Sondag 17 Augustus 2014

11 – 15 Augustus 2014

Die week is besig en daar is baie dinge wat gedoen moet word, ons gaan Vrydag vir ’n maand huistoe en sien uit na die rus. Ons moet egter ons dinge so organiseer dat ons ander vir ’n maand kan los met ons verantwoordelikhede. Die paartjie van Bella Vista gaan nog ’n maand aanbly (in ons huis) en vir ons na ons camarata omsien. Die kinders speel asof dit uit die mode gaan, maar bly weg van die huis en camarata, ek dink hulle is bang hulle moet een of ander iets leer. Ons sien hulle net as hulle snoepgoed soek of ’n pleister. Die groottes kom net in die aande vir hulle brood. Ons lig hulle in dat ons nie seker is of hulle steeds brood in die aande gaan kry terwyl ons weg is nie en die een se kommentaar was hulle sal bid vir brood. Die groot seuns vra al vir ongeveer ’n maand vir kortbroeke en skoene en ons het nie om te gee nie. Dinsdag kry ons toe ’n donasie en daar is kortbroeke en skoene, hulle sien dit voordat dit uitgesorteer is en kan nie wag nie. Toe ons sê dis reg hulle kan kom, is al 7 soos blits daar. Hulle is almal met kouse, ’n kortbroek, ’n T-hemp en  ’n paar skoene daar weg. Al wat hul nou nog begeer is flip-flops. Ons vertrou dat dit ook binne kort sal opdaag en ook dat ons alles goed beplan en agterlaat vir die wat moet instaan.

Sondag 10 Augustus 2014

4 – 10 Augustus 2014

Verlede week is ’n pastor oorlede en Dinsdagaand een van die siek kinders. Die twee sterftes raak veral die personeel in veskillende areas erg.  Die dogter was baie siek en daar is baie kere gebid vir beterskap. Daar was tye wat dit beter gegaan het, maar haar liggaam kon net nie al die infeksies hanteer nie. Sy het nog 2 sussies wat ook hier in die sentrum is. Bid assebief vir hulle en die wat baie met haar te doen gehad het. Hulle vind dit moeilik met die leemte wat nou daar is.
Die paartjie van Bella Vista wat by ons kom eet het, gaan in die huis kom bly vir die tyd wat ons weg is en ook na die camarata om sien in die tyd.
Alta het die week waar moontlik die Life School lesings probeer bywoon, dit is interresant om dinge wat mens weet op ’n ander manier te hoor. Die sprekers het dit vanuit ‘n ander hoek benader as waaraan ons gewoond is. Die week het oor ‘The Fathers Heart’ gegaan.
Woensdagaand met home group het een van die spekers by die Life School met ons gepraat. Sy Spiritual Gift is om engele te sien. Dit was baie interresant wat hy alles vertel het. Hy vertel toe hy dit die eerste keer beleef het was hy baie benoud en het nie geweet wat aangaan nie, en ’n paar dae later het hy gaan stap en toe sien hy engele in die veld dans. Hy sê hy het gedink hy raak koekoes en vra toe vir die Here of hy dit nou altyd gaan sien en toe kom die antwoord ‘Ja’. Hy wou glad nie daaroor praat nie en een van sy vriende kom toe agter wat aangaan en vra vir hom hoekom hy niks sê nie. Hy sê hy was baie banger vir die engele as vir die vriend. Sy vriend het  hom toe in kontak gebring met iemand anders wat ook dit beleef.
Die skole het Vrydag gesluit en die kinders is alreeds rusteloos. Hulle is ook Sondag deur besoeker geseën, wat hulle trakeer het op pizzas by die swembad.


28Julie – 3 Augustus 2014

Dinsdagaand nooi ons ’n paartjie wat besoekers is. Wel eintlik is hulle sendelinge wat in die gemeenskap bly, Bella Vista. Jonk getroud nog nie eens ’n jaar nie. Hulle stories is uitsonderlik en hulle is baie braaf om in sulke omstandighede te leef.
Ons doen ’n program met die kinders in die middae om hulle besig te hou en goed te leer wat hulle nou nie juis in die skool leer nie. Ons het ’n leerling educator wat  net soos ons voel (nie dat die educators nie help nie), dat die kinders te min weet van wiskunde en lees. Hy het regtig die week sy kant gebring het, maar die kinders kla en wil nie meer programme na skool doen nie. Gelukkig sluit die skool die einde van die week.
Home group was oor ’n woord wat jy kies om op te konsentreer vir ’n tydperk tydens jou stilte tye. Daar is ook woorde uitgedeel en as jy wil, kan jy die woord gebruik of self een kies. Alta kry so die woord ‘boldness’ en Pertus ‘shh...’ Daar is nogal goed wat mens op die hart het en nie altyd die plek of veral moed het om te sê nie, dis nou vir Alta en baie snaaks, Petrus wat redelik min praat kry die woord om stil te bly, hy besluit om op luister te fokus aangesien hy moet stil bly. Voorbidding vir die sal waardeer word.

Een van ons klein seuntjies het waterpokkies, min en ver uit mekaar, 3 in die gesig, 3 op elke bene en vier op sy lyf en dit lyk ook nie of daar nuwes by kom nie. Dis ongeveer 3 weke sedert die laaste geval. Hy verstaan nie mooi waarom hy in isolasie geplaas is nie en is baie eensaam. Bid asseblief dat almal in die camarata beskerm sal word teen siektes en veral vir die kinders wat HIV positief is, is dit ’n groot risiko.