Saterdag 18 Mei 2013

6 – 12 Mei 2013


Maandagoggend is ons Nelspruit toe om eers vir Catherine af te laai en ’n luidspreker wat herstel moet word en daarna is ons na Kruger International Airport om Bekki en haar ma op te laai wat van Duisland af  by haar in Maputo kom kuier.  Ons het nog altyd gewonder hoe hulle ’n lughawe in die klipkoppie-wêreld gebou het. Ons kan jul verseker, daar is baie grond ingery vir die een. Daarna is daar nog ’n paar dinge wat vir ‘missionaries’ en Iris gedoen moet word, voor ons terug ry Marloth toe. Daar aangekom is dit afpak en toe neem ons die besoekers op ’n wildrit agter op die bakkie. Ons is bevoorreg en sien ’n klompie olifante in die rivier asook ’n buffel. Ons het ook zebras, rooibokke, vlakvarke en kameelperde van nader by gesien. Dit is vir hulle ’n belewenis en hulle dink dis te wonderlik met baie foto’s wat van al die diere en sonsondergang geneem word. Ons besef weer dat ons baie bevoorreg is en dat ons al hierdie dinge as vanselfsprekend aanvaar. Terug by die huis braai ons vleis, ook dit is vir die Duitsers ’n unike ondervindig. Ons kry ook besoek van die nagapie en die leeu het ook van hom laat hoor. Die baie sterre laat hul kort-kort op kyk boontoe.
Dinsdagoggend ry ons terug Maputo toe en die seuns is gou-gou daar en kom soek drukkies.
Woensdagoggend kry Catherine ‘n nuwe kind, ’n dogterjie, sy is ses en erg verwaarloos, maer en ondervoed. Sy is HIV positief, haar pa het haar verwerp en sy het maar so tussen die bure rond geswerf. Haar ma is afhanklik van die pa en gee maar net wat sy sonder sy medewete kan vir haar, die ma is by die sentrum met die opname. Sy word ondersoek, gewas en klere gegee en haar plekkie gewys waar sy kan slaap. Hulle moet nog toetse doen, maar daar word vermoed dat sy TB het en die nodige voorsorgmaatreëls word getref. Woensdag het Alta ook begin verf aan die pasgetroudes se blyplek en Vella het gehelp skoonmaak. Woensdagaand word die nuwe ‘Prayer room’ ingewy deur ‘Home group’ daar te hou en die Brasiliaanse pastoortjie, Celia, se 10 jaar diens by Zimpeto word ook terselfdetyd gevier. Die ‘Prayer room’ was ook Celia se projek en droom.
Donderdag is dit nog verf en werk aan die blyplek langsaan en rekenaar virusseprogramme wat gelaai word. Tussen al die dinge is daar ook nog die seuns en ons daaglikse take wat aandag moet kry.
Daar is 2 jongmanne onder die sendelinge wat ’n diensjaar doen op hulle terme, om meer te sê, sal nie verstandig wees nie, maar soos meeste jong manne is hul mae baie belangrik. Dinsdagooggend en Vrydagmiddag as die bus Shoprite toe gaan is die twee daar. Vrydag ry ons so 12uur om aankope vir die babas te gaan doen en Cathrine ry saam om goed vir haar kinders en die nuwe dogterjie te kry.  Ons is so halfpad oppad terug, toe een van die jongmanne vir Cathrine skakel om te hoor of sy op die Shoprite bus is en of sy vir hulle goed kan koop, want hulle het verslaap en die bus verpas. So hulle moes vir 3 dae sonder kos en lekkernye klaar kom.
Saterdag so 12 uur het ons die pad gevat Marloth toe, ons neem vakansie. Dus vir die volgende 2 weke 12 -26 Mei sal daar nie nuus wees nie, want ons hou vakansie.

Dinsdag 07 Mei 2013

29 April – 5 Mei 2013


Maandagoggend probeer ons vroeg wegkom om die aankope vir die babas te gaan doen en kom so eenuur terug, net betyds om iets te eet voor die kinders kom.
Dinsdag is daar konsternasie in die besoekersarea. Hier is so 5 Noorweegse jonges van so 18/19 jaar wat blykbaar ’n paar Afrika dinge wil doen en een daarvan is om ’n hoender te slag en gaar te maak waarvan hulle geen benul het hoe om dit te doen nie. Eers is hulle na een van ons jongmans toe om ’n byl te kry om die hoender se kop af te kap, hy antwoord nee hy het nie ’n byl vanaf sy huis in Engeland saamgebring nie. Daarna is hulle na John wat verantwoordelik is vir onderhoud, maar hy kon hulle ook nie help nie. Gedurende middagete vertel John sy vrou Clair, wat die dag aandiens is om na die besoekers om te sien, so terloops wat hulle plan is. Sy freak uit en storm hulle om mooi aan hulle te verduidelik wat gebeur as jy ’n hoender se kop afkap en nie behoorlik vashou nie, dat die hoender sonder kop rondhardloop, die skoonmaak van ’n hoender, ens. Sy verbied hulle om so iets hier te doen want dit is ’n kindersentrum. Ons ander wonder net hoe dit sal lyk wanneer die afkop hoender die wêreld volhardloop en in wie se kamer dit dalk kan eindig, miskien die sendeling se kamer met die baie geite.
Woensdagoggend gaan hang ons die laaste gordyne van die gebedskamer op, en Alta begin direk daarna met die gordyne vir die pas getroudes se huis wat ons aangesê is om klaar te kry vir hulle.
Saterdag hou ons partyjie vir Paulo Luis. Hy is die kleinste van die groepie, maar hy het ’n kroniese loop neus en moet gedurig herinner word om sy gesig skoon te maak. Alta het al ‘n tyd gelede vir hom gesê dat as hy sy neus skoon hou, hy vir sy verjaarsdag versiersuiker op sy koek kan kry, maar as sy neus nie skoon is nie, is daar geen versiersuiker nie. Dit het heel goed gegaan, die neusie bly redelik skoon, met so hier en daar ’n waarskuwing en ons hoop dat dit ’n blywende gewoonte sal word. Hy kom help met die koekbakkery en daarna gaan ons vir hom skoene koop, maar as jy nou al ’n steeks donkie gesien het, dis nou hy toe dit by die keuse kom. Ons pak ’n ry tekkies uit wat binne ons begroting pas, maar ons kry sowaar nie sy voet opgelig om te sien of ons die regte grootte het nie. Ons het naderhand ’n klomp mense wat help om aan hom te verduidelik dat hy nou moet aanpas, maar daai voet is geanker op die vloer. Hy skud net sy kop. Naderhand lei  ons af hy wil nie dié hê wat ons gekies het nie, hy wil van die duurder tekkies hê. Dis net 20 mets (R6.00) duurder  en ons gee maar bes. Die partytjie verloop goed.
 Maar nou moet ons ook eers vertel van Augostino se ‘love letter’. Buite die hekkie sit ’n ander seun, bietjie ouer, wat ook gereëld hier kom, maar nie deel van die groep is nie en nie na die partytjie genooi is nie. Hy het hier kom speel saam met hulle en een van die groep het hom uitgestoot en Alta moes praat en sê dat dit nie mooi is om so te maak nie.  Hy bly staan en naderhand sien Alta dat die trane oor sy wange loop en  gaan praat met hom. Hulle wil hom nie hier hê nie en sy groep baklei ook met hom. Hy word toe ingebring en eenkant weg van die ander gehou. Op navraag hoor ons dat hy baie probleme het en sukkel om in te pas. So sit hy toe Saterdag buite die hekkie, ons sien hom maar hy moet maar leer jy kan nie inbreek op ander se partyjie nie. Hy sit buite en maak later die hekkie groot oop en bly doenig by die hek. Na die partyjie loop Alta op na die babas waar sy ook opdiens is en word van die camerada af al vertel dat Augustino iets gedoen het, maar verstaan is moeilik en ’n klompie loop saam om te gaan wys wat vertel word. By die huis gekom sien Alta wat hy, die hele tyd by die hekkie gedoen het.  Die hele koesyn is van bo tot onder vol geskryf, “Love Alta” . Ons lag lekker daaroor en sê as dit maar Petrus was wat dit geskryf het! Nou ja, Augustino moes dit toe maar weer afwas ook.
Saterdagaand het ons die eensame sendelinge weer uitgenooi om te kom kuier, ons bak pannekoek en eet lekker. Pannekoek is toe ook nie ’n vreemde item vir almal nie, daar is net verskillende name daarvoor. Ons kuier lekker en Sonia vanaf Brasilië vertel ons, op haar storievertel manier, hoe die Here haar gekarring het om Mosambiek toe te kom tot sy ingegee het.
Sondag so 12 uur het ons die pad gevat Marloth toe want ons moes vir Bekki en haar ma Maandag in Nelspruit gaan haal, maar meer daaroor volgende week.

Donderdag 02 Mei 2013

22 – 28 April 2013


Maandag die skoolvakansie is verby en ons kry meer gedoen, soos om aan die gordyne te werk. Ons doen nou Portugese lesse op’n hoor en sien sisteem en nie praat nie. Dit beteken ons bou ’n woordeskat op soos ’n baba voordat die begin praat. Maandag-middag/aand ry ons Marloth toe. Petrus het nie rekening gehou dat die Kia se lisensie einde April verval nie en Mosambiek se verkeersbeamptes sal nie verstaan van 21 dae grasie nie. Ons het beplan om 4 uur te ry maar ’n probleem by die babas hou ons hier en ons kom eers 5 uur weg in spitsverkeer. By die grens was dit net 10 minute en totale reistyd 2 en ’n halfuur aan 100km.
Dinsdag word daar voertuiglisensie hernu. Shangaan Bybels word afgelaai vir Iris naby Komatipoort en daarna is ons Malelane toe om materiaal, verf en ’n selfoon te koop, ook alles  vir Iris en so ’n paar goed en middagete vir ons.
Woensdag-oggend stop ons eers in Komatipoort om uiteindelik ’n posbus te kry en daarna terug Zimpeto toe. Woensdagaand lei die Brasiliaanse pastoortjie die ‘Home Groep’ en sy skroef ons op om nie bang te wees of moed op te gee nie, maar slegs een tree op’n slag te neem in ons groei in Christus.
Donderdag is Alta alleen met die kinders. Hulle is heel rustig, hul was redelik besig gehou met goed waar Alta nie nodig is om by te wees nie en het die boodskap gou gesnap dat hulle hul moet gedra en dat die gordyne moet klaar kom.
Vrydag-middag is ons vinnig winkels toe, net die nodige gekry en toe terug.
Saterdag-oggend sit Petrus en John die gordynhangers in die nuwe gebedskamer op, maar Alta is nog besig met die gordyne, 2 van die dogters help ook met die maak en dit vorder bietjie vinniger. Die gebedskamer is reeds Vrydag ingebruik geneem en wanneer die mense daar gaan bid, loer die kinders deur die vensters, dus is die druk vir die gordyne hoog. Saterdagaand begin ons met ‘n program vir hoofsaaklik die enkellopende sendelinge wat eensaam is. Die idee is dat wie ook al lus is en geselskap soek welkom is. Ses daag op en ons begin later Jingles met Uno (waar jy blokkies uit moet terk en dan weer bo-op moet plaas) speel en dit wil voorkom of almal dit geniet het.
Sondag ons gaan na ’n Engelse kerk (Assemblies of God) saam met ander mense van die basis. Wonderlik om weer ’n diens te hoor wat pitkos gee en wat ons kan verstaan.
Ons het nog ’n paar kinders wat ’n bid-ma of -pa nodig het, laat weet asseblief as jy graag vir een kan bid. Ons stuur dan meer spesifieke inligting en die kind se agtergrond. Dit werk, ons sien die verskil in die waarvoor gebid word.