om met die te kan trap, trap hulle agter toe. Selfs met die balanseer wiellietjies kan hulle nie regop bly nie, met die gevolg dat die trappe en wiellietjies afgehaal is en nou moet hulle die fiets met hulle voete stoot en leer om te balanseer.
            Gebed: Ons se dankie vir talle skenkings en bydraes om die dag vir die kinders besonders te maak.




Daar is in die verlede min ag geslaan op huiswerk, maar hierdie jaar is besluit dat die kinders beter beheer moet word en ag gegee moet word aan hul huiswerkopdragte. Daar was nogal teenstand uit die meesonverwagte oorde. Die persepsie het posgevat dat die sentrum se kinders nie huiswerk hoef te doen nie, by die kinders en die ‘educators’. Dit het inspanning en motiveering gekos om almal sover te kry om saam te werk, maar dit gaan al beter en die kinders se toets uitslae lyk alreeds beter as in die verlede.
            Gebed: Ons is dankbaar vir die vordering wat gemaak is. Vir die onderwysers en ‘educators’ se samewerking en bid dat die kinders besonder goed sal vorder in die skool.


Die kinders het nou te veel geword om elkeen ‘n afsonderlike verjaarsdag-patytjie te hou en gevolglik word daar nou eenmaal per maand een groot partytjie gehou vir almal wat die maand verjaar. Hulle kry pasta en ‘n hoenderige sous en is baie opgewonde oor die vooruitsig en gewoonlik gebeur die etery net na middagete gehad het. Ons probeer ook om vir hulle ‘n koek te gee, dis baie belangrik by enige feesgeleentheid hier, as die stowe werk!


 Daar is ‘n 5 aan ‘n kant sokkerbaan vir die kinders gebou en is op 30 April geopen met ‘n wedstryd tussen die sendelingmans (met dieselfde aantal groot seuns van die sentrum, om ons af te los) teen die werkers. Ons onfikse klomp sendelinge het so 3 minute gespeel dat weer afgelos vir dubbel die tyd waarna ons weer so 3 minute gespeel het en ons was ook in die moeilikheid dat ons nie altyd net 5 op die baan was nie. Ons het gewen 1 – 0. Baie trots op ons self.


Ons het ook by ‘n selgroep van die Lewende Gemeente ingeval en kom elke Dinsdag in Maputo by Hendrik en Kitty by een. Dis besonders om so ‘n saam groei en leer geleentheid in ‘n vreemde land in Afrikaans te kan hȇ, selfs al praat ons soms Engels en lees uit ons Engelse Bybels. Ons is nou 8 Suid-Afrikaners op die basis en 5 van ons woon die groep by.
            Gebed: Dankbaarheid vir die voorreg om in vrede en veiligheid bymekaar te kan kom, vir elkeen se bydrae in die land en vir elkeen in die groep se persoonlike omstandighede.

Ons is nou 8 Suid Afrikaners hier, 3 getroude pare en 2 enkelopendes (die meerderheid onder die sendeling nationaliteite). Die een enkelopende is ‘n gewese boer van die Wes-Transvaal en van dag een af was hy in die moeilikheid by ‘n ouer enkellopende vroulike sendelinge tot groot plesier vir ons ander Suid Afrikaners (ons het iets om hom mee te terg in Afrikaans en net ons verstaan dit). Dit het weer sterk na vore gekom hoe moeilik dit kan raak tussen mense met verskillende persoonlikhede in ‘n klein gemeenskap om saam te leef.


‘n Egpaar van Engeland oor wie ons al geskryf het en met wie ons goeie vriende geword het, is nou permanent terug huis toe wat vir ons negatief is. Die laaste Suid Afrikaanse egpaar wat Januarie geariveer het en ook ons ouderdomsgroep is maak egter daarvoor op.



Donderdag 22 Januarie 2015

17 November 2014 – 18 Januarie 2015

Dit is ’n  lang tyd sedert ons laas geskryf het, maar dit was ook baie besig.
Ons was die naweek van 21-23 November in Middelburg en het ’n paar dinge daar gedoen wat aandag nodig gehad het en toe ook saam met ’n paar bekendes gekuier en Sondag weer by ons ou kerk gekuier. Dit was besonders en lekker om op te vang en te hoor hoe dit met almal gaan. Dankie vir al die goeie wense en gebede, dit dra ons.
Daarna het ons ouma opgelaai en gaan kennis maak met ons nuwe kleindogter. Ons is die volgende oggend Bloemfontein toe, waar ons ‘n week by ons oudste dogter gaan kuier het en toe terug is na die tweede oudste om weer daar ’n week te kuier. Daarna is ons terug Middelburg toe om nog sake te gaan afhandel, Nelspruit toe om dinge daar te gaan doen en toe Marloth toe. Daar het ons skenkings uitgesorteer en besluit wat kan later gaan en wat nou moet saam terug vir die kinders vir Kersfees. ’n Paartjie het vir die naweek kom kuier en ons is die Maandag terug Zimpeto toe. Naby Matola het ’n oorlaaide bakkie met ‘n sleepwa aan ons linkerkant, tussen die geelstreep en die skouer van die pad by ons probeer verby steek en ons getref met die sleepwa se wiel. Die skade was nie te erg nie, maar dit was ’n lang proses om by die polisie en versekering alles gedoen te kry. Dis ‘n bestuuring dat niemand beseer is nie. Die kar is nog nie reg nie, met al die vakansiedae in hierdie tyd, sloer dinge maar.
Kersfees was baie warm en besig, ’n lang dag, met almal spoggerig in hul nuwe klere. Nuwe jaar het vinnig gevolg en die kinders is vermaak en besig gehou, en die aand is afgesluit met vuurwerke middernag.
Maandag 5 Januarie het ons die 8 seuntjies van camatata 5 ontvang. Almal baie opgewonde oor die nuwe bly plek. Sover gaan dit goed en lyk dit of hulle goed inskakel, hoop en bid dit hou aan. Daar is 2 wat bekend is vir die moeiliheid  wat hulle maak. Ons het ook een van die groot seuns gegroet, wat in die huis, wat sy ma vir hulle agtergelaat het, ingetrek het. Ons het dus nou ‘n dorm met 23 kleiner seuns en 4 grotes.
Ons is dankbaar vir talle seeninge en ons pragtige kinders en kleinkinders en die voorreg om ook hier die hande en voete van Jesus te kan wees en ’n verskil vir hierdie kinders te kan maak.

Bid asseblief vir ons in hierdie jaar vir:
Baie geduld en insig wat hierdie kinders betref, en aanleer van die taal,
Die veranderinge en aanpassings vir die wat huis toe gaan of hier moet inskakel,
Volgehoue finansies om te kan doen wat ons doen en ook vir die finansies van Iris Global en Zimpeto,
Gesondheid, beskerming teen malaria muskiete en bose magte,
Goeie vordering  van die kinders in die skool en vir die onderwysers om hul beste te lewer,
Dat die wat na die kinders omsien (educators) werklik vir hulle sal omgee.


3 - 16 November 2014



Die week was besig met tieners wat hul wil wil afdwing en ’n houding het van ek is groot en maak soos ek wil. Gordyne hang en maak, klere uit sorteer en sien wat kort en wat moet gekry word. Ons is besig om die goed wat ons van skenkings ontvang het uit te sorteer vir Kersfees, soos Kinderdag, is Kersfees die ander groot dag en almal kry klere en speelgoed op die twee dae. Ons gaan oor ’n week Suid-Afrika toe vir ’n paar dae, om by die kinders en Ouma te kuier en ook om ons nuwe kleinkind te verwelkom. Ons het baie T-hemde vir die kleiner seuns, maar min vir die groter seuns en kort broeke, onderbroeke en kouse is vir almal in groot aanvraag. Dan is daar ook die gereed maak vir die klompie kleintjies wat ons van die ander ‘camarata’ gaan ontvang net ’n paar dae na Kersfees.

Sondag 02 November 2014

20 Oktober - 2 November 2014

Een van ons groot seuns is huis toe gestuur en ons is hartseer.  Ons het ook ’n verjaarsdag gehad  en daar is nog 2 in die kommende week. Die gewone dinge hou ons besig en ons begin voorbereidings tref vir die vakansie van die kinders wat 14 November begin asook vir Kersfees.
Ons het ’n besoeker van Slovakia wat vir die kinders T-hemde gebring het en vir hulle gekleurde kleremerkers  gegee het om dit mee te versier. Sy het vir hulle Jesaia 49:16 gegee en vertel dat hulle name in Jesus se hande geskryf is en dat Hy hulle elkeen ken en alles van hulle weet. Hulle moes hul hande saam met die teks gedeelte op die hemde sit. Dit lyk of dit nogal ’n impak op hulle gemaak het. Die groot seuns is nie so gewillig om hulle name in hul hand afdrukke te skryf nie. Foto's is op facebook.
Ons was Saterdagoggend na ’n Amerikanse ‘garage sale’  toe by die wonings van die mense van die Amerikaanse ambassade. Was nogal interresant om te sien wat hulle uitgooi. Ons het ’n klompie DVD’s vir die kinders teen R30-00 gekoop. Sowat van sekuriteit is nie oral te kry nie. Daarvandaan is ons na die nuwe Builders Warehouse in Matola. Dit lyk net soos die winkels in SA maar hulle het ’n bietjie deurmekaar geraak waar hulle is, onderandere die elektriese proppe SA se 3 punt proppe en nie Mosambiek se 2 punt proppe nie. Dis was egter ’n winsgewende uitstapie want ons kon daar toerusting vir die sentrum kry wat baie goedkoper is as op ander plekke. Daarna is ons see toe waar ons ’n laat middagete by ons gewone restaurant langs die see geniet het.
Terwyl ons nog wag vir ons kos, word ons verwittig dat een kind met ’n bynes gekaring het en dat die bye almal aanval. Na ons vir die hoof educator gesê het om die kinders in hulle dorms toe te maak en die bye uit te los, hulle sal self tot rus kom, het hulle steeds ’n vuur langs die boom gaan maak (waaroor ons verwittig is dat dit buite beheer geraak het) wat die bye verder kwaad gemaak het. Ons het so ’n uur of wat later by die sentrum opgedaag met die verwagting dat die keniso (rietafskortings) van die sentrum afgebrand sal wees met bye oral, maar alles was rustig met geen by insig behalwe by die nes nie en materiaal, wat vir die vuur gebruik is, wat nog rook langs die boom. Slegs ’n klompie kinders het bysteke opgedoen en met geen erenstige nagevolge nie. Interresant die kinders vertel jou baie bye het hulle gesteek, maar as jy vra waar die steek plekke is kan hulle net een of twee wys, of glad nie. Iets steek een se voet in die sand en toe kry die bye ook daarvoor die skuld, ’n dag later.
Sondag is ons in die kerk hier en die kinders moes ’n bietjie vasgevat word. Hulle gesels en loop uit net wanneer hulle wil. Ons het ‘n lekker Sondagmiddag rus in gepas.
Gebedsversoeke:
Dit gaan beter met die man wat gebrand het, hy het Maandag veloorplantingsoperasie gehad op beide arms en vel is van sy bobene geneem, die dokters was nie heeltemal tevrede met die wonde aan sy arms nie. Bid asseblief vir verdere geneesing en beskerming teen infeksie.
Bid asseblief ook vir die kinders wat wanneer die vakansietyd aanbreek, huis toe gestuur sal word en ook vir die wat nog met aanpassing sukkel.

Bid asseblief ook vir skerming teen malaria, dis reenseisoen en daar is dus meer muskiete.

Saterdag 18 Oktober 2014

6 – 19 Oktober 2014

Ons sê totsiens aan ons SA besoekers wat na 3 weke terug gaan huis toe, hulle het baie gehelp met die seuns en die camerata. Daar is egter ’n moontlikheid dat hulle binne die volgende paar maande dalk langtermyn hier gaan wees saam met ons.
Die jong paartjie wat op Bella Vista gewerk het is nou ook permanent hier en hulle help ook met die camarata. Jenna hanteer berading want sy praat Shangaan vlot en Theo het die rekenaarnetwerk oor geneem. Saam met hulle, ons, Gaby en die ander paartjie wat moontlik kom, gaan die Suid Afrikaners die meeste van een nasionaliteit wees, so ons mag dalk die meeste word, maar nou is die Aussies nog die meeste.
Alta is besig met gordyne vir die ‘pastors’ se kantore. Ook is die vrou wat die die naaldwerkkamer begin het hier en dit is bedrywig. En die camerata hou haar voltyds besig. Een van ons eerste groep kleinseuntjies was in die hospitaal vir ’n week met longontsteking. Twee ander was ook uit die skool vir ’n paar dae, een met  maagkrampe en naarheid en die ander een het geval en sy lip stukkend gebyt in die proses, hy het steke binne-in sy mond gekry en nog ’n sny aan die bo-kant ook. Hy was ’n paar dae erg ongemaklik met ’n renosterlip.
Petrus het begin om die geboue se elektrisiteit en die elektriese netwerk deur te gaan, maar met die werks-etiek hier gaan dit ’n geruime tyd neem.
Ons het ’n winderige week gehad met ’n buie of 2 reën wat die temperatuur leefbaar hou.
Een van die sentrum se voertuie is verlede Vrydag in die stad gesteel, nogal die beste 4x4 dubbelkajuit wat ons gehad het.
Woensdag was die nasionale verkiesing en sover gaan dit nog rustig hier om ons, maar volgens nuusberigte gaan dit nie so goed meer na die noorde toe nie. Finale uitslae sal glo eers 2 weke na die verkiesing beskikbaar wees.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief vir die kinders wat siek is, veral vir die wat se immunstelsels nie so maklik by hou nie. Bid asseblief vir die een wat indie hospitaal was en een vandie ouer seuns sukkel ook met sy gesondheid. Klein Kenssane se gesondheid is ook op en af, al sedert Februarie.
Bid vir die dogterjie wat elke 8 weke  geopereer moet word vir poliepe wat op haar stembande groei.

Bid ook vir die man wat gebrand het, dit gaan al beter met hom, maar daar is nog ’n paar maande wat voorlê voordat hy heeltemal gesond sal wees.

29 September – 5 Oktober 2014

Dis ’n bedrywige week met besoekers wat help in die camerata met geroeste vensterrame afskuur en verf.
Kinders maak goed in die naaldwerk projek en dit word in die winkel verkoop. Dis maandeinde en die berekeninge moet gedoen word, sodat die kinders hul wins kan kry. Ook is die vrou wat vantevore die naaldwerk projek behartig het, hier vir 3 maande. Daar is ’n klomp goed wat aandag moet kry en pryse moet aangepas word.
Die kinders se klere moet ook uitgesorteer word, en daar is goeie donasies en ons moet sommige stoor en kersfees goed moet begin om georden te word.
Een van die groot seuns het ons die week besig gehou, hy het ’n kleiner seun by die skool geklap dat die vingermerke op sy gesig gelê het. Hy is gestraf deur op sy bed te wees na skool en hy moes saam met ’n persoon werk oor sy agressie. Hy was glad nie lus vir die sakie nie, maar ons het vasgestaan en hy het bly kla.

Een van die groot seuns is terug na se ouerhuis, so ons het nou net 6 groot seuns oor in die dorm.

Sondag 05 Oktober 2014

22 - 28 September 2014

Die pastore het nuwe kantore en het gordyne nodig. Ons het Maandag en Dinsdag probeer om in die dorp te kom om materiaal vir die gordyne te gaan koop, maar telkens was daar ’n probleem wat uitgesorteer moes word. Ons het eindelik Woensdag dit gedoen gekry. Nou is dit sny, maak en gordynreëlings op  sit.
Dis al van laas week af dat die militêre-vliegtuie oefen, eers het ons gedink dis opleiding, toe besef ons dis al om die stadion en gedink dit het te doen met die verkiesing. Ons was verkeerd dit was Donderdag Revolutionary Day. Sommige kinders het vir ’n paar weke gereeld by die stadion gaan oefen en nou weet ons, dat hulle ook vir die dag geoefen het. Amptelik was die begin 14:00, maar vliegtuie het al vroeër verby gevlieg. Dit was verskillende soorte vliegtuie wat verby vlugte gedoen het en almal se ore beproef het. Soldate en kinders het in die stadion marseer.  Die aand was daar ook vuurwerke.
Die kinders is moeg van leer en verdwyn na middag-ete en ons sien hulle net as ons hulle loop en soek om ’n program in die middae te doen. Alta het een dag met een gesit wat nie goed vaar op skool nie, maar ook nie dom is nie en agtergekom hy is te bang om die somme te doen omdat hy dit nie so vinnig soos die ander kan doen nie en nie omdat hy nie by die regte antwoord kan uit kom nie. Dis of hy geen vertroue in sy vermoëns het nie. Die kinders het individuële aandag so nodig.
Die dogtertjie se operasie het goed verloop, daar was na 10 weke 70% her groei en hulle het reeds die datum geboek vir die volgende operasie oor 2 maande. Bid asseblief vir finansies om die operasies te kan betaal en vir haar sodat sy volkome genees

Bid asseblief ook vir finansies en geneesing vir die man wat gebrand het, dit vorder, maar dis ’n lang proses en hy is aie ongemaklik. Die ergste wonde is aan sy arms en op sy rug, dus sy slaap is nie gemaklik nie. Is daar iewers ’n verpleegster wat ’n tydjie kan kom help.

Dinsdag 30 September 2014

15-21 September 2014

Ons het heerlik gerus en net iets gedoen as ons regtig nie anders kon nie of dit wou doen, praat van sleg wees! Ons het ook besef dat ons dit regtig nodig gehad het.
Dit is egter ook lekker om terug te wees en die kinders het sommer grootter geword. Ons het ook ’n nuwe seuntjie by gekry terwyl ons weg was, hy is baie klein vir sy 8 jaar, meer soos ‘n 5-6 jr. Die mamma het hom en sy sussie by die hek by die sekuriteitswagte gelos en gesê sy gaan vir hulle koekies koop. Ons het vandag die sussie wat jonger is, in die kerk gesien, sy is die mooiste klein dogterjie, met pragtige groot ogies, ’n klein moedertjie en vol liefde vir haar boetie.
Dit was besig van die oomblik dat ons hier gekom het, en die hele week. Dis opvang wat agter wee gebly het terwyl ons weg is en uitsorteer wat alles gedoen is in die tyd dat ons weg was. Die kinders se klere het aandag nodig, wat te klein is moet vervang word, asook die goed wat stukkend is het aandag nodig. Alta help ook vir die naweek uit by die babas.
Voor ons weg is het ons die seuns belowe dat ons almal wat verjaar, 4 van hulle, se verjaarsdae sal vier en een groot partytjie sal hou. Hulle was baie opgewonde. Hulle het hoender en pasta bestel en ons het hoenderboudjies teen ’n goeie prys gekry. Dit met koolslaai,’n koek en nog wit paashase en vrugtesap het die tafel laat kreun. Die hoender, het Alta 9:30 in die oond gesit, maar die stoof wou nie die mas opkom nie en later het sy maar die mikrogolfoond ingespan om dit gaar te  kry. Hulle het elkeen ’n tweede en party selfs ’n derde porsie kom haal. Dit nadat hulle ’n uur en ’n half vroeër, middagete gehad het.
Gebedsversoeke:
Bid asseblief dat die nuwe seuntjie goed sal inskakel en dat sy gesondheid spoedig sal verbeter. Hy het ’n neus en keel infeksie wat ook sy oë affekteer en ook ’n uitslag, om sy neus en mond en op sy arms. Ook dat hul ma sal terug kom en ten minste vir hulle sal kom kuier.
’n Dogter van so 8jaar sukkel met allergie en asma, nou het sy polipe ( hoop dis reg gespel) wat op haar stembande groei en sedert die vorige operasie is dit so ongeveer 8 weke en sy moet weer geopereer word, haar stem is alreeds weer geaffekteer en dit kos elke keer 10000 dollar. Bid vir goeie verloop van operasie, genesing en finansies.

Hier was ook ’n ongeluk, wat daartoe gelei het dat een van die werkers met petrol gebrand het. Die genesing het aanvanklik goed gevorder , maar daar is ’n infeksie op een plek wat  nie regkom nie en hy moes terug hospitaal toe. Bid ook vir finansies in die geval, want elke 4 dae wat die verbande vervang moet word kos dit 500 dollar. Dit is geweldig pynlik en dit neem 3 ure om dit te doen. 

Sondag 17 Augustus 2014

11 – 15 Augustus 2014

Die week is besig en daar is baie dinge wat gedoen moet word, ons gaan Vrydag vir ’n maand huistoe en sien uit na die rus. Ons moet egter ons dinge so organiseer dat ons ander vir ’n maand kan los met ons verantwoordelikhede. Die paartjie van Bella Vista gaan nog ’n maand aanbly (in ons huis) en vir ons na ons camarata omsien. Die kinders speel asof dit uit die mode gaan, maar bly weg van die huis en camarata, ek dink hulle is bang hulle moet een of ander iets leer. Ons sien hulle net as hulle snoepgoed soek of ’n pleister. Die groottes kom net in die aande vir hulle brood. Ons lig hulle in dat ons nie seker is of hulle steeds brood in die aande gaan kry terwyl ons weg is nie en die een se kommentaar was hulle sal bid vir brood. Die groot seuns vra al vir ongeveer ’n maand vir kortbroeke en skoene en ons het nie om te gee nie. Dinsdag kry ons toe ’n donasie en daar is kortbroeke en skoene, hulle sien dit voordat dit uitgesorteer is en kan nie wag nie. Toe ons sê dis reg hulle kan kom, is al 7 soos blits daar. Hulle is almal met kouse, ’n kortbroek, ’n T-hemp en  ’n paar skoene daar weg. Al wat hul nou nog begeer is flip-flops. Ons vertrou dat dit ook binne kort sal opdaag en ook dat ons alles goed beplan en agterlaat vir die wat moet instaan.

Sondag 10 Augustus 2014

4 – 10 Augustus 2014

Verlede week is ’n pastor oorlede en Dinsdagaand een van die siek kinders. Die twee sterftes raak veral die personeel in veskillende areas erg.  Die dogter was baie siek en daar is baie kere gebid vir beterskap. Daar was tye wat dit beter gegaan het, maar haar liggaam kon net nie al die infeksies hanteer nie. Sy het nog 2 sussies wat ook hier in die sentrum is. Bid assebief vir hulle en die wat baie met haar te doen gehad het. Hulle vind dit moeilik met die leemte wat nou daar is.
Die paartjie van Bella Vista wat by ons kom eet het, gaan in die huis kom bly vir die tyd wat ons weg is en ook na die camarata om sien in die tyd.
Alta het die week waar moontlik die Life School lesings probeer bywoon, dit is interresant om dinge wat mens weet op ’n ander manier te hoor. Die sprekers het dit vanuit ‘n ander hoek benader as waaraan ons gewoond is. Die week het oor ‘The Fathers Heart’ gegaan.
Woensdagaand met home group het een van die spekers by die Life School met ons gepraat. Sy Spiritual Gift is om engele te sien. Dit was baie interresant wat hy alles vertel het. Hy vertel toe hy dit die eerste keer beleef het was hy baie benoud en het nie geweet wat aangaan nie, en ’n paar dae later het hy gaan stap en toe sien hy engele in die veld dans. Hy sê hy het gedink hy raak koekoes en vra toe vir die Here of hy dit nou altyd gaan sien en toe kom die antwoord ‘Ja’. Hy wou glad nie daaroor praat nie en een van sy vriende kom toe agter wat aangaan en vra vir hom hoekom hy niks sê nie. Hy sê hy was baie banger vir die engele as vir die vriend. Sy vriend het  hom toe in kontak gebring met iemand anders wat ook dit beleef.
Die skole het Vrydag gesluit en die kinders is alreeds rusteloos. Hulle is ook Sondag deur besoeker geseën, wat hulle trakeer het op pizzas by die swembad.


28Julie – 3 Augustus 2014

Dinsdagaand nooi ons ’n paartjie wat besoekers is. Wel eintlik is hulle sendelinge wat in die gemeenskap bly, Bella Vista. Jonk getroud nog nie eens ’n jaar nie. Hulle stories is uitsonderlik en hulle is baie braaf om in sulke omstandighede te leef.
Ons doen ’n program met die kinders in die middae om hulle besig te hou en goed te leer wat hulle nou nie juis in die skool leer nie. Ons het ’n leerling educator wat  net soos ons voel (nie dat die educators nie help nie), dat die kinders te min weet van wiskunde en lees. Hy het regtig die week sy kant gebring het, maar die kinders kla en wil nie meer programme na skool doen nie. Gelukkig sluit die skool die einde van die week.
Home group was oor ’n woord wat jy kies om op te konsentreer vir ’n tydperk tydens jou stilte tye. Daar is ook woorde uitgedeel en as jy wil, kan jy die woord gebruik of self een kies. Alta kry so die woord ‘boldness’ en Pertus ‘shh...’ Daar is nogal goed wat mens op die hart het en nie altyd die plek of veral moed het om te sê nie, dis nou vir Alta en baie snaaks, Petrus wat redelik min praat kry die woord om stil te bly, hy besluit om op luister te fokus aangesien hy moet stil bly. Voorbidding vir die sal waardeer word.

Een van ons klein seuntjies het waterpokkies, min en ver uit mekaar, 3 in die gesig, 3 op elke bene en vier op sy lyf en dit lyk ook nie of daar nuwes by kom nie. Dis ongeveer 3 weke sedert die laaste geval. Hy verstaan nie mooi waarom hy in isolasie geplaas is nie en is baie eensaam. Bid asseblief dat almal in die camarata beskerm sal word teen siektes en veral vir die kinders wat HIV positief is, is dit ’n groot risiko.

Dinsdag 29 Julie 2014

21 - 27 Julie 2014

Dinsdag het ons ’n vergadering met die base en die administrateur van die sentrum oor die dokumente wat ons nodig het vir verblyf permitte. Die proses is feitlik tot stil stand gebring deur nuwe wetgewing en ’n kantoor wat nie voorbereid is op al die ekstra werk nie. Daar is talle mense wat deur die proses geraak word en besoekers word terug gestuur of weggewys by lughawens op ’n daaglikse basis. Die sendelinge kry ook al minder verlenging vir visas.
Een van die seuns het vir die besoekers ’n ander naam as sy eie gegee, wat toe op hom boemerang. Hulle, ’n man en vrou van Amerika, koop toe ’n bal vir hulle en soek die kind en niemand weet van so ’n kind nie. Hulle kom saam camarata toe en help met ’n middag program en sy sê vir my dis dié kind en sê toe ook dat hy vir die kinders gesê het dat hulle almal in die camarata gaan neem vir pizza. Wel ons kan dit nie toe laat nie en hy word dus gestraf met geen verversings vir ’n week nie en hy moes almal om verskoning vra. Hy loop heel week met ’n suur gesig rond omdat hy nie snoepgoed kry nie.
Die groot seuns kom elke aand vir hulle snoepgoed. Hulle kom eet ’n brood en ’n half  met margarien, grondbonebotter en soek dan ook iets om te drink en dit alles na hulle aandete gehad het. Die 7 van hulle neem behoorlik die kombuis oor en jy kan nie glo hoe hulle kan mors nie. Hulle vee elke aand die kombuis, maar vergeet om die tafel skoon te maak en as hulle die skottelgoed was, is dit erg half en word dit nat weg gepak.
Vrydagmiddag bak Alta en een van die klein seuntjies, koek want Saterdag was dit sy verjaarsdag. Die Saterdag is daar ook sokker en ander spelletjies gereël en die partyjie is vroeg en vinnig verby, sodat hulle ook by die ander goed kan wees.
Dit gaan redelik met meeste van die kroniese siek kinders, daar is ’n paar wat nie beter word nie, maar dit gaan darem ook nie slegter nie. Bid asseblief vir die kinders wat ly as gevolg van hul ouers se sondes.

Bid asseblief ook vir die seun wat leuns vertel en dat hy sal besef dat dit hom nêrens gaan bring nie en dat ’n gees van waarheid met hom en al die ander sal wees.


Dinsdag 22 Julie 2014

7 - 20 Julie 2014

Daar word steeds geverf, die beddens is klaar en die vensterrame word begin. Ons het  positiewe kommentaar van een bestuurder oor hoe die dorm lyk, gekry.
Daar is probleme met die internetkoppelling en die spoed is stadig.
Die verblyfpermitte is verder ook ’n probleem, die konsulaat in Nelspruit wil toestemming vanaf Immigrasie in Maputo hê voor hulle ’n visa uitreik en die briewe is tans by Immigrasie vir goedkeuring. Mosambiek het begin vasskop oor toegang tot Mosambiek. Daar is probleme met instroming van mense na Mosambiek want daar is nou geld te maak in Mosambiek.

’n Besoekende pastoor van Australië praat interessant oor uitbranding Maandagaand en Woensdagaand gee ’n pastoor van America ’n praatjie. Hy vertel ons dat hy op 16 ’n gelowige geword het na ’n lewe van dwelms en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar die intreressante is dat sy hele gesin, oupa en ouma ingesluit binne 3 maande hulle lewens aan Jesus gee.

’n Sendelingpaartjie van Noorweë met hulle 2 kinders is gedurende die week vir ’n paar dae Nelspruit toe. Daar het hy egter siek geword en die hospitaal beland. Ons het aangebied om hulle hierdie naweek, wat ons terug moet terug gaan SA toe, in Nelspruit  te gaan haal. Gevolglik is ons Donderdag hier weg SA toe en Vrydagoggend deur Nelspruit toe om hulle te kry en weer terug Marloth toe waar hulle die naweek saam met ons deurgebring het. Hulle kon nie regtig vasstel wat hom makeer nie. Hy vertel dat van hulle vriende in Noorweë hom laar weet het dat een ’n visioen gehad het waar ’n engel hom weg ruk van demone en ’n ander een dat hy ’n stem gehoor het wat sê dat hy gesond is. Byde het met hom binne ’n uur gekontak nadat hul die ervaarings gehad het en daarna het hy ’n verligting ervaar en begin om beter te voel. ( Hy het die vorige week of twee vir mense gebid en demone uitgedryf.)


Die kinders se reaksie was interresante, Donderdagmiddag terwyl ons pak daag die kinders by ons op en wil weet watter sendeling staan in vir ons by die dorm. ‘n Groot betoog gaan op na hulle hoor wie die sendeling is, want hierdie sendeling gee nie snoepgoed nie (die maag is die belangrikste en hulle is deeglik bewus wie gee en wie nie.)

Dinsdag 08 Julie 2014

30 Junie – 6 Julie 2014

Dit was ’n baie besige week. Die jong Suid-Afrikaners verf steeds beddens in die camarata. Daar is ook hulp van ’n paar meisies van Engeland en Amerika (dink dis  die jong boertjies wat die eintlike trekpleister is.) So tussen deur gaan hulle ook op uitreike en daar is nog ’n paar beddens wat verf benodig teen die einde van die week. Daar is hoop vir Suid-Afrika as alle jong mense van hulle kalliber is.
Ons het ook ’n noodhulplesing Dinsdagaand gehad van ’n besoeker. Die sendelinge was op hulle stukke en ons lê soos ons lag.
Donderdagaand is dit ons beurt om by die Oasis-span (die span van Natal) te eet. Voor ete bid hulle vir ons. Daarna was dit kerk en aan die einde van die diens word al die besoekers (± 30) gevra om vir elke kind, pastoor en sendeling te bid, ons vorm ’n ry en elke besoeker bid vir elk van ons. Dit is ’n ongelooflike ervaring behalwe vir die agtergrond musiek wat oorverdowend was en dit moeilik gemaak het om al die gebede te hoor.
Ons nooi al die Suid-Afrikaners om Vrydagmiddag saam te kom braai, enigste tyd wat oop is, aangesien die ouer groep (Oasis) elke aand etes voorsien aan sendelinge. Die grootbaas gee ook ’n bydrae vir ekstra vleis. Al is meeste van die klomp Engelssprekend, kuier ons soos net Afrikaners kan. Vrydagaand eet al die sendelinge saam met Oasis.
Die wat siek is raak bietjie minder, soos die waterpokkies en maagvirus die wyk neem. Ons bid steeds vir ’n paar ander wat kroniese siektes het en ook vir die dogterjie Lucia wat laas jaar so siek was. Daar steek ’n paar simptome kop uit wat ons op ons hoede plaas aangaande haar gesondheid.
Een van die grootseuns het Dinsdag verjaar en het ’n ete bestel saam met 10 van sy maats en ons het besluit om dit Vrydagaand te doen.
Ons word weer gevra om Sondag nog ’n ete vir so 50 mense te hanteer hier by ons huis.
Sondagoggend preek Amy Lancaster en sy hou tot die kleintjies se aandag met haar preek. Sondagaand het ons worship in die prayer room met wonderlike ondervindinge.
Dus het die week ernstige beplanning geverg om alles glad te laat verloop.

Woensdagaand hoor ons van ’n groep Amerikaners oppad na die Pemba Iris basis, wat by Pemba Lughawe toegang tot Mosambiek geweier is omdat hulle nie visums het nie. Al die lande waar Mosambiek konsulate het moet die besoekers hul visums daar kry voor hulle Mosambiek toe kom. Slegs besoekers van lande waar daar nie konsalate is nie mag tot in Mosambiek vlieg en by die lughawens visums kry. Donderdag word hulle op vliegtuig Suid Afrika toe en ons word ingelig dat die span by ons moes kom kuier vanaf Sondag tot Woensdag. 




Saterdag 05 Julie 2014

23 – 29 Junie 2014

Dit gaan beter met die maaggriep en waterpokkies. Wil lyk of die meeste nou gesond is en nuwe gevalle is baie minder. Die baba wat in die hospitaal was, is ook terug en ook Kenssane is ontslaan uit die hospitaal, maar hulle is nog nie weer 100% nie en het nog gebede nodig.
Die kinders was baie opgewonde die hele week, hulle is genooi om Vrydag, by die presidentsvrou te gaan eet. Alta was besig om veral die skoen situasie uit te sorteer, vir die besoek, hulle klere wat hulle kinderdag gekry het, is goed vir die besoek. Wanneer hulle skoene nog goed is en hulle sien een kry ’n paar, dan breek hulle hulle sin sodat hulle ook nuwes kan kry. Ons kan nie sulke gedrag toelaat nie en die wat dit doen kry dan net nie skoene nie, maar ons kan hulle ook nie met vlenters na die presidentsvrou toe stuur nie. (Het Salomo se wysheid nodig.) 80 van die jonger kinders is saam met die educators en een van die sendelinge met die bus weg. Hulle is nie die dag skooltoe nie en het lekker geëet en is toe nog met speelgoed ook bederf.
Hier is ’n groepie van 6 jong Suid-Afrikaners van die Kaap waar hulle studeer, maar klink of meeste oorspronklik in Natal op plase gebly het. Hulle het aangebied om te help met verfwerk in die camarata en het begin om beddens te verf en dit sal gaaf wees as  hulle ook nog by van die vensterrame kan uitkom. Dan het daar ook ’n ander Suid-Afrikaansespan gekom. Hulle is van Howick en is ouer mense en hulle maak kos en dan kan die sendelinge saam eet. Een is ‘n ‘Auto Electrician’ en het aangebied om met die voertuie te help wat probleme in sy veld gee.

Die sendeling wat vir die kinders Engels geleer het, gaan vir so 3 maande huis toe. Die kinders is baie lief vir haar en sy bederf hulle baie. Almal is jammer om haar te sien gaan, maar ook baie bly dat sy bereid is om terug te kom. 

Maandag 23 Junie 2014

16 – 22 Junie 2014

Kensanne is nog in die hospitaal en waterpokkies is oral tussen veral die kleiner kinders. Daar is ook opgooiery  en diaree by die babas. Hier is heelwat besoekers, maar die ‘Baby House’ en ‘Nursery’ is in afsondering, hulle mag nie by die babas en kleinkindertjies kom nie, dis om te voorkom dat dit verder versprei en veral die HIV kinders te probeer beskerm. Daar is ook ander kinders wat baie siek is en ons bid voortdurend vir hulle.

Die ‘missionary’ wat laas jaar in Oktober getroud is en haar Mosambiekse man, is terug nadat hulle ’n tyd lank in Oos Londen gewerk en opleiding gedoen het. Hulle wil spesifiek vir die kinders help. Hulle beplan om ’n program van berading, begeleiding, gebed en dissipelskap met die kinders te doen. Hulle praat veral met kinders wat sosiale- en gedragsprobleme het. Daar is ’n leemte op die gebiede en ons bid dat hulle met sy Mosabiekse agtergrond, beter begrip sal hê en so van groot hulp sal kan wees. Donderdag oggend ry ons saam met ’n ander paartjie Suid Afrika toe. Daar is ’n klomp goed wat gedoen moet word. Ons moet na die Mosambiek se konsulaat in Nelspruit toe gaan om verblyf permitte te probeer kry. Die plan is ook om die paartjie Wildtuin toe te neem, hulle was al 4 of 5 keer saam met ons uit, maar nog nooit in die wildtuin nie. Ons is baie geseën met baie diere en sien al die groot 5 behalwe ’n luiperd, maar sien darem jagluiperde en hiënas. Die enigste rus was Sondag.

9 – 15 Junie 2014

Dis ’n bedrywige week, met die internet wat nie lekker werk nie en voorbereidings om die sokkerwêreldbekker opgestel te kry sodat die kinders die sokker op die grootskerm in die saal te kan kyk.
Kensanne, die Downsindroom dogterjie wat laas jaar die hartoperasie gehad het, het longontstekking en is in die hospitaal. Sy is baie swak en ons bid vir haar om gesond te word en goeie behandeling te kry. Almal se vriende, ondersteuners en familie bid saam.
Sommige van die kinders is erg opstroppelis en hou ons en die ‘educators’ besig. Bid asseblief vir insig en wysheid om hulle so te hanteer, dat hulle wyser uit die situasie sal kom.
Alta neem die nuutse sendelinggesin om ’n paar inkopies te gaan doen. Hulle kom van Noorweë met ’n dogterjie wat pas 2 geword het en ’n seuntjie van 7maande. Inkopies met die bus en twee klein kindertjies met net 1uur tyd in die winkels, is ’n uitdaging op sy eie, wat nog van taal en goed wat onbekend is en etikette wat alles eers gelees moet word in ’n ander taal as jou moedertaal.
Woensdagoggend kom Alta toe eindelik 11uur by die verf uit en laat die laaste venster oorstaan vir Saterdag. By Home Groep praat ons oor vergiffenis en hoe dit in verskillende kulture werk, met arbiters of nie. Een van die Mosambiekers vertel toe dat daar baie moeilike situasies is, wat hulle ondervind met voorvadergeeste en bindings. Hy vertel dat as die ouers op ’n stadium nie skuld kon betaal nie, ’n dogter as bruid belowe word en dat sy nooit daarvan weet nie. As sy dan trou werk die huwelik nie, omdat daar ’n spirituele huwelik was, wat dan probleme gee. Laat mens wonder wat alles oor die kinders is, waarvan ons geen benul het nie en wat die invloede daarvan is.
Donderdagaand na kerk begin die sokker en ons kyk die openingserimonie en die wedstryd tussen Brasil en Cameroen? Dis koud in die saal en kom laat in die bed, eers na 00:30. Vrydagaand begin die sokker vroeër en hou darem ook vroeër op.

Saterdagoggend is dit skoonmaak van die tuin en huis. Sondag is die ete vir die borge en die studente, wat hulle ondersteun en ons tuin en huis is die plek waar dit alles gebeur. Die kombuis het kos gemaak en ons het ’n slaai gemaak, tafels gedek en bedien en skottelgoed gewas. Daar bly baie kos oor veral vleis (hoender) en ons nooi al die sendelinge om Sondagaand te kom help minder te maak. Dis ’n heerlike kuier met net enkles wat nie kon kom nie.