Maandag 31 Maart 2014

24 - 30 Maart 2014

Woensdagoggend sesuur word die ‘container’ wat ons van Nederland af ontvang het, saam met die besoekers van die Termei-gemeente in Nederland wat die skenkers was, oopgemaak. Daar is 4 persone van Nederland, 4 sendelinge en nog 3 besoekers. Dis ’n groot klomp goed wat daar uitkom. Bokse en bokse klere en lakens en ander goed. Gelukkig is dit gemerk en kan ons dit sorteer. Beddens en matrasse, ’n sofa-bank, baba beddens, tafeltjies en stoeltjies, naaldwerkmasjiene, speelgoed en sakkies met tandepasta, tandeborsel en seep wat oral tussen alles ingepak is. Ons pak die toiletsakkies in plastieksakke (die moet Donderdagaand in die kerk uitgedeel word) voordat ons enige iets anders kan by kom. Nadat alles uit is, begin ons weer terugpak aan dit wat nie onmiddelik gebruik gaan word nie. Dit voel soos 10 uur toe ons klaar is, maar toe is dit eers 8 uur en ons is nat gesweet. Die res van die dag word hoofsaaklik gebruik om dit wat nie terug gepak is nie, op plekke te kry waar dit gebruik kan word of gebêre kan word tot Kinderdag of tot benodig.
Donderdagaand word die toiletsakkies en T-hemde in die kerk aan die kinders uitgedeel, foto’s word geneem en almal is baie opgewonde. Meeste se hemde is te groot en daar is ’n paar te kort, maar oor die algemeen is almal gelukkig.
Donderdagnag begin dit sag reën en meeste van Vrydag reën dit steeds, met nou en dan ’n harde buie. Die kinders het ook ‘n ‘sokkertafel’ uit die skenkings ontvang en die staan in die speelkamer hier by ons huis. Na skool is hier hordes kinders, ons sit ’n DVD aan en die grootes speel die sokkertafel terwyl die ander TV kyk. Met tye klink dit vreeslik soos almal opgewonde raak oor iets. Ons begin ook om te skuif in die huis. Die groot seuns speel tot amper 10 uur die aand. Saterdagoggend is dit nog bewolk maar dit reën nie. Weer kyk party TV en die ander speel die sokkertafel. 2 van die seuns speel van ongeveer 11 uur tot 3 uur die middag voor ons eindelik stilte kry. Saterdagaand word ons genooi om saam met besoekers ’n DVD van Angus Buchan te kyk. Na DVD deel die mense van Kanada hulle storie met ons ( sien Facebook) en vertel hoe hulle die DVD en boek by Angus Buchan gekry het. Hulle doen ook uitreike op hul plaas soos die Mithy Men goed, net kleiner en wou met Angus kennis maak en hoor toe dat hul stories baie dieselfde is.

Ons het die week regtig baie seëninge ervaar met die groot donasie. Ons dank aan die gemeente in Termei Nederland en aan God vir alles wat ons so van Hom ontvang.

Maandag 24 Maart 2014

17 - 23 Maart 2014

Dinsdag beleef een van ons mede sendelinge die doel waarvoor sy gestuur is, toe ’n buurvrou van haar sterf, meer hieroor op facebook.
Woensdag word Petrus en John uitgenooi vir middagete by die restaurant oorkant die straat, gebraaide varktjops, pap en slaai. Die ou kan nogal die vleis lekker braai.
Woensdagaand met Home Group word daar gepraat oor oorwinning oor probleme en tradisies wat van die sedelinge hier ondervind het. Dit is ’n inspireerende aand vir ons jong sendelinge.
Saterdag trou een van die jong sendelinge, sy het Alta gevra om te help met die rok wat sy in Amerika gekoop het en effens te groot is. Sy spook die hele week om die trourok klaar te kry vir die troue Saterdag en voor ons Donderdag die pad SA toe vat.
Donderdagoggend val ons en die Engelse paartjie John en Clare in die pad SA toe. Die program is om alle besigheid Donderdag af te handel en die res van die naweek te rus.
Daar is ooral tekens dat Marloth onder swaar reën deur geloop het, paaie is verspoel en die vlak wat die Krokodilrivier gehaal het (dis nou nie deur die reën wat in Marloth geval het nie) wys dat dit kwaai in die Laeveld gereën het. Volgens die inwoners op Marloth het daar oor 2 agtereenvolgende dae 400mm reën geval met ’n verder 100mm ’n paar dae later.
Alta het ’n lekker somer-sinus-verkoue.
Bid asseblief vir ons Camarata, dat alles in die camarata rustig en goed sal verloop. Hier is ’n paar ding waarvoor meer spesifiek gebid kan word:
Daar is ’n klein seuntjie wat groot gebou is en dit lyk as of hy in ’n boelie ontaard.
Die groot seuns is soos regte tieners, rebeleer teen die skoolreëls, soos haar lengtes, skoene, ens.
Bid asb vir hulle vordering op skool en vir die met gesondheids problemme. (3 is HIV +, een het ook TB en kanker).

As daar iemand is wat ’n seun wil ‘aanneem’ deur vir ’n spesifieke kind te bid sal ons dit baie waardeer, dit maak ’n groot verskil in hulle lewens, selfs al weet hulle nie daarvan nie. As julle bereid is, sal ons meer inligting ivm die kind gee en indien jul wil kan jul ook vir hulle boodskappe stuur wat ons vir hulle kan gee. Reageer asseblief by ‘Comments’

Sondag 16 Maart 2014

10 - 16 Maart 2014

Die week verloop rustig, niks uitsonderlik nie. Die kinders bring nog daagliks broeke wat se nate losgetrek het om regte maak.
Daar is nog steeds kinders wat die virus opdoen en so lekker voel nie. Daar is ook nog die dogter wat baie siek is en nog nie beterskap wys nie. Sy het 5 siektes waarvoor sy behandeling ontvang, en gooi op van elke hoesbui. Met die seun wat se been gebreek het, gaan dit redelik. Die grootste gevaar is longontsteking en bedsere waar die gips hom druk en skaaf.
Een van die sendelinge probeer om die kerkdiens op ’n Donderdag meer kinder-vriendelik te kry en ook die liedere wat gesing word op die skerm te kry, in 3 tale waar moontlik. Die pastore kla dat die kinders te raserig is, voordat die diens begin. Sy het begin om goed van die internet af te trek en voor die diens te wys om hulle gouer en rustig in die kerk te kry. Donderdagaand Alta oppad kerk toe is kry sy langs die pad drie wat oor iets stry. Hulle wil nie aanstap kerk toe nie, sy sê toe, ‘luister’ wys na haar oor en sê DVD en daar laat spander al 3, skoon vergeet dat hulle in ’n groot stryery was.  ’n Ander een was besig om die eetsaal skoon te maak, toe die eerste goed getoets word vir die diens, hy het net daar gebly en glad nie terug gegaan nie, net met afwagting bly kyk.

Bid asseblief vir ons Camarata, dat alles in die camarata rustig en goed sal verloop. Hier is ’n paar ding waarvoor meer spesifiek gebid kan word:
Daar is ’n klein seuntjie wat groot gebou is en dit lyk as of hy in ’n boelie ontaard.
Die groot seuns is soos regte tieners, rebeleer teen die skoolreëls, soos haar lengtes, skoene, ens.
Bid asb vir hulle vordering op skool en vir die met gesondheids problemme. (3 is HIV +, een het ook TB en kanker).

As daar iemand is wat ’n seun wil ‘aanneem’ deur vir ’n spesifieke kind te bid sal ons dit baie waardeer, dit maak ’n groot verskil in hulle lewens, selfs al weet hulle nie daarvan nie. As julle bereid is, sal ons meer inligting ivm die kind gee en indien jul wil kan jul ook vir hulle boodskappe stuur wat ons vir hulle kan gee. Reageer asseblief met 'n opmerking - sien skakel hieronder.

Sondag 09 Maart 2014

3 - 9 Maart 2014

Die week begin met die tia en ‘educator’ wat nie een by die dorm is toe Alta daar kom nie en dis redelike chaos en almal is laat. Daarby begin ons ook die week met ‘n kragonderbrekking wat die patroon van die week blyk te wees. (Ons is baie dankbaar vir die tye wat dit wel aan was en die kragopwekker die volle lading kan hanteer). Ontbyt was ’n paar oggende laat, die tee was nie betyds reg nie of die brood het laat opgedaag.
Die klein seuntjies se klere is deurgegaan en alles wat te klein of fodde is, is weggeneem. Die skoolklere sage van herstel, korter en kleiner maak duur ook voort, aangesien almal ook nog nie elk ’n broek en hemp gekry het nie.
Ons bid vir gesondheid en die herstel van kinders wat siek is en die virus doen nog steeds die rondte.
Rekenaarvirusse steek ook hier en daar kop uit en die ‘prayer house ‘ kry gordyne, alles te midde van 34-36° celsius en humiditeit van tussen 70 en 100%. (nie geweet ‘n mens kan so baie sweet nie)
Een van die groot seuns verjaar en sy bestelling is kos, nie koek nie, en hy wil dit self maak. Dus maak ons Saterdagoggend kos sodat hulle dit die middag kan eet. Dis ’n worsgereg met allerhande groente, wat alles saam met rys gaar gemaak word. Hulle smul daaraan, so ’n uur nadat hulle middagete gehad het. Daarna is hulle swembad toe saam met ’n sendeling.

Ons lees die afgelope week van oorstomingsvlakke, soort gelyk aan 2000, langs die Incomatirivier wat deur die Komati- en Krokkodilriviere, vanuit SA wat baie reen gehad het, gevoed word. Die rivier maak ’n wye draai deur die suidelike Mosambiek en loop hier naby ons in die see in. Ons wil graag sien as die rivier in vloed is en die naaste wat ons daaraan kan kom is by Marracuene, 30km noord van ons. Sondagmiddag suiker ons af Marracuene toe, daar aan gekom sien ons niks van ’n vloed nie, alles is soos dit altyd was wanneer ons met die veerboot oorgaan na Macanete Eiland. Die pad wat die rivier volg is laaste gedeelte, soos 100km, al langs die see af deur vleilande waar ons vermoed die vloedwater gebuffer is.

Maandag 03 Maart 2014

24 Februarie – 2 Maart 2014

Oor die naweek het een van die ‘special needs’ kinders ’n been gebreek en het hy nou ekstra versorging nodig en gebede dat die been goed sal aangroei en vir ekstra geduld vir sy versorgers.
Ons hanteer ‘Home Group’ die week en is dus bietjie besiger as gewoonlik.
Die kinders sukkel om by hul nuwe programme in te skakel en ons en die ‘educater’ is gedurig opsoek om hulle betyds iewers te kry waar hulle hoort.
Die strykyster van die camerata het gebreek, dis die derde een sedert Augustus. Nou is hier elke oggend teen 11:00 en in die aand, kinders wat hul skoolklere wil stryk voor hulle moet skooltoe gaan.
Vrydagoggend is ons by die Prayer room 7 uur waar daar vir die kinders gebid word en van die kinders ook vrywillig teenwoordig is. Die een Tia bring vier 4 jariges en maak hulle staan by ons en hulle is heeltemal gelukkig daarmee. Die een seuntjie staan eers net voor Petrus met sy rug na hom toe maar later skuif hy terug tot teen Petrus, die ander dringmee om Alta se hand te hou. Na die sessie terwyl ons uitbeweeg moet ons elkeen optel en ’n drukkie gee. Die een dogtertjie is soos ’n seekat, haar bene en arms strek en rek en dit kos stoei on haar neergesit te kry.
Vrydagaand kom vra een van die groot seuns of hy iets op die rekenaar kan doen vir die skool en ons sê dis reg. Met bietjie hulp is die stuk reg en ons druk dit vir hom. Saterdag-aand kom vra nog van hulle en Sondagaand nog. Dit lyk asof ons sal moet soek vir ’n rekenaar en drukker, van hulle is nou in klas 10 (st 8) en een is in klas 11 en sal dit seker al meer nodig kry. 
Saterdagoggend bak ons koek en hou partytjie, want een van die eerste groep kleinseuntjies verjaar Maandag.  Saterdagaand braai ons vleis saam met een nuwe sendeling wat die muur in die cametata geverf het en die kinders Engels leer.

Sondagoggend is ons Afrikaanse kerk toe in Matola en neem 3 van die seuns saam, 2 groot en een kleintjie. Net toe die diens begin is daar ’n kragonderbreeking en die sang word bietjie beperk, met die projektor wat nie werk nie. Die kinders is stil en bekyk alles met groot oë. Oppad terug vra ons of hulle van die diens gehou het, ja sê al 3. Ons vra toe  of dit beter is as Zimpeto se kerk en dit ontlok ’n luide ‘Nee!’ van al drie.