Donderdag 22 Januarie 2015

17 November 2014 – 18 Januarie 2015

Dit is ’n  lang tyd sedert ons laas geskryf het, maar dit was ook baie besig.
Ons was die naweek van 21-23 November in Middelburg en het ’n paar dinge daar gedoen wat aandag nodig gehad het en toe ook saam met ’n paar bekendes gekuier en Sondag weer by ons ou kerk gekuier. Dit was besonders en lekker om op te vang en te hoor hoe dit met almal gaan. Dankie vir al die goeie wense en gebede, dit dra ons.
Daarna het ons ouma opgelaai en gaan kennis maak met ons nuwe kleindogter. Ons is die volgende oggend Bloemfontein toe, waar ons ‘n week by ons oudste dogter gaan kuier het en toe terug is na die tweede oudste om weer daar ’n week te kuier. Daarna is ons terug Middelburg toe om nog sake te gaan afhandel, Nelspruit toe om dinge daar te gaan doen en toe Marloth toe. Daar het ons skenkings uitgesorteer en besluit wat kan later gaan en wat nou moet saam terug vir die kinders vir Kersfees. ’n Paartjie het vir die naweek kom kuier en ons is die Maandag terug Zimpeto toe. Naby Matola het ’n oorlaaide bakkie met ‘n sleepwa aan ons linkerkant, tussen die geelstreep en die skouer van die pad by ons probeer verby steek en ons getref met die sleepwa se wiel. Die skade was nie te erg nie, maar dit was ’n lang proses om by die polisie en versekering alles gedoen te kry. Dis ‘n bestuuring dat niemand beseer is nie. Die kar is nog nie reg nie, met al die vakansiedae in hierdie tyd, sloer dinge maar.
Kersfees was baie warm en besig, ’n lang dag, met almal spoggerig in hul nuwe klere. Nuwe jaar het vinnig gevolg en die kinders is vermaak en besig gehou, en die aand is afgesluit met vuurwerke middernag.
Maandag 5 Januarie het ons die 8 seuntjies van camatata 5 ontvang. Almal baie opgewonde oor die nuwe bly plek. Sover gaan dit goed en lyk dit of hulle goed inskakel, hoop en bid dit hou aan. Daar is 2 wat bekend is vir die moeiliheid  wat hulle maak. Ons het ook een van die groot seuns gegroet, wat in die huis, wat sy ma vir hulle agtergelaat het, ingetrek het. Ons het dus nou ‘n dorm met 23 kleiner seuns en 4 grotes.
Ons is dankbaar vir talle seeninge en ons pragtige kinders en kleinkinders en die voorreg om ook hier die hande en voete van Jesus te kan wees en ’n verskil vir hierdie kinders te kan maak.

Bid asseblief vir ons in hierdie jaar vir:
Baie geduld en insig wat hierdie kinders betref, en aanleer van die taal,
Die veranderinge en aanpassings vir die wat huis toe gaan of hier moet inskakel,
Volgehoue finansies om te kan doen wat ons doen en ook vir die finansies van Iris Global en Zimpeto,
Gesondheid, beskerming teen malaria muskiete en bose magte,
Goeie vordering  van die kinders in die skool en vir die onderwysers om hul beste te lewer,
Dat die wat na die kinders omsien (educators) werklik vir hulle sal omgee.


3 - 16 November 2014



Die week was besig met tieners wat hul wil wil afdwing en ’n houding het van ek is groot en maak soos ek wil. Gordyne hang en maak, klere uit sorteer en sien wat kort en wat moet gekry word. Ons is besig om die goed wat ons van skenkings ontvang het uit te sorteer vir Kersfees, soos Kinderdag, is Kersfees die ander groot dag en almal kry klere en speelgoed op die twee dae. Ons gaan oor ’n week Suid-Afrika toe vir ’n paar dae, om by die kinders en Ouma te kuier en ook om ons nuwe kleinkind te verwelkom. Ons het baie T-hemde vir die kleiner seuns, maar min vir die groter seuns en kort broeke, onderbroeke en kouse is vir almal in groot aanvraag. Dan is daar ook die gereed maak vir die klompie kleintjies wat ons van die ander ‘camarata’ gaan ontvang net ’n paar dae na Kersfees.