Sondag 31 Maart 2013

25 - 31 Maart 2013


Maandag, die dag verloop goed en die kinders is nogal rustig, hou hulself besig met teken en speel. Alta probeer hul help met lees, dit gaan maar sukkel want die uitspraak is ’n probleem. Hulle raai alles en kan nie onderskei tussen woorde nie.
Dinsdag was daar ’n bemoediging/opleiding gereël, dit was gedoen deur ’n  Mosambiekse pastoor, ons sal nie sy naam gee nie, om hom en sy gemeenskap te beskerm. Dit was baie interresant en inspireerend.
Sy boodskap het gegaan oor ’n intieme verhouding met God en ‘fellowship’ met God. Hy het ‘fellowshp’ op gedeel in ‘glory’ en ‘power’. In kort het hy gesê dat glorie gebrokenheid is, wat jou laat oorgee in God se teenwoordigheid en jou laat met ’n gevoel van tevredenheid. Krag het hy gesê,  skud jou en laat jou verontrus/ onrustig/ inberoering en laat jou met ’n gevoel van grootsheid/ manjefiekheid. Hy het Jesaja 11:2 hanteer met die 6 manifistasies van die Heilge Gees, gaan lees dit gerus. Later het hy so 3 mense geroep en vir hulle gebid, toe kom hy na ons toe en vra of hy ook vir ons kan bid en sê dat daar mense is wat ons nie hier wil hê nie, maar dat daardie selfde mense sal omdraai en jammer sê en dat ons moet vas staan in wat ons doen (die enigste waarvan ons weet wat met ons 'n probleem het, is die voertuigbestuurders waar Petrus inligting bymekaar maak van misbruik van voertuie, opsom en aan bestuur deur gee, wat nooit voorheen gedoen is nie).

Tweede het hy gepraat oor kultuur en tradisies veral onder Mosambiekers Ons het gedink ons weet hoe swartmense dink en doen, maar dit het ver tekort geskied.
Volgens hom is kultuur die omgewing waarin jy groot word en deel van jou word. Tradisie is dit wat jy aanleer by die ouerhuis en kan afgeleer word. Verder het hulle meer respek en eerbied vir die dooies as vir enige lewende person, dit is omdat hulle glo dat die dooies hulle kan aanval as hulle nie respek aan hulle betoon nie en dis ook waarom hulle so vasklou aan die voorvadergeeste. Swartmense kan nie verder dink as dit wat hulle geleer het in hulle omgewing nie, hulle het nie ’n verbeelding nie, weet nie hoe om oor dinge wat jy graag sal wil hê te droom nie, kan glad nie kreatief dink nie en het daarom geen vooruitsigte of beplanning vir die toekoms nie behalwe dit wat hulle by ander sien (blankes).
‘n Groot persentasie probeer om verwerping te verwerk, hulle word nie as babas en kleinkindertjies vasgehou nie, ander voorbeelde is kinders wat op 9 jarige ouderdom veld toe gestuur word om vee op te pas, sonder werklike kontak en verhoudings met hulle ouers vir die res van hul lewens, pa’s wat nie by die huis is nie, dink aan die mynwerkers wat weg van hulle families werk, ens. Dit veroorsaak  dat hierdie kinders wanneer hulle groot is, steeds verwerp voel en dan aggresief word wanneer hulle byvoorbeeld in leierposisies beland, omdat hulle nie weet hoe om mag te hanteer nie.
Soos in SA word die kinders hier gedwing om in ’n ander taal as hulle huistaal skool te gaan wat baie pyn en probleme veroorsaak.

Laaste het ons verneem van probleme wat ’n gemeenskap met politiekeleiers het en daar is vir hulle gebid. Wat hier gebeur het is dat die regerende party wou hê die geestelike leier moes by die politieke party aansluit. Hy het geweier wat reg is omdat hy ’n geestelike is en mense van verskillende politieke partye bedien. Die regering het net daar die registrasie van die kerk geweier en die bou van die kerkgebou gestop. Bid asb. vir hulle.

Hier is geen erkening vir Christelike vakansiedae nie en paasfees of Goeie Vrydag is ’n gewone werksdag, dus geen paasnaweek nie. Hoe bevoorreg is ons nie in Suid-Afrika nie, hierdie regeering soek goedkeuring en leiding by voorvadergeeste en toordokters.

Dondergaanddiens is op die sokkerveld en die plaaslike gemeenskap was genooi. Na die diens wys hul dele uit  “The Jesus Film”. Die band het agter op ’n trok musiek gemaak en die film is op ’n projektorskerm gegooi. Wat teen die trok se kajuit staan gemaak is. Ons het op die kerk se bankies gesit. Gelukkig het dit die vorige twee nagte gereen, anders was dit net stof en weet ek nie of die bankies sou vasstaan nie, soos dit was, het hulle diep in die sand in gesink.

Met Maandag se besigheidsvergadering is gevra of ons sal help om die saal te versier vir Vrydag in swart en Sondag in mooi helder kleure en blomme. So kom dit dan dat daar net twee is wat hulp aanbied en dit erf. Nou ja, Alta is een van die en Clare wat die beplanning gedoen het, die mans en Ouma was die slawe wat moes help. Ons werk met dit wat beskikbaar is, 6 meter swart lap, ’n paslaken, swartsakke, ’n slaapsak en ’n stuk donkerbruin lap. Dis nogal min as jy weet die voorste gedeelte van die kerk is seker so 10meter, indien nie meer nie en die materiaal net ’n meter breed. Dit alles moes voor twee uur klaar wees en ook nie te vroeg begin kon word nie, want dan trek die kinders dit af. Vrydagmiddagdiens begin toe net na twee uur en eindig eers vyf uur. Die een sendeling het ’n groep kinders geneem en ’n toneel van die instelling van die nagmaal, verhoor en kruisiging van Jesus opgevoer. Vier van ons groepie seuns was ook daarin. Volumebeheer is nog nie iets wat hier verstaan word nie, en die prediker en sy Shangaan tolk het nie een ’n mikrofoon of klankversterking nodig gehad nie. Die arme tolk wat in Engels vir ons moes tolk en by ons gestaan het, het nie ’n kans gehad om sy stem hoorbaar te maak nie. Hulle het die vorige week opleiding van ’n profesionele klankingenieur gehad, dit het nie juis gewerk nie.

Saterdagaand is begin om die transformasie van die kerk te doen vir Sondagoggend se diens. Die opdrag was mooi kleurvol en met baie blomme. Clare het toe ons laas in Suid-Afrika was, helder kleure materiaal gekoop vir ’n projek wat sy aan die gang het, maar nog nie gebruik het nie. Eers is die agterste muur met wit materiaal getooi en toe met ’n kruismuurbehangsel wat Clare het en van die gekleurde stroke materiaal langsaan. Sy het ook die boog wat gewoonlik vir troues gebruik word, met ’n reenboog, hemel en heuwel versier. Die res is Sondagoggend gedoen. Vroeg Sondagoggend het Alta en Ouma gaan blomme bymekaar maak op die terrein. Dis nogal ’n taak, hier is min blomme, net boganvillas en lelies en die lelies blom nie nou nie. Boganvillas hou ook nie baie goed in potte nie. Die eerste boganvilla wat ons rek om by te kom se tak breek en ons sny toe maar al die blomme af. Die res was in ons eie tuin. Hulle het in die week die palms terug gesny en Alta het toe ’n klomp van die takke aangedra huistoe. Emmers is gebruik as blombakke met sand daar in om die blomme op hul plek te hou en nie om te val nie. Almal was beindruk met die versierings en soveel so dat ons dalk ook vir ’n troue die saal moet versier.
Sondagaand braai die sentrumbaas en sy vrou by ons, hulle wou ’n bietjie met Ouma kuier voor sy volgende naweek permanent teruggaan Marloth toe. Ons gee hulle pap en sheba wat hulle vir die eerstekeer eet.

Foto’s

Donderdagaand op die sokkerveld (daar is nie gras nie net sand)

Vrydagmiddag


Sondagoggend


Sondag 24 Maart 2013

18 - 24 Maart 2013


Die week verloop op normaal as daar so iets is. Woensdagaand se ‘Home Group’ was hier by ons. Een van die ouens hier se pa het kom kuier en hy is ‘n ‘pastor’ in Engeland, hy het Sondag gepreek en ook die ‘preek’ of leer gedeelte by ‘Home Group’ gehanteer. Moet sê dit was baie gaaf, bedoelende vir ons om aan te hoor. Sy preek die Sondag het meer om die lyf gehad as wat ons meestal hier kry. Woensdagaand het hy ons herhinner om te onthou waarom ons hier is en nie in die daagliks dinge verstrengel te raak nie, maar om gereeld terug te kyk en te onthou wat ons roeping is.
Ouma was Donderdagmiddag weer saam op Hospitaalbesoek, hul was na die ortopediese saal, waar almal omtrent skouer operasies gehad het. Daar was ook heel party mense met brandwonde.
Ouma vertel dat die suster, 2 verpleegsters en iemand wat medisyne uitgedeel het gestaan en kyk het hoe een pasiënt, wie se een been en teenoorgestelde hand ge-opereer was, op sy boude aan gesukkel het toilet toe en dat niemand hom kom help het of ’n rolstoel gebring het nie. Sy sê dat dit ontstellend was om te sien.
Hier was hierdie week so 12 besoekers van ’n groep van Potchefstroom, wat ’n jaar vir Chrustus doen, Koreane van Amerika,’n meisie van Duitsland en ’n Portugees wat in Londen bly en in Suid-Afrika gewoon het tot hy 13 jaar oud was.( Dis nogal snaaks, hy koop alles wat hy as kind in Suid-Afrika geken het, maar nie in Londen kan kry nie. So waardeer jul Eet-Sum-More, Romary Creams, NikNaks ens.)
Vrydagaand is ons saam na ’n Gospel-konsert, Som de Ceu (songs of heaven), van Daniel Alencar. Hy is ’n sanger van Brasilië. Dit was gratis en hulle het opnames gemaak vir DVD en CD. Altwee die busse met 30 sitplekke elk, is hier weg stad toe na die Teatre Scala. Met die vertrek, terwyl ons in die bus sit en wag dat almal inklim, kom ons agter hier is ’n groot stryery aan die gang, dis toe een van die weduwees wat hier bly, wat saam wil gaan, met ’n groot blou emmer, en nie een van die bestuurders wil haar in sy bus laat ry nie, want sy word karsiek. Sy moes toe maar agter bly, met emmer en al!
Die teater moes ’n baie mooi plek gewees het, maar is soos meeste van die ou geboue afgeleef en het dringend herstel werk nodig. Dit lyk of die dak lek, daar is oral kolle en gate in die plafon, die sitplekke is nog met leer oorgetrek en kan doen met ’n goeie opstop. Wanneer die gehoor opgesweep word en begin spring beweeg die hele houtvloer onder ons afgesien van die vibrasie van die musiek, Alta het gebid dat die vloer moet hou, want as dit padgee onder ons, hoe ver gaan ons val? Die verhoog was met swart doeke getooi met droë takke waarop hulle fokus-ligte gegooi het en hulle het die ligte met verskillende kleure afgewissel. Dit het mooi gelyk en mens die gehawendheid van die saal laat miskyk. Hulle het ons kort-kort verblind (spreiligte) om skote van die gehoor te neem (as julle sy nuwe DVD koop sal julle ons dalk daarop sien, dis die twee wat in die middel oopbek staan en die gedoente gadeslaan). Ja, jul sal ook sê, jul kan dit nie glo nie, ons gaan na ’n blêrende konsert waarvan ons nie ’n woord verstaan nie! Is nogal vir ons ook snaaks, maar nou ja, ons was daar en dit was ’n interessante aand uit. Daar was ook Mosambiekers wat tussenin gesing het om die ander ’n ruskans te gee. Hulle het in Shangaan gesing en die woorde in Portugees en Engels op die skerm gegooi. In een lied het hulle van een reël ’n hele liedjie gemaak deur dit te herhaal en te herhaal, ’n tweede het net twee reëls gehad. Dit laat ons besef  hoe min ons in SA van die ander kulture weet, ek onthou dat hulle musiek altyd vir my eentonig geklink het, maar ons nooit werklik die kontak gehad het, soos wat ons nou met die Shangaan kultuur hier het nie.
Daniel Alencar het ook ’n getuienis oor wat die Here gedoen het met die swangerskap en geboorte van hulle kind, sy is nou so amper 2 jaar oud. Dit was alles in Portugees en Pastoor Nico het in die bus oppad terug vir ons die storie vertel, so dit is tweedehands. Toe Daniel se vrou 6 maande swanger was het die dokters hulle meegedeel dat haar lewe ingevaar is en dat hulle die baba moet verwyder om die vrou se lewe te red. Hulle het die Here in gebed gevra wat om te doen en ook baie mense via sms en internet gevra om saam te bid. Die baba  is toe op 6 maande gebore. Terwyl die baba in die broeikas was met asemhalings probleme het sy een keer al hoe moeliker begin asemhaal, hulle het weer dringend versoeke uitgestuur vir gebed dat sy weer moes begin sterker asemhaal. Dit het gebeur maar sy kon nie alleen asemhaal nie, daar is weer gebid dat sy moes begin om alleen asem te haal en dat daar nie breinskade moet wees nie. Een dag het die alarms afgegaan en almal het gedink sy is dood, maar toe hulle by haar kom was die suurstofpype uit haar neus en het sy op haar eie asem gehaal. Sy was 2 maande in die hospitaal en hulle sê daar is geen breinskade nie.
Met die terug kom is dit so tienuur die aand, en kon ons nie glo hoeveel mense nog opstraat was wat wag vir Taxi’s nie. Daar is tot nog stalletjies langs die pad oop. Mens kom tot nog brood kry by ‘Bread corner’.
Saterdag was ’n rustige dag en party van die seuns was al vroeg hier en het rustig gespeel. Ons moes hul later wegstuur en die hek sluit, sodat ons ’n middagslappie kon probeer in pas, Dit het toe nie gewerk nie, want die groter seuns het besluit om sokker in die pad tussen die huis en skool te speel. Saterdagaand het ons ’n ‘prayer and worship’ by die ‘prayer room’ gehad (die’prayer room’ is deel van ons huis, maar darem afgeskort met ’n eie ingang) Dit was hoofsaaklik die besoekers (westerlinge) wat teenwoordig was, daar was drie kitare en ’n drom en elkeen kon sing, bid, in- en uitgaan soos hulle wou. Wat steeds vir ons opval (ook wanneer net die sengelinge alleen saam worship) en nog moeilik gesluk word, is die enkele frases van ’n lied wat oor en oor, tot 10 keer, herhaal word. Ook die manier waarop die ‘worship’ liedere gesing word, is nie vrolik en prysend nie, dit is eerder klaagliederig, al is die woorde vrolik. So julle Doppers moet nie klaag oor verandering en aanpassing nie. Ons geniet dit steeds en is oop vir die aanpassings, solank dit wat hoofsake is, skiftuurlik regverdig kan word.(dankie Francois vir jou opvoeding om die onderskeid te kan maak.)
Sondag was ook rustig, Catherine het Saterdag ’n hele hoender gaargemaak, wat op die ou einde te veel was en nie vir haar lekker genoeg gesmaak het nie. Sy het dit Sondag-middag gebring en ons het dit bietjie opgekikker en saam met haar ge-eet. Ons het die seuns Sondagaand gaan haal om DVD by ons te kyk wat vir hulle spesiaal is. Ons kom net agter dat die taal ’n probleem is omdat ons nie behoorlik met hulle kan kommunikeer nie, maar ons werk daaraan net die die brein kan nie meer so lekker memoriseer nie.

Foto's

Die verhoog gedurende die optrede
Die spannetjie baba's waar Alta betrokke is



Maandag 18 Maart 2013

11 – 17 Maart 2013


Hierdie week is daar nie baie oor die sendingstasie nie, dit gaan meer oor die kinders se kuier en dinge wat ons van Mosambiek gesien het.
Dit was ’n lekker bedrywige week, met die kinders en kleinkinders wat kom kuier het, saam met alles waarvoor ons hier ook verantwoordelik is. Maandag het die gewone gang gegaan, skoonseun se rekenaarkennis is gebruik met probleme, en Dinsdag is ons met die bus dorp toe, wat die kleinkinders baie geniet het. Woensdagaand is die kinders saam “home group” toe en almal het die kleinkinders “adore”. Hulle oë het groot gerek, wanneer hulle met die oudste een praat en sy hul in Afrikaans geantwoord het.
O ja. Die seuns het hulle nogal gedra met die kinders hier, ons het vir hulle klei gemaak en die het hulle nogal goed besig gehou, maar om eierdoppe, lensies en rys te plak met kouelym, was net bo-kant hul vuurmaakplek.
Donderdag was ons Macaneta-eiland toe. Dis nou by die see, so 30km noord vanaf Zimpeto, om daar te kom, moes ons met kar en al tot op die veerboot ry om oor die rivier te kom. Dit is ’n eiland omdat die Nkomatirivier hierdie gedeelte heeltemal afsonder van die res van die vatseland. Aan die anderkant het ons, op ’n hobbelrige geboude pad tussen moerasse deur gery. Naby die see het ons deur die sand geploeg na verskillende vakansie-oorde. Hulle is lekker duur maar die fasiliteite is goed. ‘n Hamburger by een van die plekke kos R100 en ’n blikkie Coke R20. By die oord Tan’n Bietjie het ons eenkant geparkeer en ’n ruk op die strand deurgebring, waar die kinders in die vlakwater gespeel het. Dit is interresant dat daar nie naastenby die golwe is wat ons langs die Suid Afrikaanse kus kry nie, daar is so kleinerige twee golwe op ’n slag.
Daar het ons gesien hoe hulle visvang. Hulle stuur sulke klein skuite met nette see in en dan trek hul die nette van die land af in. Die nette het lang toue aan wat van die land af ingetrek word deur ’n groepie van so 17, jong mans en vroue, party met babas op die rug in ‘n “kapalana”. Die toue word sorgvuldig  opgerol soos hul vorder en as jou tou op is, hol jy see toe en begin weer vandaar af trek. Wanneer die net eindelik op die strand is begin die uitsorteer en vissies uit die net gehaal waar hul vas sit, party gooi dit wat hul nie gebruik nie net daar neer, maar ander gooi darem verder dat die golwe hul weer in vat see toe. Oral op die strand lê hopies jellievisse en klein vissies wat hul blykbaar nie eet nie en die wat reeds dood in die net was. En hier is nie eers seemeeue nie, het op die hele gebied net 2 gesien. (’n Kapalana is so ‘n 2 meter stuk lap met redelik kenmerkende patrone, wat die vroue om hul heupe dra of baba’s in dra of ook as kopdoeke. Dit word ook vir skadu gebruik, mens sien dit ook by straatverkopers waar dit as beskutting van son en wind gebruik word.)
Onder is foto's en wat ons nie vooraf vertel is nie, is dat die veerboot gereeld breek en as jy op die eiland is gaan jy vir 3-4 dae daar moet wag tot die veerboot weer herstel is.

Veerboot
Op die veerboot
Strand met vissersnet in die voorgrond

Vissers

Vissers wat 'n net uittrek

Die golwe

Maandag 11 Maart 2013

4 – 10 Maart 2013

Ons het ’n rustige kort week op Iris Zimpeto gehad en is Donderdagoggend 7uur hier weg Suid-Afrika toe. Waar dit ’n besige 3 dae was, voordat ons Sondag terug gekom het. Ons het dokters, voorskrifte, oog- en ore-afsprake gehad en ander sendelinge saam geneem om hulle visums  reg te kry vir die volgende 3 maande. En daar is ook aankope vir Iris gedoen. Sondag was dit die optog terug. Dis pak en pak, aan alles wat gekoop is en ons kinders en kleinkinders is ook saam met ons, ons eerste besoekers!

Verdere inligting oor die kinders:

Casimiro is redelik rustig en vriendelike seun, hy hou daarvan om boeke deur te blaai en is een van die eerstes om besoekers aan te hang, hy stel veral belang in hul kameras, selfone en rekenaars. Hy het ook ’n broer hier in die sentrum.

Shelton is bietjie wispelturig, een oomblik vriendelik en net die volgende is hy moeilik en onhanteerbaar. Hy kan ook heel dierbaar wees. Sy ouma besoek hom en sy suster gereeld, beide sy ouers is dood en die ouma sorg vir al haar kinders se kinders, maar kon nie met die twee jongstes se gesondheids probleme by hou nie.

Paulo is die moeiliker een van die groepie, hy hou meer daarvan om op sy eie te speel en trek gou terug, maar sal uit die bloute opdaag by die huis, of as ons by hom verby loop, kom hy en gee ons ’n drukkie.

Dit dan die seuns en ons sal dit waardeer indien julle bereid sal wees om gereeld vir een te bid.

Dinsdag 05 Maart 2013

25 Februarie – 3 Maart 2013


Dit was ’n redelik rustige week. Ons het almal so deur die week  ’n maagaandoening gehad.
Die seuns was ook minder iesiegrimmig, miskien begin ons mekaar nou beter verstaan en besef party ten minste, dat ons nie vir hulle manipulasie gaan val nie.

Cellia (die Brasiliaanse pastoortjie) het Ouma opgekommandeer om te help met die tuin. Dit vorder goed, maar die seuns wat in die tuin werk weet maar min.
Donderdag was Ouma weer uit op hospitaalbesoek en hulle was kinderhospitaal toe. Op een van die beddens het die ma so vas geslaap dat toe hul haar wakker maak, soek sy na die kind, wat self afgeklim het en op die vloer gaan slaap het.

Vrydagoggend het hier ’n vinnige bui, goeie reën geval en is die hitte bietjie gebreek.


Aangesien ons nie juis nuus het nie, kan ons dalk bietjie meer vertel van die seuns. Ons het gewonder of  daar nie mense is wat vir hulle wil bid nie. Meeste van hulle het glad nie ouers nie en ons weet ook nie of hulle Christene is nie. Laat weet asseblief indien julle sou kans sien om  vir een van hulle te bid. (klik op ‘comment’ om te antwoord en voorsien ook julle epos-adres). Ons sal terug antwoord met ’n foto en meer inligting stuur oor ’n kind. (Daar is een wat ons dink baie soos Kerneels is en dat hy hom baie goed sal verstaan.)

Die kinders is soos in Suid-Afrika sommer ’n geboortedatum gegee. Meeste van hulle se ouers kon as gevolg van die Vryheidsoorlog nie skool gaan nie en kan nie lees nie. Dus is kinders sommer net ’n geboortedatum gegee en is dit dus selde reg.

Samo se verjaarsdag. Hy verjaar eintlik eers Sondag, maar ons het die verjaarsdag Saterdag gevier. Samo en Alta het Saterdagoggend kolwyntjies gebak en ons het hom winkels toe gevat om vir hom skoene te koop. Hulle kom baie min in winkels, maar hy het hom baie goed gedra en sy hande tuis gehou. Die partytjie was ook indrukwekkend, hulle het eers vir hom gesing en daarna vir hom gebid. Onder is foto’s van die partytjie.

Samo is ’n aangename intellegente kind, met ’n positiewe geaardheid. Is baie opgewonde en volhardend rondom sy verjaarsdag en wat hy wil hê.  

Paulo Lois is die kleinste, fisies van die klompie. Baie rustige kind wat graag teken en nogal ’n unike styl het.

Alito is die ander kunstenaar, hy is sommer vies as ons hul ander kunsvlyt aktiwiteite laat doen as teken.

Alfeu is fisies die grootste en waarskynlik ook die oudste. Hy verstaan so half en half Engels en vertaal op sy manier vir die ander. Hy is baie “loud” en alles wat hy sê, word oorverdowend gedoen. Nou moet ek by sê, hulle word geleer om bv. die tafelgebed uit te skree, soos ons by ons skoolsport liedjies en krete sou skree. Hy is ook gedurig besig om ritme op alles en met alles uit te timmer. Maar hy is ook die een wat omsien na kleiner kindertjies en veral die gestremdes.

Volgende week inligting oor die res.

Sondag ontmoet ons ’n span van SA wat ’n Iris Minitry, met die naam Footprints, in Johannesburg (naby Laseria) bedryf. Dit is blykbaar soortgelyk aan wat hier op Zimpeto gebeur. Julle kan gaan kyk op http://www.irismin.co.za/ en http://www.footprintsplay.co.za/

ns. Ons sien daar is mense van buite Suid Afrika wat die blog gelees het, indien julle dit volg laat ons asseblief weet wie julle is. Druk ‘Comment’ en gesels met ons. Die van binne SA is ook welkom om te gesels.

Sam
Sam meng koekdeeg

Gebed vir Sam

Die feesmaal