Daar is
nou ‘n jaar verby waar ons hierop Arco Iris Zimpeto baie dinge beleef, gesien
en gedoen het.
Drie jaar voor ons koms na Zimpeto het Petrus
gedroom van die Lebombo Grenspos gehad en dit onthou, wat reeds raar was. Ons
hoor van Iris Ministries en uit nuuskierigheid gaan kyk ons, wat ons oor hulle
op die internet kan kry. Die eerste bladsy wat oopmaak is Zimpeto s’n (Z is
gewoonlik laaste) met die versoek dat hulle na ’n bestuurder vir instandhouding
soek (iets wat Petrus kan doen). Dit word daargelaat en ons gaan aan met ons
werk. ’n Paar dae later lees Petrus in Hebr. 11:8&9 dat God Abraham na ’n vreemde
land toe gestuur het, wat dadelik vir hom uitstaan en herinner aan Iris.
Dieselfde dag stuur hy toe ’n e-pos aan die bestuurder van Iris Zimpeto wat
dadelik terug antwoord, wat ook vir ons ’n verdere rigtingwyser was. Ons word
toe uitgenooi om ’n besoek aan die sentrum te bring, maar ons moes eers
paspoorte kry. Ons doen aansoek en word gesê dat dit 3-6 weke neem. Nie waar
God werk nie, ons het die Maandag ons aansoeke ingehandig en die volgende
Maandag ons paspoorte in ons hande gehad. Dit was die week voor die langnaweek
in September en ons was reeds van plan om Marloth toe te gaan vir die langnaweek.
Ons besluit om die besoek oor die
langnaweek te doen aangesien dit langnaweek is en ons naby die grens is. Verder,
wat ons nie geweet het nie, was dit ook die laaste naweek wat die bestuurder
op die sentrum was voor hulle vir 6 weke
Australië toe sou gaan, wat ons proses sou vertraag het. Ons het die Sondag op
Iris gearriveer, nog betyds vir die kerkdiens en is later onthaal en ook deur
die sentrum geneem om alles te sien. Die volgende more maak Petrus die Bybel
net oop en lees Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet
hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel
is juis vir mense soos hulle.” Matt 19:14. Hierdie was duidelik die antwoord
op wat ons moes doen. Op 4
Oktober 2012 laat weet hulle ons moet ’n klomp dinge doen om die proses aan die
gang te kry. Ons moes getuigskrifte kry en polisie-klarings om toegelaat te
word om met die kinders te kan werk. Die is vir ons vertel neem drie maande,
weereens het alles net in plek geval en het ons dit na ’n maand gehad. Ander
dinge wat ons moes doen was om die winkel te verkoop, die huis leeg te kry, na
30 jaar wat ons daar gebly het en huurders te kry. Tussen deur moes ons ook nog
die gewone dinge by hou soos ons pligte by die kerk en werk. Ook trek ons
Desember met dit wat oorbly (na wat uitgedeel, weggegee en weggegooi is) na die
huis op Marloth toe.
Petrus se ma het
ook siek geword terwyl sy by ons in Middelburg gekuier het en was daar in die
hospitaal en het ons haar terug geneem na die tehuis waar sy in die siekeboeg
opgeneem is. Daar het sy al sieker geword, is later oorlede en het ons haar die
einde van November begrawe.
Op 10 Januarie
2013 pak ons op Marloth en ry Zimpeto toe om ons nuwe lewe daar aan te pak.
Saam met die
sekerheid dat jy die wil van die Here uitvoer, is daar tog ’n mate van vrees
vir die onbekende, want jy bly maar net mens. Daar is baie stories van probleme
wat wetstoepassers, in Mosambiek, gee net om omkoopgeld te kry ens. Elke keer
wanneer ons moes ry het elkeen van ons vir God gevra vir sy beskerming oor ons
en nie eenkeer het Hy ons in die steek gelaat nie. In al die kere wat ons deur
die grens is, was daar net eenkeer ’n probleem met ’n doeanebeampte wat omkoopgeld gesoek het, wat
ons tog reg kon hanteer en vir ooral waar ons gery het was daar ook net eenkeer
’n verkeerspolisieman wat regtig probeer het om ons te dwing om omkoopgeld te
betaal. Verder het die Here ook sy hand van beskerming oor ons gehou op
Mosambiek se paaie met hulle eie soortige manier van bestuur.
Ons het in ’n
totale nuwe omgewing ingestap en ons wêreld is vergroot. Daar is sendelinge,
getroud en ongetroud van sewe verskillende nasionaliteite met hulle eie geite
en giere. Die Mosambiekers is nie te verskillend van ons SA inheemse bevolkings
nie, maar daar is tog verskille. Die verskillende aksente en uitsprake maak dit
soms ’n uitdaging om te volg wat gesê word en dan sê hulle ons het ook aksente
wat dit vir hulle moeilik maak om ons te volg, maar ons hoor dan nie dat ons
aksente het nie. Dit bring egter ook blootstelling aan ander tale, kulture en
lewensomstandighede. Die aanbidding van God was ’n bietjie, miskien baie, buite
ons gemaksones. Ons was nie gewoond aan gesamentlike gebede op hulle maniere
nie en dan ook nog in verskillende tale, volumes en style nie. Kerkdienste is
vir ons lawaaierig en boodskappe is vlak en langdradig. Die ‘worship’ of sang
kry baie aftrek en dit op die hoogste volume, maar kerkgangers word nie werklik
toegerus in God nie en dit voel of daar nie regtig respek in die dienste is nie
(jy kan met enigeen gesels terwyl daar gebid word, ens.), seker maar die Dopper
wat nog uitslaan. Wat ondervind word, is dat die kinders van klein tot groot (ook
die wat al werk) geen respek het vir enige gesag nie. Ons maak dit een van ons
prioriteite om die kinders, vir wie ons verantwoordelik is, respek en gehoorsaamheid
te leer. Taal is die ander toets, eredienste word soms in Portugees aangebied
dan in Shangaan en Engels getolk, alles gebeur ter selfde tyd. Een Australiese
pastoor wat besoek gebring het se kommentaar was ‘This is crazy’. Dan is daar
natuurlik die nuwe taal (Portugees), wat ons nou op ons ouderdom, met ‘n
gesukkel probeer aanleer en baie frustrasie veroorsaak wanneer ons nie die
kinders verstaan of hulle ons verstaan nie. By dit alles is daar nou drie tale
wat ons daaglikse praat, Afrikaans tussen ons, Engels met die wat Engels kan
praat en Portugees met ’n gesukkel. By dit weet jy nooit as jy die kinders iets
vra of dit Portugees of Shangaan is wat hulle antwoord nie. Ons praat partykeer
Afrikaans met die ander sonder om dit agter te kom. Jy besef dit eers as jy daardie
raaiselagtige uitdrukking in hul oë sien en dan kry jy sommer lag vir jouself.
Die vind van ’n
Afrikaanse gemeente in Matola (Die Lewende Gemeente Maputo) was ook ’n
besturing. Iemand het ’n ander plek gegoogle en bloot opgemerk tydens die
soektog dat daar ’n Afrikaanse gemeente is in Mosambiek. Daarna het ons die
kerk gaan soek en gaan gereeld 1 maal per maand daarheen. Na ons so 3 dienste
daar bygewoon het, het die pastoor ons kom besoek, sonder dat hy geweet het presies
waar om ons te vind. Hy het ’n rukkie gesels en uitgevra en toe gevra hoe lank
ons gaan bly en of ons verblyfspermitte het. Ons antwoord was, ons bly tot die
Here sê ons moet gaan en dat verblyfspermitte nie oorweeg nie, aangesien dit te
duur is. Hy sê toe dat hulle niemand tans ondersteun nie en dat hy met die
kerkraad sal praat. Die volgende middag het hy laat weet dat hulle R13000,00
toegestaan het vir ons vir permitte. Dit was vir ons ’n verdere aanduiding dat
ons steeds is waar God ons wil gebruik, aangesien ons nie daarvoor gebid,
gewonder of gevra het nie.
Wonderwerke vind
ook nog plaas, mens moet net kyk en luister. Vroeg in die jaar het ’n 5 jarige
kind weggeraak, wat terug geplaas was by sy ouma, slegs ’n paar dae nadat hy huis toe is. Die
Ouma het alles gedoen wat sy kon om hom op te spoor, maar het nadat hy ’n week
weg was en die polisie met geen inligting uitgekom het nie, het sy by Iris kom
vra of hy nie dalk hier uitgekom het nie. Ons het dadelik begin bid en ’n
soekgeselskap is die volgende oggend uit om te gaan soek. Die wat hom ken, het
deur drome of gesigte die nag aanduidings gekry waar om te soek. Hy is later
die dag by ’n kinderhuis gevind en veilig terug geneem na sy ouma. Die wat
Mosambiek ken sal besef dit was ’n wonderwerk dat hy opgespoor is en nie soos
van ons kinders in die sentrum wat nooit weer met hulle families verenig word
nie. Die ander wonderwerke was gebede rondom kinders wat siek was of is en
steeds met ons is. Die kinders wat een of ander gebrek het of HIV het staan
gewoonlik nie ’n baie goeie kans op behandeling as daar nie meer ’n ander
uitkoms is nie, bloot omdat middelle beperk is en eerder gebruik word vir mense
wat iets vir die samelewing kan beteken. Dit inkort is die agtergrond waarteen
baie mediese besluit gemaak word. So het ons ’n dogterjie met Down sindroom wat
ook ’n hartkwaal het en baie swak gevorder het. Met baie gebede is sy na die
hart-hospitaal geneem om te hoor of hulle vir haar sal help. Tot almal se
verbasing stem hulle in, maar sy moet 6kg weeg voordat hulle kan opereer. Met
baie gebede, geduld en ekstra voedings, wat ure neem om haar te voed, weeg sy
eindelik 6kg toe sy 18maande is en hulle opereer toe in Julie. Sy kon toe darem
al sit, het min gepraat en nie veel energie gehad nie. Nou lyk sy soos ’n regte
Down sindroom-dogterjie, is spek vet, kruip en begin al loop en brabbel
aanmekaar, steek haar armpies uit om opgetel te word en is elke dag ’n
herinnering dat God gebede verhoor. Daar is ook Paulo en Raphael wat gestremde
seuntjies is, met wie dit nie so goed gaan nie, Paulo het vroeë vanjaar ’n
pompie gekry om vog van sy brein te dreineer en vorder so goed dat hy begin het
om saam met die ander kinders skool toe te gaan. Raphael gooi elke dag op en
sit en stamp sy kop heeldag, almal is radeloos wat om nog te probeer. Dokters
wil hom nie meer sien nie, want hulle kan niks vir hom doen nie. Vir hom en sy
versorgers is nog baie gebede nodig. Dan is daar ’n tiener meisie wat ’n
diabeet is en haar suiker vlakke bly wissel, enige iets tussen 3 en 36 is die standaard,
so het die hospitaal op ’n stadium vir haar die verkeerde medikasie gegee en
was sy vir ’n maand in die hospitaal, op staduims ook in komas en is daar vir
haar lewe gevrees. Dit gaan met haar ook heelwat beter. Dan was daar ’n
dogterjie van so 5 jaar wat in die hospitaal opgeneem was met die vermoede dat
sy dalk breinvlies-ontstekking kom hê. Sy is regtig uniek, terwyl sy so siek
was het sy daar in die hospitaal vir die ander kindertjies van Jesus vertel en
vir hulle gebid. Sy het egter al sieker en sieker geword. Hulle het haar vir
soveel goed getoets, maar sy het net sieker geword, op ’n stadium het hulle
gesê daar is niks meer wat hulle vir haar kan doen nie en gesê dat hulle kan
haar maar terug bring sentrum toe en haar 2 maal per week inbring vir
fisioterapie. Sy was op die stadium redelik stabiel, maar haar lyfie was
saamgetrek en haar armpies en hande was styf teen haar nek geklem. Sy is nou
heeltemal gesond en net die wat haar ken kan nog sien as sy moeg word, dat sy
nie is wat sy was nie. Die dokters is stom geslaan en kan glad nie verklaar wat
dit is nie, hulle het gedink sy sal doodgaan. Dan is daar die seun wat nou Vigs
het, wat tering en kanker geaktiveer het wat nou sy liggaam aftakel en waarvoor
enige kindersiekte of infeksie noodlottig kan wees. So word alle kinders wat
pampoentjies, waterpokkies of masels het, in afsondering gehou om al die HIV
kinders teen infeksies te beskerm. Tog kry hy gereeld kleiner infeksies, veral
in sy mond en dra ons gebede hom jaar in en jaar uit. Daar is ook die
positiewe, die laaste drie baba’s wat ons ingekry het, was HIV negatief. Alles inaggeneem
met HIV wat aktief is en verskillende siektes is daar in 2013 nie een van die
kinders in die sentrum oorlede nie, met alle eer aan God.
Ons het spesiale
gebeure hier meegemaak soos die gebedskamer se opening. Ons kon nie verstaan
hoekom daar ’n gebedskamer moet wees nie, want jy kan mos in jou eie kamer bid.
Maar noudat dit ingebruik is en mens die kinders en grootmense almal saam daar
sien en wat dit vir almal beteken, is dit ’n plek van wonderlike samekomste.
Daar is Dinsdae en Vrydae 7 uur die oggend gebedsgeleenthede waarna die kinders
veral kom voor skool. Dis ’n belewenis om hul gesiggies te sien, daai afwagting
waarmee hulle by die deur inkom is onbeskryflik. Met die opening van die
gebedskamer was daar ’n hele vooraf program in die kerk, waarna almal na die
gebedskamer is. Die sendelinge moes eerste uitbeweeg om vir almal daar regte
staan met gebede en aanraking te groet of te seën. Beide deure is oopgemaak en
elke klas van die skool, onderwysers, personeel, besoekers en spesiale gaste is
so deur die gebedskamer. Dit was ’n kleuryke en vrolike gebeurtenis, wat op
almal ’n indruk gelaat het.
Ons het ook ’n
begrafnis bygewoon van een van die opvoeders van ons groep kinders. Die hele
diens vind by die grafplaas, hulle was nie so emosioneel soos by ons inheemse
bevolking se begrafnisse nie. Daar was baie mense en ons kon nie naby die graf
kom nie en kon dus nie alles sien nie, maar daar het oral in die begrafplaas
parfuumbotteltjies rond gelê. Op navraag is ons vertel dat dit hulle gebruik is
om dit op die kis te spuit en almal loop verby die kis om dit te doen, daarna
word die kis laat sak en het die naaste familie daar gestaan en die res het
stadig begin weg beweeg. Ons was versigtig oor hoe die kleiner seuns deur die
ervaaring geraak sou word, maar kon nie regtig agterkom of dit ’n negatiewe
invloed op hulle gehad het nie.
Van tyd tot tyd
kry ons ook besoekers wat spesifiek kom vir die sendelinge. So was daar ’n
egpaar wie se missie dit is om van sendingstasie na sendingstasie te gaan en ’n
boodskap vir die sendeling te bring. Hulle het vir ons gesê dat hulle dit baie
rustig op die basis vind en God se teenwoordigheid ervaar. Hulle gee Nehemia
4:15-18 vir ons en sê dat hulle vir ons moet sê, om elke dag gereed te wees met
geestelike wapens, maar ook steeds met ons werk aan te gaan en nie toe te laat
dat ons van ons werk afgehou word nie.
Daar is baie
frustrasies en die werksure is lank, maar met alles saam het ons familie met
26+ kinders gegroei wat elkeen op sy eie manier jou aanraak. Dit het ons laat
besef met die ouderdomsgroep van ons kinders dat mens kan nie net ’n jaar bly
en dan weer weggaan nie. Jy bou ’n verhouding met elkeen, hulle sien jou as ’n
anker en wanneer jy weggaan is dit soos met ’n egskeiding of dood van ’n ouer,
hulle word wees en onseker agtergelaat en kan ook verwerp voel. Wanneer ons SA
toegaan vir kort tye, is hulle bedruk en soek sekerheid dat ons gaan terugkom
en wanneer ons terug arriveer is dit groot vreugde en hang hulle die hele dag
om jou.
Dankie aan:
- Ons hemelse Vader vir seën,
beskerming, versorging, leiding en die geleentheid om positief vir Hom te werk.
- Almal se gebede vir ons.
- Elkeen wat help bid het vir die
kinders en ’n kind ‘aangeneem’ het om voor te bid. Ons kon werklik die
verskil sien wat dit gebring het.
- Elkeen wat iets geskenk het, van geld
tot ou tennisballe.
Ons vra julle
gebede vir ons in geduld, wysheid, gesondheid, versorging, beskerming teen
bosegeeste (ervarings waarvan ons nie geskryf het nie) en taalvaardigheid.
Vir die kinders
om Godsvresend en met die Heilige Gees gevul te word, te leer van ons en ander,
gesondheid, beskerming teen bosegeeste en versorging.
Vir die sentrum
se doel, bestuur en finansies.
Vir Mosambiek om
nie weer in geweld te verval nie, want dit sal die kinders en die land weer
vernietig. Vir die uitbreiding en oplewing na God weg van gierigheid,
selfverheffing, aanbidding en bedreiging van voorvadergeeste en ander bose
magte. (Bid dit asseblief ook vir Suid Afrika)
En nou hou ons vakansie en rus