Maandag 16 November 2015

September / Oktober 2015

Vir die wat nog nie weet nie, ons pad eindig einde November 2015 hier by Zimpeto en volgende jaar gaan ons na ‘n Bybelskool toe in die Wes-Kaap. Daar word gepak en goed word terug gery huis toe, kinders se Kersfees presente word reg gekry en huis uitgesorteer met alles wat oor die amper 3 jaar opgegaar is.

Daar is begin met kleingroepe hier op die basis. Daar is baie sendelinge weg vir ‘n kuier by die huis en ons word gevra om een groep te lei tot die permanente groepleiers terug is. By die eerste byeenkoms was worship ‘n belewenis, het nog nie so iets by ‘n kleingroep belewe nie.

Soos voorheen vertel woon ons ook ‘n selgroep in die stad by wat onder die Lewende Gemeente Maputo val. Die groepleiers bly op die 13de verdieping waar ons bymekaar kom. Daar is 3 hysbakke, kan nie onthou dat ons al ooit aldrie gelyk  in ‘n werkend toestand gekry het nie, maar hierdie keer wou nie een ons vervoer nie. So ons is met die trappe op 13de vloer toe, dit het ‘n rukkie geneem maar ons het dit gemaak sonder om te hard te blaas of styf te wees die volgende dag, dit moet ons daaglikse stappery hier op die sand wees wat ons fiks genoeg gemaak het. Die terugtog was 2 verdiepings se trappe en ander werkende hysbakke in ‘n ander vleuel van die gebou waarvan ons nie geweet het nie.

Na baie gesukkel word die kinders nou Donderdagaande met die kerkdiens meer betrek en so gebeur dit dat ‘n seun van so 12 een aand die diens lei en ook sy getuienis met ons deel. Hy vertel hoe sleg hulle by die huis deur hulle stiefma behandel is en sodoende hier beland het en Jesus hier gevind het. Dit laat mens weer perspektief kry hoekom jy hier is, oor tyd en met baie frustrasies en probleme begin mens moedeloos word.
Daar is ‘n toename in longontsteking onder die kinders wat maar seker aan die oorgang van seisoen toegeskryf kan word. Ons cam het al 4 gevalle gehad in 6 weke se tyd.


Die kinders word al moeiliker om te beheer en ons kan nie agterkom of dit is omdat ons weggaan nie en of dit maar nou net is dat hulle moeg is aan die einde van die skool jaar nie.