Sondag 24 Februarie 2013

18-24 Februarie 2013


Maandag is die gewone bedrywighede, niks uitstaande nie. Ouma brei en een van die seuns wil ook, maar sukkel en Alta wys hulle hoe om vingerbrei te doen. Petrus vind Maandag uit dat werks-etiek hier in Mosambiek net soos in SA is, alle nuwe stelsels wat ingestel is, word doodeenvoudig omseil en die bestuurder vermy om stappe te neem en Petrus het nog nie uitvoerende magte gekry om self te kan optree nie.

Dinsdag is weer Shoprite toe met die bus vir aankope vir die babas. Wat ’n interessante rit, ons gesels met een van die besoekers en vind uit presies wat hy in Engeland doen. Hy werk vir sy kerk en doen ook speel-terrapie en ons gryp dadelik die geleentheid aan en vra om ons meer daarvan te vertel. Hy het reëlings vir die aand en ons moet met die kinders besig wees en ons reël dat hy die aand na hul terug is van die straatuitreik met ons gesels en so word ons toe ook bietjie slimmer. Deel van die gesprek op die bus was ook oor vingerbrei en die aand wys Alta toe gou vir die vrou wat daaroor gevra het. Op die ou end sit drie volwassennes en vingertjie-brei en is net so opgewonde daaroor as die kinders en dit 10:30 in die aand. Ons vind dit baie snaaks!

Woensdag begin nogal erg, Alta loop om klere, wat reggemaak is, vir die seuns te gee voordat hulle eetsaal toe gaan, want vandaar gaan hulle direk skool toe. Daar aangekom is dit ’n geskree van ’n ander wêreld, die een seun weier om die vuil hemp wat hy aan het, uit te trek en ’n skone aan te trek. Hulle trek gewoonlik hul skoolhemde bo-oor ’n T-hemp aan. Ons kry hom naderhand sover om die skoolhemp aan te trek en eetsaal toe te loop. By die eetsaal keer ’n ander kind hom voor en eis sy plakkies(skoeisel) terug, ek sien toe eers dat hy nie sy eie aan het nie en die seun wys hom waar hy syne gelos het. Ons moes die wat hy aan het vir hom uittrek en sy eie aantrek, hy het geen samewerking gegee nie. Vanmiddag kom hulle so stuk-stuk aan en elkeen trek in sy eie rigting en dit is chaos. Dieselfde seun van die oggend is ontevrede omdat hy nie sy sin kry nie en wil net loop, Petrus kom om die hoek en keer hom voor en bring hom terug. Hy stoei en sit dieselfde gesanik as die oggend op, glad nie tevrede om vasgevat te word nie. Hy gaan so aan, dat die buurvrou naderhand oor die heining vra of alles reg is en ons het nie regtig ’n benul waaroor al die geskree is nie en hou hom net vas om hom te kalmeer en te keer dat hy nie pad vat nie, het nie baie suksesvol gevoel nie. ’n Ander een is ook naderhand aan die skree en wil nie dat ons naby hom kom nie.
Tussen deur gaan die ander aan met hul gom en sand projekies, alles is vol sand en gom, tot die badkamer. Wat ’n middag! Ons stuur hulle camerada toe, maar ’n paar bly agter, tot dit tyd vir stort is. Ons is nog besig met ’n paar ding, onderandere is Petrus besig om die Kia te was toe die een wat die meeste geskree het saam met ’n ander een terug is en hulle help kar was, hulle loop eers toe dit tyd is om eetsaal toe te gaan. Ons kan asem skep en stort self en eet ook voor ‘home group’. Terwyl ons nog eet, kom een om die hoek loer en nie lank nie en 5 van hulle is hier onderandere weer die een wat die middag so ’n geskree opgesit het. So dit wil nie voorkom of ons te streng was of verkeerd opgetree het nie, hulle kom weer terug. Ons besef ons het baie meer geduld nou as ’n klompie jare terug.
Walter wat die IT hanteer wil dit nie meer doen nie en gaan vir ’n maand huis toe. In ’n gesprek met een van die leiers meld Petrus dat hy dalk sal kan help. Kort daarna (Maandag) ontvang hy ’n epos vanaf Zimpeto se direkteur, wat tans op vakansie is, dat as hy daarin belangstel om te help moet hy net eers kyk of hy nie te veel aanvat nie en dat hy daaroor bid vir leiding. Woensdag-middag daag Walter hier by die huis op om te hoor of Petrus by hom Dondermiddag sal kan uitkom, sodat hy kan begin om Petrus te wys wat alles by IT aangaan, die besluit is uit Petrus se hande gevat.
Woensdagaand is dit weer Homegroup en Wendy hanteer Neh.4 met ons, in opvolg van ons vorige hantering 4 weke gelede. Dit gaan oor Israel wat die mure van Jerusalem moes herbou met die gereedskap in een hand en ’n wapen in die ander hand. Sy gee vir ons 8 wapens uit die Skrif wat ons hier in Zimpeto kan gebruik: Visie om altyd te onthou (hoekom het ons hierheen gekom); Eenheid tussen ons sendelinge, uit verskillende nasies en kulture, wat hier in ’n klein ruimte saam moet werk wat verder onderverdeel word in  vergewingsgesindheid en eerbied vir mekaar; Aanvaarding van gebeure om vrede te kan ervaar; Lofprysing aan God; die Bybel, verklaar dit, praat dit, kou daaraan en bid uit dit; Rus, verdeel in fisiese, emosionele en geestelike rus; jou Gawes, Vrugte van die Gees en Wapenrusting van God; laaste die Waarheid wie ons is volgens die skrif. Verder is Petrus baie gelukkig met Homegroup, daar is soos met die kleingroep altyd koek.

Donderdag is die seuns weer die gehoorsaamheid self en Ma-Nellie is hospitaaluitreik toe. Daar is op onthoud, daar word na tolke gesoek om saam te gaan en hulle het nie die brief van die pastoor om in te handig by die hospitaal nie. Hulle word net tydens besoekure toegelaat en dis half vier toe hulle hier weg is en moet toe nog die brief by die pastoor langs die pad kry. By die hospitaal aangekom is daar net tyd om by een saal per groep (kon 2goepies maak) aan te doen. By die saal waar Ma-Nellie hulle is is daar 4 pasiënte, 1 sê dat hy reeds ’n kind van die Here is en gereeld kerk toe gaan, maar die ander 3 neem die besluit en maak Jesus deel van hulle lewens na daar virhulle gebid is. Wat ’n seëning en dit nadat die duiwel hard probeer het om hulle daar weg te hou!

Vrydag gaan normaal aan en so 16:30 dring Alta daarop aan dat ons ’n ent gaan ry sodat sy van haar frustrasies ontslae kan raak. Ons vat die pad noord na Xia Xai, ’n mens spreek dit Shai Shai uit, se rigting. Ons ry tot by Marracuene en gaan soek die pont waarmee jy oor die rivier gaan om by Macanetastrand uit te kom. Dit is die naaste skoon strand waar ’n mens dit kan waag om te swem. Die plan is om in Maart wanneer Alta en Clare (Clare is betrokke met uitreike en John is die Onderhoudsbestuurder met ook ’n lekker humorsin, hulle is van Wales af) af is, ’n bietjie soontoe te gaan vir die dag.


Saterdag en Sondag is rustig met die kinders wat so 2-2 kort-kort hier opdaag en dat ons die hek moet sluit wanneer ons ’n bietjie wil slaap of alleen wil wees om ’n vleisie te kan braai. Hierdie keer was niemand uitgenooi om saam te braai nie, want Ma Nellie het sjokoladepoeding gemaak en Petrus deel dit nie graag met ander nie. 


Onder is foto’s van die rivier en pont, ’n foto van hoe hier steiers gebou word en vir die wat van steiers en hulle oprigting  weet sal dit asemrowend wees, foto’s van ons spannetjie (die een met die hemp met die horisontale strepe en rooi broek is Agostinho wat terug huistoe is) en ’n inwoner wat ons hier by ons huis ontdek het.






Sondag 17 Februarie 2013

12 – 17 Februarie 2013


Hierdie is ’n lang gedeelte want daar het baie gebeur.

Dinsdagoggend  toe Alta saam met die bus oppad was dorp toe om aankope te gaan doen, vir die babas(nursery) vertel hulle vir haar dat een van ons seuns terug geplaas gaan word in sy ouerhuis, Vrydag. Wawo, sy sukkel nog om alles gewoond te raak en te verstaan hoe dinge werk en nou nog iets nuut. Hulle gee blykbaar sekere goed saam, maar sy het nie ’n benul wat nie, en besef sy sal iets moet kry om ook vir hom te gee en wonder hoe dit sal gaan met nou nog ’n ekstra mond wat gevoed moet word by sy huis, en koop ’n bietjie kos. Sy weet ook nie presies wat se klere hy het en in watter toestand dit is nie. En mens het in die kort  tydjie gewoond geraak aan elkeen en sy spesifieke behoeftes en karakter. Hy het elke Donderdagaand met die kerkdiens op Petrus se skoot kom lê en slaap.

Dinsdagaand hoor ons dat een van die seuntjies (5 jaar oud) wat ongeveer 24 Januarie geintegreer is na sy ouma toe, soek is, al sedert 2 Februarie. Die ouma het alles moontlik gedoen om hom op te spoor, maar hulle kry hom nie en nou kom vra sy hier hulp. Almal begin dadelik bid, maak ‘Flyers’ om in gemeenskap uit te deel en plaas dit op Facebook . ’n Menigte bid.

Woensdagoggend gaan ’n span uit om te help soek, daar het met die gebede gesigte navore gekom en hulle kyk uit vir tekens en volg dit. Die vrou, wat sy huismoeder hier was, het die verlore skaap in die Bybel gesien terwyl sy gebid het en die oggend toe sy haar emails oopmaak het haar swaer vir haar dieselfde gedeelte gestuur om aan vas te hou. Een van die ander vroue hier het onder andere ’n wit heining wat nie soos die ander hier lyk nie en Donald Ducks gesien. Op ’n punt kom hulle op hierdie heining af , dis ’n speelskooltjie en hulle gaan vra, die vrou wat die gesig gesien het besluit om nie in te gaan nie, maar sy kry ‘n boodskap wat sê sy moet gaan kyk hoe dit by ander skole lyk. Toe sy in loop is daar 3 Donald Ducks op die muur geverf en nog op ander mure ook. Die kind is nie daar nie, maar daar was ’n ander kind daar wat verlore was. Hulle was uit opsies en besluit om terug te keer basis toe. Die een vrou in die groep besluit om eers ’n vriendin, wat by ’n ander kinderhuis werk, te bel en te hoor of hulle nie ’n verlore kind onlangs daar gekry het nie. Die antwoord dat daar ’n kind van dieselfde ouderdom ’n paar dae gelede deur die polisie daarheen gebring is. Hulle is daarheen en tussen die kinders wat op daardie staduim geslaap het en vind hulle hom!
Net God kon dit bewerk dat die kind juis by die spesifieke kindershuis, uit baie in Maputo, was.
In die korrespondensie wat Iris vooraf aan ons gestuur het, meld hulle dit duidelik dat elkeen van ons nie net deur God hierheen gestuur word om vir Hom hier te kom werk nie maar ook ‘He has brought you here for you’. Ons sien dit almeer in dinge wat hier gebeur. 

Woensdagmiddag het Alta die seuns swembad toe geneem, hulle vra al daarvoor van ons met hul begin werk het. Sy het nie kans gesien om met 8 seuns swembad toe te gaan met wie sy nie behoorlik  kan kommunikeer nie. Amilto, ’n Mosambieker wat ook help met die kinders in die middae, het gesê hy sal saam gaan, en gelukkig het een leier van die YMCA span van America wat hier besoek aflê, aangebied om van die span (hul is 18) te vra om saam te gaan swembad toe. ‘Ons’ was toe 3 Amerikaners, Alta en Amilto en 8 baie energieke seuntjies. Almal behalwe Amilto is in die Kia hier weg swembad toe en die klomp het hulle gate uit geniet in ’n groen-alg swembad waarvoor jy 100 metikas vir ’n volwasene en 70 metikas vir ’n kind moes betaal (R1.00 = 3 metikas). Die Amerikaners het ook hul hulp aangebied om een van die kamers in die camerada te help verf. (Slegs die kamer van die 8 kleintjies was reeds geverf maar die ander 3 kamers waar die groter seuns slaap moet nog geverf word)

Donderdag het Petrus die een vergadering op die ander een gehad.
Die verwery het amper op ’n groot gemors uitgeloop. Eers is daar verskillende soorte verf gemeng, dis nou oliebasis en PVA, wat ’n dik spul tot gevolg gehad het wat nie aan die mure wou bly nie, toe word daar lampolie bygegooi ipv terpentyn, wat dit nog dikker gemaak het en op die ou end het hul nuwe verf gaan koop, al wat ons genoeg van kon kry, was Sky Blue. Maar ek moet sê dit lyk baie mooi en 100% beter as die lood grys wat oral deur die beddens afgestamp was. Alta sien deur al hierdie floppies dat dit ’n bestuuring van bo was om op die einde baie mooi te lyk.

Vrydagoggend begin Petrus-hulle met ’n nuwe stelsel om bedrog met brandstof te keer en hy moet vir ’n automatiese bussie, wat soos ’n taxi lyk, gaan brandstof ingooi. Binne die basis is daar diksand oppad hek toe ± 150 meter, as gevolg van reen wat die sand daar spoel en buite die hek het die munisipaliteit besluit om die teerpad ’n slag skoon te vee (so 3 meter van die teer was onder sand) en al die sand is op die sypaadjie en ook voor die hek gegooi. Met die wegtrek besef Petrus hy ry nie met ‘n 4x4 nie en sal sy ry moet ken (hy moes al ’n slag 4x4 gebruik met die Kia om deur te kom) want sy eer is op die spel as dit moet gebeur dat hy vasval en uitgehelp moet word. Naby die hek moet hy links padgee vir in voertuig wat inkom, daar is ’n gedeelte met gras waar hy kan wag maar om daar te kom oor die walle sand, was dit so 2 keer terugtrek en weer probeer. Buite die hek was dit wag net buite die hek waar die sand ’n bietjie gekompakteer is tot daar ’n gaping in die verkeer is en dan teen maksimum versnelling gly-gly deur die diksand tot op die teerpad. Teruggekom was daar gelukkig ’n opening om regs deur die verkeer te kom en die hek was oop so hy hoef nie stil te gehou het nie, sy eer is nie gekrenk nie.   
Alta is aan diens in die Nursery en sien dat daar weer aankope gedoen moet word en ons besluit om dit die middag te doen en saam met die bus te ry wat elke Vrydag 14:00 mense in dorp toe neem vir aankope. Die bus het amper vasgesit in die sand met die terugkom in die basis in.
Ons word ook genooi om by ‘n paartjie Vrydagaand te gaan koffiedrink , hulle is van Switserland. Daar aangekom is die verpleegstertjie van die sentrum ook daar, sy kom van Duitsland af. Ons kry minttee, sjokoladekoek en lemmetjie water. Na aanleiding van ’n vraag hoeveel malariagevalle hier op die basis voorkom, bevestig die verpleegster dat daar geen gevalle van persone binne die basis vir die laaste 2 jaar was nie, net mense wat uitgegaan het en vir ’n tydperk buite die basis was of mense wat van buite af ingekom het na die basis toe. Haar verklaring was verder dat sy glo dat die Here se hand hierin is, want die kinders, behalwe die baba’s, gebruik nie die muskietnette om onder te slaap nie, hulle gebruik ook geen muskiet-afweermiddels nie en die kamers se vensters het nie muskietnette voor nie en staan altyd oop. Daar is ook nie ’n tekort aan muskiete hier nie en steeds kry hulle en die res van die personeel en sendelinge wat hier op die basis bly nie malaria nie.

Saterdag is ’n rustige dag en ons het ’n bietjie rondgery en vleisgebraai.

Sondag is ons 10 uur kerk toe (half 2 was ons terug), die prediker is een van Heidi Baker se Mosambiekse aanneem-seuns wat ’n pastoor geword het en in Suid-Korea werk. Hy is hier om ondersteuning te gaan gee in die vloedgebied. Hy gee ’n maraton diens.

Julle sal oplet dat ons niks meer oor die hitte hier skryf nie, ons begin dit nou aanvaar en gewoond word. Die waaiers werk 24 uur. (Om oor die hitte te praat raak afgesaag, as daar so baie gebeur.)

Maandag 11 Februarie 2013

8 tot 11 Februarie 2013


Vrydag moes ons eers die verantwoordelikhede hier nakom voor ons die pad kon vat SA toe. Alta moes skielik gaan doeke koop en Petrus was besig met die bedrading van ’n trok en sy moes self ry. Sy is toe ook deur ’n verkeersbeampte gestop vir ’n roetiene ondersoek, maar na hy haar met Portugees oorval het en haar antwoord ‘English please’ het hy haar laat ry. Petrus kom daagliks op interessante tegniese dinge hier af. Vrydag het hy na ’n af draad gesoek op die trok se alternator se stroombane, behalwe vir ’n hele paar lasse in die drade wat nie op die beste manier gedoen is nie, was die probleem ’n draad wat heeltemal ge-oksideer het. Dit is die eerste keer dat hy sien koperdraad kan tot so ’n mate oksideer dat dit elektriese stroom onderbreek. Skies vir die verskriklike teginiese beskrywings. So 13:20 val ons in die pad en dit gaan nogal vinnig want die verkeer is min, self by die grenspos gaan dit vinning en hierdie keer het ons tou gestaan aan Mosambiek se kant en nie SA kant nie. 15:00 val ons Komatiepoort in en alles word gekoop wat nodig is vir ons en bestel is van Zimpeto af, maar Komatiepoort het nie ’n materiaal winkel nie.

Saterdag kort na 8 is ons by die toekomstige poskantoor op Marloth om ’n posbus te bekom, maar die antwoord is dieselfde, die sleutels en aansoekvorms het nog nie, na 3 weke gekom nie. Uit moedeloosheid ry ons weer Komatipoort toe, by die poskantoor vra ons vir ’n aansoekvorm vir ’n posbus en die antwoord ‘we are bussy with renewals’ en na weer vra, ons wil vir ’n posbus aansoek doen, was die antwoord geen aansoekvorms beskikbaar en geen posbusse beskikbaar nie. So dit wil ook nie voorkom of daar gou iets by Marloth gaan gebeur  as dit van Komatiepoort af moet kom nie. Ons is daarna Malelane toe vir die res van die goed wat ons nie Vrydag kom kry nie.

Sondag is ons weer soos twee weke gelede AGS kerk toe, nou moet ons sê dat die ontvangs die vorige keer en weer hierdie keer hartlik en warm was, daar is baie ander kerke wat hier kan kom leer. Die pastoor preek oor gebed en die Heilige Gees, dis iets wat ons nie in die Gereformeerde kerk  mee te doen gekry het nie. Ons is nooit bewus gemaak hoe om die Heilige Gees te verstaan (tekens raak te sien) en te ervaar nie. Sondagmiddag daag daar ‘vroulike Brazilianse pastoortjie’ van Zimpeto by ons op om daar oor te nag. Ons gaan wys haar Marloth en die rivier en wildtuin vanuit Marloth. Ons braai ’n stukkie wors oor die kole en die gesprek gaan weer terug na die Heilige Gees. Sy verklaar dat sy op ’n stadium teologies alles geweet het en eers na sy in ’n opleiding kursus in Toronto beland het, besef het dat haar hart nie oop was vir God en die Heilige Gees nie, dit was daar waar haar hart oopgegaan het vir die Heilige Gees. Hierdie gesprekke en dinge wat ons al vroeër tee gekom het, het ons laat besef dat die Gereformeerde Kerk ver tekort geskiet het om ons die volle mag van die Heilige Gees te geleer ken, te verstaan en hoe dit is om met die Heilge Gees vervul te wees. Francois het probeer, maar ons geskiedenis het ons geblokkeer of dit onverstaanbaar gemaak.

Ons gaan probeer om die blog eenkeer per week aan te vul en wel op die laatste Dinsdagaande. Ons het navrae oor die kinders gekry en sal volgende keer meer van hulle vertel, asook van kultuur aspekte.

Bid asb vir:
1.       die kinders, aangesien dat hul nie noodwendig gelowige ouers het nie, gewoonlik net een ouer as daar ouers is.
2.       vir die sentrum wat aanvalle van bose magte en kwaadwilligheid ervaar.
3.       vir die sendelinge om dit met die nodige wysheid en insig te hanteer.
4.       vir die personeel sodat hulle deur die Here en Heilige Gees gelei sal word om hulle werk en verantwoordelikhede met die nodige toewyding en opregtheid te doen.

Donderdag 07 Februarie 2013

4 tot 7 Februarie 2013


Maandag was ’n vakansiedag maar ons was besig met ’n paar dinge, Alta was hierdie naweek sowel Maandag aandiens by die baba’s. Petrus het begin om die gordynhangers te maak vir die res van die kamers by camerada 4, maar kort ‘cutting disks’ wat komende naweek in SA gekoop sal word.
Dinsdag is Alta saam om voorraad te gaan koop vir die baba’s(Nursery).
Woensdag het Alta vergadering oor die baba’s(Nursery) en Petrus met die Bestuurder van die voertuig afdeling waar hulle probleme en nuwe stelsel bespreek. Dit is nogal moeilik om 'n vergadering te hou deur 'n tolk. Petrus se vergadering duur 2 ure. Daar moet ook nog aankope vir die baba’s gedoen word en die tyd is te min. Ons ry om die aankope te doen nadat die seuns hier was, net  3 het opgedaag, hier is 18 Amerikaanse besoekers en hulle bederf erg. Ons het Woensdagaand ’n braaivleis en kuieraand met die sendelinge. Dit is heerlik en gesellig. Hulle skeergek met mekaar, Switsers met hul Swiss knife en Amerikaners met Amerika se Leaterman knife weergawe van so ’n mes. Tongknoppers van verskillende tale word ook op mekaar uitgetoes. Ons leer hulle Afrikaans, party kom nog al goed reg met die uitsprake. Ons voel bietjie minder vreemd en meer deel van alles.
Donderdag het Petrus ’n vergadering met die bestuurders van die voertuie om die veranderinge deur te gee en uit besware wat geopper word, is dit duidelik dat hulle op die regte pad is om onwettig gebruik van die voertuie te beperk en petrolbedrog te keer.
Vrydag moet ons weer deurgaan SA toe vir almal se voorgeskrewe medisyne en beplan om Maandag vroeg terug te kom.

Sondag 03 Februarie 2013

03 Februarie 2013

Dit is Sondag, hier is dit lekker jy slaap tot so 9 uur want die kerk begin eers 10:00.
Die kerk is voller as gewoonlik want daar is mense van ander gemeentes ook teenwoordig. Hierdie keer word daar Portugees en Shangaan gebruik, so daar word getolk tussen Portugees en Shangaan en dan ook nog na Engels vir die sendelinge en besoekers. Dit was lekker verwarend en jy vang so deel-deel van die preek. Dit wil voorkom of die Mosambiekse Patore glo hulle moet ’n uur of meer preek met die gevolg daar word nie net een punt behandel nie maar ’n hele paar en net wanneer jy dink jy is nou op die wa en weet waaroor dit gaan, dan is dit weer ’n nuwe punt wat behandel word. Dit was vandag Heldedag hier en die boodskap het daaroor gegaan. Wat interessant was sy aanhaling uit:
Isa 43:18-21  Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.
Het ons dit nie ook nodig in Suid Afrika nie?
Ons het die kinders jammer gekry want hulle diens of Sondagskool het nog nie begin hierdie jaar nie en hulle moes saam met ons deur dit sit. By dit is hulle etenstyd 1 uur en die diens gaan tot half twee aan en hulle kan nie kos kry nie, want die diens is in dieselfde ruimte as hulle eetsaal. Verder het ons ’n rustige dag gehad met ’n middagslapie en al.
Catherine wat noodhulp gegee het by die ongeluk, waarvan ons in die vorige blog vertel het, ondervind vandag eers die skok behoorlik oor die gebeure en daar word vir hulle, wat daar was, gebid gedurende die diens en sy word ons nuwe aanneem kind vir ondersteuning.
Omdat vandag ’n vakansiedag was en op 'n Sondag, is more ook ’n vakansiedag, so julle moet lekker werk.

Hier is ‘n paar foto’s wat ons Vrydag en Saterdag in die strate geneem het vir interessantheid, let op na die chaos in die kruising van die eerste 2 foto’s en na seker artikels wat so op straat verkoop word in die ander foto’s, die 2de laaste is bra’s en laaste is skoene:



 







Saterdag 02 Februarie 2013

30 Januarie 2013 tot 02 Februarie 2012


Woensdag het daar nie veel gebeur nie.
Donderdag is Ma Nellie alleen saam met die uitreikspan na die hospitaal, haar wedervaring was as volg: En soos ons haar ken, klim sy agter in ’n bakkie selfs nadat sy sitplek voor aangebied was (Claire het vir Alta vertel). Hulle is die slag na die kindersaal, en hier is daar toe kussings op die beddens, maar ook nie by almal nie. Die trappe is ook lekker breed en van sement. Die kinder afdeling is in ’n beter toestand, met bedkassies teen die muur vas gesit, maar dis baie beknop met 3 beddens in wat ons ‘n 2 bedsaal sal noem. Daar word vir 6 kinders deur die een groepie gebid. Die suster van die saal is blykbaar alleen en sy neem die kinders se koors. Een van die ‘ma’s’ wat by ’n kind sit, is toe eintlik die tannie van die kind want sy ma is ook in die hospitaal en haar ma kyk na haar 7 kinders terwyl sy instaan vir haar broer wat ’n pastoor is en sy het ook ’n Shangaan Bybel by haar (lekker deurmekaar en om iemand wat ‘ Bybel het en van die Here weet is skaars). Hulle gee ook ’n Portugese Bybel vir een van die ma’s wat kan lees. Traktaatjies en piesangs is ook weer uitgedeel.
Die voertuig was die slag ’n groter beproewing vir die 2 vroue-sendelinge en 6 mans van die Bybelskool.  Die voertuig vrek  kort-kort  in verkeersopeenhopings of by verkeersligte en dis warm, veral agter in die bakkie, hulle los selfs die agterste klap naderhand oop. Met die terugkom, kry Ma Nellie se maermerrie en die kop ook nog ’n stamp. Die terug rit neem toe 2 ure en hul is soentoe in 30minute.
Vrydagoggend koop Ma Nellie toe ’n stukkie van Zimpeto, trap die trappie mis, toe sy vir Anton, die tuinwerker, iets wil wys en val op ’n hout leer. Heup bietjie blou en die ribbetjie ook effens blou.

Daar was Vrydagoggend ’n groep uit na die vloed gebied, so 200km noord van hier, om te gaan help met kos en klere uitdeel. Hul is weg met 2x2ton trokke en ’n bussie. Die mense, ongeveer 150000 wat hulle huise en besittings in die vloed verloor het, word gehuisves in kampe, maar die kos is skaars en klere min. Toe hul agterkom daar is kos, het hulle op die trokke afgestorm maar die goed moes by die regering se verspreidingspunte  afgelewer word om vandaar versprei te word. Dit was so erg dat hul besluit het om terug te kom,omdat dit nie veilig sou wees om daar te slaap nie. Oppad terug kom hulle toe op ’n gru ongeluk af tussen ’n bier trok en ’n taxi. 10 dood en 5 beseer, beserings was baie erg en taxi bestuurder was vas geklem in voertuig. Een van die wat saam was het noodhulpkennis en sy het gehelp met wat sy kon. Iemand met ’n bakkie het die mense hospitaal toe gevat, want die ambulans en polisie het nie opgedaag nie. Hulle het 2 uur Saterdagoggend in ’n geskokte toestand hier by Zimpeto aangekom.

Saterdagmiddag vat ons vir Catherine (sy is die meisie van SA en was ook saam met die span na die oorstromings toe) winkels toe, want sy kon nie Vrydag saam met die ander winkels toe gaan nie. (Daar is elke Vrydagmiddag en Dinsdagoggende ’n voertuig wat die sendelinge en besoekers Shoprite toe neem vir inkopies, dit sluit ons in wat dit meer geniet om saam met die bus te ry as om self te ry.) Dit was duidelik einde van die maand want die verkeer was rof. Ons plan was om ’n slag Pick’n Pay toe te gaan maar ons ry toe die pad mis en beland by Shoprite se sentrum. Daar het sy geld getrek en ons is na die Super Spar daar naby wat ’n aangename verassing was, want dit is baie groter en baie koeler in die winkel as Shoprite.

Saterdagaand hou ons braaivleis, Petrus het die braaier en houtskool van SA saam gebring. Laura van VSA (Alta skakel baie met haar) en Catherine was uitgenooi om saam met ons te braai. Voor ons nog begin daag Celia van Brazilië (basies 2de inbevel van die basis) op om Alta te kom vra oor gordyne vir die gebedskamer en sy bly ook vir die braai. Dit was die 3 babbelbekke bymekaar en ons het dit geniet. Dit was nogal interessant om die vrouens om die braaivleisvuur te sien staan i.p.v. net mans soos dit in SA gebeur. Ek was die enigste man en blykbaar het Laura en Celia (albei al 10 jaar hier) nie baie bloodstelling aan vleisbraai nie, want ek moes redelik verduidelik wat gedoen word. Ek het omtrent die hele basis uitgerook/laat ruik met die wors wat se vet op die vuur beland het, maar daar het nie nog gaste opgedaag nie. Aan tafel was dit nogal lekker want ons het die 2 Afrikaans geleer.