Maandag
gaan hulle verdere werk aan die
badkamer soos met pleisterwerk, verskuif die venster en doen van die
loodgieterwerk. Dit hou ons besig, ons moet kort- kort daar wees om seker te
maak alles word reg gedoen.
Woensdag
vroegaand is ons met die bus weg om ‘Home Group’ by oud sendelinge van Iris,
wat nou hul eie ding in Matola doen, te gaan hou. Die besoek is ’n jaarlikse instelling
om kersliedere te sing en ons word erg bederf met heerlike eetgoed. Ons geniet
die aand en besef die verskille tussen nasionaliteite toe ons die liedjies van
die verskillende lande sing, waarvan baie vir ons vreemd is.
Ons word gevra om
vir die Mosambiekse leiers by die sentrum ’n kersete in die vorm van ’n braai
aan te bied Vrydagmiddag. Dus, Donderdag word hoofsaaklik bestee aan die aankope en
voorbereiding vir die ete. Saam met alles moes ons die tuin in ’n aanvaarbare
toestand kry, want dit is waar die ete voorgesit word. Dit het beteken ons moes die kinders uit die mafuraboom (rooi essenhoutboom) hou, want hulle breek die takke om die vrugte in die hande te kry en met die afspring bly daar dan ook nie veel van die gras oor nie. Vrydag was die braai en
alles daarmee saam en die middag vat ons af na alles afgehandel is.
Na die tyd gee
ons vir die drie wat gehelp het om die blare van die twee bome op te tel, die
tafels en stoele skoon te kry en reg te sit, hulle vleis wat ons vir hulle
eenkant gehou het. Dis nogal ’n storie, hulle kon nie wag vir die vleis nie. Die kombuis het van die kos voorberei en sou
dit wat oorgebly het, kom haal.
Teen 16:15 is
hulle nog nie hier nie en ons laat die ‘educator’ weet om die dorm te bring om
dit te kom eet. Hulle eet elkeen ten minste vyf groot opskeplepels rys.
Chaterine het so
’n maand gelede gevra of sy haar afskeid ook in die tuin kan hou. Sy wil ’n
koek en tee piekniek hê. Ons beplan dit en sy sê dat sy van verrassings hou en
dat sy nooit dit kry nie. Dus beplan Alta toe vir haar ’n paar dinge om as
verrassing te dien. Ons kry ’n boekie en vra almal om vir haar ’n boodskap na
ons toe te stuur en stel die boekie saam met allerhande dinge wat by haar
herinneringe sal oproep. Sy is baie opgewonde toe sy die boekie kry.
Ons moet Peet
gaan haal om by ons te kuier vir die Kerstyd en het beplan om Sondagoggend te
ty, maar hoor dis baie besig en besluit toe om dadelik te ry en eerder in die
aand te wag as in die hitte van die dag.
Dit is toe heel rustig toe ons by die grens kom en was ons vinnig deur.
Sondag ontstaan
daar ‘n brand in ‘n ‘container’ waarin Bybels, skoene(’n skenking van so ’n
paar weke terug) en matrasse gebêre word. Die ‘container’ is deel van die grens
en die gemeenskap het vuilis teen die ‘container’ aan die brand gesteek, wat
die goed binne laat begin smeul het. Die brandweer was driemaal hier om die
brand te blus wat telkens weer op gevlam het. En so is daar toe ook vir hulle
gebid en Bybels aan hulle gegee. So word
die ramp toe ’n geleentheid om die Woord uit te dra.
Die week wat kom is baie bedrywig en die kleiner seuntjies kom oor na camarata 4 toe. Bid asseblief dat alles glad verloop en dat hulle goed sal aanpas en die groottes hulle sal aanvaar en nie boelie nie.