Sondag 18 Mei 2014

12 – 18 Mei 2014

Maandag en Dinsdag verloop normaal met die gewone dinge.
Daar is ’n groot naambord met ligte voor die sentrum deur ’n kontrakteur opgesit. Daar is elke keer iets met die woorde verkeerd na dit opgesit is en die laaste keer het net ‘n gedeelte se ligte geflikker en die res het geen lig gehad nie. Hierdie keer toe hulle dit afgehaal het en oopgemaak het, roep die onderhoudsbestuur Petrus om te kom kyk na die elektriese werk. Dit is ’n interresante opset en hulle verklaring, dat die ligte nie almal werk nie, is dat die spanning te laag is. Voor daar iets aan gedoen kan word, het hulle die bord weer aan mekaar en opgesit en enige verdere probleme is nou die sentrum sin. 
Met Donderdagaande se dienste gee hulle ’n teksvers wat die kinders moet memoriseer. Meeste van die tyd doen hulle dit in ’n soort van aflos-wedren-styl tussen die seuns en meisies. Ons kry elke keer die eer om  agter te staan om die kinders wat vorentoe te moet hardloop te beheer. Donderdagaand was die vers agter harte op 2 borde versteek en 8 dogters en 8 seuns moet die harte verwyder totdat die vers leesbaar is en die kompetiesie is sterk. Die dogters wil elke keer wen en dis ’n taak om hulle te laat stil staan totdat die een wat vorentoe is, terug is, voordat die volgende een kan hardloop. Die dogters begin al hardloop as die ander een omdraai, maar daar is geen manier wat Alta hulle kry om te wag tot die een by hulle is nie met die gevolg dat die seuns, wat dit reg doen, altyd verloor.
Saterdagoggend is daar ’n doopgeleentheid gerëel in die see, daar sou 8 uur gery word, maar selfs die pastore was nie betyds nie. Dis koud met ’n ysige wind wat waai. Teen 9uur vertrek die bus, maar die verkeer is druk en ons ry staan staan en is teen 10:15 op die strand. Op die strand is die wind nog kouer en hulle begin eers sing en bid en bietjie inligting word gegee voordat hulle die see in loop. Dis nogal ver wat hulle moet loop, hooggety was 6uur die oggend. Daar is so 20 wat gedoop wil word. Hulle staan in ’n ry en loop nader tot waar die pastore so 70cm diep in die water gestaan het. As hulle terug loop staan daar nog ’n pastoor en sy vrou reg om weer vir hulle te bid. Hulle bibber en trek weer net daar op die strand voor almal uit en aan.
Terug by die sentrum na ons ’n draai in die winkels gaan maak het, maak ons reg vir die braai en spelletjies saam met die sendelinge.

Sondagoggend preek ’n besoeker en dit is ’n baie goeie preek. Daar is ’n sokkerwedstryd in die naby geleë stadium en daar is kaartjies vir ’n klompie en van die groot seun gaan kyk na die wedstryd tussen Mosambiek en Suid Sudan. Mosambiek het 5 – 0 gewen.

Die elektriese werk

 Die doop






Saterdag 17 Mei 2014

5 – 11 Mei 2014

Maandag en Dinsdag doen ons al die aankope vir almal in Zimpeto wat iets uit Nelspruit benodig. Woensdag trek ons ons kruisies en ry terug Maputo toe. Die kinders kom almal vir ’n drukkie toe hulle agterkom ons is terug.
By Home Group Woensdag aand kyk ons na dramafliek wat handel oor Grace en ons kry elkeen ’n stuk oor Grace en Forgiveness wat gelees moet word.
Gedurende die week kom laai ’n pa en stiefma ‘n kind by die sentrum af en verdwyn. Die kind is 4 jaar oud, weeg 10kg, gebreekte arm en vol letsels, daar word ook vermoed dat een been en ribbebene ook gebreek is. Dit is hartseer om te sien, maar dan weer kry ons gratis en goeie behandeling by die privaat hospitaal vir hom.
Waterpokkies het ook kop uitgesteek hier in die sentrum.

Terwyl ons in Nelspruit was, het ons ’n DVD gekoop met die naam, ‘Love, Sex and Dating’ met die oog daarop om dit met die groot seuns te hanteer. Sondagaand draai hulle in die huis rond en kom op die DVD af, dit het hulle nuuskierig gemaak en wil nou net dit sien. Ons moet egter die educator eers daarna laat kyk want hy gaan die vertaling moet doen.

Donderdag 08 Mei 2014

28 April – 4 Mei 2014

Maandagaand neem ons afskeid van die dokter wat vir ’n kort tyd hier was. Ons gaan na die eetplek by die swembad, maar hulle is nou nie juis bekend vir spoedige diens nie. Ons eet lekker, maar was toe ook al so honger na ongeveer twee ure se wag, dat enige iets lekker sou wees.
Dinsdag neem ons weer afskeid van een van die klein seuntjies wat huis toe gaan. Hy is kalm en nie tranerig nie, so dit is vir almal makliker.
Woensdagaand kry ons meer inligting oor tieners en hoekom hulle sulke eienaardige gedrag en optredes kan hê. Dis as of daar ’n kortsluiting in hul breine is, en net nie logiese denke kan hê nie.
Donderdag,  is werkersdag en ook hier is dit ’n vakansiedag. Petrus, Celia, John en Clare  gaan Cumbani toe om die boorgatpomp wat gesteel is te vervang. Vir middagete kry hulle vis in olie gebraai (van die kop tot by die stertvin volledig), pap met te min sout en masinga, of so iets, sous (iets wat van ’n plant se blare gemaak word). Die vis se kop word afgebreek en die res word met die hand stukkie vir stukkie ge-eet. Dus was Petrus Donderdagaand baie honger.
Die skole sluit Vrydag vir ’n week en die kinders is vroeg terug van die skool en neem die huis oor. Dis net met etenstye dat ons stilte ervaar.

Saterdagoggend ry ons  en een van die sendelinge wat deur die grens moet gaan Suid-Afrika toe. Ons waardeer die stilte en sy gaan Sondag met ’n bus terug en ons ry verder Nelspruit toe om Maandagoggend die kar in te neem vir ’n diens. Ons het ’n lang lys goed wat ons moet koop, oplaai en so voorts vir almal en vir die seuns.